Gebed – wees natuurlik

Tomorrow I plan to work, work, from early until late. In fact I have so much to do that I shall spend the first three hours in prayer. —Martin Luther

 

Gebed – wees natuurlik

Dit lyk asof sommge gelowiges glo dat as hulle God in gebed nader hulle moet verander – veral in die teenwoordigheid van ander – so asof God hulle nie sal hoor as hulle hul natuurlike self is nie. Met deernis het Jesus sy dissipels geleer om te bid – eenvoudig, nederig, vol vertroue, volgens God se woord en tot verheerliking van God.

 

Ons kan Jesus se onderrig in enkele beginsels opsom:

  • Moenie haas nie; stilte is nie verkeerd nie.

Dit is nie nodig om elke sekonde van die tyd te vul nie. God kan stilte hanteer; God het tyd om te luister. Ons hoef nie soos afslaers te praat nie. God ken ons harte; moenie bang wees vir stiltes nie. Dalk is dit wat God wil gebruik om met ons te praat.

 

  • Bid tot God as Vader, Seun en Heilige Gees

God is ‘n Drie-eenheid. Ons sukkel om dit te verklaar. Daarom aanbid en pleit ons by die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Soms raak ons deurmekaar, maar God sien verder as ons gebroke gebede.

 

  • Gebruik normale taal

Ons glo dikwels dat as ons met God praat ons groot woorde moet gebruik – en sodra ons klaar gebid het, praat ons weer in gewone taal. As ons bid is dit nie nodig om te praat soos iemand uit die ou tyd, omdat dit meer geestelik en eerbiedig sou wees nie. gebruik normale taal – wees jouself.

 

  • Gebruik ‘n normale stemtoon

Natuurlik moet ons met al ons emosies bid, maar dit moet eg wees. Dit is nie nodig om jou stemtoon te verander of emosies te vervaardig nie. God ken ons harte beter as wat ons onsself ken.

 

  • Kort en eenvoudig

Ons gebede kan kort en steeds gelowig wees. God luister nie aandagtiger na ons gebede net omdat dit lank is nie. Gebed is nie ‘n bank waar die aantal woorde ‘n belegging verteenwoordig nie. Toe Jesus sy dissipels geleer het hoe om te bid, het Hy vir hulle ‘n kort gebed geleer. Hy wys vir hulle dat om God te verheerlik en ander op te bou noodsaaklike aspekte van gebed is.

 

Dit is nooit te laat om jouself te wees nie. God soek vir ‘n verhouding met ons. Gebed begin met die feit dat God ons as sy kinders aangeneem het. Daarom leer Hy ons om met: Ons Vader, te begin. Gebed is een van die geestelikste dinge wat ons kan doen – ons hoef dit nie nog geesteliker te maak deur iets by te voeg om dit te oor-vergeestelik nie. Ons kan kom as dankbare kinders nader omdat ons verlos is deur God wat ons liefhet en ons hoor.

 

 




Hoe hanteer jy spanningsdruk?

Then are we the servants of God, then are we the disciples of Christ, when we do what is commanded us, and because it is commanded us. – John Owen

 

Hoe hanteer jy spanningsdruk?

Die Wall Street Journal het onlangs ‘n artikel oor stadige lees gepubliseer. Die hele idee is dat doelgerigte tyd gespandeer met ‘n boek jou spanningsvlakke kan verlaag. Vir mense wat baie van boeke hou, bring dit ‘n gevoel van kalmte in ‘n gejaagde lewe. Almal van ons het dinge wat ons doen as ons voel die spanningsdruk laai op. Hier is ‘n paar moontlikhede.

  • Oefen

Baie mense gaan draf. Dit verminder spanningsdruk op verskillende maniere. Nie alleen is dit die endorfiene wat vrygestel word en die sirkulasie wat verbeter nie, maar dit is ook ‘n tyd om na te dink – en oplossings te kry.

 

  • Slaap

Rustige slaap is baie belangrik. Daar is min dinge wat ‘n men se batterye so laai soos slaap. Om wakker te word na so ‘n slaap verbeter ook meeste mense se vlakke van optimisme.

 

  • Verhoudings

Tyd gespandeer met familie en vriende laat jou probleme sommer verdwyn. Om te lag, stories te vertel en om selfs ons frustrasies te deel veroorsaak dat ons probleme meer hanteerbaar voorkom.

 

  • Leer

Lees is ‘n belangrike deel van leer. Leer is iets wat ons bemagtig. Dit verminder ons spanningsvlakke.

 

  • Dankbaarheid

As daar iets is wat spanningsvlakke vinnig verminder is dit dankbaarheid. Stap soms na buite en kyk na ‘n ongelooflike sonsondergang. Dankbaarheid teenoor God wat so ‘n toneel geskilder het, laat jou spanning wegvloei. Maak nie saak hoe hoog jou spanningsvlakke is nie, maar om lank genoeg te staan om dankbaar te wees, was meeste van die spanning van die lewe weg.

 

  • Luister en praat met God

Luister na God deur sy woord te lees; praat met Hom in gebed. Onmiddellik kom daar ‘n rustigheid oor jou en die spanning verdwyn.

 

Nie alle spanning is sleg nie. Soms het jy juis spanning nodig om optimaal te funksioneer. Maar ons kan nie die hele tyd onder intense spanning fuksioneer nie. Ons het tye van ontspanning ook nodig.

 

 

 




Die roeping van die kerk

If we only have the will to walk, then God is pleased with our stumbles. —C.S. Lewis

 

Die roeping van die kerk

Daar word baie oor die rol van sosiale geregtigheid in die plaaslike gemeente gepraat. Sosiale geregtigheid is deel van die plaaslike gemeente se taak: Christene moet tog vir hulle liefdesdade bekend wees. Een van die redes waarop die vroeë Christene van die omliggende kultuur verskil het, was juis hulle gewilligheid om die benadeeldes in die gemeenskap te help.

 

Daar is egter ‘n paar gebiede van kommer oor die moderne bediening van sosiale geregtigheid.

  • Die kernroeping van die kerk is die bediening van die Woord – die verkondiging van die evangelie en die onderrig van God se mense. Sosiale geregtigheid mag ‘n natuurlike reaksie op die evangelie wees – ‘n vrug van die evangelie – maar dit is nie gelyk aan die bediening van die Woord nie. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het (Matteus 28:19 – 20). Dit is die Groot Opdrag – die kernroeping van die kerk.
  • Daar is ‘n neiging in sekere gemeentes om ‘n baie hoë prioriteit aan barmhartigheidsdienste te gee sonder enige pogings om evangelisasie te doen of die Goeie Nuus te verkondig. Sosiale geregtigheid het die verkondiging van die evangelie vervang.
  • Ons konsep van sosiale geregtigheid is te eng. As mense aan sosiale geregtigheid dink, dink hulle dikwels aan bediening aan armes. Natuurlik is dit belangrik, maar wat van dinge soos die regte van die ongebore baba, die hantering van bejaardes, die slagoffers van misdaad, ens?

 

Beide die verkondiging van die evangelie en dade van barmhartigheid moet deel van die lewe van die gemeente wees. Ons word nie gedwing om tussen hulle te kies nie, maar ons moet tussen hulle onderskei. Dade van barmhartigheid is nie die evangelie nie – dit is die vrugte van die evangelie.

 DA. Carson sê:

Some studies have shown that Christians spend about five times more mission dollars on issues related to poverty than they do on evangelism and church planting. At one time, “holistic ministry” was an expression intended to move Christians beyond proclamation to include deeds of mercy. Increasingly, however, “holistic ministry” refers to deeds of mercy without any proclamation of the gospel—and that is not holistic.

 

Kry die balans tussen woordverkondiging en dade van barmhartigheid reg.

 

 

 




Leierskap en morele verval

 

“Christian Hedonism does not make a god of pleasure. Rather, we all make a ‘god’ of whatever we take most pleasure in” (John Piper).

 

Leierskap en morele verval

[Moreel = Wat betrekking het op die gevoel vir wat goed en reg is; sedelik – HAT]

Rick Warren sê dat een van sy grootste vrese vir die kerk is morele mislukkings onder die leierskap. Elke keer as ‘n leier val, ly die kerk saam met sy familie en vriende. Ons kollektiewe getuienis van God se waarheid ly ook skade. Daarom moet kerkleiers besluit om elke dag deur God se genade met integriteit te lewe.

 

Die versoekings wat oor julle kom, is dieselfde as wat enige ander mens teëkom. God sal julle nie in die steek laat nie, maar doen wat Hy gesê het. Hy het mos gesê dat Hy nie dinge met jou sal laat gebeur wat jou as Christen van balans sal gooi nie. As daar dan dinge gebeur wat jou van God se pad wil afkry, sal God jou help om die regte besluit te neem en jou dan die krag gee om te doen wat jy besluit het (1 Korintiërs 10:13 – Die Boodskap). Hierdie vers is gerusstellend. Dit sê: Almal kom voor versoeking te staan – die mens se probleem sedert Adam en Eva. Dit is nie ‘n sonde om versoek te word nie. Dit is wel ‘n sonde om aan versoeking toe te gee. Maar God gee vir ons ‘n ontsnappingsroete. Wat is dit?

 

  • Maak ‘n belofte om God se standaarde na te kom

Wees gewillig om te doen wat die Bybel sê. Hoe kan ‘n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord! (Psalm 119:9). Die beste en veiligste plek om jou waardes te kry, is deur jou Skepper te raadpleeg – in die Bybel. Die Bybel het die aanslae van die tyd weerstaan en sal aan jou die regte leiding gee. Totdat jy besluit dat God se woord die standaard vir jou lewe is, sal jy toegee aan allerhande soorte versoekings.

 

  • Werk aan jou huwelik

Verheug jou oor jou eie vrou, so vol liefde, so mooi soos ‘n takbok, soos ‘n ribbok. Geniet voluit van haar liefkosings, laat dit jou deurentyd bedwelm (Spreuke 5:18 – 19). Die probleem is dat in baie huwelike daar geen spontaneïteit meer is nie – ons maak nie meer die hof aan ons vrouens nie. Terwyl jy getroud is, sal jy aangetrokke tot ander mense wees, maar God stel dit duidelik: rig alle aangetrokkenheid op jou lewensmaat.

 

  • Beheer jou denke

Hoe word ‘n mens verlei? Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug raak, bring dit die sonde voort (Jakobus 1:14 – 15). Die geveg begin in jou denke. Gedagtes bepaal gevoelens en gevoelens bepaal optrede.

 

  • Beheer jou media inname

Ons word deur visuele en verbale stimulasie gebombardeer. Seks word gebruik om alles te verkoop – van batterye tot karre. Dink maar net aan internet pornografie. Wat jy sien is wat jy word. Luister net wat sê die psalmis: Ek stel geen lae ding voor my oë nie (101:3 – OAV).

 

  • Beperk die geleenthede vir versoeking

Ons moet waghou en bid dat ons nie in versoeking kom nie. Ken die situasies wat jou versoek en sorg dat jy daar wegkom. Kies jou vriende baie versigtig: Slegte geselskap bederf goeie sedes (1 Korintiërs 15:33). Beperk die geleenthede vir versoeking deur goeie gelowige vriende te kies.

 

  • Vergroot die gevolge

Met elke versoeking vra jouself: Is dit die moeite werd? Versoeking is kortsigtig. Daar is ernstige gevolge as ons God se opdragte verbreek – emosioneel, geestelik, verhoudings. Ons breek nie God se opdragte nie – hulle breek ons. Dit lei altyd tot bitterheid, skuldgevoelens, ontnugtering,  versteurde verhoudings en oordeel. Dit is nie die moeite werd nie. Maar vergroot ook die gevolge/voordele as jy van versoeking weghardloop. Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet (Jakobus 1:12).

 

Maar as jy toegegee het, is daar vergifnis. Vra vergifnis; stel dinge reg; vergewe ander; herstel verhoudings; hardloop terug na God.