Die kultuur en die Groot Opdrag van Jesus

 

Love between people, when given by God, is stronger than death. When you have loved deeply, that love can grow even stronger after the death of the person you love. You have to trust that every true friendship has no end, that a communion of saints exists among all those, living and dead, who have truly loved God and one another – Henri Nouwen

 

Die kultuur en die Groot Opdrag van Jesus

Dit is belangrik dat ons verstaan dat betrokkenheid by die kultuur ‘n aspek is om Jesus se Groot Opdrag aan sy dissipels te verstaan. Daar is natuurlik altyd die gevaar dat ons deur die kultuur oorgeneem mag word. Trevin Wax noem drie maniere van hoe betrokkenheid by die kultuur en die taak van God se mense mekaar kruis.

 

  1. Om die Groot Opdrag te vervul, moet ons mense en kulture verstaan

Jesus se opdrag was dat ons die evangelie na alle mense moet uitdra. In Openbaring word daar gepraat van mense van alle stamme, tale en nasies wat God se troon omring. Betrokkenheid by die kultuur baan die weg vir wêreldwye aanbidding. Vir die evangelie om ‘n kultuur deur te dring, moet ons die goeie nuus aan mense verkondig op so ‘n manier dat hulle dit kan verstaan en die krag daarvan kan ondervind. Ons moet die mense verstaan as ons die evangelie doeltreffend aan hulle wil verkondig. Dit is die taak van elke Christen.

 

Hoekom glo ons dat betrokkenheid by die kultuur onnodig is? Want ons sien steeds ander kulture as “vreemd” en ons eie kultuur as “normaal”. Hierdie soort denke is vir Christene onaanvaarbaar. As ons die evangelie doeltreffend wil verkodig, moet ons weet wat die gemeenskaplikhede tussen ons is wat op hierdie plek en tyd bymekaar is. Dit is waar betrokkenheid by die kultuur begin.

 

  1. Om die Groot Opdrag te vervul, moet ons die evangelie as ‘n “beter storie” aanbied as die vals hoop van die wêreld

As ons leer om die heersende wêreldsienings in ‘n gemeenskap te identifiseer, soek ons maniere om die evangelie aan te bied op ‘n manier wat by hulle aanklank sal vind. Deur die kontras tussen Jesus se ware storie en die vals hoop en drome van dit wat ons in ons gemeenskappe sien, te belig, stel gelowiges in staat om te leef as getroue getuies in ‘n sekulêre wêreld. Om getroue getuies te wees, moet ons die wêreld deur ‘n Bybelse lens sien – bevestig dit wat goed en reg is en verwerp dit wat vals en verkeerd is. Wys vir mense dat die evangelie die “beter storie” is en in staat is om die diepste verlange van die mense van ons tyd te antwoord.

 

  1. Die Groot Opdrag is die skepping van ‘n nuwe kultuur – die Kerk

Ons dink dilwels dat betrokkenheid by die kultuur verwys na een persoon wat alles moontlik doen om ‘n impak op die kultuur uit te oefen – deur diens, politieke betrokkenheid, deur die wêreld te analiseer en te verstaan. Maar as betrokkenheid by die kultuur en die Groot opdrag mekaar deursny sien ons ‘n ander prentjie: ons sien die skepping van ‘n nuwe kultuur wat op die ou kulture ‘n inbreuk maak.

 

Die kerk is meer as net ‘n aflewerinsmeganisme van die evangelie – dit is ‘n vertoonvenster van die etos van die evangelie. Die evangelie is nie net by die kultuur betrokke nie – dit skep ‘n kultuur deur die ontstaan van die kerk. Die evangelie skep ‘n kultuur van sy eie. Dit is net in hierdie geloofsgemeenskap waar hierdie nuwe kultuur van genade ten volle vertoon word.. Die kerk moet dien as ‘n oase in hierdie wêreld sonder genade.

 

Betrokkenheid by die kultuur trek nie ons aandag van die Groot Opdrag weg nie. Dit is ‘n manier om dieper in die kultuur in te dring. Ons onderwerp ons aan die gesag van Jesus Christus; ons vertrou op sy beloofde teenwoordigheid en gaan dan in die wêreld uit met die goeie nuus vir alle mense, oral.

 

 




Hoekom glo jy?

 

Young people, you must pray, for your passions are strong, and your wisdom is little.—C.H. Spurgeon

 

Hoekom glo jy?

God verwag van gelowiges om te weet wat hulle glo en hoekom hulle glo. Die wêreld het vandag Christene nodig wat aan ander kan verduidelik wat hulle glo en hoekom hulle glo. Hoekom? Want meeste mense weet nie hoekom hulle glo nie. Ons leef in ‘n wêreld van wêreldsienings wat verskil. In ‘n samelewing met soveel verskillende sienings hoe kan ons die Bybelse siening in die wêreld versterk? Rick Warren noem drie maniere.

 

  1. Leer die waarheid

Jesus eindig sy bekende bergrede met ‘n storie van twee mense wat huise gebou het. Een bou op sand; die ander op soliede rots. Toe die storms kom, stort die een wie se huis op sand gebou was ineen. Die persoon wat op die rots gebou het se huis bly staan. Jy gaan baie aardbewings in jou lewe ondervind: finansieel, geestelik, gesondheid, verhoudings en moreel. As jou fondament nie solied op die waarheid gebou is nie, gaan jou huis ineenstort. As leier is jy verantwoordelik om ander mense te help om hulle lewens op God se waarheid te bou. Hoe meer jy in God se woord kan kom, hoe beter kan jy jouself en ander help.

 

  1. Onderskei wat vals is

Geliefdes, moenie enigeen glo wat sê dat hy die Gees van God het nie, want daar is nou reeds baie vals profete in die wêreld, maar ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is (1 Johannes 4:1). Die Bybel is baie reguit as dit oor vals onderrig praat. Dit gee aan ons wysheid om te leer en as ons dit geleer het, bemoedig dit ons om vals lering te verwerp. Dit beteken allermins dat ons nou skepties en sinies moet wees. Sinisisme is die gevolg van bitterheid en seerkry; onderskeiding is op liefde en die waarheid gebou. Leer die waarheid en daarna verwerp jy wat vals is.

 

  1. Draai weg van die wêreld

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie (Romeine 12:2). Hier word na die wêreld se waardesisteem verwys – materialisme, individualisme, genotsug, sekularisme. Paulus gaan verder: Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Die denke het te doen met die vernuwing van jou wêreldsiening. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. In Spreuke 15:14 lees ons: ‘n Verstandige mens is op soek na kennis; ‘n dwaas voed homself met dwaasheid. Jy het ‘n keuse: die waarheid of dwaasheid. As jy jou lewe wil verander moet jy ophou om jou met dwaasheid te voed en jou eerder met wysheid voed.

 

Ons nuus laat dit lyk asof alles belangrik is. Jy kan ‘n week of twee sonder die nuus oorleef, maar jy kan nie sonder God se waarheid oorleef nie. Die pad na vreugde is deur alles uit God se perspektief te sien. Dit kan ons slegs doen as ons ons wêreldsiening op die waarheid van die Bybel bou.

 




God het ons geroep om vredemakers en nie vredebewaarders te wees nie

 

Three things there are which men never ought to trifle with: a little poison, a little false doctrine, and a little sin. —J.C. Ryle 

 

God het ons geroep om vredemakers en nie vredebewaarders te wees nie

Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word (Matteus 5:9)

Vredemakers streef daarna om vrede te skep en probeer om dinge en mense wat van mekaar verskil, te versoen.

Vredebewaarders aan die ander kant, probeer om ten alle koste vrede te bewaar.

Wie sy oë vir die waarheid sluit, veroorsaak smart (Spreuke 10:10). Vredebewaarders, wat dit wat verkeerd is ignoreer net om die vrede te bewaar, sluit hulle oë vir die waarheid.

 

Vredebewaarders in die kerk onderdruk die uitdaging om te verander – hulle probeer ten alle koste die status quo handhaaf net om die vrede te bewaar. Een van die redes waarom kerke agteruitgaan is omdat ons nie ons gedagtes, bekommernisse, menings en twyfel met mekaar deel nie. So behou ons ‘n vals gevoel van vrede. Dan raak lidmate ontsteld, want hulle voel hulle het geen seggenskap nie.

 

Hier is drie maniere om vrede te maak in plaas van die vrede te bewaar.

 

  1. Sê wat jy dink en deel jou passie

Vredebewaarders wil nie ongemak veroorsaak deur die vrede te verstoor nie. Nie alle seerkry is skadelik nie. Die dissipels moes eers die vrede ontwrig voordat hulle ‘n groter vrede kon maak. As hulle die vrede wou bewaar sou hulle nooit weer die Naam van Jesus genoem het nie.

 

  1. Deel ongemak, pyn en seerkry

Mense is sosiale wesens. Vredemakers voel dikwels dat hulle behoeftes, gedagtes, pyn en klagtes nie saak maak nie. Daarom laat hulle alles net opbou. Hulle hou alles vir hulleself en verloor hulle stem. Ons moet ‘n spasie in ons gemeenskap en kerk skep waar ander kan deel wat hulle werklik voel sonder vrees van ‘n teenreaksie. In die begin is dit moeilik, maar uiteindelik lei dit tot ware betrokkenheid.

 

  1. Raak betrokke by mense wat verskil ten opsigte van ouderdom, ras, godsdiens, ens

Ons is geneig om mense wat van ons verskil te vermy – om die vrede te bewaar. Dit is belangrik om vrede met mekaar te maak. ‘n Vals gevoel van vrede vermom dikwels vooroordeel, vrees em dweepsug.

 

Wat verbasend is, is dat in ‘n poging om die vrede te bewaar ons mense van die kerk afskrik. Daar is niks goed daarin om die waarheid te ontken en dit net om die vrede te bewaar nie. Dit is tyd dat gelowiges weer vredemakers word in plaas van vredebewaarders.

 

 




Psalm 31 (1)

All theology, when separated from Christ, is not only vain and confused, but is also mad, deceitful, and spurious. – John Calvin

 

Psalm 31 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

 Hierdie psalm kan in ‘n paar opsigte met Psalm 22 vergelyk word. Hierdie psalm is ‘n gebed wat voortspruit uit ‘n dringende behoefte. Dit pleit vir verlossing, maar tussen sy pleidooie weef hy verklarings van vertroue in die Here en klaagliedere oor die huidige situasie in. Voor die einde van die psalm kry ons ‘n duidelike oorgang wat sê dat die gebed reeds beantwoord is.

 

Vers 2 – 9 is ‘n gebed wat in homself volledig kan wees. Daar is pleidooie vir God om te luister en te verlos, stellings van vertroue en toewyding, verklarings dat God gereageer het en ‘n verwagting van ‘n blye reaksie daarop. Vers 10 – 25 gaan dit alles weer deur, maar met ‘n ander profiel.  Dit begin met ‘n pleidooi wat oorgaan in ‘n klaaglied (vers 10 – 14). Dit word deur verdere pleidooie waarin stellings van vertroue ingeweef is, gevolg  (vers15 – 21). Die sluit af met aanbidding en oproepe gegrond op die Here wat gehoor en gereageer het (vers 22 – 25).

 

Die klaaglied in vers 10 – 14 beklemtoon hoe lank die psalmis se beproewing al geduur het. Die beskrywing van die situasie sluit onder andere benoud, verdriet, kwelling, bespotting, wegkwyn, verskrikking, kwaadpratery en skrikbewind in.

 

Opskrif

Vir die musiekleier. ’n Psalm. Van Dawid.

Hierdie psalm word dikwels gekoppel aan 1 Samuel 23:26 waar Dawid ontsteld was omdat Saul hom agtervolg het. Die Here het hom gered