Rigters 6

Rigters 6 – Francois Malan

Francois vra:

In Rigters 6 vers 11 staan dit dat Gideon vir die Midianiete wegkruip (nuwe vertaling) terwyl in die 53 vertaling staan daar dat hy die plek beveilig. Vir my is daar ‘n wesenlike verskil tussen beveilig en wegkruip. Kan u dit asb vir my verklaar.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Hebreeus staan daar: ‘…en Gideon, sy seun, was besig om koring uit te slaan in die wynpers om (daarmee) te vlug (le-hanis) van die aangesig van die Midianiete.’

Die voorvoegsel le dui die doel van die handeling aan ‘om’

hanis hif‘il infinitief-vorm dui  die kousatiewe, veroorsaking, aan ‘te laat vlug’ van die werkwoord nas ‘vlug’

Die Hebreeuse werkwoordsvorm  hanis ‘laat vlug’, word hier gebruik om die koring te red deur dit weg te steek vir die oë van die Midianiete – myns insiens was Gideon besig om sy koring op ‘n onverwagte plek uit te slaan waar die Midianiete dit nie kon raaksien nie.

Koring is gewoonlik op ‘n oop stuk grond, dikwels voor die stad se poort, uitgetrap deur diere, voordat die koring van die kaf geskei is deur dit in die wind te gooi sodat die ligter stoppels kan wegwaai. Maar druiwe is in ‘n klip parskuip getrap waar die sap aan die onderkant van die kuip uitgevloei het. Dit was nie so’n openbare plek soos die stadspoort nie maar naby die wingerd, en in elk geval nie ‘n plek waar koring sewe maande na die druiwe-oes gedors sou word nie.

Dit word geïmpliseer dat Gideon sy koring vir die Midianiete wou wegsteek, nie homself vir hulle wou wegsteek nie. Maar die Hebreeuse teks en die Griekse vertaling gee nie ‘n duidelike aanduiding of dit die koring of die man is nie.

Die hif‘il imperfektum (henis) word ook gebruik in Eksodus 9:20 …‘laat’ hulle slawe en diere ‘vlug’ in die huis in (NAV haastig onder dak gebring). Hier is die voorwerp duidelik aangedui as  die slawe en die diere wat in die huis in laat vlug is.

Die Griekse vertaling LXX vertaal Rigt 6:11b met: was besig om koring uit te slaan in die parskuip ‘om te ontvlug’ van die aangesig van die Midianiete.

Die Latynse Vulgata het ook net ‘om die Midianiete te ontvlug’

Die 83-vertaling: waar hy weggekruip het vir die Midianiete

Die Boodskap: ‘in die parskuip uit te slaan waar die Midianiete hom nie kon sien nie’

Die Nuwe Lewende Vertaling: Hy het daar vir die Midianiete weggekruip

Die ou Lewende Vertaling: sodat hy die graan kon bêre voor die Midianiete sou kom.

Die Bybel vir almal: ‘Hy het dit daar gedoen sodat die Midianiete dit nie kon sien nie.’

Die King James Version: het it ingevoeg; so ook die RSV, NIV, NEB en REB, maar The Message voeg him in.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Here neem ‘n lewe

Die Here neem ‘n lewe – Francois Malan

Danie vra:

Mens hoor baiekeer dat mense by die afsterwe van iemand sou sê dit was die Here se wil. Die Here gee- en die Here neem ‘n lewe. Onlangs by ‘n begrafnis het ‘n predikant ook die woorde in ‘n gebed gesê. Is dit maar trooswoorde of hoe moet dit verstaan word? Ek vind dit baie moeilik om die “neem van ‘n lewe” te verstaan en of te verduidelik. Iemand het eendag tydens ‘n soortgelyke gesprek gesê dat “so then why worry”, as die Here dan my lewe wil neem soos dit Hom sou behaag hoekom dan glo?!

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Dié woorde is eintlik deur Job gebruik, nadat hy van al sy besittings beroof is en al sy kinders in een slag dood is:

Sonder iets het ek in die wêreld gekom

en sonder iets gaan ek daaruit.

Die Here het gegee en die Here het geneem.

Prys die Naam van die Here (Job 1:21b)

Daarmee getuig Job oor God se vrymag. Die lewe is ‘n gawe, afhanklik van God se welbehae en sy soewereine beskikking; besittings is ook ‘n gawe, wat afhanklik is van God se welbehae, sy seën op my arbeid; die verlies van besittings is ook deel van God se vorming van die gelowige. Die wese van die godsdiens is die erkenning van God se soewereiniteit in aanbidding.

Prediker 5:12-16 sluit by Job aan; en 1 Timoteus 6:6 sê:

Die godsdiens is ‘n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in

die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie.

Ps 139:13-15 sê:

Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep.

Wat U gedoen het, vervul my met verwondering.

Dit weet ek seker:

Geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.

U het my al gesien toe nog ongebore was,

al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.

Job 14:5 sê:

Die mens se dae is vasgestel, U het die getal van sy lewensjare bepaal,

U het dit neergelê, en hy kan dit nie oorskry nie.

“so then why worry”, as die Here dan my lewe wil neem soos dit Hom sou behaag hoekom dan glo?!

Glo beteken dat ek glo dat Jesus Christus God is (vgl. Joh. 1:1-3), en dat Hy al my sonde en oortredings op Hom geneem het (Romeine 3:21-26), en my verhouding met God reggemaak het, sodat ek nou kan sê dat ek ‘n kind van God is (Romeine 8:13-17). En dit geskied deurdat Hy die Heilige Gees gestuur het om ons te oortuig van sonde (oortreding teen God en sy woord), geregtigheid (dat die Gees my aan Jesus se offer vir my sonde verbind) en van oordeel (Joh.16:7-11).

“so then why worry”

Joh.3:36: Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.

Wanneer Jesus weer kom, kom Hy om te oordeel, en sal die mense van mekaar skei soos ‘n wagter skape en bokke van mekaar skei. Dié wat sy weg van liefdesdiens gevolg het, word deel van sy ewige koninkryk (Mat.25:34). Vir dié wat sy weg nie gevolg het nie, sal Hy sê: Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is – God het dit berei vir sy ewige straf vir die mense wat op hulleself vertrou en nie God se verlossing deur Jesus Christus wil aanvaar nie (Mat 25:41; vgl. Openb 20:10-15).

Hoekom dan (in Jesus) glo?

Vgl. 1 Kor 5:9-11. Die mense wat onreg doen, kry geen deel aan die koninkryk van God nie; dié wat deur die oortuigingswerk van die Gees van God in die Here Jesus Christus glo, is geheilig, vrygespreek/geregverdig voor God deur Jesus se liefdesoffer. Galasiërs 5:5-6 Wat ons betref, deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word. In Christus…is al wat van belang is, geloof wat deur liefde tot dade oorgaan.

Romeine 3:21-26 God het Jesus Christus gegee as offer, wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo…God spreek elkeen vry wat in Jesus glo. Vgl. Joh 3:16: God het die wêreld so lief gehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die geeste in die gevangenis

Die geeste in die gevangenis – Francois Malan

Rudi vra:

Ek lees in 1 Petrus 3:19-20 dat Jesus na die geeste in die gevangenis gegaan het. My vraag is wanneer het dit presies gebeur? Daar word beweer dat dit gedurende die drie dae voor Sy opstanding was. Ek sal graag julle siening wou hoor.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Daar is verskillende verklarings vir die twee tekste, wat ek nie almal gaan bespreek nie. Die verband van die tekste is egter dat Petrus die gelowiges, wat vervolg word vir hulle geloof in Christus, wil versterk in hulle geloof. Hulle is gelukkig (makarioi geseëndes; NAV ‘beskou dit as ‘n voorreg’, 3:14) as God wil dat hulle ly (3:17). Dan word gewys na Christus wat ook onregverdig gely het (3:18). Daarna word verwys na die klein groepie wat gered is in Noag se tyd, ten spyte van die prediking wat hulle ontvang het gedurende die 120 jaar wat Noag aan die ark gebou het. Hulle is die voorbeeld wat Petrus vir die klein gemeentetjies voorhou om op God te vertrou soos Noag.

Die Griekse teks van verse 18,19 is in digvorm, en kan op verskillende maniere vertolk word. Ek noem een van hulle:

18c    doodgemaak na die vlees (NAV Christus wat as mens doodgemaak is)

         Lewend gemaak na die Gees (NAV maar deur die Gees lewend gemaak is.)

19    waarin Hy ook gegaan en aangekondig het aan die geeste in die gevangenis

(NAV En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig)

 

Hoewel beweer word dat dit gedurende die drie dae voor Jesus se opstanding gebeur het, is daar ook verklarings wat daarop wys dat Christus na die Gees lewend gemaak is, soos wat Hy was, voordat Hy mens geword het, en nou met ‘n Geestelike liggaam lewe, ‘n geestelike wese en nie meer ‘n vleeslike wese nie.

Waarin – ‘na die Gees’. Met dieselfde Geestelike lewe het Hy reeds in Noag se tyd gaan preek. Daarvoor het Hy Noag as aankondiger van die komende oordeel gebruik. Met Noag se getuienis en die 120 jaar wat Noag aan die ark op droë grond gebou het, het Noag die mense gewaarsku. Volgens Johannes 1:1-3 was Jesus die Woord van God, waardeur God alles geskep het, en alle profesieë en boodskappe van God in die Ou Testament is gelewer deur die Woord van God wat in die Nuwe Testament kom mens word het, en so God aan ons kom openbaar het en God se Woord self na ons gebring het.

3:20a Die mense van Noag se tyd het destyds nie geluister na die Woord van God wat deur Noag na hulle gekom het nie. Gedurende die lang tyd, 120 jaar wat hy aan die ark gebou het, het God in geduld gewag het met die sondvloed (vgl. Genesis 6). Die sondvloed was die oordeel van God oor hulle sondige lewe (Genesis 6:5-7; 11-13).

3:20b Slegs 8 mense uit die hele menslike geslag is gered – daarmee troos Petrus die klein huisgemeentes in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië (1:1). Hulle ongelowige bure en familie praat kwaad van hulle asof hulle misdadigers is (2:12); hulle ly omdat hulle goed doen (3:13,14); hulle word aan ‘n vuurproef onderwerp (4:12,13). Maar soos Noag se groepie is hulle deur God uitgekies as sy eie volk, priesters van die Koning (2:9). Maar wat die einde van die ongelowiges, goddeloses en sondaars sal wees, soos in Noag se tyd, kan Petrus maar net vra (4:8). Intussen word alle ongelowiges, saam met die ongelowiges van Noag se tyd, gevange gehou (3:19) tot die oordeelsdag.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Laat sy Liefde jou Lei: Is jy ook ‘n tyd-slagoffer?

Laat sy Liefde jou Lei: Is jy ook ‘n tyd-slagoffer? – Milanie Vosloo

Is jy ook ‘n tyd-slagoffer?

Doen wat jy moet doen, en bly getrou aan die Here. Wees elke oomblik bly dat jy die Here ken. Hy sal sorg dat jy kry wat jy wil hê. Psalm 37:4

Ons leef in ‘n horlosie-gedrewe-wêreld. Keer op keer betrap ek myself dat ek wéér op my horlosie kyk, te vinnig bestuur, te min tyd het vir belangrike goed en daarom heeltyd gejaagd voel. Wanneer ek ‘n tydjie vir stilword het of ‘n paar minute van “niksdoen” my beskore is, wonder ek skuldig wat ek eintlik nou in hierdie paar minute kon doen. Dit beteken eenvoudig dat ek toegelaat het dat tyd my baas is. Ek is ‘n slagoffer van ‘n té-vinnige-bestaanswêreld. Daarom kom ek nie by die werklik belangrike dinge uit nie en voel ek dikwels onvervuld.

Voel jy ook soms so?

Kom ons kies téén hierdie te veel inskrywings op ons dagboeklewe sodat ons tyd het vir gewone ménsweesdinge: vir dinge soos om by ons Vader se voete te sit, om werklik na ons liefhê-mense te luister en om dié dinge te doen wat ons harte en siele verryk. Kom ons leef vandag binne die normale spoedgrens van die lewe sodat ons weer kan ervaar wat dit is om wérklik te lééf!

Bid dat die Vader aan jou die regte ritme vir die lewe sal leer. Dié ritme waarin jy teen die regte spoed leef en vrede ervaar omdat jy weet dat Hy in beheer is.

Here, verminder my leefspoed sodat ek die perfekte balans sal vind en U sal verheerlik in die manier waarop en tempo waarteen ek leef.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo