Moenie die psalms vergeet nie

 

The vocation of pastor has been replaced by the strategies of religious entrepreneurs with business plans.  – Eugene Peterson

 

Moenie die psalms vergeet nie

Hoe kan ek ‘n disispel wees as my gemoedstoestand wissel van hoog na laag, tussen geloof en twyfel, tussen vertroue en vrees? Lees die psalms. Jesus het ook dikwels uit die psalms aangehaal. As ek dan meer en meer soos Jesus wil word, hoe kan ek dan die psalms ignoreer.

 

Wat doen die psalms vir ons?

  1. Die Psalms bekragtig ons emosies

Aan die kruis roep Jesus uit: My God, my God, waarom het U my verlaat (Psalm 22:2). Die psalms was so deel van Jesus dat Hy dit in die vreeslikste tyd van sy lewe aangehaal het. Ons as Christene probeer dikwels ons emosies onderdruk – Christene is sterk en wys nie hulle emosies nie. Lees ons die psalms sien ons dat daar wel plek vir emosies in die evangelie is. In die psalms sien ons vreugde, teneergedruktheid, dankbaarheid, hartseer en feitlik elke ander emosie. Die pslams sê vir my ek kan vir God vra  waarom en hoe lank nog. Ek kan eerlik wees oor hoe ek voel. Die psalms laat egter nie ons emosies soos hulle is nie. Hulle vorm ons emosies en gee aan hulle die regte konteks.

 

  1. Die psalms vorm ons verbeelding

Hoe ons oor God dink en wat ons van Hom glo is krities as ons ‘n lewe gesentreer op die evangelie wil leef. Waar kan ons leer om te dink en te glo soos Jesus? In die psalms. Hier is ‘n paar voorbeelde van hoe die psalms ons verbeelding kan vorm:

  • Die lewe saam met God is ‘n goeie lewe (Psalm 1)
  • God is ons toevlug en skuiling (Psalm 16)
  • God voorsien wat ons nodig het (Psalm 23)
  • God is vol genade vir sondaars (Psalm 51)
  • God is altyd teenwoordig by ons (Psalm 1390

Die psalms leer ons verbeelding om na te dink oor die waarheid aangaande God (Psalm 1). Jesus het die lewe deur die lens van die psalms gesien (voorbeeld: Psalm 8:3 en Matteus 21:16). Ons hoor dikwels mense sê: “Ek kry swaar. God is seker kwaad vir my.” As ons egter die psalms lees, sien ons dat lyding ‘n normale deel van die lewe is.

 

  1. Die Psalms leer ons om te bid

“The great and sprawling university that Hebrews and Christians have attended to learn to answer God, to learn to pray, has been the Psalms.” (Eugene Peterson). Die psalms leer ons hoe om te bely, hoe om te hoop en hoe om te aanbid. Die psalms is die gebedeboek van die gelowiges.

 

Billy Graham het elke maand die Psalms deurgelees – vyf elke dag. Lees gereeld die psalms. Dan sal ons besef geloof en twyfel bestaan saam.

Here, leer my u weg en lei my op ‘n gelyk pad, om my vyande ontwil (Psalm 27:11).

 

 

 




Evangelisasie: ses belangrike vrae

 

Those that look to be happy must first look to be holy. — Richard Sibbes

 

Evangelisasie: ses belangrike vrae

Evangelisasie is ‘n woord wat baie Christene bang maak. Is dit omdat hulle bang is hulle word verwerp? Voel hulle hulle is nie bekwaam genoeg nie? Die gevolg is dat baie gelowiges geestelike gesprekke vermy.

 

Trevin Wax gee ‘n lys van ses vra wat ons moet antwoord. As ons “nee” op enigeen van hierdie vrae antwoord, sal ons passie vir evangelisasie ly.

 

  1. Die Deernis vraag: Gee jy om vir mense wat Jesus Christus nie ken nie?

Voordat ons die goeie nuus kan vertel, moet ons eers deur die goeie nuus gevorm word in mense wat deernis en liefde het. As ons glo dat mense sonder Jesus Christus waarlik verlore sal gaan, behoort deernis ons te motiveer vir evangelisasie.

 

  1. Die Kultuur vraag: Weet ons hoekom mense die evangelie verwerp?

Watter kultuurneigings maak dit moeilik vir mense om te glo? Wat is die algemene besware  wat mense teen die evangelie het? Francis Schaeffer is gevra hoe hy te werk sou gaan om binne een uur aan iemand die evangelie te vertel. “Ek sal 55 minute luister en vyf minute praat, want eers dan sal ek weet hoe om die evangelie te vertel op so ‘n manier dat dit alle besware oorwin.” Goeie evangeliste ken die kultuur en luister na mense.

 

  1. Die Inhoud vraag: Weet ons wat die goeie nuus wat ons oordra, is?

Ons sal nie die goeie nuus doeltreffend kan oordra nie, tensy ons duidelik weet wat dit is. Ons moet die goeie nuus op ‘n manier wat getrou aan die Skrif is oordra.

 

  1. Die Vertroue vraag: Glo ons dat God sondaars red?

Die manier om ons onsekerheid oor evangelisasie te oorwin, is nie om om meer vertroue in ons eie vermoëns te hê nie, maar om meer vertroue in die krag van die evangelie om te red, te hê. Mense wat hulle geloof met ander deel, vertrou dat God hulle onvolmaakte pogings sal gebruik. Die krag is in die evangelie en nie in ons nie.

 

  1. Die Toewyding vraag:Glo ons dat God aan ons die verantwoordelikheid vir evangelisasie gegee het?

Glo ek dat God hierdie verantwoordelikheid aan my gegee het? Glo ek dat God mense red deur die verkondiging van sy woord? As ek glo dat God dalk ander maniere kan gebruik om mense te verlos, sal ek stil bly. Glo jy dat jy hierdie voorreg en groot verantwoordelikheid gegee is en dat die Heilige Gees jou sal gebruik om mense na God toe te trek?

 

  1. Die Roepings vraag:Is jy bereid om iemand te vra om berou te hê en te glo en hulle dan verder op die pad na geestelike volwassenheid te lei?

Soms praat ons oor Jesus, maar ons bereik nooit die punt om iemand uit te nooi om sy sondes te bely en sy geloof in Christus te plaas nie. Miskien is ons bang hulle sê “nee.” Miskien is ons bang hulle sê “ja.” As iemand “ja” sê, het ons die verantwoordelikheid om hom verder te help om geestelik volwasse te word.

 

 

 




Tydbestuur

 

The weakest faith gets the same strong Christ as does the strongest faith. —Sinclair Ferguson

 

Tydbestuur

Meeste van ons voel asof ons nie in volle beheer van ons tyd of dagboek is nie. Hoekom? Want ons sien nie die groter prentjie nie. Tipies as ons aan tydbestuur dink, sien ons ons te-doen lysie asof alles op daardie lysie dieselfde prioriteit het. As ons nie alles gedoen kry nie, aanvaar ons dat ons ons tyd sleg bestuur het.

 

Die probleem is dat nie alles wat ons dink gedoen moet word, moet gedoen word nie. Sekere dinge moet ons doelbewus nie doen nie. Die grootste probleem is dat ons aan tyd net op ‘n logiese manier dink. Daar is ten minste vier dimensies in tydbestuur en ons moet al vier verstaan.

  1. Tydbestuur het ‘n logiese komponent

Ons het 168 uur per week. Daarvan slaap ons 45 – 50 uur. Die res van die tyd moet ons tussen familie, werk, vriende, rus, vermaak, ens verdeel. Dit vereis ‘n kalender, basiese organisasie en ‘n te-doen lysie.

 

  1. Tydbestuur het ‘n emosionele komponent

As ek van my familietyd opoffer vir my werk, sal ek meer gedoen kry, maar dit gaan my emosioneel dreineer. Elke nuwe taak wat ek aanpak, bring ‘n sekere mate van druk. Dit is nie net of ek hierdie nuwe eise in my skedule kan inpas nie, maar ook: met hoeveel emosionele druk gaan dit gepaard.

 

  1. Vir die Christen het tydbestuur ook ‘n geestelike komponent

My verhouding met God word beïnvloed deur hoe ek my tyd spandeer. In tradisionele tydbestuur beteken die eerste uur die nagaan van e-posse. Vir die Christen is dit die tyd om stil te wees met God. Christene wil ook hê dat hulle tyd belê en nie gespandeer moet word nie – ek wil my tyd belê in dinge met ‘n Koninkrykswaarde. Maak die beste gebruik van elke geleentheid (Efesiërs 5:16). Dit beteken nie dat ons nou teen ‘n pas wat ons nie kan volhou moet werk nie. Dit beteken wel dat ek weet wat die belangrikste is en daar my tyd belê.

 

  1. Tydbestuur het ‘n verhoudingskomponent

Die belangrikste ding waaraan ek in my lewe aandag kan gee, is verhoudings. Dit is waar ek my tyd en energie moet fokus.My verhouding met God vereis tyd – Bybelstudie, gebed, luister, skryf en studie. My verhouding met my vrou vereis tyd – praat, saam bid, geniet mekaar. My verhouding met my kinders vereis tyd … So kan ek voortgaan. Ek het ook tyd nodig vir introspeksie.

 

Tyd is nie net matematies nie. Dit is ook emosioneel, geestelik en verhoudings. Tyd moenie net gespandeer word nie, maar moet belê word. Onthou: my tyd is waardevoller as my besittings.

 

 

 




Kry almal by evangelisasie betrokke

 

You mass produce cars, not disciples” – Ed Stetzer

 

Kry almal by evangelisasie betrokke

Vir sekere mense is evangelisasie moeilik, maar almal moet betrokke wees. Baie mense glo dat evangelisasie ‘n gawe is wat sekere mense het en ander nie het nie. Nie waar nie: God stuur ons almal. Kerkleiers moet die lidmate toerus sodat almal  hulle rol in evangelisasie verstaan. Wat kan die gemeente doen om evangelisasie te bevorder?

  1. Bou verhoudings

Meeste mense kom na Christus deur ‘n persoon wat hulle ken. Persoonlike verhoudings is die beste manier om uit te reik. Vetroue beteken dat jy met mense kan praat oor Jesus. Vertroue is die gevolg van ‘n verhouding.

 

  1. Moedig betrokkenheid aan

Die wêreld kry soms die verkeerde idee dat om ‘n Christen te wees, beteken my lewe is volmaak. Ons moet daarom mense gereeld daaraan herinner dat ons almal ‘n Verlosser nodig het. Dit breek die mure wat mense van Christus en die kerk skei, af. Christene moet herstel deur die Een wat herstel – Jesus Christus – aanbied.

 

  1. Gebeure wat almal insluit

Sekere dele van die gemeente is eksklusief – nagmaal die doop ens. Maar die gemeente het die vryheid en verantwoordelikheid om samekomste te hou waar mense wat soek ook welkom is. Hierdie geleenthede wys ons liefde vir die gemeenskap en verhoog die gemeente se sigbaarheid. Verhoudings kan by sulke geleenthede aangeknoop word. Hierdie verhoudings kan uiteindelik na Jesus Christus toe lei.

 

  1. Goeie onderrig

Maar op een of ander stadium moet ons die evangelie verkondig. En dit gebeur nie net op Sondae nie. Jou vriende moet gereeld by jou van Jesus Christus hoor.

 

Ons kan kla oor die gebrek aan evangelisasie in ons gemeentes, maar hierdie is ‘n saak vir die leiers. Leiers moet die kultuur vir evangelisasie skep. As die lidmate sien dat ons doelgerig en ernstig is oor evangelisasie is dit meer waarskynlik dat hulle betrokke sal wees.