Die vroeë Christelike hoop

 

Strive not to be a success, but rather to be of value.” – Einstein

 

Die vroeë Christelike hoop

Die heidene het geglo dat liggaamlike opstanding onmoontlik is. Antieke Judaïsme is gebou op die geloof dat God die Skepper van die wêreld was en dat Hy eendag weer die wêreld sal regstel. In Jesus se tyd het die meerderheid Jode in die liggaamlike opstanding geglo. Die Christelike geloof van hoop na die dood se oorsprong is Joods. Maar tydens die paasfees het die Joodse hoop merkwaardige modifikasies ondergaan – onder die vroeë Christene. Dit gebeur in ‘n Joodse konteks. Die vroeë Christene het soos die Jode geglo: eers die dood en wat ook al daarna volg en dan opstanding in ‘n nuwe wêreld.

 

Wat was hierdie modifikasies/mutasies?

  • Die vroeë Christene kom van verskillende strome in Judaïsme en van wyd uiteenlopende agtergronde in die heidendom. Hulle het almal verskillend geglo in lewe na die dood. Hulle almal modifiseer daardie punt om op een punt te fokus – Jesus het opgestaan.
  • In Judaïsme was die opstanding belangrik, maar nie so belangrik nie. In die vroeë Christendom skuif die opstanding van die periferie na die middelpunt. Jy kan nie aan Paulus of Johannes se denkwêreld sonder die opstanding dink nie. Neem jy die opstanding weg verloor jy die HELE Nuwe Testament.
  • Wat presies beteken opstanding? Die Judaïsme is maar vaag oor watter soort liggaam die opgestane persoon sal hê. Sommige sien dit as basies dieselfde liggaam; ander sien dit as ‘n skynende ster. Van die begin af glo die Christene in ‘n opstandingsliggaam – dit sou ‘n fisiese liggam wees, maar ‘n getransformeerde liggaam – dit sal nuwe eienskappe hê al word dit van die ou materiaal gemaak. Paulus praat van ‘n geestelike liggaam – ‘n fisiese liggaam lewe gegee deur die Gees. Die punt is dat terwyl die huidige liggaam gedoem is tot agteruitgang en die dood, die nuwe liggaam nie is nie. In 1 Korintiërs 15 praat Paulus van die Skepper God wat die skepping nuut maak – nie verlaat nie.
  • Die opstanding as ‘n gebeurtenis word in twee verdeel. Die geloof dat die opstanding aan een persoon in die middel van die geskiedenis gebeur het, antisipeer en waarborg die finale opstanding van alle mense aan die einde van die geskiedenis.
  • Die vroeë Christene het geglo dat die opstanding by Jesus begin het en sal voltooi word by die oordeelsdag. Hulle het ook geglo dat God hulle geroep het om in die krag van die Heilige Gees met Hom saam te werk om dit wat Jesus bereik het, te implementeer. Daardeur antisipeer hulle die finale opstanding. Diegene wat aan Jesus behoort en Hom gevolg het se opdrag was om die huidige so ver as moontlik te verander in die lig van die toekoms.
  • Die nuwe metaforiese gebruik van opstanding. In die Ou Testament word die opstanding as metafoor slegs een maal gebruik – die terugkeer uit die ballingskap. In die Nuwe Testament kry ons ‘n nuwe metaforiese gebruik. Opstanding word nou in verband met die doop en heiligheid gebruik. Dit word gedoen sonder om die toekomstige konkrete opstanding te beïnvloed.
  • Die assosiasie van opstanding en Messiasskap. Niemand in Judaïsme het verwag dat die Messias sal sterf nie. Daarom het niemand gedink dat die Messias uit die dood sou opstaan nie. Die Jode het geglo dat die Messias God se geveg teen die bose heidene sou veg en hulle verslaan. Hy sal die tempel reinig of herbou en God se geregtigheid na die wêreld bring. Dit lyk asof Jesus niks hiervan gedoen het nie. Geen Jood sou na die kruisiging geglo het dat Jesus inderdaad God se gesalfde is nie. Van vroeg af bevestig die Christene dat Jesus die Messias is omdat Hy uit die dood opgestaan het. Dit sou baie moeilik vir die vroeë Christene gewees het om te glo dat Jesus die Messias is sonder die opstanding.

 

Van vroeg af glo die vroeë Christene dat Jesus die Here is en daarom is die keieser nie die here nie. Die dood is die laaste wapen van die tiran. Die punt van die opstanding is dat die dood oorwin is.

 

 




‘n Vrugbare bediening

 

We shape our tools and thereafter they shape us – John Culkin, priester

 

‘n Vrugbare bediening

Ons praat graag van produktiwiteit, maar die Bybel praat nie van produktiwiteit nie. In die Bybel kry ons wel die woord vrugbaarheid. God wil hê dat ons vrugbare bedienings moet hê Maar hoe kan ons dit doen? Rick Warren identifiseer vier beginsels wat noodsaaklik is vir ‘n vrugbare bediening.

 

  1. Ons moet wortels kweek

Sonder wortels is daar geen vrugte nie. Jy het wortels veral nodig as droogtes kom – wanneer jou hulpbronne beperk is. ‘n Droogte in jou lewe is wanneer jy sonder iets wat jy nodig het, moet klaarkom. In jou bediening mag dit tyd of energie of finansies of ondersteuning wees. Almal van ons sal op een of ander tyd droogte ondervind en ons oorlewing word deur ons wortels bepaal.

 

  1. Jy moet die onkruid in jou lewe en bediening uitroei

Die onkruid in jou bediening en lewe is enigiets wat geestelike groei verhinder of afstomp. Onkruid is die dinge wat ons verhouding met Christus versmoor en enige verdere groei verhoed. Hoeveel energie gaan dit van jou vereis om onkruid te groei? Niks nie. Jy hoef hulle nie te kweek nie – hulle groei vanself. Dit is die onderskeid tussen groente en onkruid. Al gee jy vir groente water en voedingstowwe kry jy dat hulle soms nie groei nie. Aan onkruid hoef jy geen aandag te gee nie – hulle groei. Onkruid is ‘n teken van verwaarlosing. As ek my stiltetyd verwaarloos of as ek my verhoudings afskeep, begin die onkruid groei en begin dit jou produktiwiteit versmoor.

 

  1. Jy moet met God saamwerk as Hy jou lewe snoei

Snoei beteken nie net dat dooie takke afgesny word nie, maar ook takke wat nog lewe. Dit word gedoen om die vorm van die plant te verbeter en om groei te stimuleer. Snoei is noodsaaklik vir verbeterde vrugbaarheid. Dit is nie ‘n keuse nie. As jy suksesvol in jou bediening wil wees, moet jy aanvaar dat God jou gaan snoei. God doen dit om jou verugbaarheid te verhoog. Soms snoei God ook gebeide van sukses. Hoekom? Hy berei jou voor vir ‘n nog groter bediening.

 

  1. Jy moet wag vir die oes

Om vrugte te groei is tydrowend – dit gebeur nie outomaties nie. Jy kan nie vandag ‘n saadjie saai en môre oes jy nie. Saad moet geplant word en dan moet jy wag en bid vir groei. As jy meer doeltreffend in jou bediening wil wees, moet jy jou ou natuur afsterwe – ‘n afsterwe van jou begeertes en ambisie. Groei vereis tyd. Moenie moedeloos word nie; bly by Christus ingeskakel.

 

As jou bediening nie juis vrugte dra nie, onthou hierdie vier beginsels. Vetrou dan op God vir die oes.

 

 

 




Die Ons Vader-gebed

 

Insanity: Doing the same thing over and over again and expecting different results.” – Einstein

 

Die Ons Vader-gebed

Daar is al dik boeke oor hierdie gebed geskryf. Daar is egter twee aspekte wat ek graag wil beklemtoon.

 

  1. Die woorde van die gebed bind ons nie aan spesifieke woorde nie. Wat wel van belang is, is dat dit vir ons sê wat die inhoud van ons gebede moet hanteer. Dit bind ons tot ‘n basiese patroon. Dit gee vir ons leiding oor die beklemtoning van sekere onderwerpe. Hierdie gebed moet ons gebede beïnvloed en vorm.
  2. Die gebed word vir ons in die meervoud gegee: Gee ons vandag ons daaglikse brood … vergeef ons ons oortredings … laat ons nie in versoeking kom nie … verlos ons van die Bose. Calvyn glo dat dit hier ook gaan oor die bevordering en uitbreiding van die geloofsgemeenskap. Hy glo dat openbare gebede ‘n groot invloed op ons private gebede het. Gebed is nie net ‘n private saak nie – ons moet ook saam met ander bid. Hoekom? Ons glo dat gebed ‘n voortsetting van ‘n gesprek met God is wat Hy geïnisieer het. Die doel van gebed is om God beter te leer ken. Beide kan beter in die geloofsgemeenskap as privaat gedoen word. Deur saam met ander te bid, sien ons fasette van Jesus Christus wat ons andersins nie sou waargeneem het nie.

 

Om die Here te dien in kommunaal en kummulatief – ons moet saam bid, leef en dien.

“The more we share the Heavenly Bread between us, the more we shall all have” – C. S. Lewis.

 




Bid in die Naam van Jesus Christus

 

God forbid that I should travel with anybody a quarter of an hour without speaking of Christ to them. – George Whitefield

 

Bid in die Naam van Jesus Christus

[Ek gaan onder andere van Tim Keller se boek Payer: Experiencing Awe and Intimacy with God gebruik maak.]

 

Jesus Christus leer sy dissipels om altyd in sy Naam te bid:

Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal ek dit doen (Johannes 14:13 – 14)

Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee. Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees (Johannes 16:23 – 24).

 

Die enigste weg na God is deur Jesus Christus. Omdat ons in Jesus Christus is, fokus God sy liefde en aandag op ons as ons bid.

Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode deur die een Gees vrye toegng tot die Vader (Efesiërs 2:18).

Die woord toegang is ook in die antieke wêreld gebruik as die koning aan ‘n persoon ‘n oudiënsie verleen – jy kan nie sommer by die paleis se deur instap en die koning sien nie. Die gaping tussen die sondige mens en God is nog groter as dié tussen koning en onderdaan. Hoekom het ons vir Jesus Christus as Middelaar nodig?

 Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie (Eksodus 33:20)

Maar nou het ons toegang tot God se teenwoordigheid deur Jesus Christus en dit wat Hy gedoen het.