Jesus die Koning

 

Whether we like it or not, God intends to give us what we need, not what we now think we want. —C.S. Lewis

 

Jesus die Koning

Die evangelie is nie goeie advies nie; dit is ‘n oproep om ‘n Koning te volg (Tim Keller).

Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie (Markus 1:15).

Dit is die eerste woorde uit Jesus se mond in die Evangelie volgens Markus. Hiermee definieer hy die boodskap en optrede wat in die res van die boek gaan ontvou. Jesus verskyn op die toneel met ‘n nuusbulletin oor ‘n nuwe werklikheid. Dit is hoekom Jesus sy boodskap evangelie – letterlik goeie nuus – noem. Hierdie is nuus wat lewens verander. Wat Jesus verklaar, vereis ons volle aandag.

 

Elke ding wat Jesus doen in Markus se verhaal vertel vir sy lesers dat die koninkryk van God naby is. Jesus se genesings, sy uitdrywing van bose geeste, sy barmhartigheid, sy wondertekens, sy gesag oor die natuur, sy offer, sy oorwinning oor die dood vertel die storie van sy koninkryk.

 

Dink aan die verskil tussen nuus en advies. Advies is raad oor hoe om jou lewe te verbeter. Nuus, daarenteen,  vertel vir jou wat gebeur het en die betekenis daarvan noudat jy dit gehoor het. Of jy ‘n nuusberig wil glo of nie, is jou keuse. As dit egter waar is en jy ignoreer dit, kan dit praktiese gevolge vir jou inhou.

 

Hoe groter en hoe meer relevant die nuus vir jou is, hoe meer daag dit ons uit. Omdat hierdie nuus oor God as die Koning van die wêreld en sy visie vir ons lewens gaan, beteken dit dat as ons dit glo ons moet bely – ons moet ons rug draai op sekere van die aannames waarop ons ons lewens gebou het. As hierdie nuus dat die koninkryk van God naby is en dat Jesus die Koning is, waar is, verander dit alles vir ons.

 

Kort daarna lees ons van Jesus wat sy eerste dissipels roep. Hy roep vir Simon en Andeas om Hom te volg. Let op hulle reaksie: Onmiddellik het hulle die nette gelos en Hom gevolg (Markus 1:18). Hulle los hulle familie en besigheid en volg vir Jesus. Vit hulle was dit ‘n totale ontwrigting. Ons volg ons Koning, want dit vervul waarvoor ek in die lewe gesoek het. Om Hom te volg gee vir my betekenis en vreugde.

 

 




Ware en aanvaarbare godsdiens (1)

 

False pride can never be sustained – Keith Ablow, psigiater

 

Ware en aanvaarbare godsdiens (1)

[In my persoonlike Bybelstudie is ek besig met Die Brief van Jakobus. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in James – Christ Centered Exposition” gebruik. In hierdie gedeelte maak ek van die direkte vertaling in die Interliniêre Bybel gebruik – CUM]

 

Ware godsdiens moet insluit beheer van die tong, opofferende sorg vir die behoeftiges en ‘n duidelike skeiding van die wêreld. Hierdie dinge is ‘n manifestasie van geloof uitgedruk in liefde.

The Human race in the course of time has taken the liberty of softening and softening Christianity until we have contrived to make it exactly the opposite of what it is in the New Testament – Soren Kierkegaard.

Ons probeer die Christelike geloof in ons eie terme definieer in plaas van die terme wat God in die Nuwe Testament bepaal het. Ons glo dat die kerk en godsdiens by ons voorkeure en leefstyl moet inpas. Maar as ons van ware godsdiens praat wat vir God aanvaarbaar is, moet Hy definieer hoe dit moet lyk – en dit kan van ons definisie verskil.

A religion that gives nothing, costs nothing, and suffers nothing, is worth nothing – Martin Luther

 

Die tekens van ‘n ware en aanvaarbare godsdiens.

In baie kringe word die woord godsdiens vandag nie juis in ‘n positiewe lig gesien nie. In Jakobus 1:26 – 2:13 vertel Jakobus vir ons dat ware godsdiens deur ‘n leefstyl van gehoorsaamheid aan God gekenmerk word. In 1:26 – 27 gee Jakobus vir ons drie tekens van ‘n ware en aanvaarbare godsdiens.

 

  1. Beheerde spraak – ‘n teken van ‘n hart wat verander het

As iemand dink dat hy godsdienstig is terwyl hy nie sy tong in toom hou nie, maar sy hart hom mislei, is die godsdiens van hierdie mens nutteloos (Jakobus 1:26)

Jesus sê: Want die mond praat wat die hart van vol is (Matteus 12:34). Wat ons sê, is ‘n weerspieëling van wat binne in ons is. As ons nie beheer wat ons sê nie, sê Jesus, is ons godsdiens nutteloos. Wat jy sê, is ‘n indikator of jou geloof eg of vals is. As jy skinder, as jou woorde skerp is, as jy vloek – wees versigtig, want jy wys daarmee dat jou godsdiens nutteloos is.

 

Ons leef in ‘n tyd van e-posse, Facebook, Twitter, blogs, ens en daarom moet ons baie versitig wees. Ons glo dat as ‘n gedagte by ons opkom ons dit onmiddellik met die hele wêreld moet deel. Oppas. Beheer jou tong. Praat op so ‘n wyse dat dit wys jou geloof is eg en dat jou hart aan God behoort.

 

  1. Opofferende versorging van mense in nood

Rein en onbesmette godsdiens by die God en Vader is dit: om om te sien na wese en weduwees in hulle beproewing, om jouself onbevlek te hou van die wêreld (Jakobus 1:27).

Die tweede teken van ‘n aanvaarbare godsdiens is opofferende liefde vir mense in nood. Om om te sien, beteken dat ons na hulle toe gaan met die doel om hulle te versorg. Weduwees en wese het destyds swaar gekry – die regering het nie vir hulle gesorg nie. Jakobus sê dat ware godsdiens beteken dat ons die behoeftigste mense in ons samelewing versorg. Hy noem dit nie as ‘n moontlikheid nie – dit is ‘n verpligting. Doen jy dit nie, is jou godsdiens nie vir God aanvaarbaar nie.

 

God is die verdediger, onderhouer, krag en voorsiener van hierdie mense en Hy doen dit deur die harte en lewens van sy mense. Onthou dit gaan hier oor ‘n godsdiens wat die God en Vader aanvaar. Hy is die Vader van die vaderloses en Hy doen dit deur sy mense.

 

Volgende keer kyk ons na die derde teken van ware en aanvaarbare godsdiens: die duidelike skeiding van die paaie van die wêreld.

 

 




Hoekom verwyder God nie onmiddellik ons sondige begeertes nie?

 

They think repentance or mourning of sin is but one act. … It is a dangerous mistake, for we need to know that a true sorrow for sin, true repentance , is a continual act that must abide all our lives.” – Jeremiah Burroughs:

 

Hoekom verwyder God nie onmiddellik ons sondige begeertes nie?

Baie Christene ondervind dat hulle weer en weer voor dieselfde sonde te staan kom. Hoekom verwyder God dit nie sommer nie?

 

In Rigters 3:1 – 2 lees ons ‘n insig wat min Christene raaklees:

Die Here het die nasies met rus gelaat om die Israeliete met hulle op die proef te stel, die Israeliete wat nie ondervinding gehad het van al die oorloë teen die Kanaäniete nie. Die Here wou hierdie Israeliete leer om oorlog te maak, hulle wat dit nie voorheen ondervind het nie.

Israel se stryd was tasbaar en ooglopend: vyandige nasies en hulle leërs. Hoekom het God hulle nie verdryf nie? In Rigters lees ons gereeld dat die vyandige nasies daar was, want hulle het nie geglo dat God hulle sal verdryf nie. Maar in hierdie verse lees ons dat God die nasies met rus gelaat het om die Israeliete op die proef te stel sodat hulle kan leer om oorlog te maak.

 

God hou aan om Israel te toets om te sien of hulle Hom sal glo en om op Hom te vertrou in hulle geveg. Hy doen dieselfde met ons, alhoewel ons geveg nie teen vlees en bloed is nie, maar teen geestelike magte. Hoekom verwyder God nie ons probleme as ons Christene word nie? Want Hy wil hê ons moet op sy genade en nie op ons eie vermoëns vertrou nie – om ons nederig te hou.

 

God los die Kanaäniete sodat Israel kan leer om te veg. As jy swaarkry onthou wat God besig is om deur jou omstandighede te doen. Kyk na Christus wie se opstanding die oorwinning waarborg. Kyk na Christus, die enigste Verlosse wat vir jou krag kan gee om staande te bly – wat jou elke keer as jy val optel. Kyk na Christus en veg.

 




Geloof gehoorsaam (Jakobus 1:19 – 25) (3)

 

I never made one of my discoveries through the process of rational thinking.” – Einstein

 

Geloof gehoorsaam (Jakobus 1:19 – 25) (3)

[In my persoonlike Bybelstudie is ek besig met Die Brief van Jakobus. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in James – Christ Centered Exposition” gebruik. In hierdie gedeelte maak ek van die direkte vertaling in die Interliniêre Bybel gebruik – CUM]

Die Reis van Gehoorsaamheid – dit is waaroor hierdie gedeelte gaan. Die woord van God kry ons oral in hierdie gedeelte – verse 21, 22, 23 en 25. Die vraag in hierdie gedeelte is: Hoe reageer ons op die waarheid – God se woord? Volgens hierdie gedeelte is daar drie maniere. Ons kyk vandag na die derde manier.

 

  1. Ons gehoorsaam die woord heelhartig (Jakobus 1:22)

Ons het gesien ons moet God se woord nederig ontvang en sy woord voortdurend onthou. Ons moet egter ook sy woord gehoorsaam. Wees doeners van die woord en nie slegs hoorders terwyl julle julleself so bedrieg nie. Ons het nie werklik na die woord geluister as ons dit nie doen nie. Die woord lei tot optrede. As dit nie gebeur nie, het ons nie werklik die woord aanvaar nie. Diegene wat Jesus aanvaar het, gehoorsaam Hom. Gebeur dit nie mislei ons onsself.

 

Hierdie woorde van Jakobus klink baie na dié van Jesus in sy bergrede: Nie elkeen wat vir My ‘Here, Here’ sê, sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar die een wat die wil van my Vader in die hemel doen … En dan sal Ek aan hulle verklaar: Ek het julle nooit geken nie; ‘gaan weg van My af, julle wat wettelose dade doen. Elkeen wat hierdie woorde van My hoor en dit doen, sal soos ‘n verstandige man wees wat sy huis op rots gebou het (Matteus 7:21 – 25). As jou hele geestelike lewe gebou is op net luister na God se woord en Hom nie gehoorsaam nie, sal jou lewe eindig in vernietiging.

 

Baie mense reageer op God se woord, maar net as dit by hulle leefstyl inpas. Sodra sy woord konfronteer of uitdaag of probeer om hulle te verander, vergeet hulle dit. Moenie gewillig wees om die armes te help nie – help hulle; moenie gewillig wees om die evangelie met ander te deel nie – deel dit. Wees doeners van die woord en nie slegs hoorders nie. Doeners sal gelukkig wees in sy optrede (vers 25).

 

Jakobus sê in hierdie gedeelte dat ons seën kan verwag as ons God se woord gehoorsaam. Onmiddellik vra ons: Maar hoe gehoorsaam ons God se woord? Ontvang die woord van God in nederigheid – die woord wat in jou ingeplant is. Fokus op sy woord; onthou dit; bêre dit in jou hart en denke. Daardie woord sal in en deur jou werk en jou beweeg om God se opdragte uit te voer.

 

Moenie tevrede wees om net na God se woord te luister nie. Gehoorsaam sy woord. Baie mense weet wat God se woord sê, maar hulle doen dit nie. Die woord sê: “Sorg vir die armes;” “Moenie skinder of pornografie kyk nie;” ens, maar ons ignoreer dit – dit pas nie in by ons leefstyl nie. Ons moet God se woord gehoorsaam, ongeag van die omstandighede.