Psalm 31 (4)

 

If you add anything to Christ, you lose Christ. Salvation is in Christ alone by grace alone through faith alone. —John Stott

 

Psalm 31 (4)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

31:10 – 14:

Die gebed begin weer met ‘n pleidooi. Dit verander gou in ‘n klaaglied. Die doel van die klaaglied is om die Here te motiveer om op sy pleidooi vir genade te reageer.

 

10Wees my genadig, Here, want ek is in die nood; van verdriet het my oë swak geword,

ja, alles in my.

Die psalmis het steeds die probleem al het vers 8 daarna verwys asof dit al opgelos is. Die gedeelte gaan die nood waarin hy verkeer, uitspel. Sy oë het swak geword van al die kyk of verlossing gaan plaasvind. Hierdie swak word, geld nie net vir sy oë nie, maar vir die hele mens

 

11My lewe vergaan van kommer en my jare van swaarkry;

deur my ellende word my krag geknak en teer my liggaam uit.

Vergaan en geknak hier vul swak word in die vorige vers aan Krag verwys na die krag om voort te gaan ten spyte van die omstandighede. Wat die liggaam laat uitteer, is die verlange na verlossing … en hy sien niks nie.

 

12Ek is die spot van al my teëstanders, veral van my bure, ’n verskrikking vir al my bekendes. Dié wat my op straat sien, vlug vir my.

Hier gaan dit oor die mense se houding teenoor die psalmis. Hy is ‘n spot vir die mense. Hulle aanvaar dat hy verkeerd opgetree het. ‘n Verskrikking vir al my bekendes beklemtoon verder dat die magte teen hom saamspan.

 

Vanweë die erns van sy haglike toestand (vs 10 – 14), die opregtheid van sy vertroue op die Here en die erns van sy roep om hulp (vs 15 – 19), herhaal die digter alles. Wees my genadig, Here. So begin die digter hierdie gedeelte. Daarna gee hy ‘n lang lys redes vir sy noodroep. Erger as dit kan dit seker nie gaan nie.

 




Dag 2: Wat is in ‘n Naam?

 

Dag 2: Wat is in ‘n Naam?

Die Billy Graham Center for Evangelism het ‘n aantal leraars gekry om vir 25-dae stukkies te skryf vir Advent. Ons gaan oor die volgende 25 dae elke dag een van hierdie stukkies plaas.

[Advent word gewoonlik toegepas op die vier weke voor Kersfees. Latyn: ad – na + venire – kom. Dit dui dus op die naderende koms van Christus – sy eerste en tweede koms.]

 

Beteken jou naam iets? In hierdie Kersseisoen staan die betekenis van Jesus se Naam sentraal in ons herdenking van sy geboorte. Jesus is die vertaling van die Grieks (Iesous) wat ‘n vertaling is van sy Hebreeuse Naam – Yeshua. Dit beteken “hy sal red.” Sy ouers het nie sy Naam gekies nie. ‘n Engel van die Here het vir Josef gesê dat sy vrou ‘n seun sal hê en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos (Matteus 1:21). Jy gaan tog nie met ‘n engel van die Here stry nie!

 

In die Ou Testament was Yeshua ‘n algemene eienaam. In Eksodus 15:2 sing Moses: Die Here is my Yeshua” – my redding of verlossing. Toe die engel vir Josef sê dat die kind se Naam Jesus moet wees, was dit groot nuus. Die engel sê verder vir Josef: Jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy was sy volk van hulle sondes sal verlos (Matteus 1:21).

 

Kersfeestyd is ‘n goeie tyd om te onthou dat hierdie baba ons van ons sondes sou red. Josef en Maria het dit nie alles verstaan toe hulle Hom Jesus genoem het nie. Maar ek en jy ken die hele storie – van die krip tot by die kruis tot by die graf tot by die opstanding tot by sy hemelvaart. Saam met die apostels kan ons sê: God het Hom verhoog tot Leidsman en Verlosser aan sy regterhand, sodat Hy Israel tot bekering kan bring en hulle sondes kan vergewe (Handelinge 5:31). God se Kersgeskenk is die beste van alle geskenke.

Jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy was sy volk van hulle sondes sal verlos (Matteus 1:21).

 




Etiese oortuigings

When we are crushed like grapes, we cannot think of the wine we will become –Henri Nouwen

 Etiese oortuigings

Meeste mense, godsdienstig of wêrelds, het ‘n stel etiese beginsels oor die aard van die menslike lewe. Hulle is aan vooruitgang en die welstand van die mense, aan die regte van gelykheid en vryheid van elke mens, toegewy. Waar kom hierdie waardes vandaan? Nie een van hierdie standaarde kan empiries bewys word nie, maar hulle volg ook nie logies op die materialistiese wêreldsiening nie. Die antwoord is duidelik: die etiese waardes van die wêreld is nie die gevolg van ‘n wetenskaplike rede nie, maar kom na ons van ouer tye – hulle het ‘n teologiese geskiedenis.

 

Die Christelike geloof is die bron van baie moderne etiese sisteme wat vandag algemeen in die wêreld aanvaar word. Waar kom ons verstaan van menseregte wat vir almal geld vandaan? Waar kom die idee vandaan dat sekere dinge aan mense verskuldig is afgesien van hulle sosiale status, gawes, vermoëns? Die oorsprong kry ons in die Bybel wat duidelik sê dat alle mense na die beeld van God gemaak is.

 

Die Christelike geloof sien die stryd vir deugsaamheid van die mens nie as ‘n stryd tussen denke teenoor die hart (word meer rasioneel) of tussen denke en materie ( word tegnologies meer gevorderd) nie. Die stryd is op wat jy die liefde van jou hart rig – op God en jou naaste of op mag en rykdom. Nou is die hoogste doel van die lewe nie selfbeheer en rasionaliteit nie, maar liefde. Liefde is nodig om die mens van sy selfgesentreerdheid weg te trek na diens aan God en jou naaste.

 

Die Christelike geloof beklemtoon vir die eerste keer die belang van die individu. Dit belowe die ewige lewe as hy deur die genade van God gered is. Verlossing kom vir diegene met ‘n afhanklike geloof daarin dat Jesus hulle gered het – dat Hy gedoen het wat geen mens kan doen nie.

 

Verbasend word hierdie punt deur Friedrich Nietzsche gemaak: As jy sê dat jy nie in God glo nie, maar jy glo in die regte van elke persoon en die vereiste om die swakkes en armes te versorg, hou jy steeds vas aan Christelike oortuigings – of jy dit nou wil erken of nie. As daar geen bosinnige werklikheid na hierdie lewe is nie, is daar geen waarde of sin in enigiets nie.”

The autonomous, self-determining Superman is yet another piece of counterfeit theology – Nietzsche.

 




Kersfees is meer as een dag

 

Once in our world, a stable had something in it that was bigger than our whole world – C. S. Lewis

 

Kersfees is meer as een dag

[Advent = naderende koms van Christus. Ad – na + venire – kom – HAT)

Christene, en selfs nie-Christene, vier Kersfees as Jesus se geboortedag. Of Jesus werklik op 25 Desember gebore is of nie, sy verjaardag bly die grootste fees in die geskiedenis. Maar wat van Advent – die vier weke wat Kersfees voorafgaan? Is dit nodig om hierdie opbou tot Kersfees te vier.

 

As ons na die geboorteverhale in Matteus en Lukas sowel as die proloog in Johannes kyk, sien ons dat die koms van die Messias oor ‘n lang tyd deur veral die profete aangekondig is. Jesus se koms is gretig afgewag deur baie Jode destyds.

 

  1. Antieke verwagting

Die storielyn van die Bybel bou op na die klimaks van die geboorte van die Messias. Adam en Eva het pas van die verbode vrugte geëet of God belowe: Haar nageslag sal jou kop vermorsel (Genesis 3:15). Hierdie Messias sou ‘n nakomeling van Abraham en Dawid wees.

 

  1. Eeue van wag

Voordat dinge beter word, word dit egter eers erger. Die ryk van Israel word verdeel; die volk word in ballingskap weggevoer. Na 70 jaar ballingskap keer van die Israeliete terug na hulle land. Die tempel word herbou. Kenmerkend van hierdie tyd is dat die profetiese stem geleidelik stiller word. Die priesters word meer korrup.

 

  1. Langverwagte geboorte

Die tafel is gedek vir die koms van die Messias. Matteus begin sy evangelie  deur Jesus bekend te stel as die Seun van Dawid, die Seun van Abraham. Lukas sê Jesus is die Seun van Adam en die Seun van God. ‘n Menigte antieke beloftes word vervul. Johannes sê dat Jesus die Woord is wat mens geword het. Kersfees herdenk die lang verwagte geboorte van die Messias, maar daar is meer as net die dag van Jesus se geboorte.

 

  1. Die groter Kersverhaal

Die onderliggende uitgangspunt van Advent is duidelik: Jesus se geboorte het nie in ‘n lugleegte plaasgevind nie. Sy koms was die vervulling van millennia van toenemende verwagting van die koms van die Messias en Verlosser van die mensdom. As ons hierdie groter storie in gedagte hou, verstaan ons die aankondiging van die engele in sy volle Bybelse konteks:

Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! (Lukas 2:10 – 11).

Hierdie was nie ‘n gewone kind nie; hierdie was nie ‘n gewone geboorte nie. Hierdie is die bekendste aankoms in die geskiedenis van die wêreld. Dit is die aardse begin van God se evangelie in persoon wat lei tot verlossing van sonde, lyding en dood. Dit is te groot om in een dag vasgevang te word.

 

Advent is dus vier weke van voorbereiding en vreugde. Ons staan in verwondering oor die koms van God self om mense te verlos. Advent se vier weke van eerbied is ‘n goeie plek om te begin.