God as Pappa

God as Pappa – Francois Malan

Henriette vra:

Iemand my gevra hulle het Bybel deurgelees en vind nêrens in Bybel dat ons vir God as Pappa moet aanspreek nie. Nou voel hulle dis `n woord vir ons aardse vaders. Moet hulle of moet hulle nie vir Hom aanspreek as Pappa nie.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In die Ou Testament word God, of die Verbondsgod ‘die Here’, min kere ‘Vader’ genoem,  slegs 16 maal (vgl. bv. die lied van Moses in Deutr. 32:6 waar die verbondsgod ‘die Here’ Israel se Vader genoem word, wat hulle geskep het; die Here se belofte aan Dawid oor sy seun in 2 Sam 7:14 ‘Ek sal vir hom ‘n vader wees en hy sal vir My ‘n kind wees;’ Ps 68:6 noem die Here ‘n Vader vir weeskinders; die belofte aan die koning uit die geslag van Dawid: ‘Hy sal My aanroep met die woorde: U is my Vader…’; Jesaja 9:5 die Seun wat gebore sal word, sal genoem word: Ewige Vader’; Maleagi 2:10 ‘Ons het tog almal een Vader, ons is tog deur een God geskep.’).

Toe die Seun van God, Jesus Christus, gekom het, het Hy ons geleer dat dié mense wat in Jesus glo, deurdat die Heilige Gees hulle aan Hom verbind, die voorreg ontvang om God ons Vader te noem en te aanbid as sy kinders vir wie Hy versorg. In die Nuwe Testament word God meer as 200 maal ‘Vader’ genoem.

Jesus leer sy volgelinge om in gebed God aan te spreek as ‘Ons Vader wat in die hemel is ’ (Matteus 6:9); of ‘Vader’ (Lukas 11:2).

Jesus het God ook so in sy gebede aangespreek, bv. Mat. 11:25 ‘Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde…’; of slegs ’Vader’ Joh. 12:27,28; en dan die gebed van Johannes 17: ‘Vader’ 17:1,5, 11 ‘Heilige Vader’, vs24, 25 ‘Regverdige Vader’; en Mat 26:39 in Getsemane: ‘My Vader…’(vgl. Luk 22:42); en toe Hy sterf: ‘Vader, in U hande gee Ek my gees oor (Luk 23:46).

Op drie plekke in die Nuwe Testament word die Aramese vorm ‘Abba’ gebruik: Mark.14:36 sê dat Jesus in Getsemane sy Vader aangespreek het as ‘Abba Vader’; In Romeine 8:15 sê Paulus dat die Gees ons tot God laat roep ‘Abba’, dit beteken ‘Vader’; in Galasiërs 4:6 sê Paulus ‘in ons roep die Gees van God se Seun uit: Abba! dit beteken Vader.’

Waarskynlik het Jesus in sy prediking en gebed die woord ‘Abba’ gebruik in Aramees wat Hy gepraat het. Die Nuwe Testament is in Grieks geskryf, en het Abba weergegee as die Vader, Vader, my Vader, ons Vader. Daarmee het Jesus die algemene benaming van kinders vir hulle vaders op sy verhouding tot God toegepas (vgl. bv. Lukas 2:48-50). Met die gebruik om God as Vader aan te spreek, is ‘n baie intiemer verhouding tussen gelowiges en God uitgedruk as wat in die Ou Testament moontlik kon wees, want ons kry die besondere voorreg om die Skepper-God ons Vader te noem, omdat ons in die nuwe verhouding tot Hom staan. Die Heilige Gees betrek ons in die liefdesverhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees. En dit gebeur omdat God se Seun Hom met ons kom vereenselwig het, ons sonde op Hom geneem het, en van ons kinders van God gemaak het, saam met Hom (Joh 1:12).

Die gebruik van ‘pappa’ of ‘pappie’ is ‘n vertederende vorm van ‘pa’ of ‘vader’. Dit sou seker uitdrukking kon gee aan ‘n intieme verhouding, maar teenoor God mis dit tog ‘n groot mate van respek. In ons verbondenheid met Christus Jesus as die Here van ons lewens en deur ons geloof in Hom kan ons wel met vrymoedigheid en vertroue na God toe gaan (Efesiërs 3:12), maar moet ons onthou dat Hy die Heilige God is, die Vader voor wie Paulus in eerbied kniel in gebed (Ef.3:14) en voor wie die engele en die gestorwe gelowiges en die ganse skepping in eerbied kniel, en die krone waarmee die Here hulle gekroon het voor sy troon neersit en sê: Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom; Here ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep (Openbaring 4:8-11)..

Hebreërs 5:7 sê Jesus se gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God.  So moet ons ook na God toe kom. Met die Vader mag ons nie te eie word nie, want aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid (Judas 1:25).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Wette en strawwe 2

Wette en strawwe 2 – Jan van der Watt

Vandag onderskei ons tussen siviele en kriminele sake, met ander woorde, siviele sake waar twee individue ’n probleem het en die hof die saak vir hulle oplos en kriminele sake waar iemand teen die gemeenskap oortree het en die staat die persoon tot orde roep in die hof. In die Bybelse tyd was dit anders.

Eerstens was daar sake waar kwaadwilligheid nie ’n rol gespeel het nie, maar een persoon tog ’n ander skade berokken het, soos as ’n vuurtjie wat jy maak, het per ongeluk jou buurman se lande aan die brand steek. Die slagoffer kon dan vir kompensasie by die regter vra (byna soos ons siviele sake vandag).

Tweedens was daar persone wat bewustelik ernstige oortredings begaan het. Om dit te verstaan moet ons verstaan dat die mense destyds nie eerstens aan individue gedink het nie, maar aan groepe. Dit was groepsgeörienteerde gemeenskappe – groepe was belangriker as individue en individue het hulle identiteit by hul groepe gekry. Hulle was alleen belangrik insoverre hulle hulle groepe verteenwoordig het. Daarom is ’n oortreding wat ’n individu begaan het, ook gesien as ’n oortreding binne en van die groep of gemeenskap. As iemand byvoorbeeld God beledig, is dit nie sy sonde nie, maar die sonde van die groep. Daar kan dan verwag word dat God die groep (volk) gaan straf. Daarom moet die groep dan die persoon straf, gewoonlik deur hom/haar uit die groep te gooi deur verbanning of selfs die dood. So is die groep gesuiwer van die kwaad wat die voortbestaan van die groep verseker het. Baie van die sosiale wette (bv. van die seksuele wette in Deuteronomium of Levitikus) in die Ou Testament werk op die basis. Die strawwe (bv. die dood vir iemand wat voorhuwelikse seks beoefen) was meer gemik op die suiwering van die gemeenskap as op die proporsionele straf vir die daad wat gepleeg is. As moderne, indvidualistiese mense verstaan ons dit vandag dikwels moeilik – dit klink so liefdeloos. In die oë van die mense van destyds was dit juis liefdevol – liefdevol teenoor die gemeenskap, al moet een individu wat die onheil gebring het, gestraf word.

Derdens was daar ernstige oortredings soos moord, diefstal, of huweliksontrou. Hier het dit weer ietwat anders gewerk as vandag. Wat hierbo by punt 2 gesê is, geld ook hier – daar is ’n sonde in die gemeenskap wat reggestel moet word. Dit was dan weereens die plig van die familie of groep wat benadeel is om straf of kompensasie te soek van die een wat die onreg gepleeg het. Die hof moet dan help om te besluit wat die regmatige kompensasie is en watter vorm van wraak toegelaat word as daar nie aan die eise voldoen word nie. Dit is dus ’n vorm van ‘ in balans bring’ van wat gebeur het om sodoende ook te keer dat die gemeenskap nie in ongekontroleerde wraak opgaan nie. Iets hiervan is ook te sien in die feit dat Jesus vir ons sonde moes sterf – daar moes balans kom.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Wette en strawwe 1

Wette en strawwe 1 – Jan van der Watt

In die Bybel lees ons dikwels van vreeslike strawwe en dat die koning sommer op sy eie besluit om ‘n stad te verwoes of mense dood te maak. Dit druis vir ons in teen wat ons voel liefde is, iets wat eie is aan die boodskap van Jesus. In die volgende paar stukkies oor ‘wet en straf’ gaan ons kyk hoe wette en straf in die Bybelse tyd gewerk het. Ons moet altyd onthou dat die Bybel in ander tye en kontekste geskryf is en dat ons dit eers binne daardie kontekste moet verstaan. Dan kan ons vra hoe dit op vandag toegepas moet word (ons noem die proses hermeneutiek).

Wat was die basis van die denke oor wette in die omgewing waar die Bybel geskryf is, veral die Ou Testament? Die reg was in die hande van die koning – hy was die oppergesag. Een van sy hooftake was om te sorg vir reg en geregtigheid en daarom was hy ook die regter. God word ook dikwels die regter geteken wat op ’n troon sit, omdat Hy as Koning van sy Koninkryk regeer. Sy wil is wet, want Hy is die koning. So het God ook uitdruklik deur die Wet van Moses aangedui wat sy wil vir sy mense is.

Die gewone wette waarvolgens mense geleef het, was meestal maar deel van die tradisie wat deur geslagte oorgelewer is. Mense het dit van hulle gemeenskappe geleer en dit so aan hulle kinders deurgegee. Soos situasies verander het, is die wette wel aangepas, maar dit was meer ’n kwessie van nuwe toepassing as aanpassing of verandering.

In sommige gevalle kon ‘n volgende koning van die reëls verander, maar dit het gewoonlik nooit regtig teen die breë gang van die wette ingedruis nie. Toe Jesus gekom het, het Hy nie die wet tot niet kom maak nie (Matt 5), maar het juis die kern van die wet, naamlik, liefde kom beklemtoon. Binne die situasie van sy liefde, het Hy die wet innoverend in ’n nuwe lig kom stel.

In gevalle soos die Tien Gebooie is daar ’n standaard groep wette gegee waarvolgens die gemeenskap moes leef. In die geval van die Tien Gebooie moes die wette in verskillende situasies toegepas word, wat beteken het dat die priesters en later die wetsgeleerdes reëls moes maak oor hoe die wette verstaan moes word. Byvoorbeeld, as daar staan dat jy die Sabbat moet heilig, wat beteken dit? Dit moes met lyste van reëls verduidelik word. So sal mense byvoorbeeld vir die lam man wat gesond geword het, sê hy mag nie sy bed op die Sabbat dra nie of vir Jesus dat Hy nie mense op die Sabbat mag gesond maak nie (Joh 5). Dit was alles reëls wat gemaak is om te help om die Sabbatswet beter te verstaan.

Toe die Romeine natuurlik Judea ingeneem het, was daar ’n botsing van wette. Die Romeine het ’n sterk stelsel van wette gehad wat hulle oral toegepas het (ons gebruik vandag nog Romeins-Hollandse wetsisteme in Suid-Afrika). Dit het in botsing gekom met van die lokale wette. Daarom het die Romeine besluit om van die lokale wette toe te laat, mits dit nie met die Romeinse wette bots nie. Die Joodse Raad (Sanhedrin) het so beperkte wettiese mag gehad (lees gerus Joh 18, veral verse 28-31).

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Laat sy Liefde jou Lei: Om anders te voel

Laat sy Liefde jou Lei: Om anders te voel – Milanie Vosloo

Om anders te voel

Ek wil sing van u liefdevolle goedheid en u regverdigheid … Ek wil probeer leef soos U wil hê. Psalm 101:1a en 2a

Soms het ons rede om in sak en as te sit en kla. Ander kere is ons geneig om met ’n groot gesnyde wit brood onder die arm ons lot te bekla teenoor almal wat wil luister (en selfs dié wat regtig nie lus is om te luister nie!). Dis die kere wanneer ons soos klein babatjies oor alles huil. Die geringste wind, hongerte, ongemak of nattigheidjie laat ons dadelik maak ons dadelik ê-erig!

Dis in sulke tye wanneer ons onsself weer ’n slag ernstig moet aanspreek. En veral moet onthou:

  • Ons kan weer met nuwe oë onthou wat ons hét en vergeet om te salk oor die dinge wat ons nie (meer) het nie;
  • Ons moet so bietjie van onsself vergeet. Ja, soms neem ons onsself en ons eie gevoelens hopeloos te ernstig op!;
  • Wanneer ons dan wegkyk na van ons eie klein wêreldjie, sal ons outomaties weer ander raaksien: ander met veel groter behoeftes, nood en lyding as wat ons ooit kan droom; en
  • Dan kan ons gerus die Gees vra om ons van ons klaagster-sindroom te bevry en ons te help om ’n vreugde-styl te kweek.

Bid vandag dat die Vader al die onnodige kla-onkruid uit jou hart sal spit en in die plek daarvan dankbaarheidsblomme sal plant.

Vergewe my my onnodige negatiwiteit, Vader en help my om weer ánders te dink, ánders te voel en ánders te leef.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo