Kan ek my kerklos vriende na ‘n erediens toe bring?

 

Two men looked through the bars.

One saw the mud, the other, the stars

Frederick Langbridge

 

Kan ek my kerklos vriende na ‘n erediens toe bring?

Baie gelowiges is maar senuweeagtig om hulle kerklos vriende na ‘n erediens te bring. Maar ons kry ook gelowiges wat opgewonde is om hulle kerklos vriende na ‘n erediens te neem. Hoekom is jy opgewonde om jou kerklos vriende na so ‘n gemeente te neem?

 

  1. Hierdie gemeentes tree op asof hulle kerklos mense verwag. Daar is duidelike aanduidings van waar alles is.
  2. Hierdie gemeentes is werklik bly as kerklos mense daar opdaag – en hulle sê dit vir hulle.
  3. Hierdie gemeentes het toegwyde mense om kerklos mense te dien.
  4. Hierdie gemeentes bied aan kerklos mense verskeie opsies. Wat kan hulle met hulle kinders doen, waar kan hulle sit, ens.
  5. Hierdie gemeentes is proaktief en goed ingelig. Hulle neem dikwels hierdie mense op ‘n toer deur die fasiliteite en kan hulle vrae beantwoord.
  6. Hierdie gemeentes is bekommerd oor die veiligheid van die kinders.
  7. Hierdie gemeentes is vrygewig teenoor kerklos mense. Hulle gee ‘n klein geskenkie aan hulle – beskuit of so iets.
  8. Hierdie gemeentes is opgewonde om aan die behoeftes van kerklos mense te voldoen.
  9. Hierdie gemeentes se eredienste is van so ‘n aard dat kerklos mense dit graag wil bywoon.
  10. Hierdie gemeentes skep gebeure vir kerklos mense wat hulle sal onthou.
  11. Hierdie gemeentes is gemeentes waarheen kerklos mense terugkeer.

Is jou gemeente ‘n plek waarheen lidmate graag hulle kerklos vriende heen bring?

 

 




Wat is die belangrikste bestanddeel van geluk?

 

In his presence is fullness of joy; in his absence is depth of misery. —C.H. Spurgeon

 

Wat is die belangrikste bestanddeel van geluk?

Almal van ons wil gelukkiger in ons persoonlike en professionele lewens wees. Aan die begin van ‘n nuwe jaar doen ons meer introspeksie; waarvan wil ek hierdie jaar meer of minder doen? Richard Davidson (Working with Mindfulness: Research and Practice of Mindful Techniques in Organizations) is ‘n kenner op die voordele van meditasie.

 

As ons praat van ware of volhoubare geluk praat ons nie van die verbygaande verandering wat jy ondervind as jy ‘n goeie maaltyd eet of ‘n nuwe produk koop nie. Kort daarna keer jy in ieder geval terug na jou basislyn.

 

Een van die belangrikste bestanddele vir ware geluk, volgens sy navorsing, is deernis. Die Dalai Lama sê dat een van die beste maniere om jou eie geluk te bevorder, is deur goed en vrygewig teenoor ander te wees. Daar is baie eksperimente gedoen om hierdie stelling te bewys. Diegene wat gee, is gelukkiger as diegene wat net oor hulleself bekommerd is.

 

‘n Gesindheid wat op ander en nie op jouself fokus nie, bevorder jou welstand en geluk. Mense wat selfgefokus is, het diwels ‘n negatiewe siening – hulle is nie gelukkig nie.

 

 

 




Hoe moet ons die verhale van die Ou Testament verstaan?

 

The Bible tells us to love our neighbors, and also to love our enemies; probably because they are generally the same people.”- G.K. Chesterton

 

Hoe moet ons die verhale van die Ou Testament verstaan?

Baie van ons het as kinders ‘n Kinderbybel gehad waarin ons die verhale van die Ou Testament gelees het. Hulle het ons aandag vasgevang. As kinders leer ons die storie van die Bybel – storie vir storie. Maar as ons ouer word, glo ons dat ons nou die dieper waarhede van die Bybel soos ons dit in die Nuwe Testamentiese briewe kry, kan hanteer. Stories is vir kinders.

 

Maar die raamwerk van die Bybel is stories. Van Genesis tot Openbaring is dit een groot storie: die skepping, die sondeval, God se pogings om die mens te verlos en die finale nuutmaak van alles met die koms van Jesus Christus. Dit is die oorhoofse verhaal van die Bybel

 

Maar binne hierdie oorhoofse verhaal kry ons die individuele stories van Josef, Rut, Josua en vele ander. Hoe moet ons die stories van die Ou Testament verstaan?

  • Lees individuele stories in hulle spesifieke konteks, maar altyd met die oorhoofse storie in gedagte. Die verhaal van Rut is ‘ pragtige storie van stryd, geloof, verlossing en toewyding. Maar dan lees ons dat sy Dawid se oumagrootjie is – sy pas in die groter storie in. Sy word selfs in Jesus se geslagsregister ingeluit – Rut die vrou uit Moab. Haar storie behels meer as haar familie en die oes van graan.
  • Lees die stories natuurlik. Stories help ons om die breër betekenis van wat gebeur het, te verstaan. Elke storie het nie noodwendig ‘n sedeles nie. Die storie van Josua wat die Israeliete deur die Jordaan lei, is presies dit. Ons moenie dink daar is een of ander simboliese betekenis in die rivier nie. Om ‘n simboliese betekenis aan elke Bybelstorie te heg, is misleidend. Dit aanvaar daar is ‘n verborge betekenis in die stories en die gewone leser wil weet wat hy nie in hierdie storie raaksien nie.
  • Ons moenie elke Ou Testamentiese storie moraliseer of vergeestelik nie. Jakob mislei sy broer Esau en later sy oom, Laban. Die Bybel veroordeel nie dit wat Jakob gedoen het nie – dit praat dit ook nie goed nie. Die verhaal vertel vir ons net wat gebeur het. Josua se vernietiging van Ai en sy inwoners beteken nie dat ons ons vyande moet uitwis nie. Ons moenie in elke geval die “moraal van die storie” soek nie. Hierdie stories illustreer wel waarhede wat elders in die Bybel geleer word.
  • Ons moet leer uit die ingewikkelde lewens van die karakters in die Bybelstories. Ons ondervind spanning as ons lees dat die groot helde van die Ou Testament foute gehad het en oortree het. Dit word aanvaar dat ons sal uitwerk wat verkeerd is in die lig van ander gedeeltes in die Bybel. Die karakters in die verhale is almal sondaars, maar hulle is deel van die geskiedkundige ontvouing van die oorhoofse storie van die Bybel – die storie van God. Die Bybel is baie eerlik.
  • Ons moet deur die stories van die Bybel lees en dit sien as die storie van God – die sentrale karakter in die Bybel. Die Ou Testament se storie openbaar die Skepper van alle dinge as die God van liefde – Hy is heilig. Sy liefde sien ons in sy geduld, beskerming, genade en leiding.

 

Die verbasende is dat elke keer as ons deur een van hierdie stories lees ons iets nuut sien. Ons sien onsself – ons sondes en nie net die sondes van die karakters in die storie nie. En ons sien hoop wat ons nooit sou gesien het as dit nie vir die genade van God was nie.

 

 

 




God aan die werk deur die Heilige Gees

 

We fear men so much, because we fear God so little. —William Gurnall

 

God aan die werk deur die Heilige Gees

Daar het destyds ‘n man met die naam Simeon in Jerusalem gewoon. Hy was getrou aan die wet en vroom, hy het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Die Heilige Gees was op Simeon (Lukas 2:25).

As God aan die werk is in die lewens van gelowiges vul sy Gees van wysheid en insig hulle. Simeon was so ‘n persoon – hy ontvang insig en verstaan wat gebeur.

 

Die Heilige Gees het aan Simeon bekend gemaak dat hy nie sou sterwe voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. Een dag, gelei deur die Heilige Gees, gaan Simeon op na die tempel … en God vervul sy belofte. Maria en Josef  met die Kindjie Jesus kom terselfdertyd by die tempel aan. Simeon was bevoorreg om die kindjie in sy arms te neem. Simeon sê: Here, laat u dienaar nou in vrede gaan volgens u woord, omdat my oë u verlossing gesien het. Simeon besing die lof van God en hy seën vir Jesus en sy ouers. Hy seën die kindjie wat die gang van die geskiedenis sou verander.

 

Hoe langer ons God dien – en Simeon het Hom vir dekades gedien – hoe intiemer ken ons Hom. As God toegang tot ons hart en siel en verstand het as gevolg van jare se aanbidding, laat Hy ons meer van sy optrede sien – ons word meer by sy sending betrokke. Wees waaksaam. God is aan die werk om jou. Die Heilige Gees is altyd met ons; Hy gee insig in die alledaagse gebeure in ons lewe.