Louwarm, warm – Hermie van Zyl

Fanie vra:

Ek wil graag bostaande terme in die konteks van Openbaring beter verstaan.

 Antwoord

Prof Hermie van  Zyl antwoord:

Die terme kom voor in Openbaring 3:15-16, waar die Here aan die gemeente van Laodisea sê dat omdat hulle nie koud of warm is nie, maar lou, Hy hulle uit sy mond gaan uitspoeg.

Laodisea is een van die sewe stede in Openbaring 2-3 aan wie daar elkeen ’n brief gerig word. Hierdie stede het in ’n halfmaanroete gelê, beginnende by Efese in die weste, op na Pergamum in die heel noorde, met Laodisea die laaste stad onder in die ooste. Die sewe briewe verskyn ook in die volgorde van die halfmaanroete in Openbaring.

Laodisea was in die laat eerste eeu nC ’n belangrike handelstad in die gebied Frigië, Klein-Asië, en was veral vir twee dinge bekend: 1. sy tekstielbedryf, veral die swart wol wat daar geproduseer is, en 2. sy mediese skool, in die besonder vir die behandeling van oogkwale met die oogsalf wat daar plaaslik gemaak is. In 3:18 word op ’n ironiese manier hierna verwys: In plaas van hulle beroemde oogsalf moet die gemeente eerder oogsalf koop wat hulle geestelik sal laat sien.

Die gemeente in Laodisea het ’n groot geestelike probleem gehad: Hulle het in geestelike hoogmoed en selfgenoegsaamheid verval, mede as gevolg van die materiële welvaart wat hulle beleef het. Hulle het gedink dat hulle skatryk is en aan niks behoefte het nie, maar nie besef dat hulle eintlik ellendig en beklaenswaardig is nie (3:17). Geestelik het dit ontbreek aan ywer en warm harte vir die evangelie.

Nou is dit veelseggend dat hierdie situasie beskryf word in terme van geestelike louheid. (3:15). Was hulle maar warm of koud, dan het mens geweet waar jy met hulle staan. Maar nou is hulle nóg warm nóg koud, maar geestelik lou, walglik, en daarom sal die Here hulle uit sy mond spoeg. Die agtergrond van hierdie beeld lê vermoedelik in die watersituasie van Laodisea. Hulle het nie natuurlike waterbronne gehad nie en moes water 10 km ver aanlê vanaf Hiërapolis, noord van Laodisea, deur middel van ’n waterleiding (akwaduk). Die probleem was egter dat dié water van ’n warmbron afkomstig was. Teen die tyd dat dit Laodisea bereik het, was dit nie meer warm nie, maar louwarm. Sommige uitleggers voeg by dat die water ook ’n kalksmaak gehad het omdat dit naby Laodisea oor ’n kalkkrans gestort en dié se smaak opgetel het. As jy dus dié water drink, het jy gewalg daaraan; dit het jou so naar gemaak dat jy dit net wou uitspoeg. En so, sê die Here, proe die Laodisense vir Hom: Hulle het smaakloos geword; Hy walg aan hulle geestelike louheid; Hy is op die punt om hulle uit te spoeg soos daardie louwarm kalkwater van Hiërapolis. Daarom word hulle opgeroep tot bekering (3:19), want die Here het hulle steeds lief. Hulle moet die deur van hulle lewens oopmaak sodat daar weer feesmaal gehou kan word (3:20), en hulle harte weer warm kan klop vir die evangelie.

Ander uitleggers wys daarop dat Laodisea waarskynlik ook suiwer koue water gekry het van Kolosse, 10 km oos van Laodisea af, spesifiek vir drinkdoeleindes. Die louwarm water van Hiërapolis was dus meer vir ander gebruike – medisinaal en bouwerk – bedoel. (Die warmbronne by Hiërapolis het byvoorbeeld tot die oprigting van gesondheid-spa’s by Hiërapolis gelei.) Die uitspoeg van Laodisea se water verwys dus eerder na niksvermoedende verbygangers wat per ongeluk van die louwarm kalkwater uit die spruite van die omgewing ingekry het. Of, indien Laodisea tog ook vir drinkwater (gedeeltelik) van die louwarm water van Hiërapolis afhanklik was, dan moes dit eers afkoel voordat dit drinkbaar was. Maar steeds het dit nie lekker gesmaak nie, veral as dit ’n kalksmaak gehad het. Punt is, almal in Laodisea was bewus van die slegte water afkomstig van Hiërapolis.

Ons slotsom is dus dat die terme warm, koud en louwarm heel waarskynlik ’n fisiese agtergrond in Laodisea gehad het. Die blote feit dat dit juis Laodisea is wie se geestelike situasie as louwarm beskryf word, is nie toevallig nie. Die omgewing se watersituasie, soos hierbo uiteengesit, het heel waarskynlik daartoe bygedra dat dit as beeld gebruik is om die louwarm geestelike toestand van die gemeente mee te beskryf.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Wat is n ontmande persoon? – Jan van der Watt

Vraag

In Jesaja 56 : vanaf vers 3 tot 5 lees ek van n ontmande… en God sê dat so n persoon nie van homself moet dink dat hy n droë boom is nie. God sê as so n persoon Sy sabbatte onderhou en lewe volgens die wil van God…aan so n persoon sal God n erenaam gee wat beter is as n seun en dogter.
My vraag is: wat is n ontmande persoon? Is dit n man wat n geslags operasie gehad het? Of is dit n man wat homself as n vrou beskou? En kan hierdie skrif ook van toe passing wees op n Gay man en n lesbian vrou wat die Here dien? So baie mense beskou Gay en lesbian persone as sondaars maar wat sê die Woord van God?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die verwysing in Jesaja 56:3-5 is na mans wat ‘n geslagsoperasie ondergaan het om nie kinders te kan hê nie. Sulke mans het dan gewoonlik ‘n relatief hoë pos in die administrasie van ou Oosterse kulture beklee (lees bv. Hand 8:27) en is met ‘n verskeidenheid (administratiewe) take vertrou. Hulle het onder andere kontak gehad met die vroue  (harem) van die koning of heerser en tussen die vroue gewerk. Met hulle operasie is daar verseker dat hulle vertrou kon word. Hulle was dus dikwels die kontak tussen die vroue van die heerser en die heerser self, wat aan hulle ‘n spesiale en belangrike posisie gegee het. Verder is hulle ook met belangrike take vertrou. Later het die term ‘ontmande’ selfs ‘n offisiële term geword vir belangrike administratiewe personeel sonder dat hulle noodwendig die operasie ondergaan het (vergelyk byvoorbeeld antwoord Afrikaanse vertalings van Ester 1:10-11 of Dan 1:3 met van die Engelse vertalings – wat die Afrikaanse vertaling as hofdienaars vertaal is die woord vir ‘ontmandes’, oftewel die groep amptenare wat waarskynlik ontman is).

            Hierdie groep mense was volgens die Joodse wette uitgesluit uit die tempel (Deut 23:1-2; Lev 21:20). In Jes 56:3-5 word daardie bepalings egter versag – as ‘n ‘ontmande’ dus die Sabbat hou en die verbond met sy wette aanvaar (dus soos van ‘n tipiese Jood verwag word), is hy welkom in die tempel. Die klem lê dus op die diens aan die Here en nie op die identiteit van die persoon nie. Die doop van die Etiopiese ‘ontmande’ in die Nuwe Testament (Hand 8:27-37) wys in elk geval dat sulke mense ook welkom is in die familie van God.

            Die uitspraak in Jes 56:3-5 gaan dus nie oor selfdegeslagverhoudings nie (gays of lesbiërs was nie ter sprake nie). Dit gaan oor ‘n spesifieke groep wat nie meer eintlik vandag in ons kultuur voorkom nie. ‘n Beginsel in die toepassing van die Bybel op vandag is dat daar ten minste ‘n parallel of analogie tussen die persoon in die Bybel en die persoon op wie ons dit vandag wil toepas moet wees. ‘Ontmandes’ kan nie met persone met ‘n selfdegeslag oriëntering vergelyk word nie en daarom kan ons nie die gedeelte op hulle toepas nie. (Dit is nie te sê dat wat hier gesê word nie ook op hulle van toepassing is nie, maar dit kan nie uit Jes 56:3-5 afgelei word nie). 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




DIE WIL VAN GOD VIR DIE WÊRELD EN VIR JOU Hoofstuk 1 (6) – Dionne Craffort

God se openbaring deur Jesus Christus.

Deur baie eeue heen het God die skepping en die mensdom voorberei vir sy selfopenbaring. Toe die tyd ryp was, het Hy hom in die besonder deur Moses geopenbaar as die enige God—die God wat as Jahwe die verbondsgod van Israel   wou wees.In die geskiedenis van Israel en deur ‘n lang ry profete  het God meer en meer van sy wil en van sy wese geopenbaar. Die verwagting is algaande geskep dat God homself deur een persoon, ‘n nakomeling van David, nog duideliker in sy volheid en sy heerlikheid sou openbaar.

  Die selfopenbaring van God deur mense het mank gegaan aan menslike beperkinge. In die volheid van die tyd het God egter besluit om homself te openbaar deur die Seun wat mens geword het en deur die Gees wat in mense sou kom woon. Die hoogtepunt van God se openbaring was toe Hy homself bekendgestel het in die misterie van die Drie-eenheid en toe Hy die groot geheimenis van sy Verlossingsplan duidelik uitgespel het. “Toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur.[Gal.4:4].Die Nuwe Testament praat telkens ven die volheid van die tyd en van die bestemde tyd waarop God besluit het om homself in Christus aan mense bekend te stel.[1 Tim.2:5,6]. Die volheid van die  tyd het eerstens te doen met God se raadsplan, maar daarna ook net die politieke,kulturele en godsdienstige omgewing waarin mense hulle bevind het. Die Romeinse Ryk met sy verspreide verbindingsweë en die Griekse taal as kommunikasiemiddel, het die snelle verspreiding van die blye boodskap vergemaklik.

In dié tyd het die Jode sterk na ‘n Messias as verlosser verlang. In die misterie-godsdienste het nie-Jode uitgesien na ‘n verlosser wat sou sterf en weer opstaan en so nuwe lewe sou bring. Die tyd was swanger aan verwagtinge. In so ‘n tyd  het God besluit dat alles gereed was vir die ontvouing van sy verlossingsplan vir die mensdom.

“ Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het”.[Ef. 1:10].

  Tot en met die tyd van Johannes die Doper,as laaste profeet, was daar net die wet en die profete om God se wil bekend te maak. [Luk.16:16]. Vandat Christus egter verskyn het, word die KONINKRYK van God in sy volle glorie verkondig,word die heilsbedoelinge van God met die wêreld duidelik uitgespel en word die wil van God aan ons bekendgemaak soos nooit tevore nie.

  Die Nuwe Testament praat van die tyd van Christus se koms as die voleinding van die tyd. Die einde van die tyd en die laaste dae het nou vir die mensheid aangebreek. Dit was ‘n beslissende tyd, want mense moes nou ‘n finale keuse vir of teen Christus maak. Die saligheid is gereed gehou om eers aan die einde van die tyd geopenbaar te word. [1Petr.1:5]. “ Christus het in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem” [Hebr.9;26]. “ Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem,maar terwille van julle het Hy eers in hierdie eindtyd gekom” [1 Petr.1:20].

  In die woorde van Christus het die stem van God en die wil van God baie duideliker na vore getree as deur die stem van die profete. “ In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete,maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het,ook erfgenaam van alles gemaak. Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God.” [Hebr.1:1-3].

  Jesus het gekom om die Naam van God bekend te maak aan die mense wat God aan Hom gegee het[Joh.17:6]. Hy het die ware bedoeling van God met die mense bekend-

gemaak. “Daar is immers net een God,en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat himself as ‘n losprys vir almal gegee het. Dit was op die bestemde tyd die bewys van die bedoeling van God” [1Tim.2:5,6]. Hy het die goedheid van God kom openbaar en die mag van die dood verbreek. “Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser,Christus Jesus : Hy het die mag van die dood gebreek en deur die Evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring” [2 Tim. 1:10]. Hy het die liefde van God aan ons kom openbaar. [1 Joh. 4:9].

  Jesus is in persoon die geopenbaarde Waarheid,die ewige Woord van God, die ewige Lewe wat by die Vader was. Hiervan getuig die apostel Johannes: “Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is.[1 Joh. 1:1,2]. Hy is deur God gestuur as die Weg waardeur mense tot God moet kom en is die enigste bron van ware kennis van God. Niemand kan tot verlossende kennis van God kom as Christus dit nie aan hom bekendgemaak het nie en die Heilige Gees hom nie tot geloof gebring het nie. Hiervan getuig die Here self: “ My Vader het alles aan my toevertrou, en niemand ken die Seun nie,behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun hom wil bekendmaak”.[Mat. 11: 27]

  Na die hemelvaart en Pinkster word die Heilige Gees die instrument waardeur die woorde van Jesus vir mense in die geloof aanvaarbaar word. Die Heilige Gees het reeds die dissipels daarvan oortuig dat Jesus die Messias is. Die Heilige Gees wat die diepste geheimenisse van God ken omdat Hy die Gees van God is, het die verborge dinge van God aan hulle bekendgemaak.[1 Kor.2:10,11]. Hulle het daarvan getuig en die getuienis op skrif gestel. So kan ook ons deel in die geopenbaarde geheimenis, in God se verlossingsplan vir die wêreld en in die kennis van die wil van God.Dit alles kan egter nie geglo word sonder die verligtende werking van die Heilige Gees nie! Daarom bly die selfopenbaring van God vir baie verborge of anders ‘n struikelblok en ‘n dwaasheid wat nie logies verklaar kan word nie. Vir die wat deur die Gees van God tot insig gebring is,is dit ‘n krag van God tot saligheid en redding.

  God het inderdaad sy wil geopenbaar en al wat van die mens verwag word, is om in gehoorsaamheid aan sy wil te lewe. In die volgende hoofstukke wil ons nader ondersoek instel na die wil van God vir sy wêreld en vir elkeen van ons.

Skrywer: Prof Dionne Craffort




Sielsbande – Hermie van Zyl

JAN VRA

Daar word die afgelope tyd baie gemaak van sogenaamde “soul ties” (dalk “sielsbande” in Afrikaans?). Die bewering is dat ’n mens positiewe of negatiewe sielsbande met ’n ander persoon kan hê en dat sielsbande dus ’n positiewe of negatiewe uitwerking op ’n persoon se lewe kan hê. Daar is dan ook ’n meegaande teorie ontwerp vir die verbreking van hierdie bande. Natuurlik is modellering ’n werklikheid en ons blootstelling aan ander beïnvloed ons besluite, maar is daar enige waarheid in hierdie lering?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die feit dat ons vraagsteller die vraag oor sielsbande aan Bybelkennis se webblad rig, veronderstel ’n antwoord vanuit die Bybel. Want dis waaroor hierdie webblad gaan. Maar dis nie so maklik om oor iets soos “sielsbande” ’n antwoord te gee nie, gewoon omdat dit nie in die Bybel voorkom nie, altans nie op ’n direkte manier nie. Daar is nie tekste wat direk hieroor handel nie. Trouens, dis die probleem met enige eietydse sosiaal-etiese aangeleentheid waarvoor ons antwoorde in die Bybel – die oorsprongsdokument van ons Christelike geloof – probeer vind. Of dit nou gaan oor genadedood, geassisteerde selfdood, surrogaat-moederskap, embrionale inplantings, selfdegeslagverhoudings, of aardverwarming – alles brandende eietydse kwessies – die probleem bly dieselfde: Hoe vind ons antwoorde hiervoor in die Bybel? Want as Christengelowiges wil ons graag vanuit ons basiese geloofsoortuigings, wat in die Bybel verwoord word, ons daaglikse lewe voer en eietydse uitdagings die hoof bied.

Ons kan egter na analogie van hoe in Bybelse tye vanuit ’n geloofsperspektief in bepaalde gevalle opgetree of ’n saak beoordeel is, ’n eietydse kwessie benader. Met inagneming van die historiese afstand tussen ons tyd en dié van die Bybel, kan ons dan tog breedweg by sinvolle antwoorde uitkom.

Kom ons pas bogenoemde benadering toe op die kwessie van sielsbande. Sielsbande verwys blykbaar na ’n situasie waar daar ’n besondere siels- of emosionele band tussen twee mense ontwikkel wat maak dat hulle vir alle praktiese doeleindes onafskeidelik word. Die een kan nie sonder die ander nie. Hulle verkeer volkome op dieselfde golflengte en gaan so op in mekaar se bestaan dat hulle nie sonder mekaar kan of wil leef of belangrike besluite neem nie. Hulle is een van gees, siel en dikwels ook liggaam, bedoelende: dikwels groei so ’n sielsband uit ’n intieme seksuele verhouding, sonder dat die twee noodwendig getroud is. So ’n verhouding kan uiteraard ook tussen mense van dieselfde geslag bestaan. Soms gebeur dit dat een van die partye die leidende rol in die verhouding neem en dan so ’n groot invloed op die ander party uitoefen dat laasgenoemde totaal onder eersgenoemde se invloed is; ’n totale afhanklikheidsverhouding kom so tot stand. Maar dit kan ook wees dat hulle gelyke vennote in die verhouding is. Verder moet ook vermeld word dat sielsbande soms vanuit die New Age-filosofie beoordeel word, met ander woorde, dit word so gesien dat mense deel is van ’n groter werklikheid waar alles met alles op ’n kousale manier verbind is. Jou karma, of bestemming in die lewe, word deur allerlei onsigbare kosmiese kragte bepaal, wat onder andere meebring dat mense vanuit dieperliggende kragte tot mekaar aangetrokke voel en met sielsbande aan mekaar verbind word. Hieraan, volgens dié siening, kan jy niks doen nie; jy word eintlik ’n soort gevangene van jou karma. As jy so aan iemand anders verbind is, is dit jou lot in die lewe; jy moet dit aanvaar en nie daarvan probeer loskom nie.

Hoe beoordeel ons sielsbande, soos bo omskryf, vanuit ’n Bybels-Christelike perspektief? Daar kan inderdaad positiewe momente in sielsbande wees. Verhoudings kan tussen individue ontstaan waar daar enersyds gesonde afstand is maar andersyds wedersydse positiewe invloed op mekaar uitgeoefen word. In hierdie verband word dikwels na die verhouding tussen Dawid en Jonatan verwys. Hulle het ’n lang geskiedenis van hegte vriendskap gehad, waar Jonatan – ten spyte van sy pa, koning Saul, se haat-liefde verhouding met Dawid – van die begin af besonder geheg geraak het aan Dawid (vgl 1 Samuel 19:1) en voortdurend vir hom voorspraak gedoen het by en beskerm het teen Saul. En toe Jonatan, na ’n lang en tragiese geskiedenis, uiteindelik sterf, het Dawid oor hom gerou met die woorde: “Ek is bedroef oor jou, my broer Jonatan. Jy was baie na aan my hart. Jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van enige vrou” (2 Samuel 1:26).

En so kan mens baie ander verhoudings in die Bybel ook oor dieselfde boeg gooi – mense wat in innige en langdurige verhoudings betrokke was en mekaar grondig positief beïnvloed het. Dink aan Naomi en Rut, waar Rut haar eie mense verlaat en agter haar skoonma, Naomi, aan trek en ’n vreemde land as haar eie aanvaar, met die woorde: “… waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ’n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei” (Rut 1:16-17). En baie eeue later, Paulus en Timoteus. Laasgenoemde was Paulus se medewerker in die verkondiging van die evangelie en Paulus het aan hom belangrike werksaamhede toevertrou. So heg was die verhouding dat Paulus vir Timoteus “sy geliefde en getroue seun” noem (1 Korintiërs 4:17). Daar is selfs twee briewe in die Nuwe Testament wat Paulus aan Timoteus rig om raad te gee, en waar hy weer eens van Timoteus praat as sy “eie kind in die geloof” (1 Timoteus 1:2) en as “my geliefde seun” (2 Timoteus 1:2).

Hegte verhoudings tussen individue is dus niks vreemds in die Bybel nie; dit word ook nie negatief beoordeel nie. Trouens, hoekom sóú mens, want dit is tipies wat tussen mense gebeur – daar ontstaan hegte bande wat mens inderdaad “sielsbande” sou kon noem. Die rooi ligte begin egter flikker wanneer sielsbande toksies raak. En hiervan is daar ook baie voorbeelde in die Bybel. Dink aan Simson wat so onder die betowering van Delila was dat hy haar net nie kon uitlos nie, ten spyte daarvan dat sy met Simson se vyande – die Filistyne – saamgewerk het om sy ondergang te bewerk (vgl Rigters 16 [veral v15-16]). En dan is daar koning Agab wat so onder die demoniese invloed van sy vrou, Isebel, was dat hy geval het vir al haar bose planne (1 Konings 21:1-16). Hierdie is maar twee voorbeelde van mense wat ten nouste aan mekaar verbind was, maar mekaar oor en weer nadelig beïnvloed het. Wat ons weer by negatiewe of toksiese sielsbande bring. In sulke gevalle word een party gewoonlik as ’t ware deur die ander gevange neem en ’n persoonlike slaaf van gemaak. Of hulle word beide mekaar se slawe. Die benadeeldes in die verhouding voel hulle egter so afhanklik van die ander dat hulle nie kans sien om die verhouding te verbreek nie. Veral as daar ’n New Age-element bykom waar mense voel dat hulle deur kosmiese kragte na mekaar toe gelei is en vir tyd en ewigheid aan mekaar verbind is, en dat daar iets vreeslik met hulle sal gebeur as die verhouding verbreek word, word dit ’n bose kringloop. In so ’n geval moet mens ’n helder evangeliese woord van bevryding spreek, waar veral twee Bybelse motiewe belangrik is.

Die eerste is dat elke mens vir sy/haar eie lewe – én sonde – verantwoordelik is. Jy kan nie die ander beskuldig dat dié jou verlei het tot sonde of verknegting nie. Esegiël 18 is hier belangrik. Die Israeliete het tydens en ná die ballingskap gesê dat dit hulle vaders se skuld is dat hulle in die verknorsing sit, en daarom is hulle – die huidige geslag – te verskoon. Hulle het die spreekwoord gebruik: Die vaders het groen druiwe geëet en nou is ons tande stomp (Esegiël 18:2). Maar dan wys die profeet hulle daarop dat elkeen volgens sy eie sonde beoordeel word (18:30). Dit is elkeen se eie verantwoordelikheid om tot bekering te kom en die sonde agter te laat; dan vergewe die Here. Moet dus nie ’n toksiese verhouding gelate aanvaar nie. Moenie sê nie: dit is nou maar my karma; ek is deur kosmiese kragte hierheen gelei, ek kan niks daaraan doen nie. Al is dit moeilik om uit te breek, is dit noodsaaklik ter wille van herstel en genesing. Elke mens maak sy eie keuses en word op eie meriete deur God beoordeel. Dit is ’n duidelike Bybelse motief (vgl Romeine 2:6; 14:12; 2 Korintiërs 5:10; Galasiërs 6:5).

Bogenoemde insig hang saam met ’n tweede motief – ’n mens het weliswaar die vryheid om by allerlei dinge betrokke te raak, maar jy mag jou deur niks laat verkneg en oorheers nie (1 Korintiërs 6:12-20). As jy vasgevang is ’n verhouding van sielsbande wat jou verkneg, verneder en sonde laat doen, het jy die reg, verantwoordelikheid en roeping om met die Here se genade daarmee te breek en in die vryheid van die kinders van God te leef. Want, die verhouding met die lewende Here lê ’n verpligting op ons, nie om volgens ons sondige natuur te lewe nie, maar deur die Gees ’n einde te maak aan die sondige praktyke (Romeine 8:12-13). En dit geld ook toksiese verhoudings. Spreuke 22:24 is ook hier van toepassing: “Moenie maats maak met ’n opvlieënde mens nie, moenie saamgaan met een wat kort van draad is nie: dalk leer jy sy maniere aan en beland jy in lewensgevaar.” Enige soort toksiese verhouding waarin jy ten nouste betrokke raak – of dit nou willens en wetens, toevallig, of deur kortsigtigheid was – het die effek dat ’n mens kort voor lank in lewensgevaar verkeer. En daaruit moet jy breek; moet jou nie daardeur laat verkneg tot sonde nie. Dit is ’n Bybelse opdrag.

Om saam te vat: Bostaande oorsig is ’n aanduiding van die kompleksiteit van verhoudings, hoe ons kan baat by hegte verhoudings, maar ook daarin vasgevang raak, tot ons nadeel, en dan die roeping het om vry te raak van sulke verhoudings. Indien hierdie oorsig enigsins ’n aanduiding is van hoe die verskynsel van sogenaamde sielsbande verstaan en hanteer kan word – en ek dink dit bevat wel algemene riglyne – hoop ek dat die vraagsteller by die antwoord sal baat.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl