Die dwase najaag van rykdom

 

“No man ever went to heaven alone; he must either find friends or make them” (John Wesley)

 

Die dwase najaag van rykdom

Meeste van ons is maar soos Johannes en Jakobus toe hulle vir Jesus gevra het: Here, ons wil graag hê U moet vir ons doen wat ons U gaan vra (Markus 10:35). Baie van ons leef in ‘n materialistiese, verbruikersgeoriënteerde wêreld waarin sukses beskryf word as “ek het meer dinge wat my in staat stel om ‘n beter lewe te leef.” Kyk maar net na die advertensies waarmee ons gebombardeer word. Dit lei net tot ontevredenheid – ‘n oorvloed dinge lei tot ‘n oorvloed bekommernisse.

 

Die najaag van rykdom lei tot ‘n groter gevaar. Wanneer Ek vir Israel gebring het in die land wat Ek aan sy voorvaders met ‘n eed beloof het, die land wat oorloop van melk en heuning, sal Israel genoeg eet en lekker lewe en dan sal hy ander gode aanhang en hulle dien. Hulle sal My minag en my verbond verbreek (Deuteronomium 31:20). Hoekom gebeur dit? Jy kan dalk dink: My krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf (Deuteronomium 8:17).

 

Die ryk man in Jesus se gelykenis van die ryk dwaas (Lukas 12:13 ev) was iemand wat swaargekry het as gevolg van sy oorvloed. Luister net na Mark Twain: What is the chief end of man? To get rich. In what way? Dishonesty if he can; honesty if he must. In hierdie gelykenis veroordeel Jesus hierdie verbruikerskultuur. As dit nie was dat die opskrif die gelykenis van die ryk dwaas was nie, sou ons waarskynlik jaloers op hierdie man gewees het. Hy is tog nie ‘n dwaas volgens menslike wysheid nie – hy probeer net sy wêreldse rykdom beskerm.

 

Maar hierdie man mislei homself as hy dink dat hy die meester van sy lot is. Hy plaas sy vertroue in dit wat hy besit en nie op God nie. Hy het baie om van te lewe, maar niks om voor te lewe nie. Hierdie gelykenis kyk na die waarde wat geld in ons lewenshet vanuit ‘n ewigheidsperspektief. Vanuit so ‘n perspektief lyk inhaligheid beslis dwaas. Diegene wat net in hulleself, hulle sekerheid, hulle gemak en hulle plesier belê het, het ‘n swak belegging gemaak, want hulle is geestelik en moreel bankrot.

 

Die man in die gelykenis is ‘n dwaas want hy het nie sy besittings wyslik gebruik nie – hy was totaal onbewus van die sekerheid van die dood.

 




Waarvoor staan ek?

 

“Failure isn’t a character quality. It’s just an event. How you respond to failure is your character.” Rick Warren via Twitter

 

Waarvoor staan ek?

‘n Mens kry die indruk dat vandag se Christene beter bekend is vir die dinge waarteen hulle is as vir die dinge waarvoor hulle staan. Waarvoor staan Christene? Kom ons kyk na ‘n paar.

  1. Liefde

Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde (1 Johannes 4:8). Liefde is ‘n intrinsieke waarde van elkeen wat homself ‘n Christen noem. Maak nie saak wat die omstandighede is nie, maar om in liefde ‘n helpende hand uit te steek, is iets wat gelowiges van ongelowiges onderskei.

 

  1. Genade

Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het (Efesiërs 4:32). God het aan die kruis vir ons sondes betaal. Alhoewel ons nie die genade wat God so mildelik uitgedeel het, verdien nie, strek Jesus steeds sy hand uit om ons te help. Net so moet Christene vir hulle genade en vergifnis wat aan ander bewys word, bekend wees. Dit mag nie altyd verdiend wees nie, maar ons s’n was ook onverdiend.

 

  1. Reinheid

Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig (Filippense 4:8). Reinheid gaan oor meer as net die onderwerp van seks Gelowiges moet bekend wees vir hulle reinheid in verhoudings, maar ook in wat hulle sê, hulle optrede en hulle motiewe.

 

  1. Geduld

Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22 – 23). In vandag se vinnige lewe is geduld die sleutel. Die wêreld soek kitsoplossings, maar God roep ons om geduldig te wees. Dit is nie altyd maklik nie, maar dit is die regte ding om te doen.

 

  1. Opoffering

God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê (Johannes 3:16). Ons kan nooit naby aan Jesus se offer aan die kruis kom nie, maar dit beteken nie ons moet die voorbeeld wat Hy gestel het nie voortsit nie. Christene moet geken word aan hulle onselfsugtigheid en opoffering.

 

  1. Dink aan ander

Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander (Filippense 2:4). Gee jy net om iets terug te ontvang of gee jy uit die oorvloed van jou hart? Plaas jy ander voor jouself en God voor almal en alles? Ons moet onthou dat alles wat ons het nooit werklik ons s’n was nie.

 

  1. Toewyding

Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee (Matteus 5:37). As ons as Christene sê dat ons iets sal doen, moet ons dit eenvoudig doen. Natuurlike sal ons foute maak en soms tekort skiet, maar ons moet Jesus se toewyding vir ander wys. Ons moet vir die wêreld wys dat ons vertrou kan word en dat ons nie ons woord sal verbreek nie

 

  1. Respek

Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê (1 Petrus 2:17). Ons sal mense ontmoet wie se idees van ons s’n verskil, maar dit beteken nie dat ons hulle nie kan respekteer nie. Christene moet bekend staan as ‘n gemeenskap van respekvolle mense wat selfs as hulle verskil liefde en genade kan bewys.

 

Jy kan by hierdie lysie byvoeg. As ons hier begin sal ons die persepsie dat Christene negatiewe mense is, kan verander. Wees positief; wees vir iets en nie net teen iets nie.

 




Swak gewoontes

 

Present-day Christendom really lives as if the situation were as follows: Christ is the great hero and benefactor who has once and for all secured salvation for us; now we must merely be happy and delighted with the innocent goods of earthly life and leave the rest to Him. But Christ is essentially the exemplar, that is we are to resemble Him, not mere profit from Him – Søren Kierkegaard

 

Swak gewoontes

So vroeg in 2015 is dit dalk ‘n geleentheid om weer na ons gewoonte te kyk – los die negatiewe gewoontes en leer nuwe beter gewoontes. Maak nie saak wat die gewoonte is nie die basiese stappe om te verander bly dieselfde.

 

Ons moet besef dat ons gewoontes grotendeels onsigbaar is vir ons. Ons gewoontes word diep in die basale ganglia van die brein gestoor. Daarom is dit nie nodig dat ons bewustelik aandag aan ons gewoontes gee nie.

 

Normaalweg werk dit baie goed. Die probleem is wanneer sekere gewoontes nie vir ons werk nie. Dit is die gewoontes wat ons vir verandering moet teiken. Maar om hulle te verander moet ons hulle eers raaksien. Hoe doen ons dit? Ons kan oplet hoe die gewoonte werk of ons kan vasstel wat die sneller is wat die gewoonte laat begin. Dit vereis oplettendheid, want dit maak dat die gewoonte nie langer outomaties is nie. Dan moet ons die disfunksionele gewoonte met iets beter verplaas.

 

Die groot geheim is om die snellers wat hierdie slegte gewoontes aktiveer te identifiseer. Ek weet dat as ek ontsteld is ek lekkers eet. As ek hierdie snellers kan identifiseer, kan ons ons gewoontes beter identifiseer en afleer.

 

 

 

 




Op my knieë luister ek

 

The whole life of a Christian should be nothing but praises and thanks to God; we should neither eat nor sleep, but eat to God and sleep to God and work to God and talk to God, do all to His glory and praise. —Richard Sibbes

 

Op my knieë luister ek

Abraham het op sy knieë geval, en toe sê God vir hom: “Dit is my verbond met jou: jy sal die vader wees van ‘n menigte nasies …” (Genesis 17:3 – 4).

Die Skrif sê: Abraham het op sy knieë geval toe God met hom gepraat het. Hy was eerbiedig en onderdanig. Is dit nie ‘n beeld van die regte plek vir God en die regte plek vir die mens nie? God was op sy troon en praat; Abraham was op sy knieë en luister.

 

Waar God en die mens in verhouding is, is dit die ideaal – God kommunikeer en die mens luister in gehoorsaamheid. As mense nie bereid is om hierdie gesindheid van luister te aanvaar nie, dan sal daar geen lewende, persoonlike ontmoeting met God kan wees nie. Abraham val in nederigheid en eerbied op sy knieë uit eerbied vir sy ontmoeting met God. God oorweldig vir Abraham en tog roep Hy hom en belowe ‘n groot toekoms aan hom.

 

In ons lewe met sy vinnige pas en vol dagboeke spandeer ons nog tyd op ons knieë voor God? Mag ons dikwels in hierdie posisie van eerbied en nederigheid voor God verkeer.