Waaroor preek ons leraars?


“I just want to do God’s will.”
Martin Luther King, Jr

 

Waaroor preek ons leraars?

In 1751 was John Wesley bekommerd oor ‘n nuwe soort prediking – hulle preek net God se beloftes en niks van die wet nie. In sy “Letter on preaching Christ” beskryf Wesley hoe wet en beloftes verkondig moet word.

 

Hy vertel van ‘n gemeente in Yorkshire:

From the beginning they had been taught both the law and the gospel. “God loves you; therefore, love and obey him. Christ died for you; therefore, die to sin. Christ is risen; therefore, rise in the image of God. Christ liveth evermore; therefore, live to God, till you live with him in glory. So we preached; and so you believed. This is the scriptural way, the Methodist way, the true way. God grant that we never turn therefrom, to the right hand or the left.

 

In elke stelling kom die goeie nuus eerste. Dit is wat Wesley verwag het as die woord aan gelowiges verkondig word. Vir ongelowiges sê hy dat hy met die wet sou begin om enige selftevredenheid van mense wat nog nie die ware vergifnis van Christus ondervind het nie, te verwyder.

 

Let wel: die gehoor bepaal die verkondiging. Sy waarnemings oor die geestelike status van sy gehoor vorm sy benadering tot sy prediking en onderrig.

 

 




Wees versigtig


“When I took up the cross I recognized it’s meaning. The cross is something that you bear, and ultimately, that you die on.”
Martin Luther King, Jr

 

Wees versigtig

Elke jaar bring nuwe geleenthede, maar ook nuwe versoekings. Kyk na Noag na die sondvloed. Die water het skaars teruggetrek of Noag word dronk (Genesis 9:20 – 27). Toe het hy kaal in sy tent gelê. Gam sien dit en gaan vertel dit vir sy twee broers. Beide Noag en Gam het gesondig – Gam se nageslag word vervloek.

 

Kom ons kyk na een aspek van hierdie verhaal: die gevolge van sonde.

  1. Niemand is immuun teen sonde nie

Noag was ‘n regverdige man. Onder sy tydgenote was hy onberispelik en hy het naby God geleef (Genesis 6:9); Noag het alles gedoen presies soos God hom beveel het (Gensis 6:22). Ten spyte hiervan word hy dronk. Ons versoekings mag van dié van Noag verskil, maar die waarheid bly dieselfde: regverdigheid vandag is geen waarborg van ‘n oorwinning môre nie.

 

  1. ‘n Kragtige beweging van God hou ons nie weg van die sonde nie

God kommunikeer persoonlik met Noag en waarsku hom van die vloed wat gaan kom. Hy gee vir hom aanwysings oor die bou van die ark; Hy beskerm vir Noag en sy familie tydens die vloed. Noag se eerste optrede nadat hy die ark verlaat het, was om ‘n altaar te bou. Hierdie geskiedenis van God wat in Noag se lewe werk, verhoed nie dat Noag keuses maak wat skaamte oor hom bring nie.

 

  1. Selfs ‘n enkele sonde kan ‘n rekord van jare se trou uitwis

Noag was so getrou dat hy selfs in die Hebreër-boek plek kry in die gallery van geloofshelde (Hebreërs 11:7). Maar dieselfde Bybel skram nie weg van Noag se sonde in Genesis 9 nie. Die gevaar dat ek vandag ‘n besluit kan neem wat die res van my lewe negatief sal beïnvloed, is altyd daar.

 

  1. Sonde beïnvloed selde net vir ons

In Noag se geval open die sonde van Noag die deur vir sy seun se sonde. Sonde lei dikwels tot bitterheid en vergelding deur ander. Oppas, ons sondes mag littekens op ander laat.

 




Shalom: Innerlike vrede


“The early Christians rejoiced when they were deemed worthy to suffer for what they believed. In those days the Church was not merely a thermometer that recorded the ideas and principles of popular opinion; it was a thermostat that transformed the mores of society.”
Martin Luther King, Jr

 

Shalom: Innerlike vrede

In die Ou Testament verwys shalom meestal na die vervulling wat die mens ondervind as hulle God se teenwoordigheid beleef. Koning Dawid het in sy lewe baie moeilikhede ondervind. Een van die pynlikste was sekerlik toe sy seun, Absalom, teen hom saamgesweer het.

 

Absalom skaf vir hom ‘n kar en perde aan en vyftig man het gewoonlik voor hom gehardloop (2 Samuel 15). Hy het soggens vroeg opgestaan en langs die pad by die stadspoort gaan staan. Elkeen wat daar verby gekom het vir ‘n beslissing van die koning sê hy: “Kyk, jy het ‘n sterk, regverdige saak, maar by die koning sal niemand na jou luister nie … As ek maar net as regter in hierdie land aangestel word, sou ek ‘n regverdige uitspraak lewer.” Vier jaar later vra hy by Dawid toestemming om na Hebron te gaan om my gelofte wat ek teenoor die Here afgelê het, te gaan betaal.

 

Hy stuur ook boodskappers na al die Israelitiese stamme met die volgende boodskap: As julle die ramshoring hoor, moet julle sê: Absalom het koning geword in Hebron. So vermeerder Absalom se volgelinge en die sameswering word sterker. ‘n Boodskapper kom by Dawid aan: Die hele Israel is aan Absalom se kant. Dawid beveel sy hele huishouding om te vlug uit Jerusalem. Hulle vlug te voet.

 

Die opskrif van Psalm 3 verwys spesifiek na hierdie episode – Dawid wat vir sy seun Absalom vlug. Innerlike vrede is tog onmoontlik onder hierdie omstandighede. Tog vind Dawid innerlike vrede, want hy vestig sy gedagtes op God se teenwoordigheid in sy lewe.

 

Bekommernis beroof ons van ons vrede. Dit verhoed dat ons snags rustig kan slaap. As ons op die Here vertrou, kan ons saam met die psalmis sê: As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my. Die Here is altyd naby aan ons. Ons kan soos die psalmis uitroep: Hulp kom net van die Here af (Psalm 3:9).

 

 




Vals geloof


“The hottest place in Hell is reserved for those who remain neutral in times of great moral conflict.”
Martin Luther King, Jr

 

Vals geloof

Vals geloof het gewoonlik elemente van ware geloof in hulle, maar skiet ver tekort en op die langtermyn laat dit ons in die steek.

 

Vals geloof staan teenoor ware geloof. Die oorsprong van vals geloof is ‘n verkeerde gesindheid, dit plaas die klem op verkeerde plekke en mik in die verkeerde rigting. Vals geloof kan verskillende vorme aanneem. Kom ons kyk na vier voorbeelde:

  1. Ek-gefokusde geloof – die lewe is ‘n verhaal oor my

Die Christelike geloof is nie ‘n manier om te kry wat ek wil hê nie. As ek my Bybel lees slegs om my daaglikse stukkie raad of bemoediging te kry, of as my gebedslewe fokus op wat ek van God wil hê, is my geloof waarskynlik vals. Egte geloof is God-gesentreerd en nie selfgesentreerd nie.

 

  1. God en land geloof – Die ware storie is oor wat vir ons land goed is

Maak nie saak waar jy woon nie, jy wil hê dat jou land goed moet funksioneer. Maar as ek my identiteit kry uit my Suid-Afrikanerskap is my geloof swak en vals. As ek bereid is om vir my land te veg en te sterf, maar nie bereid is om swaar te kry en te lewe – selfs te sterwe – vir Christus nie, moet ek versigtig wees. As ek bid dat my land ‘n wenner ten koste van ander nasies moet wees, is my hart nie op God gerig nie, want sy hart klop vir die hele wêreld.

 

  1. Wat rondom my gebeur bepaal waar ek my geloofsenergie plaas

God gee om vir die ongeregtigheid en pyn van hierdie wêreld, maar om die mees onlangse krisis sentraal in ons geloof te plaas, is verkeerd. Vir sommige gelowiges is God die manier om lyding te beëindig. Ons volg nie God om lyding te verlig of ons probleme op te los of ‘n krisis te hanteer nie. ‘n Vals geloof kyk na God deur die lens van ‘n krisis; ‘n ware geloof begin en eindig by God en sien alles deur die lens van God.

 

  1. Om alles uit te sorteer, is waaroor geloof gaan

‘n Geloof wat geen plek vir misterie laat nie, is ‘n dooie geloof. Dit is arrogant om te dink dat om teologies alles te weet, is ware geloof. As jy geloof soos ‘n legkaart benader – ek moet net al die stukke in hulle plek kry – is dit ‘n vals geloof. Ware geloof rus in God se arms. Geloof is nie net misterie nie, maar misterie is ‘n bestanddeel van geloof.

 

In plaas van hierdie vals gesindhede het ons ware geloof nodig.