Die aard van geloof

 

For Jesus, Scripture is powerful, decisive, and authoritative because it is nothing less than the voice of God. —Kevin DeYoung

 

Die aard van geloof

Die genesing van die offisier se slaaf in Lukas 7 maak sekere dinge aangaande geloof vir ons duidelik:

  • Soos die gelowiges wat hierdie evangelie lees, het die offisier Jesus vertrou sonder dat hy Hom ooit ontmoet het. Hy het van Jesus gehoor. Hy glo dit wat hy gehoor het en tree op in geloof.
  • Die offisier bewys sy liefde vir ander – hy is bereid om homself te verneder sodat sy slaaf genees kan word. Hy besef die eer van die wêreld – hy is immers ‘n offisier in die magtige Romeinse weermag – is waardeloos. Daarom sy nederig versoek aan Jesus. Nederigheid was nie ’n deug onder die Romeinde en Grieke nie. In die konteks van die Bybel beteken nederigheid dat ek myself sien as ’n skepsel van God. Toe die offisier van die begeerte om belangrik te wees, afsien, maak dit die pad vir hom oop om God se genade te ontvang.
  • Die offisier glo egter nie dat hy so onwaardig is dat hy nie vir Jesus kan nader om sy slaaf te genees nie.
  • Die offisier verstaan Jesus se gesag en verhouding tot God. Hy besef dat tyd en ruimte geen verskil aan wat Jesus sê, mag maak nie – Hy kan die slaaf met ‘n woord gesond maak.
  • As offisier was hy daaraan gewoond om in bevel te wees, maar hy ontvang genade toe hy nie langer in beheer wil wees nie.
  • Die genesing van die slaaf wys dat God nie bevooroordeeld is nie: God trek immers niemand voor nie (Romeine 2:11). Dit wys vir ons dat ’n heiden groter geloof as God se kinders kan hê. Johannes die Doper verkondig: En al die mense sal die verlossing sien wat van God kom (Lukas 3:6). Hierdie belofte word nou waar.

By ‘n Romeinse offisier leer ons ‘n paar kernwaarhede oor geloof.

 




Meriete teenoor genade

 

Love all, trust a few, do wrong to none. -William Shakespeare

 

Meriete teenoor genade

In die verhaal van die genesing van die offisier se slaaf (Lukas 7:1 – 10) sien ons ’n kontras tussen meriete en geloof. Die Joodse familiehoofde sê dat die offisier dit werd is dat Jesus sy slaaf genees. Die offisier, daarenteen, sê dat hy nie waardig is dat Jesus onder sy dak inkom nie. Die offisier kom nie self na Jesus toe nie, want hy glo dat hy onwaardig is. Hy is ‘n bedelaar vir genade. Hy is soos die tollenaar in die tempel wat nie eers sy oë na die hemel kan oplig nie, want hy beskou homself as onwaardig.

 

Die offisier raak hier ’n teologiese waarheid aan wat op ons almal van toepassing is. Sy hoop berus op die goedheid en krag van Jesus en nie op sy eie goedheid en krag nie. Hy weet hy is onwaardig. Hy hoef nie waardig te wees om Jesus te nader en sy hulp te soek nie. Hy besef ook dat hy hulp nodig het en dat hy hulpeloos is om self iets te doen.

 

Die familiehoofde is verkeerd. Hierdie insident maak dit duidelik dat daar geen onderskeid is nie – almal is onwaardig. Ons kan nie vir God sê: “U skuld my iets nie.” Die boodskap is duidelik: nie-Jode kan kinders van God se volk en erfgename word sonder werke of die besnydenis. Almal het gesondig en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus (Romeine 3:23 – 24).

 

Genade is nie iets wat ons verdien of kry nie … ons ontvang dit.

 




Die doel van die kerk

 

We must measure afflictions by their outcome, not how much they hurt. —Thomas Brooks

 

Die doel van die kerk

Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” (Handelinge 1:7 – 8).

Die doel van die kerk is om getuies tot in die uithoeke van die wêreld vir Jesus Christus te wees totdat Hy weer kom. Die krag om die kerk te wees, kom van die Heilige Gees. Dit beteken die kerk moet getuig van wat hy gesien en gehoor het. Hierdie getuienis strek terug tot die geskiedenis van Israel.

 

In Petrus se toespraak tydens pinksterdag sê hy onder andere: So het julle Hom, die Leidsman na die lewe toe, doodgemaak, maar God het Hom uit die dood opgewek, en daarvan is ons getuies (Handelinge 3:15). As Paulus die evangelie in 1 Korintiërs 15 beskryf, gee hy baie aandag aan diegene wat van Jesus se opstanding getuig. Natuurlik is getuig meer as net dit wat ons sê – dit gaan ook oor wat ons doen en hoe ons met ander saamleef. Allereers dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal, want in die hele wêreld praat die mense oor julle geloof (Romeine 1:8).

 

Maar sosiologie en sielkunde kan nie die kerk verduidelik nie: Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ‘n paar dae met die Heilige Gees gedoop word (Handelinge 1:4 – 5). As die doel van die kerk is om van Jesus Christus te getuig, is die bron van die kerk se krag om dit te doen die Heilige Gees. Ons moet wag om die gawe van die Heilige Gees te ontvang as ons as kerk wil getuig.

 

Te veel mense in die kerk het die kerk voor pinksterdag verlaat – voor die Heilige Gees uitgestort is. Hulle probeer getuig, maar het nie die krag ontvang om dit te doen nie. Die krag wat ons ontvang, dien ‘n doel: ons moet getuig.

 

Kortweg: Die doel van die kerk is om van Jesus Christus te getuig. Die krag om dit te kan doen, kom van die Heilige Gees.

 

 




Beginsels vir gebede

 

Your restless heart will only find rest when it rests in the person, presence and promises of Jesus. —Paul Tripp

 

Beginsels vir gebede

Veral in die Evangelie volgens Lukas kry ons heelwat verwysings na Jesus wat bid. Uit hierdie gedeeltes kan ons sekere beginsels aflei.

  1. ‘n Lig gaan op

Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ‘n duif op Hom neergedaal. Daar was ook ‘n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My.” (Lukas 3:21 – 22). Hierdie verse verwys na Jesus se doop. Dit is ook die eerste verwysing na Jesus wat bid. Ons sien drie gevolge van Jesus se gebed:

  • Die hemel gaan oop.
  • Die Heilige Gees daal op Jesus neer.
  • Die Vader praat.

Dit is drie gevolge as ons kontak maak met God in ons gebede. Simbolies gaan die hemel oop en ons ontvang God se seën; die Heilige Gees vul opnuut ons lewens; die Vader praat met ons. As ons dit wil ontvang, moet ons gebedslewe met dié van Jesus ooreenstem.

 

  1. Afsondering

Maar Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid (Lukas 5:16). Altyd weer verwys na ‘n gewoonte. Ons moet elke dag tyd met God alleen deurbring. Kry ‘n plek waar jy alleen met God kan wees – waar jy afgesonder is, waar jy hardop met God kan praat en waar jy God kan hoor as Hy met jou praat.

 

  1. Gee aandag

In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God (Lukas 6:12).  Die hele nag deurgebring – soms is dit nodig om lang tye met God in gebed deur te bring. Dit is veral die geval as ons voor belangrike besluite staan. Dan kan jy konsentreer op wat God wil hê jy moet doen.

 

  1. Isolering

Ons lees dat Jesus gebid het terwyl die dissipels by Hom was. Tog vind Hy tyd vir persoonlike gebed. Daar is nie altyd tyd om jou af te sonder om te bid nie. Dan moet jy jouself isoleer van die mense om jou – jy moet die onderbrekings oorkom.

 

  1. Transformasie

Ons lees van Jesus wat vir Petrus, Johannes en Jakobus teen die berg opgeneem het om te gaan bid: Terwyl Hy bid het die voorkoms van sy gesig anders geword en sy klere skitterend wit (Lukas 9:28 – 29). Gebed verander ons. Jy kan nie so baie tyd met God spandeer sonder dat jou gesig verander nie. Paulus sê: Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here …Ons word al hoe meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word (2 Korintiërs 3:18).

 

  1. Voorbeeld

Jesus was êrens op ‘n plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons om te bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.” (Lukas11:1). Hierdie is ‘n gevaarlike gebed, want God gebruik dikwels beproewing en swaarkry om ons te leer bid.

 

  1. Bewaring

Ons glo nie net in gebed nie – ons glo in God. Jesus sit aan God se regterhand waar Hy vir ons by die Vader intree.

 

  1. Voorbereiding

Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied! (Lukas 22:42). Jesus bid ernstig. Hoekom? Hy weet presies wat vir Hom voorlê en Hy wil nie onvoorbereid – sonder gebed – wees nie.

 

  1. Openbaring

“Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Lukas 23:34) Jesus verkeer in pyn, maar tog dink Hy in sy gebed aan ander mense. Gebed openbaar ‘n persoon – dit wys wat in sy hart is.

 10. Tevredenheid

Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” (Lukas 23:46). Jesus het vir God tevrede gestel, want Hy het gedoen wat God van Hom verwag het. Hy was ook in Homself tevrede, want Hy het gedoen wat Hy veronderstel was om te doen.

11. Dankbaarheid

Toe Jesus  saam met sy dissipels die brood gebreek het, het Hy eers vir God gedank. Ondankbaarheid is die wortel van baie ander sondes. In gebed vra ons, maar terselfdertyd moet ons dankbaar wees.

12. Seën

Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. (Lukas 24:50). Hy lig sy hande met die wonde daarin en seën hulle. Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem teruggegaan. Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.