Die Drie-eenheid en gebed (2)

 

The Bible does not present  an art of prayer, it presents the God of prayer – Edmund p. Clowney

 

Die Drie-eenheid en gebed (2)

[Ek gaan onder andere van Tim Keller se boek Payer: Experiencing Awe and Intimacy with God gebruik maak.]

 

In die vorige blog het ons die vraag : Gebed is ‘n ontmoeting: met Wie? geantwoord. Ons het gesien dat dit ‘n ontmoeting met God die Vader is. Dit bring ons by ‘n volgende vraag: Maar hoe kry ons toegang tot God die Vader?

Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader (Efesiërs 2:18).

Almal wat glo, het die begeerte om te bid. Deur die Heilige Gees is gebed geloof wat hoorbaar word.

Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. … julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat uitroep: “Abba!´Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is (Romeine 8:14 – 16).

 

Die Heilige Gees vul die Christen met vertroue in God se liefdevolle teenwoordigheid. Die Heilige Gees gee aan gelowiges die vertroue dat hulle verhouding met God nie van hulle prestasies afhang nie. Die Heilige Gees gee aan ons geloof vol vertroue wat natuurlikerwyse oorgaan in gebed. Die Heilige Gees gaan nog verder:

 Die Gees staan ons ook in ons swakheid by; ons weet nie hoe en wat ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugting wat nie met woorde gesê word nie. En God wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges (Romeine 8:26 – 27).

 

Die Heilige Gees plaas in ons ‘n diep verlange om God se wil te doen en om sy heerlikheid te sien.

 

Ons het nou reeds na gebed en die Vader en die Heilige Gees gekyk. Volgende keer kyk ons na gebed en Jesus Christus,

 




Wat is die evangelies

 

What! Get to heaven on your own strength? Why, you might as well try to climb to the moon on a rope of sand! – George Whitefield

 

Wat is die evangelies

Ons gaan voort met Mel Lawrenz se reek oor hoe om die Bybel te verstaan.

As ons by die Nuwe Testament kom, is die eerste vraag wat ons vra: Wat is die evangelies? Gelowiges glo dat God nie die mens in stilte agter gelaat het nie. Hy het hard en duidelik deur sy woord gepraat – dit is die Bybel, maar ook die Woord, Jesus Christus. Die openingswoorde van die Hebreër-brief sê dat God in die verlede op baie maniere met die volk gepraat het deur die profete, maar in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.

 

God het deur mense, die profete, gepraat en toe beslissend deur sy Seun. Jesus is nie net die Woord van God nie, maar Hy beliggaam God se heerlikheid en wese. Jesus Christus is die sentrale tema van al vier die evangelies, want sy lewe, sterwe en opstanding voorsien die weg na verlossing.

 

Dit is belangrik dat ons die betekenis en boodskap van die evangelies verstaan. Ons kan maklik glo dat hulle geskiedkundige verhale is, want hulle vertel vir ons die gebeurtenisse in Jesus se lewe. Hulle is meer as dit. Die doel van die evangelies is om te verkondig dat die seun van God in Judea en Galilea verskyn het, dat Hy groot wondertekens gedoen het, dat Hy gekruisig, gesterwe en opgestaan het – die finale oorwinning oor die sonde. Die skrywers van die evangelies was gelowiges en nie net geskiedkundiges nie. Hulle was eerlike en getroue getuies.

 

Markus se evangelie is eerste geskryf en baie van sy inhoud kry ons ook in Matteus en Lukas. Matteus wou veral die verhaal vir die Jode van die eerste eeu verduidelik. Lukas, daarenteen, probeer om ‘n nie-Joodse gehoor te help. Hy sê reg aan die begin dat hy ‘n ordelike verslag wil gee. Die Johannes-evangelie sluit dinge in wat ons nie in die ander evangelies kry nie.

 

Al die evangelies vereis diepe nadenke om hulle betekenis te verstaan. Hoe langer ons hulle bestudeer, hoe dieper is hulle impak op ons. Jesus se woorde is beslis vir ons en hulle sal ons lewens verander, maar ons moet versigtig wees. Ons moet steeds sy woorde in hulle oorspronklike konteks verstaan. Daarna kan ons ontdek hoe hierdie waarheid op ons van toepassing is.

 

 




Die Drie-eenheid en gebed (1)

 

To encounter the words of Scripture is to encounter God in action – Timothy Ward

 

Die Drie-eenheid en gebed (1)

[Ek gaan onder andere van Tim Keller se boek Payer: Experiencing Awe and Intimacy with God gebruik maak.]

Ons sê dat gebed ‘n ontmoeting is. Maar met wie? Met ons hemelse Vader. Die Vader het sy Seun gestuur om ons van ons sondes te verlos. Hoekom? Sodat ons God se aangenome kinders kan word.

Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur … om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word. En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader! (Galasiërs 4:4 – 6).

 

Omdat God ons Vader is, het ons ‘n verhouding van liefde en versorging met Hom. Die Bybel reserveer die gebruik van kinders van God tot diegene  wat in God se familie opgeneem is in genade en deur geloof. As ons in ‘n nuwe familie opgeneem word, beteken dit dat ons ons daaglike lewe moet aanpas by ons nuwe familie. Luister net wat sê Jesus:

Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet (Johannes 17:23)

Wat ‘n merkwaardige uitspraak.

 

God het ons as sy kinders aangeneem. Dit beteken dat Hy ons liefhet asof ons alles gedoen het wat Jesus Christus gedoen het. Nou kan ons sonder vrees die Vader nader. Ons het ‘n intieme, onbreekbare verhouding met die God van die heelal. Om kind van God te wees, beteken dat ons toegang tot Hom het. God luister na ons en hou ons dop.

Wat is die mens dan dat U aan Hom dink, die mensekind dat U na hom omsien (Psalm 8:5).

 

Gebed is ‘n manier om hierdie toegang tot Vaderlike liefde en versorging vir ons toe te eien. Nou het ons die versekering ons word versorg.

 

Volgende keer gaan ons na die rol van die Heilige Gees in gebed kyk.

 




Die grond van die gemeente

 

For, if we have not charity, we are not Christians: charity is the great duty of Christians. – George Whitefield

 

Die grond van die gemeente

Om ‘n gesonde gemeente te vestig, begin by die gemeente se grond. As gemeentes probleme ondervind vra hulle gewoonlik vrae soos: Watter musiek speel ons? Hoe doen ons ons aankondigings? Gee ons koffie na die tyd? Hulle soek net vir ‘n klein aanpassing is die metodologie. Metodes kan ‘n verskil maak, maar dit sal nie ‘n radikale ommekeer tot gevolg hê nie. Wat hanteer moet word, is die gemeente se grond. Die grond is die gemeente se kultuur – dit wat die gemeente definieer. Elke gemeente het ‘n kultuur en dit het ‘n belangrike effek op die vrugte wat die gemeente vir die koninkryk van God dra.

 

  1. Die grond beïnvloed die oes

Jesus gebruik die grond beeld in die gelykenis van die saaier. Hy sê dat die sleutel tot groot oeste waarin die saad (die woord) geplant word, is die grond. Sonder goeie grond is die oes maar beperk. Die kultuur van die gemeente is vergelykbaar met die grond. Die kultuur van ‘n organisasie is die omgewing wat die doeltreffendheid van God se woord bepaal. ‘n Gemeente se kultuur beïnvloed sy impak.

 

  1. Gesindhede is aansteeklik

In baie gemeentes is daar ‘n negatiewe gesindheid teenoor nuwe intrekkers. Daar is mense wat hulle nie in “ons” kerk wil hê nie. God kan nie so ‘n gesindheid seën nie. Dit word ook deur mense in en buite die gemeente gesien. Die groot probleem hier is die kultuur van die gemeente.

 

  1. ‘n Gesonde kultuur moet gekweek word

Kan die bestaande kultuur van ‘n gemeente verander word? Beslis. Ons kan gesonde waardes in die gemeente kweek en versterk. Dit is die voedingstowwe vir ‘n gesonde omgewing waarbinne God se woord die harte en lewens van mense kan beïnvloed. Sonder gesonde waardes sal die grond altyd beperkte oeste tot gevolg hê.

 

Waardes is die kern van dit wat vir die gemeente belangrik is. Hulle is onderliggend aan die verskillende fasette van ‘n gemeente.

  • Hulle is beginsels wat rigting gee
  • Hulle beïnvloed gedrag, optrede en sending
  • Hulle definieer hoe dinge gedoen gaan word
  • Hulle dien as basis om te bepaal wat belangrik is.
  • Met passie glo ons hulle; en met emosie besit ons hulle

 

  1. Daar is meer as een tipe gesonde kultuur

Daar is nie net een korrekte kultuur wat in elke gemeente oorvloedige vrugte dra nie. elke gemeente is ‘n unieke liggaam van gelowiges wat hulle eie waardes moet bepaal om ‘n kultuur daar te stel wat God verheerlik en wat hulle in staat stel om hulle gemeenskap te bereik. Die belangrikste ding is dat die gemeente duidelik, doelgerig en toegewyd moet wees aan hulle waardes.

 

  1. Dit is moeilik, maar kultuur kan verander word

Om die kultuur deur gesonde waardes te verander, is nie ‘n vinnige oplossing nie. Dit kan jare neem voor die waardes diep ingewortel in die harte van die gelowiges is. Dit moet voortdurend geleer en gemodelleer word. Uiteindelik word die lidmate meer ontvanklik.

 

Die uitdaging om ‘n gesonde kultuur te kweek is ‘n nimmer eindigende proses, maar die reis is die moeite werd.