Psalm 28 (2)

 

“May your choices reflect your hopes, not your fears.” – Nelson Mandela

 

Psalm 28 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

28:3 – 4: ‘n Gebed om vergelding van die goddelose.

Die psalmis gaan voort met sy pleidooi. Nou verwys hy na die aard van die optrede waarna hy uitsien.

3Moet my nie wegvoer saam met goddelose mense nie, mense wat onreg pleeg,

wat oor vrede praat met hulle naaste terwyl daar kwaad in hulle harte is.

Die psalmis begin deur te sê dat die goodeloses weggevoer moet word – waarskynlik na hulle dood. Hy definieer hierdie goddelose mense as mense wat onreg pleeg. Hy verduidelik nou hoekom hulle goddeloos is en hoe hulle onreg pleeg. Hulle praat oor vrede met hulle naaste – hulle praat asof hulle in vrede met hulle wil lewe en asof hulle die welstand van hulle naaste soek. Maar in hulle harte is daar kwaad. Kwaad is die teenoorgestelde van vrede. Hulle beplan dat iets sleg met hulle naaste sal gebeur. In hulle harte beteken hulle dink en beplan wat verkeerd is terwyl hulle oor goeie dinge praat. Die psalmis aanvaar dat die gemeenskap op eerlikheid berus – hart en woord moet ooreenstem. Hy kla dat hierdie gesindheid tekortskiet by die mense. Die bidder is bang dat daar geen onderskeid tussen hom en die goddeloses sal wees as hy nou moet sterf nie. As hy saam met goddeloses omkom, is die bidder van God afgesny. As regverdige pleit hy by God om hom anders te behandel as die mense wat onreg doen

 

4Vergeld hulle ooreenkomstig hulle dade, hulle bose optrede;

vergeld hulle vir hulle handewerk, laat hulle kry wat hulle verdien.

Die psalmis pleit dat hy nie hulle lot sal belewe nie, maar bid dat hulle vergeld sal word. Twee maal lees ons vergeld hulle. Die woorde dade … optrede … handerwerk skilder die goddeloses as mense wat hard werk. Die psalmis wil hê dat hulle daarvoor toepaslik vergeld moet word. Maar die woord bose laat ons verstaan wat hier aangaan. Om moeilikheid te maak, is boos.

 

29:5:

5Omdat hulle nie ag slaan op die Here se dade en op sy handerwerk nie, sal Hy hulle afbreek en nie opbou nie.

Hierdie vers begin met die rede vir die Here se optrede. Daarna verklaar hy dat die Here beslis sal optree. Hier word na die gesindheid van die goddeloses uit ‘n ander hoek gekyk: hulle slaan nie ag op sy dade en handewerk nie.

  • Hulle aanvaar nie die dade van die Here as patroon vir hulle eie dade nie. Ontrou is ‘n gesindheid teen die ander lede van die gemeenskap en teenoor God. Hulle ignoreer hulle verpligtings teenoor die Here en die ander lede van die gemeenskap.
  • Hulle hou nie rekening met hoe die Here teenoor hulle gaan optree nie – dat Hy sal toesien dat hulle vir hulle dade vergeld word nie. Die Here sal inderdaad optree; hulle sal nie wegkom met hulle bose dade nie.

 

Waar daar afgebreek kan word, moet daar ook opgebou kan word. Hierdie mense verdien egter om finaal afgebreek te word. Omdat hulle nie ag slaan nie, sal die Here afbreek. Die feit dat Hy dit doen, wys dat Hy geluister het. Afbreek en opbou is die manier waarop God met mense werk.

 

 




Die afgode van ons tyd

 

No man should be surprised when life collapses if he insists on living it alone (Barclay)

 

Die afgode van ons tyd

Die Bybel praat baie oor afgode en diens aan afgode. Ons word nie hierdeur bedreig nie, want ons glo dat dit niks met ons te doen het nie. Ons sal nie om ‘n goue kalf dans nie! Hoekom het die Israeliete plesier daaruit geput om teen God se opdragte in wel afgode te aanbid? Hoekom was dit vir hulle ‘n versoeking?

 

Miskien het hulle gevoel dat deur afgode te aanbid hulle deel van die hoofstroom geword het. Die die ander godsdienste het minder van hulle verwag. Hulle het jou nie gedurig uitgedaag om gehoorsaam te wees nie. ‘n Besoek aan die plaaslike tempel was dikwels ook ‘n besoek aan die plaaslike bordeel – tempelprostitusie is algemeen beoefen.

 

Die aanbidding van afgode vandag is uitgediend. Beteken dit dat ons vry van afgode is? Standbeelde van Baäl het verdwyn, maar ons bid steeds by alternatiewe altare. Die bekendste is seks, rykdom, mag en ekself – die vier gode van ons tyd. As ons deel van die hoofstroom wil wees, moet ons aanvaar:

  • Seks is ons grootste vreugde. Sou ek iets anders voorstel wonder almal wat met jou verkeerd is.
  • Rykdom is ‘n integrale deel van ons materialistiese kultuur. Ons mag selfs rykdom as God se seën sien. Jesus moes ‘n wonderwerk doen om sy belasting te betaal. Hy was afhanklik van die gawes van ander.
  • Dat mag belangrik is. Ons soek altyd na meer beheer oor die besluite wat ons maak en die rigting van ons lewe. As ons soos Jesus wil wees, mag ons dalk die voete van ander moet was. Om voor ‘n ander te buig en die vuilheid van sy voete af te was, is beslis nie ‘n posisie van mag nie.
  • Dat ons leef in ‘n “jy verdien dit” tyd. Ons vra outomaties: Wat is daarin vir my? Maar kyk na Jesus. Daar is dinge wat Hy wou gehad het – ‘n stil dag van gebed. Hy het dit baie selde gekry. Golgota kan nie as ‘n optrede van selfvervulling beskryf word nie. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.

 

Afgodediens is nie iets van die verlede nie. Daar mag dalk nie meer ‘n goue kalf wees nie, maar die aantrekkingskrag van vals gode is steeds so sterk soos altyd. As ons die versoekings van seks, rykdom, mag en self ondervind, onthou sommige van die waarhede van Jesus: Hy was selibaat, arm, het voete gewas en het Hom vir ander geoffer. As ons Hom volg, mag ons geroep word om ‘n soortgelyke pad te loop.

 




Lees die kultuur

 

For all things that God made are very good, but they are not acknowledged as very good by all – Martin Luther

 

Lees die kultuur

Kevin Vanhoozer (Everyday Theology) kla oor wat hy the Great Ommision noem – Christene wat nie die tekens van die tye lees nie. Hy kla veral oor ons onvermoë om die kultuur te lees. Hy doen ‘n beroep op Christene om meer “kultuur geletterd” te word sodat hulle toepaslik by die wêreld betrokke kan raak. Maar hy gaan verder: Christene  moet ‘n onderskeidende merk op die wêreld maak – hulle moet die kultuur skryf.

 

Die klassieke werk oor die verhouding tussen die Christendom en die kultuur is H. Richard Nieburh se Christ and Culture (1951). Dit vorm steeds die manier waarop ons oor die kultuur dink al het die konteks sedertdien betekenisvol verander. Hy identifiseer vyf maniere waarop die Christendom op die kultuur gereageer het.

  • Christus teen die kultuur – hier is die wêreld en die kerk in opposisie. Die kerk onttrek hom aan wêreldse sake. Hierdie lei dikwels tot ‘n geestelikheid wat minimale impak op die wêreld het.
  • Christus in die kultuur – die heilige word in die kultuur ontdek. Die gevaar is dat dit wat wêrelds en dit wat heilig is, kan saamsmelt. Die bewustheid van dit wat heilig is, gaan verlore. Gewoonlike beteken dit dat kompromië oor wat Christene as noodsaaklik beskou, aangegaan moet word.
  • Christus bo die kultuur – dit wat heilig en dit wat wêrelds is, word in afsonderlike kompartemente ingepas. Christus is vir die kerk; die kultuur is vir besigheid. Dit beteken dat sleutelareas van die lewe nie deur Christus uitgedaag word nie.
  • Christus en kultuur in paradoks – die korrupte aard van die kultuur word erken, maar erken dit is die konteks waarin ons ingebed is en waaruit ons nie kan loskom nie. Ons leef in ‘n tyd waar daar ‘n stryd tussen geloof en ongeloof is. Daar is altyd hierdie dualistiese spanning waarmee ons sukkel.
  • Christus die transformeerder van die kultuur – alles is deurdrenk met die nabyheid van God in die wêreld. In plaas daarvan dat ons die kultuur verwerp of daarby aanpas, moet ons die kultuur transformeer.

 

Wat van Vanhoozer se idee van die kultuur skryf? Waarskynlik is die toon wat ons anneem krities belangrik. Vir te lank glo ons as Christene dat ons die fontein van alle kennis en wysheid is en wat ons sê, is reg. Wat ander sê is sondig en moet verwerp word. Die gevolg is woede en gekrenktheid in die wyer gemeenskap. Die gevoel is dat die kerk in die besigheid van vertel en nie luister is nie. As ons kultuur in hierdie voorskriftelike en onderdukkende toon skryf, bou ons ‘n selfvoldane Christelike ghetto. Ons hoor geen stemme wat van ons verskil nie, want die mure is te hoog – geen alternatiewe mening kan indring nie. Dit het in die verlede gebeur en daarom verkies sommige Christene om hulle aan hierdie idee van die kultuur skryf, te onttrek. Dit klink vir hulle te militant en eksklusief. Is dit reg?

 

Ons moet skryf soos mense wat by die kultuur betrokke is – baie bewus van wat ander sê en dink en hoekom hulle die onderwerp so benader soos hulle dit doen. Elke geslag het sy eie pyn en angs. Ons moet daarna luister. Wat ons skrywe, hoef nie ‘n teenvoeter van die skrywe van ons geslag te wees nie, maar ‘n uitbreiding daarvan. Dit beteken ‘n nuwe vlak waarop ons met idees stoei. Op hierdie vlak twyfel ons oor maklike antwoorde en die selfvoldane antwoorde wat veronderstel is om ingewikkelde probleme op te los. Ons bydrae moet dikwels wees om ‘n gesprek te verdiep eerder as om dit ongeldig te verklaar.

 

Ons moet alternatiewe ondersoek: Hoekom kan ons nie … probeer nie? Dit is beter as  ‘n “jy moet” toon. Baie sal versigtig hierdie nuwe gebied betree en kyk wat aangaan. Hulle wil rustig nadink in die bekende omgewing van die hoofstroom kultuur.

 

Wat word vereis om die kultuur vanuit ‘n Christelike perspektief te skryf? Dit moet deur diep nadenke oor die betekenis van Jesus se lewe, dood opstanding en uiteindelike terugkeer gepaard gaan. As ons deelneem as mense op wie Jesus se storie ‘n impak gehad het, sal ons ontdek dat die storie wat ons gevorm het ons woorde gee om te skryf. Dit mag woorde wees wat uitdaag, maar dikwels is dit woorde wat bemoedig.

 




Bemoedig jy ander?

 

Loss of interest in the word of God is loss of interest in God. —John Piper

 

Bemoedig jy ander?

Wat sal jou spanlede sê as hulle gevra word of jy ‘n bemoediger is? ‘n Bemoediger is iemand wat diegene om hom op ‘n gereelde basis bemoedig – hy het ‘n positiewe en nie ‘n kritiese siening van ander nie. Hierdie is ‘n eienskap waaraan baie van ons moet werk.

 

Wat is die voordele van bemoediging?

  • Vir dié wat bemoedig word

Ons weet dat kinders op bemoediging floreer. Maar volwassenes het bemoediging net so nodig. In baie spanne is spanlede en leiers ontneem van bemoediging. Dit lyk of niemand hulle goeie werk raaksien of aanmerkings daaroor maak nie. Geen verrassing dat hulle ontmoedig en onbetrokke word nie. Net ‘n paar woorde kan die gemoed van mense lig.

 

  • Ons spanne

Verskeie navorsingsprojekte bewys die kragtige effek van ‘n spankultuur van bemoediging. Dit bemagtig spanlede; dit bou ‘n gevoel van samehorigheid by die span; die help spanlede om te ontspan. Die gevolg is ‘n doeltreffende span wat nuwe spanlede trek.

 

  • Op ons lewens en ontwikkeling

Dit voel goed om ander mense op te bou in plaas daarva dat ons hulle afkraak. As ons ander bemoedig voel ons dat ons ‘n positiewe impak op hulle lewens en ontwikkeling gehad het.

 

Watter impak dink jy jy het op ander?

I can live for two months on a compliment –  Mark Twain