Vryheid (3)

 

The Bible exhorts us to weep with those who weep. It doesn’t tell us to judge whether they should be weeping. —H.B. Charles Jr.

 

Vryheid (3)

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

Die moderne wêreld sien godsdiens as die vyand van vryheid. In plaas daarvan dat godsdiens en tradisies vir ons voorskryf, glo ons ons moet vry wees om te glo en te leef soos ons wil. Maar almal van ons aanbid iets of iemand. Daar is geen vryheid sonder beperkings nie. As daar geen God is nie, moet jy een of ander geskape ding aanbid.

 

Dit beteken geensins dat God nie beperkings op ons plaas nie. Hy vertel vir ons wat ons mag en nie mag doen nie. Christene aanvaar hierdie beperkings. Ons is gemaak om God te ken, te dien en lief te hê. As ons besef hoe Jesus ons verlos het met groot koste aan Homself, hoe Hy Hom van sy heerlikheid leegemaak het om ons te dien, maak dit dat ons Hom wil ken, dien en gehoorsaam. Jakobus 1:25 verwys na God se volmaakte wet wat ‘n mens vry maak. Christene sien die wil van God nie as ‘n las wat ons beperk nie, maar as dit wat Hom bly maak – waardeur ons Hom tevrede stel

 

As ons sy wil doen, word ons ook wie Hy ons geskep het om te wees. Die opdragte kom van ons Skepper. As ek sy wil verbreek, is dit teen ons wese en daarom verloor ons ons vryheid. Christus is ons Maker en Verlosser. Hy roep ons net om daardie dinge waarvoor Hy ons gemaak het, te doen. Hy sê dat Hy die las om Hom te volg op ons gelê het, maar Hy het reeds die prys betaal. Hy het die las om ons eie verlossing te verdien weggeneem; Hy het die las van skuldgevoelens oor mislukkings in die verlede weggeneem.

 

Jesus is die enigste meester vir wie ons kan leef sonder dat Hy ons sal uitbuit. Die Christelike geloof is die enigste godsdiens wat daarop aanspraak maak dat God sy vryheid opgegee het, sodat ons dié vryheid kan beleef – vryheid van die goddeloosheid en die dood self. Ons kan Hom vertrou

Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees (Johannes 8:36).

 




Dag 8: Kersfees nederigheid

 

Dag 8: Kersfees nederigheid

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

Kersfees is ‘n prentjie van God se nederige koms na die wêreld en die mens se storie. Ons Here het nie op ‘n afstand gestaan en verlossingsopdragte uitgeskreeu nie. Jesus het nie met trompetgeskal en swierigheid gekom nie. Hy is in ‘n stal gebore en niemand het dit opgelet nie … behalwe die hemelse leërskare. Uiteindelik kry wyse manne en skaapwagters die uitnodiging. Die eerste Kersfees was nie ‘n spoggerige affêre nie.

 

Josef, Maria en ‘n babaseun is blootgestel aan die elemente in ‘n stal. Die Goddelike gawe uit die hemel kom na die wêreld feitlik sonder ‘n rimpeling in die dam van die geskiedenis van die mens. Wat leer ons van die manier waarop Jesus gekom het? Nederigheid.. Opoffering. Diens. Ons wat die Gees van Jesus in ons dra, behoort deur die wêreld te loop soos Jesus geloop het. Ons wat sy Naam dra, moet baie soos Hy lyk.

 

Ons word Christene genoem. As mense na ons kyk, moet hulle die Verlosser van die wêreld in ons weerkaats sien – in ons woorde, gesindhede en daaglikse gedrag. Nederigheid moet die teken wees van alles wat ons sê en doen. Ons evangelisasie moet natuurlik wees, gedryf deur nederigheid. Kom ons raak ontslae van ‘n veroordelende gesindheid. Moenie verwag dat nie-gelowiges soos Christene gaan optree nie. As ons werklik eerlik wil wees: Dit is moeilik genoeg vir Christene om soos Christene op te tree al is die Heilige Gees in ons.

 

Wys genade, barmhartigheid en vriendelikheid aan mense wat nog nie besef dat God hulle lief het nie. Laat ons elke persoon met wie ons pad hierdie Kersseisoen kruis met liefde en nederige genade behandel. Onthou: Christus het gekom om sondaars te red.

Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moet vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word (Filippense 2:5 – 7).

 




Vryheid (2)

 

You will never know the fullness of Christ until you know the emptiness of everything else. —C.H. Spurgeon

 

Vryheid (2)

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

In die vorige blog het ons gesien dat die wêreld absolute vryheid van keuse voorstaan. Navorsing wys dat daar ‘n sterk verband tussen geluk en sterk sosiale verhoudings is. We need to interact and intertwine with others; we need the give and take; we need to belong (Jonathan Haidt). Hoe meer persoonlike, individuele vryheid beklemtoon word, hoe meer gaan die tradisionele instellings – familie, buurskap en burgerskap – agteruit. ‘n Gesonde samelewing is afhanklik van vrywillige, onselfsugtige gedrag. Om eerlik, vrygewig en getrou aan jou vrou en kinders te wees, oortree gereeld op jou persoonlike geluk en vryheid.

 

Jy sal nooit die vryheid van liefde ondervind as jy nie jou keuses beperk nie. Daar is geen groter gevoel van vryheid as iemand jou waarlik liefhet nie. Dit stel jou vry van jou vrese en selftwyfel. Dit stel jou vry omdat jy nie meer alleen die wêreld moet hanteer nie. Jy is vry in ‘n verhouding waar mense nie mekaar uitbuit nie, maar aandag gee aan ander se behoeftes – waar jy jouself aan iemand anders gee.

 

Negatiewe vryheid beteken vryheid van; positiewe vryheid beteken vryheid vir. Ons moderne siening van vryheid is negatief. Vryheid kan nie ons enigste waarde wees nie. Ons moet ons vryheid van keuse gebruik om iets te doen. Ware vryheid beteken jy is vry om iets goeds te doen. Negatiewe vryheid is dus altyd onvolledig.

 

Dit is duidelik dat die moderne siening van vryheid baie ernstige probleme het. Vryheid mag nooit ‘n verskoning vir selfsugtigheid word nie Vryheid is nooit ‘n doel op sigself nie. Jy moet jouself vir iets in hierdie lewe gee anders het jou lewe geen sin nie. Almal het liefde, betekenis en tevredenheid in die lewe nodig. Daarom is almal onder die beheer van iets anders.

 

Waar pas God in hierdie hele debat oor vryheid in? Daarna gaan ons volgende keer kyk.

 




Psalm 31 (6)

 

He that will play with Satan’s bait will quickly be taken with Satan’s hook. —Thomas Brooks

 

Psalm 31 (6)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

31:22 – 25:

Hier kry ons weer ‘n oorgang in die psalm – die Here het op die psalmis se pleidooie gereageer. Uiteindelik nooi dit ander mense uit om in die psalmis se oortuiging te deel. Sy doel met die samevoeging van klaag- en loflied is om te wys dat sy vertroue op die Here nie tevergeefs was nie. God hoor die klaaglied van ‘n gelowige en Hy doen iets daaraan.

 

22Die Here moet geprys word, want in ‘n beleërde stad het Hy sy troue liefde wonderbaarlik aan my bewys.

Die psalmis het die Here se antwoord gesien. Tot dusver het hy nog net daarvan gehoor. Die psalmis het tot dusver in die psalm deur moeilike werklikhede gekom, maar daar is ook redes vir vertroue. Wonders is gewoonlik God se groot optrede vir sy mense Dit was asof die psalmis ‘n beleërde stad wat op die punt was om ingeneem te word, gesien het, maar wonderbaarlik het die Here hom gered.

 

23Maar ek, ek het in my angstigheid gedink ek is afgesny, weg uit u gesigsveld. Nogtans het U my smeekgebed gehoor, toe ek na U om hulp geroep het.

Eerstens is daar die gevoel dat hy verlore is – hy is afgesny van die Here se hand of optrede. Hier voel hy ook asof hy buite die Here se gesigsveld is. God sien hom nie meer nie. Nogtans is die werklikheid anders as wat ander mense gedink het. Toe hy gebid en om hulp geroep het, het God gehoor. Dit is die vreugdevolle besef aan die einde van ‘n gebed.

 

24Julle moet die Here liefhê, almal wat aan Hom getrou is. Die Here hou betroubares veilig, maar vergeld, tot die uiterste, dié wat hoogmoedig optree.

Hy dank nou die Here sodat ander mense dit kan hoor. Hy praat met almal wat aan die Here getrou is. Hy begin met ‘n uitdaging oor hulle houding teenoor die Here. Die psalmis se ondervinding dien as getuienis om mense aan te moedig om op die Here lief te hê en te vertrou. Die Here wat betroubares veilig hou is die basis vir hulle liefde en vertroue.

 

25Wees sterk en hou moed, julle almal wat julle hoop op die Here vestig.

Hier kry ons ‘n ander soort oproep. Dit gaan oor mense se verhouding met die lewe eerder as met God. Dit praat van ‘n ander gesindheid tot die lewe op grond van ons verhouding met die Here. Hy praat hier met die mense wat hulle hoop op die Here vestig. Die psalm getuig van die verlede waar met afwagting gewag word dat die Here sal hoor en verdere wag in afwagting om God se reaksie te sien. Die sleutel tot krag en moed is om op die Here te wag. Die wag op die Here impliseer dat jy seker is dat Hy gaan optree.