Hoe werf ons vrywilligers

 

The belly being full, either no prayers at all, or else fat and unwieldy prayers, are made.  — Heinrich Bullinger

 

Hoe werf ons vrywilligers

Die rol van vrywilligers in ons gemeentes word toenemend belangriker. Maar meeste gemeentes sukkel om voldoende vrywilligers te werf. Thomas McKee (The New Breed: Understanding and Equipping the 21st Century Volunteer) gee sewe riglyne om ons te help om vrywilligers te werf.

  1. Vra persoonlik. Moenie op aankondigings vertrou nie. Jy soek iemand om vir ‘n spesifieke bediening aan te meld
  2. Ontwikkel strategiese werwingsvennootskappe. Bou ‘n netwerk – jou werwingspan. Dit beteken die poel waaruit jy kan werf word groter.
  3. Werf korttermyn projekspanne. Hoe meer spesifiek jou tydsraamwerk, hoe meer gewillig is mense om te help. Hierdie korttermyn projekte kan tot langtermyn toewyding lei.
  4. Aanvaar dat “nee” beteken “nie nou nie” of ‘nie hiervoor nie.” Luister versigtig na die redes vir die “nee.” ‘n “Nee” nou mag later ‘n “ja” word.
  5. Ontwikkel geskrewe verantwoordelikhede vir elke rol. Moenie ‘n pos vul voordat jy iemand het wat aan die vereistes voldoen nie.
  6. Werf spesifieke mense vir spesifieke rolle. Dit moet inpas met hulle passie, gawes en vaardighede.
  7. Jou leierskapspan moet die beginsels van mense uitnooi en toerus as vrywilligers aanvaar en uitleef.

 

 

 

 




Ouer mans

 

Take a saint, and put him into any condition, and he knows how to rejoice in the Lord. —Walter Cradock

 

Ouer mans

In Titus 2:1 – 6 praat Paulus oor alledaagse geloof. Let daarop dat hierdie ons reaksie op die evangelie is – nie ‘n manier om aanvaar te word nie. As gevolg van dit wat God vir ons gedoen het, sal ons lewens anders lyk.

 

Paulus begin by die ouer mans: Sê vir die ouer mans hulle moet nugter wees,  eerbaar, verstandig, gesond en vas in die geloof, liefde en volharding. Paulus verwys hier spesifiek na die versoekings vir diegene wat al reeds ‘n ent langs die lewenspad geloop het. Baie van die opdragte word later vir die ander ouderdomsgroepe herhaal, maar een kry ons net hier: volharding. Volharding is nie natuurlik vir mense nie, veral nie vir ouer mense nie. Ouer mans plaas hulle enjin in neutraal. Hulle het hulle geld gemaak; hulle is moeg; hulle voel dat hulle genoeg gedoen het; hulle kan nou aan hulleself dink – hulle stokperdjies, hulle belange. Hulle ignoreer diens aan ander.

 

Geen wonder ouer mans word knorrig en sinies nie. Hoekom word hulle so knorrig? Hulle fokus net op hulleself. Daarom sê Paulus: volhard. Al die ander opdragte wat hy aan die ouer mans gee, kan in die lig hiervan gelees word. Wees nugter en eerbaar – moenie net aan jou eie begeertes dink nie. Plaas hulle na die behoeftes van die kerk en die volgende geslag. Dit wat jy in die lewe bereik het behoort nie ‘n hoop geld te wees nie, maar om te sien dat die koninkryk van God groei selfs al is jy lankal nie meer daar nie. Moenie jou laaste jare gee aan gholf of visvang nie, maar vir God se koninkryk.

 

Vas in die geloof – moenie sinies word nie, moenie ophou glo nie al lyk dit vir jou of die wêreld agteruitgaan. God se beloftes vir die wêreld geld steeds; Hy het ‘n plan vir hierdie wêreld en Hy sal dit deurvoer.

 

Wees nugter –  moenie jou aan alkohol oorgee nie. Daar is nog ‘n belofte wat vir jou voorlê. Daarom moenie optree asof jou beste dae agter jou lê nie. Al lê jy vasgekluister in ‘n bed kan jy nog steeds bid vir God se koninkryk.

 

God se beloftes het nie ‘n vervaldatum nie – bly glo aan hulle. Kyk maar weer na die voorbeeld van Kaleb. Hy was al ouer as 80 jaar toe hy die bergwêreld ingeneem en dit syne gemaak het. Ons het nog meer rede as Kaleb om te volhard. Hy het gesien hoe God die Israeliete deur die Rietsee gelei het, maar ons weet dat God vir Jesus uit die dood opgewek het.

 

Ouer mans: die kerke het julle nodig. Julle moet nog dien; julle moet as mentors vir jonger mense optree – die kerke het die wysheid en ondervinding wat God aan ons gegee het nodig.

 

Julle moet sterk klaarmaak; eindig die reis met volharding.

“It is not the going out of port, but the coming in, that determines the success of a voyage.”

Henry Ward Beecher

[Ek kan hierdie blog skryf, want ek is self ‘n ouer man.]

 

 




God vra my om iets bo my vermoë te doen!

 

Love says: I’ve seen the ugly parts of you, and I’m staying. —Matt Chandler

 

God vra my om iets bo my vermoë te doen!

God, in sy soewereine wysheid, plaas ons soms in situasies wat ons tot die uiterste toe sal beproef. Soms word ons gevra om iets vir die heerlikheid van God te doen wat ver bo ons vermoëns is. Dit is die smeltkroes van leierskap. [Smeltkroes = omstandighede wat deur beproewing ‘n suiwerende invloed het – HAT.]

 

Moses het die smeltkroes geken. Toe God die noodkrete van die Israeliete gehoor het, verskyn Hy aan Moses en sê dat Hy sy volk uit hulle slawerny sal verlos. Moses was sekerlik dankbaar en verlig. Maar toe sê God vir hom: Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry (Eksodus 3:10). God sê dat Hy sy mense gaan verlos, maar dat Hy Moses stuur om dit te doen – dit is die smeltkroes.

 

Dit is hoe God dikwels werk: Hy kan dit doen dit, maar Hy stuur vir ons. Maar, net soos Moses, kyk ons na onsself en maak verskonings. Moses sê die mense sal hom nie glo nie (4:1). Voel ons nie ook dikwels so nie. God kan deur geloof ons gewone vermoëns verander in buitengewone vermoëns. Gee aan God jou vermoëns en sien hoe Hy te werk gaan daarmee.

 

Moses kom met ‘n volgende verskoning: Ek kan nie goed praat nie. Maar God kan ook hierdie swakheid gebruik. Ons moet ons swakhede vir Jesus gee en kyk hoe Hy daarmee werk. My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is … Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk (2 Korintiërs 12:9 – 12).

 

God gaan groot dinge doen. Hy gaan dit doen deur vir my en jou te stuur. Dink daaroor na.

 

 




Mites en gerugte: moeilik om uit te roei

 

A materialistic world will not be won to Christ by a materialistic church. —David Platt

 

Mites en gerugte: moeilik om uit te roei

Sewentien jaar gelede publiseer ‘n geneesheer in die Verenigde Koninkryk ‘n studie waarin hy ‘n korrelasie tussen die vaksiene vir masels, pampoentjies en Duite masels en outisme beskryf. Na verdere studie blyk dit dat hierdie bevinding verkeerd is – daar is geen verband nie. Die geneesheer het onetiese finansiële belange gehad. Hy het uiteindelik sy lisensie om as geneesheer te praktiseer verloor.

 

Dit blyk egter dat ‘n derde van Amerikaanse ouers steeds hierdie gediskrediteerde bewerings glo. Die gevolg is dat masels wat op ‘n stadium uitgeroei was weer terug is in die VSA. Hoekom is dit so moeilik om gerugte en mites uit te roei: Christopher Graves in die Harvard Business Review noem vier redes.

  1. Om die feite te beredeneer, maak geen verskil nie

Mense glo net dit wat inpas by hulle vooraf bestaande sienings. As jy feite en bewyse aan hulle voorlê verwerp hulle dit – hulle klou net vaster aan hulle vooropgesette idees.

 

  1. As jy die mite herhaal, maak jy dit net gewilder

As jy die mite herhaal, doen jy twee dinge:

  • Jy maak mense wat nog nooit van die mite gehoor het nie daarvan bewus … en hulle glo dit.
  • Vals aansprake word nou skielik aanbevelings.

Om vals inligting te herhaal, selfs as jy dit doen om die aansprake te verwerp, het die teenoorgestelde effek.

 

  1. Bevestiging werk, maar ons gebruik dit selde

As iemand se feite verkeerd is, gaan ons oor op die aanval. As ons mense laat sleg voel oor hulleself sal hulle nie sommer die regte feite aanvaar nie. Die probleem met die vaksinering is dat daardie ouers wat hulle kinders nie ingeënt het nie beswadder is. In plaas daarvan dat ons die ouers laat besef het dat ons glo dat hulle lief is vir hulle kinders het ons gesê dat hulle kinders blootstel aan allerhande ernstige siektes. Om hulle as idiote te hanteer, het die hele bespreking ontspoor.

 

  1. Ons onderskat die krag van die storie

Mense het ‘n storielyn nodig. As hulle nie een het nie, skep hulle een. Dit is nie voldoende om ‘n storie/mite te verwerp nie – jy moet ‘n nuwe geloofwaardige storie in sy plek bring.