Dag 23: Van Woord tot Woord dieselfde

 

Dag 23: Van Woord tot Woord dieselfde

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

Die Evangelie volgens Johannes begin met Jesus, maar nie Jesus in ‘n krip of van skaapwagters wat vir Jesus kom besoek nie, maar voor tyd – iets wat vir ons onverstaanbaar is. Voordat Jesus mens geword het, staan Hy as die Woord van God bekend. Jesus as Woord demonstreer iets wonderlik vir ons – iets van die God wat die heelal skep uit niks nie. Hy verklaar slegs hulle bestaan en hulle is daar. God gee aan ons die gawe om by Hom in sy skeppingsproses aan te sluit. Hoe? Deur woorde wat lig versprei en lewe verklaar.

 

Vanaf die eerste koms van die Woord van God deur die menswording sien ons ‘n God wat nie net waardes verkondig nie, maar wat waardes in en deur Homself beliggaam. Hy is nie ‘n God wat net verklaar nie; sy hele wese word deur die Woord uitgedruk. Jesus as Woord is nie iets wat God sommer gesê het nie; Jesus as Woord is die tasbare demonstrasie van wie God is. Verkondiging bevestig die werklike teenwoordigheid van God.

 

Wat beteken dit om kinders van God te wees? Ons sluit by God aan om lig na die wêreld te bring deur ons woorde, veral deur die Woord, Jesus, te verkondig. As ons deelneem deur Jesus te verkondig, neem ons deel aan sy menswording toe lig en lewe na die wêreld toe gekom het.

 

Om Jesus hierdie Kersseidoen te verkondig is een manier waardeur ons by God kan aansluit om lig en lewe uit niks na die wêreld te bring. Dit is goeie nuus. Jesus sal ‘n tweede keer as Woord geopenbaar word (Openbaring 19:11 – 13). Jesus as Woord sal eendag die wêreld herskep deur oordeel. Hy sal ‘n nuwe begin verklaar – alles sal nuut wees. Ons deel in God se skeppings- en herskeppingswerk as ons die Woord aan die wêreld verkondig.

Hy was in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore (Johannes 1:10 – 13).

 

 

 




Psalm 33(2)

 

It’s so much easier to pray for a bore than to go and see one – C. S. Lewis

 

Psalm 33(2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

33:4 – 7: Redes vir lof

Want lei die eerste stel redes vir die nuwe lied in. Hier word na twee redes verwys:

  • Die algemene aard van die Here se verhouding met die wêreld; en
  • Die manier waarop die Here aan die begin die wêreld gemaak het.

 

4Want die woord van die Here is reg, en al sy werk is betroubaar.

5Hy is lief vir reg en geregtigheid; die troue liefde van die Here vul die aarde.

Die Here het die eienskappe van die mense wat Hom moes loof. Nog eienskappe word bygevoeg. Hy is opreg en betroubaar, maar ook regverdig en vol liefde. Dit is sy woord wat reg is – sy beloftes sal ons nooit mislei nie. Hy is aan betroubaarheid toegewy. Hy vul die hele aarde met sy troue liefde.

 

6Deur die woord van die Here is die hemele gemaak en deur die asem van sy mond die hemel se hele leër.

Dit is deur hierdie woord genoem in vers 4 dat die hemel gemaak is. Deur Hom begin dinge lewe. Die skepping was ‘n voorbeeld waar die woord en optrede van die Here reg en betroubaar was. Ons sou verwag het dat na die skepping van die hemele die skepping van die aarde aan die woord sou kom, maar die psalmis verwys nou na die hemelse leër – die sterre en planete. Die asem van die Here verwys na sy dinamiese mag wat mag verwys na vernietiging, maar wat hier na skepping verwys. Die wêreld is gemaak deur sy gesagvolle woord en die uitoefening van sy dinamiese mag.

 

 7Hy hou die water van die see soos ‘n dam bymekaar; Hy gaar die oewerwaters op in voorraadkamers.

Die skepping van die aarde word in negatiewe terme beskrywe – die negatiewe magte moet ingeperk word. Die water kan die aarde oorstroom as hulle nie binne perke gehou word nie. By die skepping het die Here hierdie negatiewe kragte ingeperk. Deur op hierdie manier vir die aarde te voorsien en te beskerm is ‘n uitdrukking van die Here se betroubaarheid. Die aarde is vol van die Here se toewyding.

 

3:8: Indirekte oproep tot lof

8Die hele aarde moet die Here vrees; vir Hom moet al die bewoners van die wêreld ontsag hê.

Die aarde word beskryf as al die bewoners van die wêreld.  Die hele aarde en al sy bewoners moet ontsag hê vir die Here.

 




Verskille tussen ‘n gelowige en ‘n Christen

 

Jesus cannot simply be liked, you either kill Him or crown Him in your life – Tim Keller

 

Verskille tussen ‘n gelowige en ‘n Christen

Jarrid Wilson noem tien verskille tussen ‘n gelowige en ‘n Christen.

Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook – en hulle siddr van angs (Jakobus 2:19).

  1. ‘n Gelowige glo in Jesus. ‘n Christen voer sy opdragte uit.
  2. Die gelowige gaan kerk toe op geestelike vakansiedae. Die Christen weet dat die geloofsgemeenskap die paradigma van hulle geloof is.
  3. ‘n Gelowige lees sy Bybel as tye moeilik is. ‘n Christen lees gereeld sy Bybel.
  4. ‘n Gelowige bid as tye moeilik is. ‘n Christen dank God maak nie saak wat die omstandighede is nie.
  5. ‘n Gelowige pas die Bybel aan om by sy lewenstyl aan te pas. ‘n Christen pas sy leefstyl aan by die onderrig van die Bybel.
  6. Die gelowige offer op as dit hom pas. Die Christene offer op maak nie saak wat die potensiële uitkoms is nie.
  7. ‘n Gelowige gee sy tiende as daar geen risiko is nie. Die Christen gee sy tiende onder alle omstandighede.
  8. ‘n Gelowige pas aan onder druk van die kultuur. ‘n Christen gee nie in op versoeking nie.
  9. ‘n Gelowige deel sy geloof as dit gemaklik is. ‘n Christen deel sy geloof maak nie saak wat die omstandighede is nie.
  10. ‘n Gelowige weet van Christus. ‘n Christene ken Jesus as sy Here en Verlosser.

 

 




Die boek Job en lyding

 

Repentance is not a discrete external act; it is the turning round of the whole life in faith in Christ. —Sinclair Ferguson

 

Die boek Job en lyding

Wat leer die boek van Job vir ons van lyding wat ons nie kan verklaar nie? Basies kom dit daarop neer dat al is daar sekere swaarkry en lyding wat ons nie verstaan nie, weet ons dat God steeds wys en regverdig is.

 

Om mee te begin moet ons die konteks van Job verstaan. Spreuke, Prediker en Job is deel van die wysheidsliteratuur van die Bybel. In Spreuke lees ons dat God wys en regverdig is. Die tema is: Die goddeloses sal gestraf word en die regverdiges sal beloon word – jy kry wat jy verdien. Prediker het ‘n nederige en siniese siening van die wêreld en van geregtigheid in die besonder. Die skrywer sê vir ons dat die lewe nie altyd regverdig is nie – soms is dit baie moeilik om die wêreld te verstaan.

 

Dit is baie maklik om verlore te raak in die boek Job – die poëtiese taal wat gebruik word en die lang toesprake van Job se vriend en sy antwoorde daarop. Die boek beweeg emosioneel op en af. Soms is hy oortuig dat God regverdig en goed is; soms glo hy dat God onregverdig is. Sy emosionele uitbarstings beteken dat ons hom as ‘n alledaagse mens sien – hy reageer op sy lyding. Hy is nie net ‘n mens wat ongelooflik volhard het te midde van sy swaarkry nie, maar ook ‘n persoon wat nie sy lyding verdien het nie.

 

Job vra vir God om sy optrede te kom verduidelik. In plaas daarvan dat God Job se situasie spesifiek hanteer, neem God vir Job op ‘n virtuele toer deur die heelal. God vra vir hom of hy verstaan hoe die wêreld werk en hoe om dit te onderhou. Die doel van God is om vir Job te laat verstaan dat hy nie die kompleksiteit van die werklikheid wat God hanteer, kan verstaan nie – al wil hy. Dit is net te groot vir hom. Dit maak Job nederig. Hy leer nie waarom hy ly nie; hy leer wel dat God wys en regverdig is. En dat ons nie vanuit ons beperkte perspektief  die hele beeld van wat God doen, kan verstaan nie.

 

Aan die einde van die boek ontvang Job dubbel van wat hy vantevore gehad het. Hierdie beteken nie dat Job ‘n toets geslaag het en dat God hom nou beloon nie. Ons weet nie hoekom God besluit het om dit te doen nie. Job is nou die tipe persoon wat, maak nie saak wat gebeur nie, op God se wysheid kan vertrou.