Leer die kinders

Morality may keep you out of jail, but it takes the blood of Jesus Christ to keep you out of hell. —C.H. Spurgeon

Leer die kinders

In Eksodus 12 lees ons die voorskrifte in verband met die paasfees. In Eksodus 13 lees ons dat elke eersgeborene – mens en dier – aan die Here gewy moet word. Moses herinner die volk aan alles wat die Here vir hulle gedoen het. Maar hy herinner hulle ook aan die land wat God aan hulle voorvaders belowe het. Hy noem dan ‘n aantal verpligtinge wat hulle in hierdie land moet nakom. Een daarvan is die volgende:

Op die feesdag moet elkeen vir sy kinders vertel: ‘Dit is wat die Here vir my gedoen het toe ek uit Egipte getrek het.’  (Eksodus 13:8)

Dit is iets wat ook ons as ouers moet doen. Kinders vra baie vrae veral “hoekom?” Sommige vrae is lastig; sommige vrae is ernstig. As hulle vir ons oor die nagmaal of verlossing vra, is ons gereed om te antwoord? Dit is ‘n baie goeie geleentheid om met jou kinders oor die evangelie te praat. Ons was slawe en God het ons verlos. Vertel hulle van die toekoms – die bruilof van die Lam (Openbaring 19). Ons is na die bruilofsmaal uitgenooi en gaan saam met ons Koning aan die tafel sit. Vertel vir hulle dat dit deur die sterk hand van God is dat ons vrygemaak is. As ouers het ons die verantwoordelikheid om met ons kinders te praat – en hulle oë op Jesus Christus te rig.

 

 




Verlossing en sending (1)

 

 “A soul without a body is a ghost; a body without a soul is a corpse. The Gospel is addressed to living persons, soul and body, in all of their broken humanity and need for wholeness.” E. Stanley Jones

 

Verlossing en sending (1)

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

(Eksodus 1 en 2)

 

In Genesis 12:2 – 3 sluit God ‘n verbond met Abraham. Hy belowe om hom die vader van ‘n groot nasie te maak en deur hierdie nasie sal al die nasies van die wêreld geseën word. Maar nou is Israel slawe in Egipte. Dit is nodig dat Israel eers verlos moet word. Verlossing is ‘n baie belangrike tema is die Skrif. As Verlosser kom God tot Israel se redding – Hy beskerm hulle en herstel hulle.

 

In Eksodus 1:8 – 22 sien ons vier redes waarom Israel verlossing nodig gehad het.

  • Politieke slawerny (Eksodus 1:8 – 10)

In Egipte was die Israeliete immigrante/vreemdelinge. Tydens Josef se leeftyd was dinge nie te sleg nie. Maar: Toe ‘n nuwe koning wat nie van Josef geweet het nie, oor Egipte begin heers, het hy vir sy volk gesê: “Besef julle dat die Israeliete nou meer en sterker is as ons?” Nou leef die Israeliete in vrees. Die koning sê vir sy mense dat hulle ‘n plan moet bedink sodat die Israeliete nie verder kan vermeerder nie. As gevolg van diskriminasie het God se mense geen politieke vryheid gehad nie – hulle is as ‘n bedreiging vir die Egiptenare gesien. Dit lei tot sterk optrede van Egipte se kant.

 

  • Ekonomiese slawerny (Eksodus 1:11 – 14)

Slawedrywers word aangestel en die Israeliete moes dwangarbeid doen – die Israeliete word onderdruk – die lewe word bitter swaar gemaak vir die Israeliete en hulle moes swaar met klei en bakstene werk. Hulle is gebruik vir bouwerk in Pitom en Rameses. Herinner dit nie vir ons aan vandag se situasie nie. Mense met mag buit steeds die swakkes vir hulle eie gewin uit. Menslike verkeer is vandag die tweede grootste georganiseerde misdaad in die wêreld. Hoekom? Seksuele afvalligheid en gierigheid. Maar ons glo God is ‘n God van geregtigheid en staan by die onderdruktes. Moet ons as sy kinders nie sy voorbeeld volg nie?

 

  • Sosiale slawerny (Eksodus 1:15 – 22)

Die Egiptenare tree toenemend brutaler op teen die Israeliete. Dit begin met die koning se besluit dat die Hebreeuse vroedvroue – Sifra en Pua – elke Hebreeuse seuntjie wat hulle verlos, moes doodmaak. Die vroedvroue voer nie die koning se bevel uit nie: Maar die vroedvroue het God gedien en nie gemaak soos die Egiptiese koning hulle beveel het nie: hulle het die seuntjies laat lewe. Die koning wil weet waarom hulle dit gedoen het. Hulle antwoord: Die Hebreeuse vrouens … hulle is sterk van gestel: voordat die vroedvrou by hulle kom, is die kind al gebore. Hulle gehoorsaam God eerder as ‘n mens. Dan lees ons God se reaksie teenoor hierdie vroedvroue: God het toe die vroedvroue self ook voorspoedig gemaak. Omdat hulle Hom gedien het, het Hy vir hulle huisgesinne gegee. Ons ken nie die koning se naam nie, maar die twee vroedvroue se name word genoem.

 

Nou is die farao briesend: Julle moet elke pasgebore seuntjie in die Nyl gooi. Hy kies die Nyl, want almal het naby die Nyl gewoon. Die sterk stroom sou die kinderlykies vinnig wegvoer. Die Nyl was ook as ‘n god beskou – die Nyl gee en neem lewens. Dit lyk dus asof hulle die wil van die god doen. Hiermee wou die koning keer dat die Israeliete nie so vinnig sou vermeerder nie. God sou hulle uiteindelik verlos as Hy Egipte oordeel – die dood van al hulle eersgebore seuns (Eksodus 4:23). Die paasfees sou God se mense herinner aan God se verlossing.

 

Hier het ons ‘n Bybelse patroon: God neem ‘n plek van dood en verander dit in ‘n plek van lewe. Dink maar aan Noag en die sonvloed; Jona en die vis; God se mense en die Rooisee. Net so word Jesus se graf ‘n plek van lewe.

 

  • Geestelike slawerny (Eksodus 1:8 – 2:25, 9:1)

Die farao was die vyand van God; God moet Israel verlos sodat hulle Hom kan dien (Eksodus 9:1). Hier het ons dus ook ‘n geestelike stryd. God se doel was nie net om sy mense uit Egipte te bevry nie; Hy wou Egipte uit sy mense kry. Selfs nadat hulle Egipte verlaat het, het die Israeliete terug verlang na die land. In 4:23 lees ons: Laat my seun gaan sodat hy My kan aanbid. God wil hê dat Israel Hom moet ken en aanbid.

 

God bevry Israel van al die dimensies van slawerny. Hy bevry hulle nie om sommer enige god te aanbid nie; Hy bevry hulle nie net geestelik nie, maar ook uit hulle aaklige situasie. God is steeds oor fisiese vryheid en geestelike vryheid bekommerd. Is ons oor die vryheid van mense bekommerd?

 

 

 




Hoe moet ons Die Handelinge van die Apostels verstaan?

 

There will three effects of nearness to Jesus, all beginning with the letter h—humility, happiness, and holiness. Charles Spurgeon

 

Hoe moet ons Die Handelinge van die Apostels verstaan?

Ons gaan voort met Mel Lawrenz se blogs oor Understanding the Bible.

Ons sal nie Handelinge reg lees as ons dit slegs as ‘n klomp geskiedkunige besonderhede sien nie. Dit is ‘n voortsetting van wat sy nie-Joodse skrywer, Lukas, in sy evangelie begin het. In die evangelie het Lukas alles geskryf van wat Jesus gedoen het tot by sy hemelvaart. Hy begin hierdie boek deur onder andere te sê: Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het. Die hoofspelers in hierdie verhaal is die apostels (insluitende Paulus) en die Heilige Gees. Handelinge is die verhaal van die Heilige Gees wat Jesus se volgelinge aanmoedig, bemagtig en lei op ‘n sending wat die wêreld sou verander.

 

Om Handelinge reg te verstaan, moet ons Lukas se doelwit in gedagte hou: om te vertel hoe die evangelie van Jesus Christus uit die beperking van Judea en Galilea breek en oor die gebied om die Middellandse See versprei en hoe dit die skeiding tussen Jood en heiden afbreek – dit word ‘n universele beweging. Dit is nie ‘n biografie van Petrus en Paulus nie – die fokus is op die verspreiding van die boodskap van Jesus en die maniere waarop mense dit aanvaar of verwerp het.

 

Lukas skryf nie hier ‘n handboek oor die funksionering van die kerk nie. Ja, Handelinge 2 beskryf vir ons gesonde geestelike toewyding. Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels, die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede (2:42). Handelinge sê vir ons wat gebeur het en nie wat moet gebeur nie. Daar is geen kerkgeboue in Handelinge nie; ons verkoop nie meer ons grond en besittings nie. Die leierskapstruktuur van die vroeë kerk het met verloop van tyd ontwikkel. Daar is ook nie ‘n voorskrif oor hoe gereeld ons nagmaal moet gebruik nie.

 

Handelinge is nie ‘n lys van formules en beleid nie. Dit beskryf die dinamiese en dikwels onvoorspelbare beweging van die Gees van God in die tydperk van die apostels. Miskien is hier ‘n belangrike les vir ons: die lewenskragtigheid van die kerk is die gevolg van die teenwoordigheid en aktiwiteit van die Heilige Gees soos gelowiges deel van hierdie dinamiese beweging word.

 

Die struktuur van Handelinge kan as “immers uitwaarts” beskryf word. Daar is die uitstorting van die Heilige Gees in Jerusalem op pinksterdag. Daarmee saam kry ons ook die bemagtiging van die apostels. Met Petrus se besoek aan Kornelius versprei die evangelie na die heidense wêreld. Dan kry ons die bekering van die vyandige Paulus en sy drie groot sendingreise. So val die een grens na die ander totdat dit uiteindelik in Rome, die setel van die Romeinse Ryk, kom.

 

Vandag sien ons steeds die siklus van Handelinge wathomself herhaal: verkondiging, vervolging, verspreiding. Gelowiges moet verstaan dat hierdie siklus in die verlede ook gebeur het en wat dit alles beteken.

 

 




Die oorwinningslied van Debora en Barak

 

Knowledge of biblical doctrine is to the soul as an anchor to the ship, that holds it steady in the midst of the rolling waves of error, or the violent winds of persecution. —Thomas Watson

 

Die oorwinningslied van Debora en Barak

Hoe doen God sy werk in hierdie wêreld? In hierdie lied in Rigters 5 leer ons vier waarhede hieroor.

  1. As die leiers lei, loof die mense die Here (5:1, 9, 14 – 18)

Julle moet die Here prys, want leiers het opgetree in Israel, die volk het hulle aangemeld vir die oorlog. Met ander woorde: geseënd is diegene wat in geloof na vore kom en veg. Sy sonder selfs spesifieke stamme uit vir hulle deelname of gebrek aan deelname. Efraim, Sebulon en Issaskar was nie bang nie – hulle was getrou en het hulle lewens gewaag. Gilead en Dan doen niks nie.

 

In die kerk is daar baie mense  wat net bly sit of by die skepe bly (5:17), in plaas daarvan dat hulle veg. Dink maar aan Adam in Genesis 3. Hy was passief en het nie betrokke geraak nie. God het aan Adam die verantwoordelikheid gegee  om sy vrou te dien en te beskerm. Maar toe die slang kom, staan Adam net daar – hy wag om te sien wat gaan gebeur. Die grootste versoeking vir meeste mense is nie om die verkeerde te doen nie, maar om niks te doen nie. Die kerk is nie vol slegte mense nie,  maar baie bly soos Dan by die skepe. Want leiers het opgetree (5:2).

 

  1. God vervloek toeskouers

 Julle moet vir Meros vervloek, julle moet sy inwoners sonder genade vervloek, want hulle het nie vir die Here kom veg nie, nie vir Hom teen die dapper vegters kom veg nie (5:23). Debora is teleurgesteld in Gilead, maar sy vervloek vir Meros. Meros het nie iets sleg gedoen nie hulle het net niks gedoen nie. Hierdie is baie ernstig: God vervloek hierdie mense wat niks doen nie. Om toeskouer te wees, beteken nie net dat jy nie beloon word nie, maar dat jy vervloek word. Dit is nie genoeg om net eredienste by te woon nie. Onthou: Jesus het nooit gesê: “Kyk met aandag na My nie’: Hy het gesê: “Volg My.”

 

3 God sal eendag alles wat verkeerd is, reg maak

Sisera se ma kyk deur die venster en vra waarom Sisera so talm om terug te kom Haar hofdames stel haar gerus: hulle buit was groot en hulle is besig om dit te verdeel. Intussen lê Sisera in ‘n tent – doodgemaak deur ‘n vrou. Sisera, wat sy lewe lank vrouens onderdruk en mishandel het, word deur ‘n vrou doodgemaak. God sien alles raak; Hy sal alles wat verkeerd is, regstel.

 

  1. Al wat God verlang is gehoorsaamheid

Jael, die huisvrou, steek vir Sisera weg toe hy vir Barak gevlug het. Hy raak aan die slaap en Jael slaan hom met ‘n tentpen deur die slaap van sy kop (4:21). Sy gebruik nie ‘n wapen nie, maar ‘n huishoudelike item. Hierdie is ‘n les wat ons gereeld in Rigters kry: God verslaan magtige tiranne met swak instrumente. Dit is nie Barak of Debora wat Sisera doodmaak nie, maar ‘n eenvoudige vrou waarvan ons nooit weer lees nie. God werk in hierdie wêreld deur ons beskikbaarheid en nie deur ons vermoë nie.

 

Daarom kon Debora sing: Geseënd is Jael … meer geseën as al die vroue. Jael het haar beperkings gehad, maar sy was beskikbaar. God bring verlossing in die wêreld deur mense wat gehoorsaam is.