Die teenwoordigheid van mense

 

In proportion as it is a solemn work to preach it is a solemn work to hear. – Charles Spurgeon

 

Die teenwoordigheid van mense

Brother Lawrence het ‘n klassieke boek, The Practice of the Presence of God, geskryf. Daarin skryf hy hoe ‘n mens elke dag van God bewus kan wees. Maar wat van: Die Praktyk van die Teenwoordigheid van Mense? Peter Scazzero (Emotionally Healthy Spirituality) wy een hoofstuk van sy boek  aan: Growing into a mature adult: Learning new skill to love well. Hy praat in hierdie hoofstuk van die geestelike dissipline van die beoefening van die teenwoordigheid van mense.

 

Jean Vannier (die stigter van L’Arche gemeenskappe vir  diegene met ontwikkelingsgestremdhede) skryf: To love someone is to show to them their beauty, their worth, their importance. Lees weer. Ons moet met iemand op so ‘n manier wees dat hulle die skoonheid in hulleself kan ontdek. Dit is ware menseliefde. As ons iemand die koue skouer gee net omdat ons besig is, sê ons vir hulle: “Ek is belangrik; jy nie.” As ons volledig teenwoordig met ‘n ander persoon is, bevestig ons dat hy ons tyd werd is.

 

Scazzero sê dat loving well is the essence of true spirituality.  Maar jy kan nie net vir mense sê om ander lief te hê nie – hulle het tasbare instrumente nodig om hulle te help om hulle interaksie met ander op ‘n emosioneel volwasse vlak te kry. Hy noem dan verskeie moontlike stappe wat ons kan neem. Sy bespreking oor respek is veral insiggewend. Respek word betoon in die manier hoe ons teenoor mekaar optree. Hy noem dan elf regte wat ons in ons gesinslewe moet toepas.

Respek beteken dat ek aan myself en aan ander die reg gee op:

  1. Spasie en privaatheid
  2. Anders te wees.
  3. Te verskil.
  4. Gehoor te word.
  5. Om ernstig opgeneem te word.
  6. Om die voordeel van die twyfel te kry.
  7. Om die waarheid te hoor.
  8. Om gekonsulteer te word.
  9. Om onvolmaak te wees en foute te maak.
  10. Om bedagsaam behandel te word.
  11. Om gerespekteer te word.

 

Om deur hierdie lysie te lees, gaan niks verander nie. Ek moet by elkeen gaan stilstaan en nadink watter verskil sal dit maak in die lewe van my gesin, gemeente en werk as ek dit sou implementeer?

 

Dit sal help as ons hierdie idees ondersoek teen die agtergrond van Paulus se gebed in Efesiërs 3:14 – 21. Paulus kniel in gebed – vir ‘n Jood beteken dit dat die gebed intens was. Daar is drie sleutelversoeke:

  • Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word (vers 16). Die reis na geestelike volwassenheid begin in ons en word deur die Heilige Gees gedoen. Dit gaan nie oor my wat myself probeer sterk maak nie. Dit is ‘n genadegawe.
  • Dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon (vers 17). As ek iemand wil wegstoot of nie ernstig wil opneem nie, moet ek vir myself afvra of die persoon wat in my lewe (Jesus) dit ook wil doen. Ek is nie alleen nie. Om na die stem van Christus wat in my woon, te luister, sal my anders laat optree.
  • Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God (vers 19). Hier het ons die sleutel: Omdat ek met die volheid van God vervul is, en omdat Jesus Christus my liefhet, word ek vrygestel om by ander teenwoordig te wees – om hulle onvoorwaardelik lief te hê.

Dalk is dit nou die regte tyd om op te hou gesels oor hierdie dinge en volwasse genoeg te wees om dit te begin doen.

 




Psalm 28 (1)

Since when do we have to agree with people to defend them from injustice? -Lillian Hellman,

 

Psalm 28 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

In hierdie psalm kry ons weerklanke van die vorige vyf psalms. Maar soos al die psalms gaan dit nie oor die mens nie, maar oor God. Hier kry ons weer ‘n samestelling van pleidooi en vertroue. Dit begin met ‘n pleidooi om nie die lot van die goddeloses te deel nie. In vers 1 – 4 kry ons ‘n pleidooi aan God om te luister (vers 1 – 2) en op te tree (vers 3 – 4). Vers 5 is ‘n reaksie. In vers 6 – 8 word die Here geprys omdat Hy die pleidooi geantwoord het. Vers 9 is ‘n afsluitingspleidooi vir die volk as geheel. In vers 8 kry ons ‘n verwysing na die koning wat impliseer dat hierdie psalm uit Israel se koningstydperk kom.

 

28:1 – 2: ‘n Gebed om verhoring en redding.

Die psalm begin met ‘n uitgebreide pleidooi aan die Here om te luister.

Van Dawid.

Na U, Here, roep ek! My Rots, moet U nie vir my doof hou nie,

sodat ek nie, wanneer U sou swyg,  word soos dié wat in die put afdaal nie.

[Die put is die doderyk.] Na U roep ek word met moenie vir U doof hou, aangevul. Letterlik draai die Here sy ore weg. Die laaste gedeelte gee vir ons die motivering vir die pleidooi. Die dood beteken ek gaan af in die graf of af in die doderyk – die put. Die psalmis is bang dat hy binnekort by hierdie mense sal aansluit. Daarom moet die Here luister.

 

2Luister na my smeekgebed, as ek na u roep om hulp,

as ek my hande uitstrek na die heiligste deel van u heiligdom.

Die psalm pleit vir ‘n optrede van God se genade is die vorm van verlossing. Die psalmis roep nie net nie, maar hy sterk ook sy hande na die Allerheiligste uit. Om jou hande uit te strek beteken dat jy voor ‘n meerdere staan om sy aandag te trek – soos ‘n kind in ‘n klaskamer. Dit mag ook beteken dat die psalmis sy hande oopmaak gereed om te ontvang.

 

Die bidder maak dit duidelik dat om in die teenwoordigheid van die Here te wees, is LEWE. Om sonder God te leef, veral om in opstand teen Hom te leef, is DOOD – al leef ek nog. Die bidder ken die teenwoordigheid van God – dit is asof hy sy hand kan uitsteek en Hom aanraak. Hy is daar voor Hom – solied soos ‘n rots. Die gevaar is om voeling met God te verloor. Dan verander lewe baie maklik in dood.

 

Hier het ons ‘n pleidooi dat God tog moet luister. In die volgende verse kry ons ‘n pleidooi dat God tog moet optree.

 




Wie kan teen ons wees?

 

To love someone is to show them their beauty, their worth, and their importance –Jean Vanier

 

Wie kan teen ons wees?

God is vir ons, wie kan dan teen ons wees? (Romeine 8:31)

‘n Mens kry die indruk dat Paulus diep asemhaal nadat hy Romeine 5:1 – 8:30 geskryf het en dan vra: Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dit: God is vir ons, wie kan dan teen ons wees? (Romeine 8:31). Die tweede vraag is retories – dit is eintlik ‘n voorstel: “Aangesien God vir ons is, kan niks teen ons wees nie.” Paulus ondersteun dit wat hy sê met vier bewyse.

 

Bewys #1: God sal in sy genade vir ons alle dinge gee

Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie (8:32).

Paulus redeneer hier van die grootste na die kleinere. Hy gee aan ons die grootste gawe – sy Seun – en daarom sal Hy ook vir ons al die ander dinge wat ons nodig het, gee. Dit is ‘n bewys dat as God vir ons is, niks teen ons kan wees nie.

 

Bewys #2: Niemand sal ons aankla nie

Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry (8:33)

Niemand kan ons voor God na ‘n hof neem en sy saak wen nie, want God self het ons vrygespreek. Nog ‘n bewys dat as God vir ons is niks teen ons kan wees nie.

 

Bewys #3: Niemand kan ons veroordeel nie

Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons (8:34).

Niemand kan ons op die oordeelsdag veroordeel nie, want Jesus het vir ons gesterf en Hy is uit die dood opgewek. Hy sit nou aan God se regterhand van waar Hy vir ons intree. Ons sekuriteit is vas, want dit is in Hom. Nog ‘n verdere bewys dat as God vir ons is, niks teen ons kan wees nie.

 

Bewys #4: Niks sal ons van die liefde van Christus skei nie

In Romeine 8:35 – 39 lees ons dat nie lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard ons van die liefde van God kan skei nie.

 

Wie kan dan teen ons wees? Dit is die vraag wat Paulus in vers 31 gevra het. Daarna gee hy vir ons vier bewyse om te wys dat niemand of niks teen ons kan wees as God vir ons is nie.. Ons het tog nie verdere bewyse nodig nie.

 




Wetenskap en godsdiens. Is dit hoe dit moet wees?

 

Gloom we have always with us, a rank and sturdy weed, but joy requires tending – Barabara Holland

 

Wetenskap en godsdiens. Is dit hoe dit moet wees?

Die soeke na waarheid lyk nie altyd diesefde nie.

Die wetenskap en godsdiens is dikwels teenoor mekaar opgestel

  1. ‘n Ingewikkelde verhouding

Sedert Copernicus, vyf eeue gelede, verkeer die kerk en die wetenskap in ‘n verhouding gekenmerk deur konflik. Sommige mense in die kerk sien wetenskaplike vooruitgang nie as ‘n nuwe verstaan van hoe die wêreld werk nie, maar as ‘n bedreiging vir “Bybelse waarhede.” Hoe kan waarhede van die heelal nou die Skepper bedreig? Die basis vir die spanning is die siening dat of die wetenskap of God is reg. Dat God verkeerd kan wees, is nie ‘n opsie nie. Moet hierdie spanning bestaan? Moet waarhede oor die heelal waarhede oor die Skepper bedreig?

 

Galileo, ‘n toegewyde gelowige wat oor sy idee van die son as middelpunt van die heelal in die moeilikheid by die kerk gekom het, gesê het: “I do not feel obliged to believe that the same God who has endowed us with sense, reason, and intellect has intended us to forgo their use.” Hy is reg. die rede en godsdiens staan nie teenoor mekaar nie, maar hulle is nie dieselfde ding nie.

 

  1. Groter waarhede.

Die wetenskap en godsdiens stel in dieselfde ding belang: Die soeke na die waarheid. Die probleem is as ons wil hê dat hulle na dieselfde soort waarheid moet soek. Wetenskap per definisie is gebaseer op wat ons kan waarneem en wat ons op grond van daardie waarnemings kan voorspel. Wetenskaplike waarhede kan bewys word. Ons weet wat die wetenskap sê waar is, want ons het dit waargeneem. Op grond van hierdie waarnemings kan ons voorspellings maak.

 

Godsdiens en die wetenskap ondersoek twee soorte waarhede wat fundamenteel van mekaar verskil. Godsdiens ondersoek ‘n waarheid wat onsigbaar is. Ons verlossing word deur geloof bepaal. Geloof vereis dat ons ons vertroue plaas in iets wat nie bewysbaar is nie. God het besluit om versteek te bly – ons sien Hom nie; ons kan Hom nie meet nie; ons kan nie voorspel wat Hy gaan doen nie. Ons word gevra om Hom te glo en te vertrou, maak nie saak wat gebeur nie. Want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie (2 Korintiërs 5:7).

 

Godsdiens en wetenskap ondersoek twee fundamenteel verskillende waarhede.

 

  1. Bewys God?

As jy ‘n Christen is en glo dat God die Skepper van alles is, moet alle wetenskaplike waarhede meer van Hom openbaar Hulle moet ons geloof versterk en nie bedreig nie. As God wou bewys dat Hy ‘n werklikheid is, kon Hy dit maklik gedoen het. Maar Hy vra ons om dissipels te maak deur sy wese te openbaar in hoe ons ander hanteer.  Deur ons liefde vir mekaar sal almal weet dat ons sy dissipels is. Hy vra nie dat ons sy bestaan moet bewys nie. Mense sal God sien, maar hulle sal Hom in ons sien.

 

Ons word geroep om God se bestaan te bewys, nie deur wetenskaplike metodes nie, maar deur sy liefde wat sy goedheid weerspieël te wys. Ons moenie net die waarheid verdedig nie, maar dit leteerlik te beliggaam. Ons is die liggaam van Christus deur die karakter en wese van Christus te vertoon.

 

Die wetenskap is deur God geskep. Hoe meer ons dit verstaan, hoe meer verstaan ons Hom. As ons voor wetenskaplike idees wat ons verstaan van God en die Bybel uitdaag, moet ons nie verdedigend word nie, maar ons geloof moet toeneem. Geen wetenskaplike ontdekking of teorie sal God onttroon nie As ons te veel op oënskynlike bedreigings fokus kan dit ons aandag aftrek van die soort waarheid waarvoor die wetenskap nie toegerus is om te verstaan nie.