Wat is ‘n Christen?

 

“God, and God alone, is man’s highest good.” Herman Bavinck

Wat is ‘n Christen?

Baie mense dink hulle is Christene, want hulle ouers was Christene of hulle het ‘n gevoel van bewondering vir Jesus Christus of hulle woon gereeld eredienste by. Dit is alles oppervlakkig. As die Christelike geloof net dit is, is dit iets vals. Die ware Christelike geloof is ‘n saak van die hart. Baie skade is al gedoen deur mense wat sê dat hulle Christene is terwyl hulle in werklikheid nie Christene is nie.

Christene is nie noodwendig “beter mense” as nie Christene nie. Deur die Heilige Gees besef hulle dat hulle sondig is en hulp nodig het. Hulle kom na Jesus Christus en hulle begin verander, maar hulle het nog ‘n lang pad om te loop. Hulle hou steeds aan om te sondig. Christene is nie in hulle denke en dade volmaak nie.

Hoe verskil die denke van ‘n Christen en nie-Christen? Dit verskil ten opsigte van die fundamentele aannames wat hulle maak. Christene onderwerp hulle aan wat God ons deur Jesus Christus geleer het – dit wat ons in die Bybel kry. Nie-Christene maak ander aannames. Hulle gebruik ander standaarde in hulle denke – elke persoon moet vir homself oordeel, want hy is outonoom. Die Christen, daarenteen, sif elke idee en gebruik dan vir God as standaard, want hy weet dat God die bron van alle waarheid is.

Kan Christene dan met nie-Christene kommunikeer? Beslis, want alle mense is na die beeld van God geskape. Christene moet dit egter baie duidelik maak, dat hulle nie met nie-Christene se aannames saamstem nie – ons sien die waarheid verskillend

 




Argumente in die Bybel oor belangrike godsdienstige sake

Arrogant worship is an oxymoron, a contradiction in terms. —R.C. Sproul

Argumente in die Bybel oor belangrike godsdienstige sake

In ons vorige blog het ons in die algemeen na die gebruik van argumente in die Bybel gekyk. Nou gaan ons spesifiek na argumente oor belangrike godsdienstige sake kyk.

  • In Genesis 3 gebruik die slang allerhande misleidende argumente om Adam en Eva te oortuig om sonde te doen.
  • 1 Konings 18: Elia bied argumente aan om Israel te oortuig dat hulle eerder die God van Israel as Baäl moet aanbid. Elia sê dat dit eintlik God se argumente is wat hy net aanbied.
  • In die Nuwe Testament kry ons baie argumente waarom mense na Jesus Christus moet kom vir hulle verlossing. In Handelinge 2 lees ons Petrus se toespraak op pinksterdag. In sy toespraak argumenteer hy dat die mense hulle moet bekeer en laat doop. Omdat Petrus ‘n apostel van Jesus Christus was, het ons hier te doen met argumente wat van God kom. Paulus doen presies dieselfde in sy toesprake in Handelinge.
  • Hy het die Skrif uitgelê en daaruit aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dood moes opstaan (Handelinge 17:3). Paulus het  argumente gebruik om die mense in Tessalonika te oortuig.
  • Hy het in die sinagoge met die Jode en die godvresendes geredeneer en elke dag op die stadsplein met die mense gepraat (Handelinge 17:17).
  • Maar elke sabbatdag het hy in die sinagoge met die mense geredeneer en Jode en Grieke probeer oortuig (Handelinge 18:4).

Dit is duidelik dat argumente, redenasies en logika wel ‘n plek het in ons godsdiens. Geloof is belangrik vir die gelowige, maar ons praat nie hier van blinde geloof nie. In wese kan ons sê dat die hele Bybel funksioneer as argument om ons te oortuig om onsself, ons gedrag en dit wat ons glo, te verander.

Gevolgtrekking: Argumente speel ‘n belangrike rol in die Bybel en ook in die moderne lewe. Argumente is belangrik, maar ook logika, want die ontleding van die argument is net so belangrik soos die argument self.

 

 




Logika en die Bybel

 

The Bible is a letter God has sent to us; prayer is a letter we send to him. —Matthew Henry

 

Logika en die Bybel

Daar is baie van die sogenaamde “nuwe Ateïste” wat beweer dat godsdiens anti-intellektueel is – met ander woorde logika speel geen rol in die lewe van ‘n Christen nie. Is dit waar? Een bron definieer logika as die ontleding en oorweging van argumente. Argumente is nie net ‘n stryery nie, maar beteken ook beredenering ter ondersteuning van ‘n gevolgtrekking. Een denkfout wat ons dikwels maak, is om twee uiterste alternatiewe as enigste alternatiewe aan te bied. So ‘n denkfout is ‘n oortuigende argument wat berus op vals of ongeldige afleidings.

Dat ons argumente in die Bybel kry, is nie verbasend nie, want die Bybel beskryf tog die mens se lewe – al die goeie en die slegte. ‘n Goeie voorbeeld kry ons in 2 Samuel 17:1 – 14. Absalom begin ‘n opstand teen die koning – sy vader Dawid. Hy dwing Dawid om uit Jerusalem te vlug. Hy besef egter dat solank as wat Dawid leef sy magsposisie onseker is. Hy vra raad van Agitofel (16:23). Hy konsulteer ook vir Gusai. Dié gee presies die teenoorgestelde raad aan Absalom. Argitofel sê dat Dawid onmiddellik agterna gesit moet word (17:1); Gusai se aanbeveling is om te wag om eers ‘n groter mag bymekaar te kry. Beide gee argumente ter ondersteuning van hulle standpunte. Gusai se argumente is meer oortuigend. Abslom aanvaar dit. Die gevolg is ‘n ramp waarin Absalom self omkom.

‘n Argument is dikwels ‘n keerpunt in ‘n mens se lewe – selfs in die lewe van ‘n volk soos Israel. In hierdie geval kry die leser egter sekere inligting wat Absalom en Argitofel nie het nie – Gusai gee voor dat hy vir Absalom dien, maar in werklikheid is hy lojaal aan Dawid (15:34). Salomo glo dat Gusai se raad opreg en redelik is. Gusai se argument bestaan in werklikheid uit drie lae:

  • Wat hy self wil hê – dat Absalom verslaan moet word.
  • Wat Absalom verstaan – dat hy Dawid gaan verslaan
  • God is agter die skerms besig. Maar eintlik was dit die Here wat die goeie raad van Argifofel verydel het, omdat die Here onheil oor Absalom wou bring (17:14).

In hierdie geval sien ons dat ‘n argument ook gebruik kan word om te mislei en te manipuleer. Maar ‘n argument kan ook deel wees van wyse raad. In 1 Samuel 25 besluit Dawid om sy manne opdrag te gee om Nabal aan te val en dood te maak. Abigajil, Nabal se vrou, gaan na Dawid toe en oortuig Dawid met haar argumente om nie vir Nabal dood te maak nie. Dan lees ons: Mag jy geseën word vanweë jou insig en ook omdat jy my vandag  verhinder het om bloed te vergiet en die reg in my eie hand te neem (25:33).

Uit hierdie twee voorbeelde sien ons dat argumente negatief en positief gebruik kan word – dit kan gebruik word om mense te mislei en te manipuleer, maar ook om wyse raad aan mense te gee.

Volgende keer gaan ons na argumente in die  Bybel oor belangrike godsdienstige besluite kyk.

 




Die koninkryk van God

 

When pride walks on the platform, God walks off (Anoniem)

 

Die koninkryk van God

Scot McKnight (Kingdom Conspiracy) sê dat die grootste fout wat mense maak as hulle van die koninkryk praat, is vergelykings. Dit is dinge soos ”Die koninkryk is die ideaal; die kerk is die werklikheid,” “Die kerk is bloot ‘n manifestasie van die koninkryk, maar dit is nie die koninkryk nie, want die koninkryk sal ‘n volmaakte, regverdige en liefdevolle gemeenskap wees.” Almal van hulle faal op grond van ‘n fundamentele aspek van die koninkryk.

 

Kom ons kyk na twee stellings wat Jesus oor die koninkryk gemaak het.

  • Die koninkryk is teenwoordig.

Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie (Markus 1:15)

Toe die Fariseërs vir Jesus vra wanneer die koninkryk van God dan kom, het Hy hulle geantwoord: “ Die koms van die koninkryk van God kan nie uit voortekens bereken word nie. Hulle sal nie kan sê: ‘Kyk, hier is dit!, of: ‘Daar is dit!, nie, want die koninkryk van God is hier by julle.” (Lukas 17:20 – 21).

  • Die koninkryk is in die toekoms

Dit verseker Ek julle: Ek sal nie weer wyn drink nie tot op daardie dag wanneer Ek die nuwe wyn in die koninkryk van God sal drink (Markus 14:25).

Terwyl die mense na Jesus geluister het, het Hy nog ‘n gelykenis  vertel, aangesien Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het die koninkryk van God sou nou enige oomblik kom (Lukas 19:11).

 

Wat sê hierdie verse vir ons? Die koninkryk van God is reeds teenwoordig, maar lê ook nog in die toekoms. Hoe is dit moontlik? Teenwoordig, maar nog nie volledig vervul nie. Die vraag is dus met wat vergelyk ons die kerk – die huidige bevestigde koninkryk of die toekomstige volledige koninkryk?

 

Ons het weer twee lyste nodig: Kerk nou en Kerk nog nie

  • Kerk nou

As ons aan die kerk nou dink, dink ons aan Paulus se voortdurende stryd met die gemeentes – wie kan die gemeente in Korinte vergeet? Ons kry dieselfde in ander gemeentes Die “kerk nou” is die kerk wat bymekaarkom met gebroke leierskap, gebroke heiligheid, gebroke liefde, gebroke vrede, gebroke regverdigheid, … Die kerk nou skiet ver tekort van die kerk nog nie. Ons kan nie die “kerk nou” met die ‘koninkryk nog nie” vergelyk nie – die kerk skiet ver tekort.

 

  • Kerk nog nie

Hier dink ons nie net aan die beloftes dat die kerk die koninkryk sal erf nie, maar nog meer: … soos Christus die kerk liefgehad het en sy lewe daarvoor afgelê het. Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik (Efesiërs 5:25b – 27). Let op die woorde wat Paulus gebruik om die kerk mee te beskryf: volle heerlikheid … sonder vlek of rimpel … heilig en onberispelik. Dit beskryf nie die “kerk nou” nie, maar wel die “kerk nog nie.” Lees net weer Openbaring 21:9 – 22:5.

 

Daar is ‘n spanning tussen koninkryk nou en koninkryk nog nie. Ons kry dieselfde by die kerk. Die kerk is ook nou en nog nie. As ons die koninkryk nou wil vergelyk, moet ons dit met die kerk nou doen. Om die kerk nou met die koninkryk nog nie te vergelyk is onvergelykbaar.

 

+