Die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar

 

You cannot shake hands with a clenched fist. – Indira Gandhi, Eerste Minister van Indië

 

Die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar

Ons hoor dikwels mense sê dat hulle nie godsdienstig is nie, maar wel geestelik. Verstaan hulle werklik wat dit beteken? Die gevolg is dat baie mense vir hulleself definieer wat geestelik is. In die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar definieer Jesus vir ons vals en ware geestelikheid.

 

Hoekom vertel Jesus hierdie gelykenis?

Met die oog op die mense wat seker was dat hulle saak met God reg is en wat op ander neergesien het (Lukas 18:9).

Die probleem is duidelik: Daar was mense by Jesus wat geglo het dat hulle saak met God reg is in en deur hulleself. Hulle het met ander woorde hulle eie standaarde vir geregtigheid bepaal en daarom op ander neergesien. Hulle het nie eintlik ander mense liefgehad nie, want hulle het nie eintlik vir God liefgehad nie.

 

In verse 10 – 13 kry ons die gelykenis. Jesus vergelyk hier die Fariseër en die tollenaar. Hy stel hulle aan ons bekend:

Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid (18:10).

Hulle was dus beide oënskynlik besig met ‘n geestelike aktiwiteit. Dit sou Jesus se luisteraars verbaas het, want die tollenaars  is nie as godsdienstige mense beskou nie. Hulle is beskou as geldgierig en skelm.

 

Jesus gaan nou voort om te wys dat die Fariseër in werklikheid geestelik vals was en die tollenaar geestelik opreg was. Kom ons kyk na hierdie kontras wat Jesus skilder.

 

  1. Twee indikatore van vals geestelikheid

Ons kry dit in Jesus se beskrywing van die Fariseër in verse 11 – 12:

  • Vertroue op jou eie vermoë om uiterlik te voldoen aan al die godsdienstige vereistes.

In vers 9 het Lukas reeds gesê dat die Fariseërs seker was dat hulle saak met God reg was. Hierdie vertroue sien ons duidelik uit die manier waarop die Fariseër praat – oor homself en oor sy eie optrede: Ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie … Ek vas twee keer in die week … Ek gee ‘n tiende van my hele inkomste. Jesus sê dat hierdie nie eintlik ‘n gebed is nie, maar eintlik ‘n ophemeling van homself. Jesus sê dat die Fariseër by homself gebid het. Hy probeer vroom lyk, maar hy praat met homself oor homself. Nêrens bely hy sy sonde nie – hy is nie eers bewus daarvan nie.

 

  • Jy beoordeel jou geestelikheid deur dit te vergelyk met die oënskynlike gebrek aan geestelikheid in iemand anders.

Ons het reeds gesien dat hy op ander neergesien het. Hy gee voor dat hy aan God die heerlikheid gee, maar hy sê: Ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie.

 

Ons moet onsself ondersoek om vas te stel dat ons nie soos die Fariseër is nie. Hoe dikwels sê ek “ek” as ek van die goeie dinge in my lewe praat? Ons sê dikwels dinge wat vir ander mense geestelik klink, maar of ons dit bedoel of nie, is die ware toets vir geestelikheid.

 

  1. Twee indikatore vir opregte geestelikheid

Ons kry dit in Jesus se beskrywing van die tollenaar (vers 13):

  • Jy is bewus van jou eie onvermoë om reg te leef.

Ons sien dit in die tollenaar se optrede en woorde. Hy bely sy sondes teenoor God: O God, wees my, sondaar, genadig. Ons lees ook: Hy het bedroef op sy bors geslaan –  ‘n teken van intense hartseer. Jesus wil hê dat ons moet besef wat ons onvermoë om reg te lewe beteken – ‘n duidelike bewustheid van ons eie sondigheid en ‘n gevoel van hartseer oor ons sondes. Nou is ek egter bly, nie omdat ek julle hartseer gemaak het nie, maar omdat ek julle so hartseer gemaak het dat julle tot inkeer gekom het. Julle was immers hartseer soos God dit wou hê. Ons het julle dus in geen opsig benadeel nie, want droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei, en daaroor was niemand nog ooit jammer nie. Daarteenoor bring droefheid uit wêreldse oorwegings die dood (2 Korintiërs 7:9 – 10). Hierdie is die soort mens waarna Jesus verwys: geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word (Matteus 5:4).

 

  • Jy beoordeel jou geestelikheid deur dit met God se heiligheid te vergelyk.

Die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hierdie is tekens van nederigheid – die tollenaar besef hy nie waardig is om in die teenwoordigheid van God te staan nie. Hy verstaan dat die standaard waarteen hy gemeet gaan word die heiligheid van God is en nie dié van die mense om hom nie.

 

Wanneer laas het ons ons sonde gesien vir die aaklige ding wat dit is? Wanneer laas het jy die behoefte aan God se genade en vergifnis besef?

 

In vers 14 kry ons Jesus se toepassing van die gelykenis. Ek sê vir julle: Hierdie man (die tollenaar) en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en hy wat nederig is, sal verhoog word.

 

 




Skape en bokke

 

The proud person always wants to do the right thing, the great thing. But because he wants to do it in his own strength, he is fighting not with man, but with God – Soren Kierkegaard

 

Skape en bokke

Matteus 25:31 – 46 is deel van Jesus se profetiese rede. By die laaste oordeel sal Jesus die skape en die bokke van mekaar skei. Daar is twee dinge wat uitstaan.

  1. Daar is sekere dinge wat die skape gedoen het wat die bokke nie gedoen het nie. Jesus noem ‘n paar dinge: Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gege om te drink; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere en julle het My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk en julle het My besoek. Wat opvallend is, is dat hierdie nie buitengeone dinge is nie, maar gewone dinge.
  2. Die bokke het dit nie gedoen nie – hulle het nie die geringes raakgesien nie. Hulle sien nie hierdie klein liefdesdade raak nie. Hulle soek iets wat die wêreld ernstig sal opneem – buitengewone dinge; dinge wat almal sal raaksien. Hulle geestelike ambisie is groot. Kyk net na Jesus se reaksie: Gaan weg van My af, julle vervloektes!

 

Jesus Christus prys die skape vir oënskynlik klein dade, maar Hy sien die onderliggende trou raak. Een interessante aspek is dat die skape nie eers hierdie dade onthou het toe hulle daarvoor aangeprys word nie: Here, wanneer het ons U …

 




Opregtheid is meer as eerlik wees

 

God creates out of nothing. Wonderful you say. Yes, to be sure, but he does what is still more wonderful: He makes saints out of sinners – Soren Kierkegaard

 

Opregtheid is meer as eerlik wees

As ons na die jongmense luister, is een van die belangrikste dinge wat hulle van die kerk verwag opregtheid. Maar wat is opregtheid? Baie dinge word verkeerdelik beskou as opregtheid.  Een gedeelte wat opregtheid goed opsom is Efesiërs 4:22 – 24:

Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word’ lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.

 

‘n Opregte persoon is een wat in die openbaar (en privaat) die ou self uittrek en, deur God se genade, ‘n nuwe self aantrek.

 

Hierdie opregtheid word verskillend in verskillende mense uitgedruk, maar dit verheerlik altyd vir God. Maar hoe kan ons hierdie opregtheid besit. In Lukas 9:23 kry ons ‘n paar stappe:

As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg.

 

  1. Wees kwesbaar

Moet hy homself verloën. Onder gelowiges bely jou verlede en ook jou huidige gebrokenheid. Erken dat jy nie 100% heel is nie – nie in jou geloof of leefwyse nie. Almal van ons het verlossing en vernuwing van ons lewens nodig – en ons moet dit aan ander kommunikeer

 

  1. Aanvaar die spanning

Elke dag sy kruis opneem. Nadat jy kwesbaar was oor jou gebrokenheid, kry jou pad na die kruis toe. Dit is emosioneel ongemaklik. Aanvaar dat die reis ‘n pynlike proses is. Werk saam met God as Hy verandering in jou lewe inisieer. Onthou alle ander gelowiges is ook besig met hierdie reis Jou reis in opregtheid begin by jou – aanvaar die spanning en moenie vir ander wag nie. God het nie gewag om vir jou genade te bewys nie. Hy het dit inisieer en jy het net ontvang. So is dit met opregtheid: jy gee dit weg, maak nie saak hoe dit ontvang word nie. Jy moet net reg reageer teenoor ander wat opreg is. Bly met hulle in hulle spanning; bemoedig hulle. Is jy bereid om jouself aan Christus en die kerk oor te gee? Hoe sal jy reageer as ander dit doen?

 

  1. Herstel met God se verhaal

My volg. Ontvang God se woord. Jesus se storie is joune – soos ‘n nuwe kledingstuk wat jou naaktheid bedek. Wat jy glo – die verhaal wat jy vir jouself vertel – is dit wat jou lewe sal bepaal. Wat is waar van Jesus? Wat is waar van die ander mense in die gemeente? Wat is die belang daarvan vir my lewe saam met ander. Dit is jou nuwe werklikheid.

 

Jesus is die standaard vir opregtheid Hy definieer wat dit beteken om ‘n mens te wees, om in sy gemeenskap liefde te ondervind en op ware geloof vir die wêreld aan te bied. Elke dag moet ons meer en meer van onsself laat gaan sodat Christus meer en meer in ons sigbaar kan word. As ons toelaat dat Jesus die leier van ons verhaal word en as ons Hom volg, verander Hy ons gebroke harte en lei ons na pragtige plekke.

 




Meet jou tyd

 

This much is certain: The greatest thing each person can is to give himself to God utterly and unconditionally—weakness, fears, and all. For God love obedience more than good intentions or second-best offerings, which are all too often made under the guide of weakness – Soren Kierkegaard

 

Meet jou tyd

Ons meet tyd. Tyd is meetbaar en tyd is begrens. Ons tyd is begrens – dit het ‘n duidelike begin en einde. Ons lewe maat sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig … Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe (Psalm 90:10). Daarom sê die psalmis: Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom (Psalm 90:12).

 

Luister hoe begin hierdie psalm: Here, U was vir ons ‘n toevlug van geslag tot geslag. Voordat die berge gebore is, voordat u die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God. Wat beteken dit om die Ewige as ons God en Here te hê? God se ewigheid is bo tyd. Hy is gister, vandag en môre dieselfde.

 

Die Ewige God is vir ons ‘n toevlug. Dit beteken dat Hy die bron van ons sekerheid is te midde van ‘n deurmekaar wêreld. Omdat God ons skuiling is, is ons skuiling ewig en nie tydelik nie

 

Dit is goed om te onthou dat ons stof is (Psalm 90:3)

Skenk ons elke dag u liefde in oorvloed, dat ons ons lewe lank mag juig en bly wees (Psalm 90:14).