Kinders en die evangelie

 

Salvation is not a reward for the righteous, but a gift for the guilty. —Steven Lawson

 

Kinders en die evangelie

Wat hoor ons kinders? Die evangelie of ‘n klomp Bybelstories? Ons praat baie oor die kontekstualisering van die evangelie: hoe verkondig ons die evangelie in spesifieke plekke vir spesifieke mense  met ondervindings wat hulle gedeel het? Die evangelie verander nie. Daarom bly die boodskap dieselfde, maar die metodes word vir doeltreffendheid aangepas.

 

Maar hoe verkondig ons die evangelie vir kinders? Kontekstualiseer ons ons boodskap vir hulle? Ed Stetzer sê dat ons onderrig vir kinders dikwels bestaan uit ‘n aantal geïsoleerde stories – ‘n aantal sedelesse. Ons leer ons kinders om goed te leef – daarom gebruik ons stories uit die Bybel van mense wat die regte dinge gedoen het. Ons hoop hulle aanvaar die idee dat God goed is en dat dit tot sukses lei.  Ons leer dat Satan sleg is en net tot mislukking lei. As die kinders die storie kan oorvertel, voel ons dat hulle die evangelie verstaan.

 

Kerke het baie goeie stories vir kinders vertel, maar het ons vir hulle dié Storie vertel? Dit is maklik om die stories te vertel, maar in die Bybel is daar ‘n groter storie. In hierdie groot storie is daar basies vier tonele: Skepping, Sondeval, Verlossing, Herstel. Leer ons dit vir ons kinders en hoe moet ons dit vir hulle leer? Ons wil tog hê dat ons kinders die volle storie moet hoor en nie net een of twee waarhede nie.

 

Die evangelie is nie net ‘n klompie idees nie – dit is ‘n plan wat ontwerp en geïmplementeer is deur ‘n liefdevolle God met die doel om mense te verlos. Christian Smith sê dat die oorheersende godsdiens in on huidige kultuur is moralistiese terapeutiese deïsme (net ‘n akademikus kan so ‘n naam uitdink.) Moralisme (God wil hê dat ek ‘n goeie persoon moet wees), terapeuties (dit maak van jou ‘n beter persoon) en deïsme (ek glo daar is ‘n God daar buite wat iets doen). Hierdie mense kry hulle teologie uit verskillende bronne insluitend die Bybel, maar hulle kies stories in die Bybel wat by hulle wêreldsiening inpas en neem die moraliteit wat hulle in daardie storie kry aan. Dit laat hulle beter voel. Sending voltooi.

 

Maar dit is nie ons sending nie. Die evangelie is dat sondaars gered is en deel van ‘n geloofsgemeenskap is wat mekaar toerus en na ander sondaars uitreik om aan hulle die storie van die Verlosser te vertel. Dit is die storie wat ons moet vertel … ook aan kinders.

 

Kinders is nog besig om te leer hoe om te leer, maar dit moet ons nie terughou om die hele plan van God met hulle te deel nie. Toe Jesus oor die aanvaarding van die evangelie gepraat het, het Hy gesê ons moet weer soos kindertjies word. Kinders kan die dinge van God hoor en dit glo. Daarom moet ons eerlik met hulle wees oor die evangelie. Dit sal meer sin maak as ons dit holisties oordra en dit sal ‘n groter impak op hulle lewens hê.

 

Daar is baie hulpbronne beskikbaar om kinders die hele storie van die Bybel te vertel. Kry hulle in die hande en vertel vir hou kinders die hele Storie van die Bybel.

 




Verkondiging teenoor uitleef van die evangelie

 

How sharper than a serpent’s tooth it is

To have a thankless child!

Shakespeare se King Lear

 

Verkondiging teenoor uitleef van die evangelie

Om diegene wat seer kry te dien en diegene wat verlore is te bereik, is nie teenoorgesteldes nie. Hulle is twee kante van dieselfde muntstuk – die evangelie.

 

Baie gemeentes sit met ‘n dilemma: hoe balanseer ons verkondiging en uitleef van die evangelie? Verkondiging van die evangelie is die duidelike verkondiging van die evangelie. Mense hoor die waarheid van verlossing deur Jesus Christus en het die geleentheid om in geloof te reageer. Uitleef van die evangelie is om ander in die Naam van Jesus Christus te dien. Christene moet sout en lig vir die wêreld wees – ‘n wêreld wat hierdie sout en lig dringend nodig het. Dit beteken ons leef die evangelie uit, maar dit is ‘n uitleef van die evangelie wat ons as mense verander het.

 

Wat is die roeping van die kerk? Is dit om die waarheid te praat of die waarheid uit te leef? Ons hoef nie te kies nie. Maar om hierdie twee belangrike aspekte van ons roeping te balanseer, is nie so maklik nie. So gebeur dit dat mense goeie dade doen, maar die fokus op verkondiging van die evangelie verloor het.

 

In Lukas 4:18 begin Jesus sy aardse bediening. Hy sê: Die Gees van die Here is op My. Dan vertel Hy van sy roeping om die evangelie aan armes te verkondig, die vrylating van gevangenes uit te roep, die gesig van die blindes te herstel en die onderdruktes te bevry. Dwarsdeur die Skrif lees ons van Jesus se kommer oor weduwees, weeskinders, die blindes en ander wat op die rant van die samelewing uitgestoot is. Christene moet leef soos Jesus wat gekom het om diegene wat seer het, te dien.

 

Hierdie selfde Jesus sê ook: Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is (Lukas 19:10). Dit gaan dus oor beide: die evangelie verkondig en die evangelie uitleef. Goeie werke is die resultaat van ons verlossing en vloei voort uit ons verhouding met Jesus Christus. Goeie werke verlos ons nie.

 

Jesus het gereeld die mense in die sinagoges geleer en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak (Matteus 9:35). Om die evangelie uit te leef, vloei voort uit die verkondiging van die evangelie. As ons by Jesus se sending wil aansluit, moet dit by ons ‘n passie wees om ongelowiges met die transformerende krag van die evangelie te bereik. As ons soos Jesus wil wees, moet deernis ons motivering wees om die fisiese behoeftes van mense te hanteer.

 

Daar is geen nodigheid om tussen die verkondiging en die uitleef van die evangelie te kies nie. Ons kan tog nie vir mense sê dat hulle ‘n Verlosser het wat lief is vir hulle en ons het hulle nie lief nie.

 




Die tydperk van die konings

 

The truly wise man is he who always believes the Bible against the opinion of any man. —R.A. Torrey

 

Die tydperk van die konings

Ons gaan voort met ons bespreking van Mel Lawrenz se How to Understand the Bible.

 

As ons die Ou Testament die eerste keer lees, vang die verhale van Dawid en Salomo ons vas. Daarna begin ‘n lang treurige storie van ontrent veertig konings. Meeste van hulle kan ons as boos beskryf. In ieder geval is dit nie juis leesstof om ons te bemoedig nie. Maar ingebed is die verhaal van God wat ons moet verstaan. Hierdie is ‘n tydperk van vyf eeue waarin ons van die hoogtepunte en laagtepunte van die konings van Juda en Israel en die volk lees. Daar is baie lesse oor sonde, integriteit en vernietiging.

 

Die tyd begin toe die mense sê dat dit nie voldoende was dat God hulle koning is nie. Hulle wil, soos die ander nasies om hulle, ‘n man hê om hulle te regeer. Dit begin by Saul – ongeveer ‘n duisend jaar voor Christus –  en eindig met die vernietiging va Juda en die ballingskap in 586 vC.

 

Voordat daar ‘n koning was, het die verskillende stamme versprei in klein nedersettings gebly. Rigters soos Gideon, Debora en Jefta voorsien ‘n mate van leierskap. Dan volg die tydperk van die konings soos vertel in 1 en 2 Samuel, 1 en 2 Konings en 1 en 2 Kronieke. Die eerste drie konings – Saul, Dawid en Salomo – se koningskap strek oor meer as ‘n honderd jaar. Na Saul volg die sogenaamde goue tydperk waartydens Dawid en Salomo heers. Die koninkryk se grondgebied brei uit; ‘n tyd van verde en voorspoed volg; Jerusalem word as die hoofstad en godsdienstige sentrum gevestig. Salomo bou die tempel wat die status van Jerusalem verder verhoog.

 

Na Salomo volg daar ‘n burgeroorlog en Israel word in ‘n Noordryk – Israel – met tien stamme en ‘n Suidryk – Juda – met twee stamme verdeel. Die koningskap word meestal in negatiewe woorde beskryf. Amper eentonig lees ons: slegte konings, goeie konings wat slegte konings word en ‘n paar goeie konings wat hulle integriteit behou. Ons leer ook van die geestelike dinamika agter hierdie bewegings. Die konings wat nie reg gedoen het in die oë van God nie het dikwels vreemde gode aanbid. Hulle het selfs mense geoffer. Hele geslagte oortree die tien gebooie. Hulle vergeet hulle erfenis en hulle God – hulle het nie eers geweet waar die Skrif wat hulle as volk geïdentifiseer het, was nie.

 

Die verhale van herlewing en hervorming onder konings soos Hiskia en Josia is soos son wat deur die donker wolke breek. So lees ons van Josia: Daar was nie voor hom nog ‘n koning soos hy wat hom tot die Here bekeer het met sy hele hart en siel en met al sy kragte in ooreenstemming met die hele wet van Moses nie. en na hom was daar ook nie so ‘n koning soos hy nie (2 Konings 23:25).

 

Hier het ons ‘n duidelike bewys van die krag van die woord van God: Josia se herlewing begin nadat sy amptenare die wetboek van die verbondsluiting ontdek het terwyl hulle besig was om, volgens Josia se opdragte, die tempel van die Here te herstel. Dit was die keerpunt. Die wetboek stel die mens vry van julle langstaande geestelike verlamming.

 

Hoe moet ons hierdie tydperk verstaan? Ons moet die boeke as geskiedenis lees, maar nie net geskiedenis nie. Die boeke beskryf geestelike beweging – op en af. Die profete sluit hierby aan. Hulle intepreteer hoe God se mense so laag kan sink, maar ook waar daar herstel was.

 

Hierdie is die verhale van werklike mense op werklike plekke. Geskiedenis vertel vir ons wat in die verlede gebeur het sodat ons kan verstaan wat besig is om in ons wêreld te gebeur, want die menslike natuur verander nie.

 

 




Hoekom moet ons kerk toe gaan?

 

I disapprove of what you say but I will die to defend your right to say it – Voltaire

 

Hoekom moet ons kerk toe gaan?

“The local church is the hope of the world” – Bill Hybels

Sommige mense glo dat die plaaslike gemeentes dood is – hulle beste jare lê agter hulle. Dit is nie waar nie: die plaaslike gemeentes lewe en hulle beste jare lê nog voor hulle.

 

Baie van ons het grootgeword deur elke Sondag die eredienste by te woon. Hoekom? Wat is die voordele verbonde aan gereelde bywoning van eredienste?

  1. Die Skrif sê so

Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom (Hebreërs 10:25).

Hierdie is nie net ‘n goeie voorstel nie. Reeds in die vroeë kerk het mense van die samekomste van die gemeente af weggebly – om nie saam met ander gelowiges te vergader nie. Die Hebreër-skrywer sê dat ons die aanmoediging van ander gelowiges nodig het – iets wat gebeur tydens die samekomste van die gemeente.

 

  1. Jy sal iets hoor wat jou sal aanmoedig om iets te doen

Meer inligting lei nie tot transformasie nie. Soos Andy Stanley sê: “It’s one thing to know a lot about weightlifting and another thing to actually lift weights.” Dit is een ding om baie van die Bybel te weet en ‘n ander ding om dit wat dit vir ons leer, uit te leef. Daarom is die Christelike lewe nie net kennis nie. Dit is wanneer ons dade van geloof en God se trou mekaar kruis dat ons geloof groei. Die waarde lê in toepassing, want dit is gehoorsaamheid wat al die verskil maak.

 

  1. Wees die verandering wat jy graag wil sien

Die wêreld soek na positiewe modelle om na te volg. Jy het die geleentheid om daardie model te wees. As jy die eredienste bywoon, sien ander dit. Jy stel ‘n voorbeeld wat ander raaksien. Voorbeelde moedig aan. Mense wil beter doen, beter lewe en beter wees. As die mense om jou sien jy woon die samekomste van die gemeente by en dat dit daartoe lei dat jy ‘n beter lewe lei, is dit ‘n positiewe voorbeeld wat ander kan volg.

 

Woon die samekomste van die gemeente by. Wees ‘n vriend en bring ‘n vriend. Onthou: ons beste dae lê nie agter ons nie, maar voor ons.