My identiteit (3)

 

The Jesus way wedded to the Jesus truth brings about the Jesus life – Eugene Peterson

 

My identiteit (3)

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

In die vorige blog het ons na van die probleme van ‘n moderne identiteit gekyk. Is daar ‘n alternatief? Die gelowige in God kry sy vervulling in sy goddelike ontwerp en roeping. Daar is drie paaie na identiteit:

  • Kyk na buite – hierdie is die tradisionele mense wat na hulle plig en rol in die gemeenskap kyk om hulleself te vind.
  • Kyk na binne – hierdie is die groep waarna ons in die vorige blog gekyk het – die moderne mense.
  • Kyk na bo – hierdie mense kyk nie na binne of na buite nie, maar na bo. Wat nou belangrik is, is nie wat die samelewing van my dink of wat ek van myself dink nie, maar wat God van my dink.

 

Daar moet iemand wees vir wie jy liefhet en wat vir jou liefhet. As ons hierdie mag in die hande  van ‘n feilbare mens, wat gereeld verander, plaas, kan dit ons vernietig. Geen menslike liefde kan hierdie standaard bereik nie – slegs die onvoorwaardelike liefde van God is reg. Die Nuwe Testament erken self hierdie drie paaie na die mens se identiteit:

Maar vir my is dit nie van die minste belang of my betroubaarheid deur julle of deur ‘n menslike regbank beoordeel word nie. Trouens, ek beoordeel dit self nie eers nie … Dit is die Here wat my beoordeel (1 Korintiërs 4:3 – 4). Paulus sê dat al wat vir hom belangrik is, is wat God van hom dink.

 

Paulus kan sê dat God hom beoordeel, nie met angs nie, maar met vertroue. Hoekom? ‘n Christelike identiteit word nie ontwikkel nie, maar ontvang. As ons vir God vra om ons te aanvaar en aan te neem doen Hy dit as gevolg van Christus. Wat nou van belang is, is nie my prestasies en pogings nie, maar my geloof in Jesus Christus. Hoe weet ons dit is waar?  Jesus Christus, Seun van God, wat die hoogste eer en Naam gehad het – die hoogste moontlike identiteit – het Hom van sy heerlikheid leeggemaak en sterf aan die kruis sodat ons ‘n identiteit kan hê wat vir altyd duur (Filippense 2:1 – 11). Dit is hoeveel hy vir ons omgee.

 

Volgende keer gaan ons verder na hierdie nuwe identiteit in Christus kyk.

 




Dag 11: Die Verlossing van Advent

 

Dag 11: Die Verlossing van Advent

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

Jy is in ‘n pakhuis met rye en rye pakkies. Skielik slaan iemand die lig af. Dit is pikdonker. Jy moet nou tussen al die pakkies jou pad kry na die ligskakelaar. Wat het dit met Advent te doen? Alles.

 

Jesus het na hierdie donker wêreld gekom. Ons was vasgevang in die donkerte, maar hy kom as die lig na hierdie wêreld. Ons het hulpeloos in die donkerte rondgetas; ons het gesukkel om die sin en betekenis van die lewe te verstaan. Maar daar is goeie nuus: die gekruisigde en opgestane Here stap in die donkerte van ons pyn en lyding en gee aan ons ‘n uitgang daaruit. As ons Hom volg, kan ons die ewige lig van die lewe geniet. Wees iemand wat ander mense kan wys waar hulle ook hierdie Lig kan kry – hierdie Lig wat die deur na ‘n nuwe hoop en ‘n nuwe lewe oopmaak.

Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee (Johannes 8:12).

 

 




My identiteit (2)

 

Fall in love with Jesus, stay in love with Jesus and that will decide everything – Pedro Arrupe

 

My identiteit (2)

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

Identiteitsvorming in ons moderne kultuur is nie sonder sy probleme nie. Kom ons kyk na ‘n paar.

 

  1. Moderne identiteit is onsamehangend

As jy in jou hart kyk om jou diepste begeertes te vind, gaan jy baie van hulle kry. Jy gaan nog iets ontdek – van hulle weerspreek mekaar. Nie alleen is ons begeertes teenstrydig nie, maar hulle is ook ontwykend en verander voortdurend. Daarom is die tradisionele manier om jou identiteit te vorm deur met iets solied buite jouself te verbind die korrekte een.

 

  1. Moderne identiteit is bedrieglik – ‘n illusie

Ons kultuur sê vir ons dat ons in onsself moet kyk en so ons begeertes en drome ontdek. Jy moet dit self doen en nie na iemand van buite kyk om dit te bevestig nie. Moenie na standaarde van buite kyk nie; jy self bepaal jou eie betekenis. Dit is onmoontlik. Jou identiteit moet tot ‘n groot mate van ander kom. Ons het iemand van buite nodig om te sê dat ons waardevol is. Die mens is ‘n sosiale wese. Ons moet eers buite onsself kyk en met iets verbind voordat ons in onsself kan kyk en ‘n beoordeling maak. Dit is ‘n illusie om te dink dat jou identiteit slegs ‘n uitdrukking van jou innerlike begeertes en gevoelens is. Jy mag baie gevoelens hê, maar dit beteken nie dat jy aan almal uitdrukking kan gee nie. Ons gebruik ‘n filter om te besluit watter ons in ons identiteit gaan insluit. Waar kry ons hierdie filter? By mense wat ons vertrou. Ons moet ons oortuigings van iewers kry. Meestal tel ons dit onbewus by ons kultuur of gemeenskap op. Ons kan nie ‘n identiteit ontdek of skep in isolasie nie Ons kry dit deur ‘n dialoog met die morele waardes en oortuiging van ons gemeenskap.

 

  1. Moderne identiteit is vernietigend

Die oënskynlike vryheid van  wêreldse identiteit bring ‘n neerdrukkende las vir ons. Moderne mense sien dit as ‘n verleentheid om getrou en nie suksesvol te wees nie. Sukses of mislukking word as slegs die individu se verantwoordelikheid gesien. Daarom moet ons onsself bevorder. Hierdie selfgemaakte identiteit wat op ons prestasies berus, veroorsaak dat ons selfwaarde meer breekbaar is as gevolg van mislukking.

 

  1. Moderne identiteit veroorsaak breuke

In tradisionele kulture is ons belangrikste verhoudings belangriker as individuele selfbelang, want ons identiteit hang daarvan  af of ons die verhouding eer. In ons moderne kultuur is ons belangriker as enige sosiale band. As jy tevrede is met die verhouding, hou jy dit net so lank as dit jou tevrede hou. Onvoorwaardelike verhoudings wat veronderstel is om lewenslank te hou, maak dus nie sin nie. Gemeenskappe word nou sosiale netwerke – mense verbind met mense soos hulleself op ‘n verbygaande basis. Ons sien dit in huweliks- en familiebande wat vandag selde lank hou.

 

Maar as die moderne identiteit soveel probleme skep, wat is dan die alternatief? Daarna kyk ons volgende keer.

 

 




Dag 10: As die wonder van die goeie nuus alles anders stil maak.

 

Dag 10: As die wonder van die goeie nuus alles anders stil maak.

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

Advent (advenrus = aankoms in Latyn) is die eerste seisoen van die kerkjaar. Dit lei tot Kersfees en sluit die voorafgaande vier Sondae in. Klem val op wag. Soos ons as gelowiges wag vir sy wederkoms, maar ook soos ons Jesus se geboorte in herinnering roep, wag ons in afwagting vir die wonder wat Christus gaan bring: hoop vir die wêreld. Soos hierdie storie ontvou, wag ons vir die hoogtepunt: Moenie bang wees nie, want kyk ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here (Lukas 2:10 – 11).

 

Jesus bring vir ons die goeie tyding. Die hoop van die wêreld rus in hierdie kindjie, Jesus. Hierdie nuus is so oorweldigend dat die engele uit die hemele in lofprysing uitbars – hulle vertel van die wonder wat gebeur het. Die afwagting van Advent is dat Jesus gekom het en weer sal kom. Hy is die hoop van die wêreld – niks kan met Hom vergelyk word nie.

 

Advent is vir ons ‘n wonderlike aansporing, maar ook ‘n unieke geleentheid om hierdie goeie tyding met almal om ons te deel. As ons Jesus se koms vier en verlang vir sy terugkeer, wat is ons storie? Wat inspireer jou so baie dat jy hierdie storie met die wêreld moet deel? Ons het hierdie goeie tyding wat die engele in lof laat uitbars. Dra hierde goeie tyding hierdie jaar uit.

Daar was skaapwagters  in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. Meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik.         Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is (Lukas 2:8 – 10).