Ons aanbid saam


“The gospel at its best deals with the whole man, not only his soul but his body, not only his spiritual well-being, but his material well being as well.”
Martin Luther King, Jr

 

Ons aanbid saam

Gebed is ‘n groot vreugde vir gelowiges. Dit is amper te goed om waar te wees dat in Christus God na ons luister. Die vreugde en voordele word nie tot ons persoonlike gebedslewe beperk nie. Gesamentlike gebed is ook belangrik. Hoekom?

  1. Dit gee krag

As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry (Matteus 18:19). Daar is bykomende krag as medegelowiges  saam versoeke tot ons Vader rig.

 

  1. Vreugde

As ons ons vreugde in gebed deel, vermeerder ons ons vreugde. Maar ons wil medewerkers wees om julle geluk te bevorder (2 Korintiërs 1:24). Ons vermeerder nie alleen ander se vreugde as ons saam bid nie, maar ook ons eie.

 

  1. Verheerliking van God

Ons vermeerderde vreugde in God lei tot ‘n vermeerdering van sy heerlikheid. Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid. So sal die gebede van baie ‘n seën van God vir ons bring, en dan sal baie Hom vir ons dank (2 Korintiërs 1:11). As ons saam bid, kry ons ander betrokke en dit verheerlik God as Hy ons gebede antwoord.

 

  1. ‘n Vrugbaarder bediening

God wil hê dat ons vir mekaar wil bid. Paulus vra die gemeentes gereeld om vir sy werk te bid: Verder, broers, bid vir ons, sodat die woord van die Here vinnig mag versprei en oral in ere gehou mag word soos by julle (2 Tessalonisense 3:1). Natuurlik was Paulus in staat om self vir hierdie dinge te bid – en hy het dit ook gedoen – maar hy verwag meer vrug op sy werk as ander by hom in gebed aansluit.

 

  1. Eenheid onder gelowiges

Om saam te bid, is een van die belangrikste dinge wat ons kan doen om eenheid in die gemeente te bevorder. Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed … (Handelinge 1:14). Om saam te bid is ‘n gevolg van die eenheid wat ons in Christus deel, maar dit lei ook tot ‘n dieper en ryker eenheid.

 

  1. Ons kry antwoorde wat ons andersins nie sou gekry het nie

As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing. As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder die aanroeping  van die Naam van die Here. En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word. Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van die gelowige het ‘n kragtige uitwerking (Jakobus 5:14 – 16). Dikwels bid ons alleen vir ons persoonlike behoeftes en God antwoord ons gebede. Soms verwag hy dat ons as medegelowiges saam moet bid.

 

  1. Leer om in ons gebede te groei

Die beste manier om te leer om te bid, is om saam met ander te bid. Gee aandag aan ander se benadering tot God, die soort dinge waarvoor hulle Hom dank en vra en hoe hulle ander in gedagte hou. Sonder dat ons daarvan bewus is, word ons gebedslewe gevorm.

 

  1. Om mekaar te leer ken

Een van die beste maniere om ‘n medegelowige te leer ken, is deur saam te bid. Dit is in gebed, in die teenwoordighed van God, wat ons veral ons maskers afhaal. Ons hoor ander mense se harte in gebed.

 

  1. Om Jesus beter te ken

Die grootste voordeel van gesamentlike gebed is dat ons Jesus beter leer ken. Ons visie en perspektief is beperk; daar is aspekte van Christus wat ons helderder as ander sien – en ander aspekte wat hulle helderder as ons sien. “By praying with friends, you will be able to hear and see facets of Jesus that you have not yet perceived” (Tim Keller).

 

Hoekom bid ons? Nie om dinge by God te kry nie, maar om God te kry. Dit is genoeg rede om saam met jou medegelowiges te bid.

 




Eensgesindheid

 

There is a God we want and a God who is, and the two are not the same. —Ligon Duncan

 

Eensgesindheid

Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eengesind saam woon!

Dit is soos reukolie wat van die kop af in die baard afloop,

die baard van Aäron, af tot by die soom van sy klere.

Dit is soos die dou van Hermonberg wat op die berge by Sion val.

Waar broers so saam woon, skenk die Here sy seën: ‘n lang, lang lewe.

(Psalm 133)

God hou van eensgesindheid en seën dit waar Hy dit teenkom. Ons het ‘n probleem hiermee, want ons verwar eensgesindheid en uniformiteit.

 

Kom ons kyk na Paulus se brief aan die Efesiërs. Hier kry ons sewe belangrike riglyne.

  1. Ons is almal in God se familie aangeneem. Dit beteken ons moet ‘n familieidentiteit aanneem wat vreemd is aan ons manier van dink en optrede. Om ou maniere in die nuwe familie van God in te dra, is om die nuwe identiteit wat God aan ons gee, te weier.
  2. Meer as kennis het ons die Gees van wysheid en openbaring nodig.
  3. Hy wil vir ons die onvergelykbare rykdom van sy genade wys, maar ons aanvaar so dikwels dat as ons aangeneem word dit die begin en einde van genade beteken. Daar is meer genade om te ontdek – dit begin by God se familie en beweeg van daar na buite.
  4. Daar is een liggaam en een Gees net soos ons tot een hoop geroep is toe ons geroep is: een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal …
  5. Ons bedroef die Heilige Gees, nie deur wat ons leer of bevorder nie, maar deur hoe ons mekaar behandel.
  6. As ons Jesus eer en aanbid, sal ons ons aan mekaar onderwerp.
  7. Vrede vir die broers, en liefde en geloof, van God die Vader en die Here Jesus Christus. Die genade sal by almal wees wat vir ons Here Jesus Christus met onverganklike liefde liefhet. Die grootste denker in die Christendom, Paulus, begin en eindig sy brief met die woorde genade en vrede.

 

Hoe het jy die seëninge van eensgesindheid in God se familie ervaar? Hoe het jy daartoe bygedra?

 




Hoe moet ons die wet verstaan?

 

Who overcomes by force hath overcome but half his foe. -John Milton, digter (1608-1674)

 

Hoe moet ons die wet verstaan?

Mel Lawrenz is besig met ‘n reeks oor hoe om die Bybel te verstaan. In hierdie gedeelte kyk hy na die wet in die Ou Testament.

 

Baie mense vind dele van die Ou Testament uitdagend en moeilik. Een so ‘n gedeelte is daardie gedeelte van Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium wat as “Die Wet” bekend staan. Baie mense wat die Bybel van die begin af lees sal min of meer die volgende ondervinding hê: Genesis is baie interessant met die verhaal van die skepping, die sondvloed en die verhale van Abraham, Isak en Jakob. Die uittogverhaal is aangrypend en dan kom die wet – berg Sinai en die tien gebooie is bekend, maar dan kom die wette en opdragte wat ver verwyderd van ons kultuur is. Dit is moeilik om te verstaan en hier in die middel van Levitikus val ons heeltemal vas.

 

Wat is die wet? Wat is die doel van die meer as 600 bepalings? Hoeveel hiervan is nog op ons lewens van toepassing? In die Skrif mag “die wet” na die meer as 600 bepalings wat Moses aan die mense deurgegee het of dit mag na die eerste vyf boeke van die Bybel verwys. Wette is die manier waarop ‘n samelewing die korrekte grense vir gedrag stel. Die wet in die Ou Testament is uniek, want dit is God se manier om sy verhouding met sy verbondsmense te vorm. Die Hebreërs is gekies om op ‘n spesifieke manier te leef – hoe hulle aangetrek het, wat hulle geëet het en hoe hulle aanbid het. Baie van hierdie wette geld nie meer na die koms van Jesus Christus nie – die ou verbond is deur die nuwe verbond verplaas. In Eksodus tot en met Deuteronomium is daar drie soorte wette:

  1. Siviele bepalings soos eiendomsregte, die huwelik, egskeiding, diefstal, moord, gesondheidsregulasies, ens.
  2. Rituele bepalings wat die offersisteem, die feeste, die rol van die Leviete, ens. definieer. Dit is die sogenaamde seremoniële wet.
  3. Morele beginsels wat seksuele etiek, die temas van die tien gebooie, ens insluit – die morele wet.

 

So hoe moet ons weet watter van die meer as 600 wette in die Ou Testament is nog op ons van toepassing? Hier moet die bepalings van die nuwe verbond ons lei. In die Nuwe Testament kry ons dat die siviele wet God se manier was om die Hebreeuse samelewing te vorm. Daarom is dit nie vandag bindend nie. Die rituele wet het offers, feesdae en die tabernakel gebruik om lesse oor sonde en versoening te leer. Die werk van Christus het dit vervang. Morele wette is steeds geldig. Hulle word dan ook meestal in een of ander vorm in die Nuwe Testament herhaal.

 

In die nuwe verbond word ons deur een beginsel gelei: die wet van Christus (Galasiërs 6:2). Wat is hierdie wet? Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand … Jy moet jou naaste liefhê soos jouself (Matteus 23:37 – 40). Paulus som dit so op: Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê (Romeine 13:8).

 

Kan ons nou maar van die wet vergeet? Die hele Bybel is die verhaal van God wat tussen sy mense beweeg om verlossing vir die mensdom te bewerkstellig. Dit beteken nie dat elke vers oor ons gaan nie Die wet van die Ou Testament is die woord van God aan alle mense vir alle tye. Dit is egter aan ‘n spesifieke groep mense gegee in die konteks van God se ontwikkeling van ‘n verbondsverhouding met mense. Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom, sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word (Galasiërs 3:24).

 

Die wet staan as ‘n ware uitdrukking van God se wil – uitgedruk in ‘n spesifieke tyd. Die kan verander word in die lig van latere openbarings van wat dit beteken om God se verbondsmense te wees. Jesus som dit soos volg op: Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om dit ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry (Matteus 5:17).

 

 




Bekering

 

don’t preach a social gospel; I preach the Gospel, period. The Gospel of our Lord Jesus Christ is concerned for the whole person. When people were hungry, Jesus didn’t say, “Now is that political or social?” He said, “I feed you.” Because the good news to a hungry person is bread ~Desmond Tutu

 

Bekering

Wat is die aard en funksie van bekering in die lewe van ‘n Christen? Vas, die geestelike dissiplines soos Bybellees en gebed en dade van barmhartigheid is almal klassieke maniere om terug te keer na die Here. Bekering beteken dat ek van ‘n aktiwiteit na God gaan en dan in gehoorsaamheid aan sy geopenbaarde wil leef. Dit is nie net die verwerping van sondige aktiwiteit nie, maar ook die aanvaarding van wat goed is soos in Jesus Christus geopenbaar.

 

Bekering beteken die verwerping van afgode, verkeerde dade, die waardes van die wêreld. Dit sluit ook sekere positiewe stappe in. Petrus sê vir sy gehoor: Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis. En dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom … Daarom het God sy Dienaar na die wêreld toe laat kom en Hom heel eerste na julle toe gestuur om vir julle tot ‘n seën te wees deur elkeen van julle van sy verkeerde paaie af terug te bring (Handelinge 19, 26). Bekering beteken nie dat ek al die dade wat ek moet vermy lys nie, maar dit is ook ‘n positiewe beweging na ‘n nuwe lewe in Jesus Christus. Bekering is nie net iets wat aan die begin van my Christenskap gebeur nie – die word ‘n leefwyse, ‘n merk van dissipelskap.

 

Bekering is nie net ‘n gebeurtenis en ‘n wilsbesluit nie – dit is ‘n proses, ‘n positiewe leefstyl waardeur God sy kinders versorg en versterk. Maar as eerste stap moet ek my sonde erken.