Uitreik – twee fundamentele waarhede

 

The humble soul endeavors more how to glorify God in afflictions, than how to get out of them. —Thomas Brooks

 

Uitreik – twee fundamentele waarhede

Daar is twee fundamentele waarhede oor uitreik wat ons moet onthou. Hou ons hulle nie in gedagte nie, sal ons sukkel om Jesus se opdrag om dissipels te maak uit te voer.

 

  1. Vyandigheid

Mense is dikwels vyandig teenoor die evangelie. As jy met mense oor Jesus gaan praat, moet jy voorbereid wees om seer te kry. Dit mag jou verhoudings negatief beïnvloed. Jy gaan voor die versoeking te staan kom om of niks te sê nie of om dit wat jy moet sê, af te water. Mees Christene kort na hulle bekering wil graag vir ander daarvan vertel. Maar vroeër of later spot iemand jou of maak jou seer. Jy praat nie meer oor die evangelie nie.

 

Maar Jesus sê dit is normaal. Toe Jesus sy dissipels die eerste keer uitstuur, waarsky Hy vir hulle: Onthou: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in (Matteus 10:16). In die Kinderbybels sien jy nooit skape omring deur wolwe nie, maar dit is die beeld wat Jesus gebruik. Ten spyte van hierdie vyandigheid moet almal getuies wees: In julle harte moet daar ‘n heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe (1 Petrus 3:15). Net in die vorige vers sê Petrus: Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as ‘n voorreg beskou.

 

Evangelisasie lei tot vyandigheid. Daar is geen tegniek beskikbaar om dit te vermy nie. Daarom moet ons nie verbaas wees as mense vyandig teenoor ons is omdat ons getuig van die Here nie. Volhard.

 

  1. Honger

Gelukkig is vyandigheid net helfte van die storie. Daar is meer vyandigheid, maar ook meer honger. Daar word meer en meer besef dat wat die wêreld ons bied, leeg is. Daar is meer mense wat stilweg honger na die evangelie. Paulus het dit besef – daarom het hy in Korinte gaan getuig. In Handelinge 18 lees ons van Paulus se besoek aan Korinte. Daar sê die Here vir hom: Moenie bang wees nie; hou aan met preek en moenie stilbly nie, want Ek is by jou. Niemand sal jou aanval of jou kwaad aandoen nie, want in hierdie stad behoort baie mense aan My. Paulus was ‘n skaap tussen wolwe, maar God verander die wolwe in skape.

 

As ons met ‘n ongelowige oor Jesus praat weet ons nie watter reaksie om te verwag nie. Ons moet voorbereid wees op vyandigheid as ons die hogerte wil ontdek. Ons moet beide hierdie waarhede oordra aan jonger evangeliste. Ons moenie vir hulle verkeerde verwagtings leer nie – dan gaan hulle teleurgestel wees en tou opgooi. Ons moet ook opgewonde wees oor die hongerte – oor wat God deur sy mense vir sy mense kan doen.

 

Twee waarhede – vyandigheid en honger. Een kan ons maklik ignoreer; die ander een is moeilik om te onthou. Maar ons moet aan beide vashou as ons mekaar wil help en dissipels vir die Here maak.

 




Die belang van die hemelvaart

 

Information is not knowledge. The only source of knowledge is experience.” – Einstein

 

Die belang van die hemelvaart

Ons lees baie van die belang van Jesus se kruisdood en sy opstanding. Was sy hemelvaart ook belangrik?

  • Die hemelvaart is die punt waar Jesus, wat fisies opgewek is en wat die dissipels geken het, hulle verlaat. Dit is die afsluiting van Jesus se lewe op aarde. Hy gaan nou die hemelse heerlikheid binne. Jesus Christus se verlossingswerk is afgehandel; Hy word in heerlikheid opgeneem; Hy regeer vir ewig vanuit die hemel.
  • Dit is ’n sigbare gebeurtenis – in lyn met sy fisiese opstanding. Dit is nie die reis van ‘’n siel na die hemel nie. Hy word huis toe geneem na God toe. Dit vereis hemelse boodskappers om dit te verduidelik. Hulle weet dat Jesus se vertrek sy verheerliking aandui. Daarom is die dissipels nie beangs nie, maar met blydskap vervul.
  • Die opstanding verduidelik hoe Jesus Christus nou aan die regterhand van God sit en vestig ’n meer intieme verhouding tussen hemel en aarde. Hy is in die hemel en sy teenwoordigheid daar beteken dat die hemel nie meer ontoeganklik is nie. Jesus Christus wat as misdadiger aan die kruis gesterf het, heers nou as die lewende Here in die hemel. Hy laat nie sy dissipels alleen nie – Hy word deur Stefanus en Paulus gesien en is deur sy Gees teenwoordig.
  • Jesus Christus se hemelvaart word deur Paulus geïnterpreteer as aanduidend dat Hy elke mag, gesag en krag oorwin het. Hy heers oor die heelal uit die hemel en beskerm sy volgelinge.
  • Jesus Christus se hemelvaart is ’n voorafskaduwing van sy terugkeer na die aarde. Die gordyn sal oopgaan en Hy sal van die hemel na die aarde neerdaal om alle dinge te herstel. Jesus gaan op na die hemel, nie om vir altyd daar te bly nie, maar om op die oordeelsdag weer terug te keer.
  • Die hemelvaart is die voltooiing van Jesus se werk op aarde, maar dit open ‘’n nuwe tyd waarin sy werk deur die sending van die apostels voortgesit word. Die hemelvaart open die weg vir die uitstorting van die Heilige Gees. Die Heilige Gees het nie die fisiese beperkings wat Jesus Christus se menswording op Hom geplaas het nie.
  • Die opstanding is iets bonatuurlik vanuit ’n aardse perspektief. Die mens, gebind deur tyd en spasie, kan dit nie verstaan nie. Jesus gaan van ’n aardse na ’n hemelse, goddelike sfeer.

 

Die hemelvaart van Jesus Christus is vir ons as Christene belangrik

 




Hoe moet ons die onderrig van Jesus verstaan?

 

“Intelligence plus character – that is the goal of true education.” Martin Luther King, Jr

 

Hoe moet ons die onderrig van Jesus verstaan?

Ons gaan voort met die reeks van Mel Lawrenz oor Understanding the Bible.

Almal van ons het as ons na ons skooljare terugdink ‘n gunsteling onderwyser. Hulle is gewoonlik mense wat nie net ons denke nie, maar ons lewens beïnvloed het. Hulle het ons van die lewe geleer en hulle eie lewens het uitgestaan.

 

Jesus word algemeen aanvaar as die grootste leermeester van alle tye. Maar ons sal Hom net verstaan as ons die omstandighede en konteks oordink. Diegene wat Jesus gevolg het, het Hom te voet gevolg – van dorpie tot dorpie. Hulle hoor ‘n gelykenis as hulle in ‘n graanland gestap het; hulle hoor ‘n bespreking oor die brood wat uit die hemel gestuur is nadat Hy ‘n skare gevoed het. By ‘n Joodse fees waar water gebruik is, staan Hy op en roep uit: As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! (Johannes 7:37). Jesus se onderrig was dinamies en interaktief. Hy praat oor die praktiese sake van elke dag, maar ook oor ewige sake. Geen wonder die mense was verbaas nie.

 

Ons sal die evangelies beter verstaan as ons die vorms van Jesus se onderrig en die belangrikste temas van sy onderrig verstaan. Een vorm was hiperbool. Min gelowiges het hulle oog uitgeruk of hulle hande afgesny, want Jesus het gesê dat dit beter sal wees as dat hulle hele liggaam in die hel gegooi word (Matteus 5:29 – 30).` Jesus gebruik ook vergelykings en beelde. Ek is die lig vir die wêreld; Ek is die ware wynstok; julle is die sout vir die aarde, ens. Hulle impak is onmiddellik, want hulle is maklik om te onthou. Van die bekendste beelde beskryf die koninkryk van God. Die koninkryk van God is soos ‘n mostertsaad, ‘n net, ‘n man wat ‘n groot skat ontdek, ens. Ons moet hulle versigtig lees.

 

Jesus het ook kort spreuke gebruik. Behandel ander mense soos julleself behandel wil word (Lukas 6:31); Moenie oordeel nie, en oor julle sal daar nie geoordeel word nie (Lukas 6:37). Jesus erken dat Hy beeldspraak gebruik het: Dit het Ek deur beeldspraak vir julle gesê. Daar kom ‘n tyd wanneer Ek nie meer deur beeldspraak met julle sal praat nie, maar julle reguit van die Vader sal vertel (Johannes 16:25).

 

Jesus het ook van raaisels gebruik gemaak – Hy het elke verbale metode moontlik gebruik. Maar die krag van Jesus se onderrig lê nie in die metode wat Hy gebruik het nie. Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie (Matteus 7:28 – 29).

 

Soos met enige ander Skrifgedeelte moet ons die konteks van Jesus se onderrig bestudeer. Met wie praat Hy? Wat was die omstandighede? Die Skrif het iets spesifiek vir Jesus se oorspronklike gehoor beteken. Dit is waar ons die ware betekenis en gesag van sy onderrig sal kry.

 




Die gebeure rondom die paasfees

 

Ferdinand Deist het ‘n keer gese dat meeste kerklidmate soos ‘n vuisvoos bokser is: “As die klok lui, storm hulle in vir nog ‘n pak slae!” (Sjoe.)

 

Die gebeure rondom die paasfees

Wat het in Jerusalem tydens die paasfees in 30nC gebeur? Daar is oppervlakkige verskille, maar dit beteken nie dat niks gebeur het nie. Daar is vier vreemde gebeurtenisse wat ons in al vier die evangelies kry.

  • Die afwesigheid van die Ou Testament in hierdie stories. Tot dusver het al vier evangelieskrywers kwistig uit die Ou Testament aangehaal of verwys. In die opstandingsverhaal is daar geen sulke verwysings nie. Tog het Paulus verklaar: Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte (1 Korintiërs 15:4). Paulus haal profete en die psalms aan om te verduidelik wat gebeur het en om dit te plaas as hoogtepunt van ‘n lang storie van God en Israel. Maar die opstandingstories in die evangelies doen dit nie. Hierdie verhale gaan waarskynlik terug na ‘n vroeëre mondelinge tradisie en is eers later neergeskryf. Dit is vasgelê in die geheues van die vertellers nog voordat daar tyd vir Bybelse nadenke was.
  • Die teenwoordigheid van die vroue as die belangrikste getuies. In die antieke wêreld is vroue nie as betroubare getuies beskou nie.
  • Die portret van Jesus self. ‘n Mens sou verwag om te vind dat die opgestane Jesus soos ‘n ster sou skyn. Ons het so ‘n storie in die verheerliking op die berg. Maar nie een van die evangelies sê dit van Jesus na sy opstanding nie. Hy lyk soos ‘n mens met ‘n liggaam wat in baie opsigte normaal is – Hy word vir ‘n tuinier en medereisiger aangesien. Maar die stories bevat ook duidelike tekens dat die liggaam verander is. Dit is duidelik fisies, maar tog kom en gaan Hy deur toe deure. Hy is ook soms nie herken nie.
  • In die verhale van die opstanding word geen melding gemaak van die toekomstige Christelike hoop nie. Feitlik oral in die res van die Nuwe Testament word die opstanding verbind aan die finale hoop van diegene wat in Jesus glo – hulle sal ook eendag, soos Jesus, opstaan

 

Die betekenis van hierdie storie is eenvoudig: Jesus het opgestaan; Hy is dus die Messias, die ware Here van die wêreld; die langverwagte nuwe skepping het begin; ons het ‘n werk om te doen as Christus se boodskappers na die hele wêreld.