Hoe verstaan ek die Ou Testament?

 

Why should we proclaim the wisdom of men when we have the privilege of preaching the Word of God? —John MacArthur

 

Hoe verstaan ek die Ou Testament?

Mel Lawrenz is besig om hierdie vraag te antwoord. Vir baie mense is die Ou Testament moeilik en uitdagend.

 

As iemand jou sou vra wie jy is, sal jy by die begin begin – jou geboorte, jou ouers, jou geboortedorp … As jy iemand werklik wil verstaan, moet jy tot die begin teruggaan. Daarom begin die Bybel met In die begin … Hierdie boek is ‘n deel van God se groter storie. Dit gaan nie net oor ‘n reeks gebeure nie. Dit is ‘n teologie oor God se bedoeling om die mensdom te maak, die sondeval in hierdie mensdom en oor God se manier om hierdie mensdom weer te herstel. Hy begin met een man en een stam.

 

In die begin het God die hemel en die aarde geskep – met ander woorde alles. Wat leer ons hieruit? Daar is een God wat gekies het om te skep. Onmiddellik skakel ons ‘n paar moontlikhede uit – geen god nie (ateïsme), baie gode, ens. In baie van die ander antieke godsdienste was daar ‘n god wat met die son, maan, sterre, seemonsters, wat ook gode was, gekompeteer het. In Genesis is God die Skepper van alles. Hierdie is ‘n perspektief wat dwarsdeur die Skrif voorkom. Daar is net twee kategorieë in die heelal: die Skepper en die skepsels; een God en al die ander.

 

Daar is orde in die skepping God skep deur te praat en dan beveel hy hoe hierdie skepping moet werk. Daar is harmonie en orde in die skepping. Daarom moet ons nie dink dat die wetenskap en die Bybel mekaar uitsluit nie. Wetenskap berus op die vermoë om te voorspel hoe dinge sal wees, want daar is orde en voorspelbaarheid in die natuur.

 

Genesis plaas die mens op die kruin van die skepping. In meeste ander godsdienste is die mense slawe van die gode. Dat die mens na die beeld van God gemaak is, bevestig die waarde en waardigheid van die mensdom. Daarom is die sondeval so tragies. Genesis beskryf die begin van sonde as toegee aan die versoeking om hoër te styg as die plek wat God aan hulle toegeken het – om te dink dat hulle beter weet as God en daarom nie sy opdragte hoef te gehoorsaam nie.

 

Die grootste deel van Genesis (Hoofstuk 12 – 50) vertel die verhaal van die aartsvaders van Israel: Abraham, Isak Jakob en Jakob se seuns. Dit is God se mense – ‘n besondere nasie wat God gebruik op besondere maniere om universele beginsels neer te lê.

 

In die Nuwe Testament interpreteer Paulus Genesis as hy die kern van Abraham se storie beskryf: Genade deur geloof. In Genesis sien ons die grootheid van God, die waardigheid en tragedie van die mensdom en die stap vir stap manier waardeur een nasie lesse leer wat vir almal van ons geld. Genesis dek die tafel vir die hele Skrif – dit bevat die DNA van God se mense.

 

As iemand jou vra om te sê wie jy is, kan jy by Genesis begin.

 

 

 

 




Ontmoediging

 

“I am no longer anxious about anything, as I realize the Lord is able to carry out His will, and His will is mine. It makes no matter where He places me, or how. That is rather for Him to consider than for me; for in the easiest positions He must give me His grace, and in the most difficult, His grace is sufficient.” ~ Hudson Taylor

 

Ontmoediging

Mense wat ontmoedig word, is een van die duiwel se kragtigste instrumente teen gelowiges. Baie mense begin met groot drome, maar word ontmoedig en gooi die handdoek in.

 

  • Laat God jou bemoedig

Die skrywers van die psalms het geweet wat ontmoediging is, maar hulle het ook geweet dat God hulle kan bemoedig. Soos ‘n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. Ek dors na God, na die lewende God. Wanneer kan ek gaan en voor God verskyn? … Uit my vertwyfeling roep ek na U hier van die Jordaangebied, van Hermonberg, van die Kleinberg af (Psalm 42:2 – 3 en 7). Het jy ook al verlang na God terwyl dit voel asof Hy ver weg is. Jy is in goeie geselskap. As jy ontmoedig is, smag na God.

 

  • God gee hoop

Die psalmis gaan verder: tog sal die Here weer op ‘n dag sy trou laat blyk en sal ek selfs in die nag ‘n lied vir Hom sing, ‘n gebed tot die God van my lewe (42:9). Dan vra en antwoord hy sy eie vrae: Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ‘n loflied sing. Hy is my helper en my God! (43:5). Ons moet leer om dankbaar te wees, ook vir die probleme in ons lewens, want hierdie probleme herinner ons aan God se teenwoordigheid. In die bekende Psalm 23 word ons herinner dat God teenwoordig is selfs in die donker dieptes.

 

  • Hoe bemoedig God ons

Bemoediging van God kom in baie vorme. Soms is dit ‘n Bybelvers tydens ons stiltetyd; soms word ons van sy teenwoordigheid bewus as ons bid; soms is dit ‘n woord van ‘n vriend. God se vermoë en gewilligheid om ons te bemoedig, is nie beperk nie.

 

  • As ontmoediging my oorweldig

As dit voel asof ons oorweldig word, is God steeds getrou; Hy bemoedig ons weer en weer; Hy herstel weer ons vertroue in Hom. Lyding, mislukking, eensaamheid, hartseer en selfs die dood sal deel van ons lewensreis wees. Geen swaarkry oortref egter sy genade nie.

 

Ons word almal op een of ander stadium ontmoedig. Onthou dan net: God is getrou; Hy wil ons help.

 




Die geloofsgemeenskap

 

“Christ told his disciples not to be anxious about tomorrow, but he never said not to consider tomorrow. Intelligent problem solving demands careful consideration of the future effects of present solutions.” ~ R.C. Sproul

 

Die geloofsgemeenskap

Die belang van die geloofsgemeenskap word gereeld beklemtoon. Wat wil ons bereik as ons as gemeente saam bymekaar kom? In Hebreërs 10:23 – 25 word drie dinge vermeld. [Ek gebruik die direkte vertaling van die Interliniêre Bybel.]

  1. Om mekaar aan te spoor tot liefde

In hierdie byeenkomste moet daar tyd en geleenthede wees om die waarheid met ander te praat en om die waarheid van ander te hoor – vir wedersydse interaksie. Liefde is nie maklik nie, veral as dit gaan oor mense van wie jy nie eers hou nie. Jy moet weet waarom jy moet liefhê, hoe jy moet liefhê en op watter konkrete maniere kan jy liefhê.Jy moet ook weet hoe om jou neiging om neer te sien op ander of om hulle te ignoreer, te oorwin.

 

Sondagoggende is noodsaaklik, maar dit is nie genoeg nie. Dit is ook nie die ideale plek om met ander te praat nie. Dit gaan nie net om die tyd verby te kry nie – ons wil iets wat die moeite werd is, bereik. Die skrywer is doelgerig: Laat ons noukeurig op mekaar let om mekaar aan te spoor. Ons moet vooraf dink oor hoe ons die gesprek gaan hanteer; vra God om jou die nodige insig te gee; vra die Heilige Gees vir onderskeidingsvermoë.

 

  1. Om mekaar aan te spoor tot … goeie dade

Ons moet ook ‘n instrument in die lewe van ander mense wees. Jou verantwoordelikheid is om te wandel in liefde en diens. Hierdie goeie dade is nie net binne die gemeente nie, maar ook buite die mure van die gemeente. Ons moet ander help om versoekings te weerstaan.

 

  1. Ons moet mekaar bemoedig

Hierdie is een van die “mekaar-tekste” – ons moet mekaar liefhê, dien, vertroos, onderrig, vergewe, ens. Hoe bemoedig ons ander om lief te hê en God se woord te gehoorsaam? Wat is die basis van die liefde? Wat sal ons motiveer om goeie dade te doen? Ons kry die antwoord in vers 23: Laat ons stewig vashou aan die belydenis van die hoop, want Hy wat die belofte gemaak het, is getrou. Liefde en goeie dade groei in die vrugbare grond van hoop op dit wat God belowe het. Maar hoe kan ek in hierdie wêreld stewig vashou aan die belydenis van die hoop? Die God wat hierdie dinge aan ons belowe het, is getrou. Hy maak nie beloftes wat hy weer verbreek nie; Hy doen wat Hy gesê het Hy sal doen.

 

Ons kan nie aan hierdie hoop vashou as ons ons onttrek nie – ons kan dit alleenlik doen as ons deel is van ‘n geloofsgemeenskap

 




Hiskia se tragiese dood

 

“As you walk through the valley of the unknown, you will find the footprints of Jesus both in front of you and beside you.” ~ Charles Stanley

 

Hiskia se tragiese dood

Dit maak ons mismoedig as ons sien hoeveel helde in die Bybel nie die eindstreep van geloof oorsteek nie. Dink maar aan Noag, Moses en Dawid. Hulle begin met sulke goeie bedoelings, maar kan nie tot die einde volhard nie.

 

‘n Voorbeeld hiervan in Koning Hiskia (1 Konings 19). God keer dat Sanherib met sy groot leër Jerusalem inval en vernietig – sonder ‘n enkele ongeval aan die kant van die Israeliete. As ons na die einde van sy lewe kyk is daar vir ons ‘n waarskuwing en ‘n belofte.

 

  1. ‘n Waarskuwing

Hiskia word ernstig siek – ‘n lewensbedreigende siekte (2 Konings 20). Die profeet Jesaja kom by hom: So sê die Here: Sê vir jou gesin wat jou laaste wense is, want jy gaan sterf, jy sal nie langer lewe nie. Hiskia is verpletter; hy draai sy gesig na die muur en bid tot die Here. God laat Hiskia nog 15 jaar lewe.

 

Hiskia se liggaam genees, maar sy geestelike lewe gaan agteruit. Toe die koning van Babilon van Hiskia se wondergenesing hoor, stuur hy gesante om Hiskia geluk te wens. In plaas daarvan dat Hiskia al die eer aan God vir sy genesing gee, wys hy vir die gesante al die skatte wat hy oor die jare bymekaar gemaak het.

 

Toe die gesante weg is, laat Jesaja vir Hiskia weet dat sy trots ernstige gevolge sal hê: al sy skatte sal na Babel weggedra word en sy seuns sal diens doen in die paleis van die koning van Babel. Hiskia se reaksie verstom ons: As daar maar net in my tyd vrede en veiligheid is! Dit is al wat vir hom belangrik is.

 

Hiskia het die toets van teenstand geslaag toe die vyandelike leërs Jerusalem bedreig het; Hiskia druip die toets van voorspoed. Hy wys vir ons dat dit maklik is om God se seëninge te ontvang … en al waaraan ons kan dink is ons eie gemak en behoeftes en eer.

 

Hoeveel Christene eindig nie hulle lewens soos Hiskia nie. Hulle vergeet dat God ons seën sodat ons vir ander tot seën kan wees. Solank as aan my behoeftes voldoen word, kan ek maar gelukkig sterf. Voorspoed is ‘n toets. Moenie dit gebruik om skatte vir jouself bymekaar te maak nie.

 

  1. ‘n Belofte

Waar Hiskia gefaal het, sal Jesus slaag. Toe Hiskia se lewe bedreig is, vra hy dat God hom moet genees – maar uiteindelik sterf hy. Jesus word gemartel en toe doodgemaak – maar Hy staan weer op uit die dood. Toe Hiskia hoor van probleme in die toekoms trek hy sy skouers op en sê: “Wie gee om vir toekomstige geslagte as ek net in vrede kan leef.” Jesus lê sy lewe neer sodat toekomstige geslagte kan leef. Hiskia gee nie om vir sy eie kinders nie; Jesus lê sy lewe af ook vir sy vyande.

 

En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is (2 Korintiërs 5:15).