Is die Heilige Gees ‘n werklikheid?

 

If youth but had the knowledge, if age but had the power – Franse spreekwoord.

 

Is die Heilige Gees ‘n werklikheid?

Vraag:

Is daar enige bewyse vir die bestaan van die Heilige Gees en sy werking? Het ons nie hier maar net met “blinde geloof” te doen nie?

 

Antwoord:

Dr. William Lane Craig antwoord:

Ons moet tussen natuurlike en geopenbaarde teologie onderskei. Natuurlike teologie is wat geloof voorskryf en wat die rede ontdek. Dit het te doen met daardie waarhede wat God aan ons openbaar, maar wat ook met menslike rede bewys kan word. Dit het veral met God se teenwoordigheid en die natuur te doen.

 

Geopenbaarde teologie is wat geloof voorstel, maar wat die rede nie kan bewys nie. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die leer van die Drie-eenheid. Die persoon van die Heilige Gees is deel van die geopenbaarde en nie die natuurlike teologie nie. Ons het Goddelike openbaring nodig om te weet dat God drie-enig is. Dit beteken geensins dat geloof in die Heilige Gees “blinde geloof” is nie.

 

As Jesus die openbaring van God die Vader aan die mensdom was, dan moet ons aanvaar dat dit wat Hy vir ons leer, waar is. Jesus het duidelik die werk en bestaan van die Heilige Gees verkondig wat sou kom om die werk wat Hy begin het verder te voer. Dit sê ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het … Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal ek Hom na julle toe stuur. En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is, en dat die oordeel al gekom het. Die wêreld is skuldig aan sonde, want die wêreld glo nie in My nie; die reg is aan My kant, want Ek gaan na die Vader toe, en julle sal My nie meer sien nie; die oordeel het al gekom, want die owerste van hierdie wêreld is klaar veroordeel (Johannes 14:25 – 26 en 16:7 – 11).

 

As ons glo wat Jesus ons geleer het, moet ons in die Heilige Gees glo.

 

 

 




Moeder Antonia Brenner

 

“There are some preachers you can’t listen to, some you can listen to, and others you must listen to. Strive to be a preacher they must listen to.” H. B. Charles, jr

 

Moeder Antonia Brenner

Nog nooit van haar gehoor nie. Net meer as ‘n jaar gelede is sy in Tijuana, Meksiko oorlede in die berugte La Mesa tronk in Tijuana.

 

Gebore Mary Clarke het sy as Moeder Antonia vrywillig tronk toe gegaan waar sy die laaste dertig jaar van haar lewe deurgebring het`. Sy het geen misdaad gepleeg nie. Sy het ‘n luukse lewe in Beverley Hills geleef toe God haar geroep het. Sy het alles net so gelos en spandeer die res van haar lewe in die tronk. Sy het ‘n ander lewe gelei voor sy Jesus ontmoet het. Sy is gebore in ‘n Iers-Katolieke familie. Haar pa was ‘n suksesvolle sakeman wat goed vir sy familie voorsien het.

 

Sy was twee keer getroud en geskei en het sewe kinders grootgemaak. In 1969 verskyn Jesus aan haar in ‘n droom.  Toe sy wakker word, was sy vasbeslote dat sy haar lewe aan Jesus gaan toewy. Dit was ‘n moeilike tyd, want sy was besig met haar tweede egskeiding. ‘n Priester nooi haar uit om hom met sy bediening in die La Mesa tronk te help – ‘n tronk met 8000 gevangenes.

 

Geen godsdienstige orde wou ‘n vyftigjarige vrou wat al twee keer geskei is aanvaar nie (laat ons dink). Sy maak haar eie kostuum, sy lê haar gelofte privaat af en kry toestemming om in die vroue-afdeling van die tronk te bly. Sy sê: “Ek het gevoel ek is tuis.” Sy het vrylik rondgeloop in die tronk tussen moordenaars, bendelede en desperate gevangenes – en hulle bedien. Sy staan dan ook as die “Tronkengel” bekend. Vir meeste was sy eenvoudig net “Mama.”

 

Haar lewe kan opgesom word in hierdie woorde wat sy geskryf het: “Geluk word nie bepaal deur waar jy is nie. Ek bly in ‘n tronk. En ek was nog nie een dag in 25 jaar terneergedruk nie. Ek was al ontsteld en kwaad. Ek was al hartseer. Maar nooit terneergedruk nie. Ek het ‘n rede om te lewe.”

 




My bekendes is duisternis

 

 “There are two biblical offices in the NT church: elders and deacons. Elders serve by leading. Deacons lead by serving” H. B. Charles, jr

 

My bekendes is duisternis

[Ek gebruik die Ou Afrikaanse Vertaling]

Baie psalms is midde in vreeslike omstandighede geskryf. In Psalm 88 sien ons erge wanhoop. Die psalmis verkeer in ‘n hopelose situasie. Ons lees die psalmis se siel is sat van teëspoede en my lewe raak aan die doderyk. Hy eindig die psalm met: U het vriend en metgesel ver van my verwyder; my bekendes is duisternis. Meeste ander klaagpsalms verander en God word weer op die troon gesien – oorwinning. Maar nie Psalm 88 nie – dit word al hoe erger.

 

Hoekom is daar so ‘n psalm in God se woord? Want soms is dit hoe ons lewens voel. Almal van ons gaan deur verskillende hoofstukke in ons lewens. Sommige van hulle voel soos Psalm 88. Maar as ons Psalm 89 lees sien ons dat wanhoop nie die finale sê het nie. Wat doen jy as dit vir jou voel asof die lewe nooit gaan verbeter nie?

  • Bid Psalm 88 vir God

Jy kan met God eerlik wees oor jou pyn en probleme – selfs jou kwaadwees en twyfel. Jy gaan nie God afskrik met jou trane en twyfel nie – Hy kan dit hanteer. As jy jou wanhoop en hopeloosheid aan God gee, sê jy in werklikheid: “God, ek dink u liefde is groter as al my probleme.” Wees eerlik met God, maar moenie daar ophou nie.

 

  • Preek Psalm 89 vir jouself

Die goedertierenhede van die Here wil ek vir ewig besin; ek wil u trou bekend maak met my mond van geslag tot geslag (89:1). Ons kan egter nie van verlossing uit lyding sing voordat ons eers deur die lyding geloop het nie. As jy in die Psalm 88 seisoen is, moenie die beginsels van hoop en geloof in Psalm 89 vergeet nie. As jy voel dat duisternis jou naaste metgesel is, glo dat God by jou is. As dit voel of jou lewe nooit gaan verbeter nie, glo dat God steeds in beheer is.

 

 




God kies nie dienaars wat soliede rotse is nie

 

“Biblical preaching is the central, primary, and decisive function of those God calls to shepherd the church.” H. B. Charles, jr

 

God kies nie dienaars wat soliede rotse is nie

Die man wat op pinksterdag na vore getree het en die toespraak gehou het, was nie sonder foute nie. Ons weet hy was voortvarend; ons weet dat hy vir Jesus verloën het. Maar Petrus het in ‘n man ontwikkel wie se impak op die koninkryk sy impulsiwiteit oorskry het.

 

As ons Petrus se lewe bestudeer fokus ons dikwels op sy negatiewe optrede – die man wat amper verdrink het toe hy op die water wou loop; sy verloëning van Jesus; ens. Maar Petrus is ook ‘n voorbeeld van ‘n oorwinnende lewe. Hy was ‘n visserman met geen opvoeding en waarskynlik nie veel ander vaardighede as dié van ‘n visserman nie. Hy los sy nette en volg Jesus onmiddellik toe Jesus hom geroep het. Hy was die eerste persoon wat Jesus as die Christus, die Seun van die lewende God erken het (Matteus 16:16). Na Jesus se opstanding is hy die een wat in die water gespring en na die strand geswem het toe hy hoor dat dit Jesus was wat op die strand gestaan het (Johannes 21:7). Ons kan nie Petrus se toewyding bevraagteken nie.

 

Petrus is steeds vir ons ‘n inspirasie. God kies nie dienaars wat soliede rotse sonder enige krake en skeure is nie. Nee, Hy kies mense met swakhede, mislukkings – mense wat voortdurend vergewe moet word. Die Here soek mense wat sal leer, mense wat gewillig is om te bely en bereid is om hulle aan sy wil te onderwerp. Mense soos Petrus.

 

Baie Christene besluit vooraf hoeveel die Here met hulle kan doen. Dit berus op hulle persoonlikheid, talent en opvoeding. God stel nie in kwalifikasies belang nie. Hy soek gewillige volgelinge wat soos Jesaja bereid is om te sê: Hier is ek! Stuur my! (Jesaja 6:8).