Sterker verhoudings

 

“As a child I received instruction both in the Bible and in the Talmud. I am a Jew, but I am enthralled by the luminous figure of the Nazarene . . . . No one can read the Gospels without feeling the actual presence of Jesus. His personality pulsates in every word. No myth is filled with such life. Jesus is too colossal for the pen of phrase-mongers, however artful. No man can dispose of Christianity with a bon mot.”  ~Albert Einstein

 

Sterker verhoudings

Verhoudings is die spilpunt waarom die lewe van ‘n Christen draai. Kan ons sterker verhoudings bou? Beslis.

  • Soek God

As ek my verhouding met God as my hoogste prioriteit stel, sal ek nie alleen meer van myself leer nie, maar ek sal ook my naaste beter kan liefhê, want ek doen dit op ‘n wyse wat God se beeld en eienskappe weerspieël.

  • Wees eerlik

Eerlikheid is die sleutel vir enige verhouding. Soms is dit moeilik veral as ons ‘n verlede het waarop ons nie baie trots is nie. Maar eerlikheid beteken mense kry toegang tot jou emosies en gevoelens. As jy iemand op hierdie vlak in jou lewe toelaat, sal die sterkte van jou verhouding groei.

  • Vergewe

Makliker gesê as gedoen. Almal praat daaroor, maar min doen dit. Dit is een ding om te sê dat jy vergewe, maar iets anders om dit te doen. As jy mense vergewe, het haat en afguns geen plek in die verhouding nie. Haat en genade meng nie.

  • Nederigheid

Dit is moeilik om te erken dat jy verkeerd is; dit is nog moeiliker om te erken dat iemand anders reg is. As jy nederig is, vertel jy vir ander dat jy hulle gedagtes en menings eer en respekteer. Trots bekruip ons maklik veral as dit iets is waaroor ons passievol is. Ons moet besef dat ons nie altyd reg sal wees nie en dit aanvaar.

  • Maak jou los van tegnologie

Klim af van jou foon en tablette. Ons word so vasgevang in die wêreld van Twitter, Facebook, Instagram, ens dat jy skoon van verhoudings vergeet. Verhoudings is dit wat veral van belang is. Sit weg al jou toestelle en gee die nodige tyd en aandag aan mense – hulle verdien dit.

  • Doen iets anders

Kom weg uit jou kantoor of jou rusbank of die gemak van jou sitkamer. Doen iets anders. Doen iets wat jy nie normaalweg sou doen nie. As jy jouself in ongemaklike situasies plaas, sal jy eienskappe van jouself en jou verhoudings ontdek wat jy nog nooit vantevore beoefen het nie.

 

As ons sê dat verhoudings vir ons belangrik is, moet ons daaraan werk om sterker verhoudings te bou.

 

 

 

 




As ons bid, gaan God aan die werk

 

Christians do not create truth. The Truth creates the Christian. —William Farley

 

As ons bid, gaan God aan die werk

Christene bid nie meer nie. As ons dus Jesus se onderrig oor gebed lees, laat dit ons of verward of gefrustreerd. Jesus sê vir sy dissipels: As julle maar geloof het so groot soos ‘n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie (Matteus 17:20). Verbasend, so verbasend dat meeste van ons dit nie glo nie.

 

As ons gebede nie beantwoord word nie, dink meeste van ons die fout lê by ons. Miskien is ons geloof te klein. Geloof is nie ‘n emosie nie, maar ‘n reaksie op dit wat God geopenbaar het. As ons dus in geloof wil bid, moet ons vasstel wat God geopenbaar het en dan vir Hom daarvoor vra.

 

God openbaar Hom deur sy woord. As ons dus berge wil verskuif, moet ons eers vasstel watter berge Hy wil hê ons moet verskuif. Dan moet ons aanvaar dat as ons bid God werk. Ons skuil so maklik agter sy oppermag: “Ons is in God se hande – Hy sal alles ten goede laat uitwerk.” God se oppermag moet ons nie verhoed om te bid nie – dit moet ons juis aanspoor om meer te bid. Dink net aan hoe God in die verlede berge verskuif het.

 

In tye soos hierdie moet ons weer dink aan wat Martin Luther geskryf het:

 ‘n Vaste burg is ons God, ons skuil in Hom die sterke.

Hy is ‘n vesting in die nood – vir ewig staan sy werke.

Al kom die Bose aan in sy oorwinningswaan, ons weet by al sy lis,

sy lot is reeds beslis – God self stel aan hom perke.

Hierdie woorde is vandag nog net so waar as 1528 toe Luther dit geskryf het.

 

 




Wys my jou geloof

 

“The evil spirit, when he cannot lead us to the left into evil works, fights on our right through self-devised works that seem good and right.” -Martin Luther

 

Wys my jou geloof

Wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is (Jakobus 2:18)

Ons glo geloof is iets ontasbaar en onsigbaar – iets soos mis wat soos ons nader kom, lyk asof dit terugtrek. God kan ons geloof sien. Ons kan ons geloof sien as ons net ‘n bietjie daaroor dink.

 

In Markus 2 lees ons van Jesus wat ‘n verlamde man genees. Vier mans dra hom. Uiteindelik moes hulle ‘n gat in die dak maak om hom by Jesus te kry. Dan lees ons: Toe Jesus hulle geloof sien (vers 5). Hy vergeef die man se sondes en genees hom. Die geloof van daardie vier is duidelik uit dit wat hulle gedoen het. Saam bring hulle hulle hulpelose vriend na Jesus toe; hulle dra hom op ‘n draagbaar na Jesus toe; toe die skare nie vir hulle in die huis wil plek maak nie, klim hulle op die dak, maak ‘n gat in die dak en laat hom afsak voor Jesus.

 

Almal kon hulle geloof sien. Hulle vertroue in Jesus en sy vermoë om hulle vriend te kan help, dryf hulle tot optrede. Waarheen het ons geloof ons gedryf? Ons wys ons geloof deur wat ons doen.

 

Tog is daar baie mense wat niks gedoen het en tog sê dat hulle in Jesus Christus glo. Mense wat Hom nog nooit as hulle Here en Verlosser bely het nie, wat nog nooit met sy mense geïdentifiseer het nie, wat nog nooit uit hulle pad gegaan het om ‘n buurman of vreemdeling te help nie, sê hulle is kinders van Jesus.

 

Geloof sonder iets sigbaar is nie iets waarop ons kan vertrou nie. Geloof in Jesus Christus moet ‘n verskil maak. So ‘n geloof moet:

  • Ons in bekering en nederigheid op ons knieë dryf
  • Ons laat bely dat Jesus Christus ons Here en Verlosser is.
  • Ons dryf om te identifiseer met sy mense – deel van sy geloofsgemeenskap te wees. Ons het hulle nodig.
  • Ons in staat stel om sekere dinge in ons lewens te herrangskik – daar moet bewyse wees dat Jesus ‘n verskil gemaak het

 

In hierdie wêreld sal ons altyd vrae hê – selfs twyfel en af en toe vrees. Terwyl ons in die tentwoning leef, sug ons (2 Korintiërs 5:2). Niemand sal volmaak wees nie, maar dit moet ons nie laat tou opgooi nie. Ons moenie dat die negatiewe dinge ons verlam nie – ons bring ons verlamming na Hom toe.

 




Vra vir ‘n handdoek en nie vir ‘n titel nie

 

I think of life as a good book. The further you get into it, the more it begins to make sense.”— Harold Kushner

 

Vra vir ‘n handdoek en nie vir ‘n titel nie

Ontwikkeling van leiers deur die bemagtigende krag van die Heilige Gees behoort ‘n belangrike waarde in elke gemeente te wees. Die gemeente se vooruitgang word deur sy leiers bepaal. Maar dit is belangrik dat hierdie leiers doeltreffende leiers moet wees. ‘n Kernbestanddeel van leierskapsontwikkeling is om mense te dien. Anders gestel: leiers lei deur die gemeenskap te dien. Dit is nie opsioneel nie.

 

Paulus gebruik die beeld van die liggaam om die kerk te beskrywe. Hy sê: Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ‘n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde (Efesiërs 4:16). Sonder dienaarleiers kan die liggaam nie doeltreffend funksioneer nie.

 

Die probleem is dat baie mense ‘n titel en nie ‘n handdoek soek nie. Bybelse leierskap is nie om mense te vertel wat hulle moet doen nie – jy moet self uitleef dit wat jy wil hê ander moet beliggaam. Luister net wat sê Jesus vir sy dissipels: By die nasies is dit so; konings speel oor hulle baas, en dié wat gesag afdwing, laat hulleself weldoeners noem. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Inteendeel, die belangrikste onder julle moet die geringste wees, en die een wat die leier is, soos die een wat dien … Maar Ek is in julle kring soos die een wat dien (Lukas 22:25 – 27). Die dissipels soek ‘n titel en Jesus gee vir hulle ‘n handdoek.

 

Jesus was saam met sy dissipels. Hy het reeds geweet dat die tyd gekom het om van hierdie wêreld af na die Vader oor te gaan (Johannes 13). Wat doen Hy? Hy maak ‘n handdoek om Hom vas en was sy dissipels se voete. Dit is die kern van leierskap. Dink net hoe anders sou die wêreld vandag gewees het as dit is hoe ons gelei het.

 

Wat het Jesus in staat gestel om so nederig te wees?

  • Hy het geweet van waar sy waardigheid en mag vandaan gekom het – Hy het geweet dat die Vader alles in sy hande oorgegee het.
  • Hy ken sy identiteit – dat Hy van die Vader gekom het.
  • Hy ken sy bestemming – Hy gaan terug na die Vader toe.

 

As ons weet waar ons waardigheid en mag vandaan kom, wat ons identiteit en bestemming is – die onbeperkte, onvoorwaardelike liefde van God in Christus – kan ons ook vir die handdoek in plaas van ‘n titel vra.