Lilith

Lilith – Hennie Stander

Amelda vra:

Ek het baie interessante vraag. Ek het ‘n boek beet gekry “Kan jy glo dit is in die Bybel” geskryf deur Hennie Stander. Hy noem die naam Lilith (Jesaja 34:13) en noem dis enigste plek in Bybel waar dit voorkom. Wat weet julle van haar af? Volgens die boek is sy nes Adam uit stof geskep. Om hierdie rede het sy op absolute gelykheid met Adam aanspraak gemaak. Uiteindelik het sy van Adam weggevlug en in ‘n grot in die woestyn langs die Rooi See gaan woon waar sy met demone seks gehad het. Adam het soe sy lot by God bekla. So gaan die storie aan, en dan is Eva geskape. Hoe waar is dit of hoe waar kan dit wees.

Antwoord

Prof Hennie Stander antwoord:

Daar bestaan  Joodse legendes oor ʼn sekere Lilith wat beweer dat sy Adam se eerste vrou was. Volgens hierdie legendes is Lilith, nes Adam, uit stof geskep. Om hierdie rede het sy op absolute gelykheid met Adam aanspraak gemaak en ook geweier om onder hom te lê wanneer hulle seks gehad het. Uiteindelik het Lilith van Adam af weggevlug en in ʼn grot in die woestyn langs die Rooi See gaan woon, waar sy met demone seks gehad het. Adam het toe sy lot by God bekla.

God het drie engele gestuur om Lilith te gaan haal, maar sy het geweier om na Adam terug te keer.  As straf het God bepaal dat daar elke dag honderd van haar kinders sal sterf. Daarom sterf daar volgens die legende elke dag honderd demone.  Lilith het op haar beurt gesê dat sy dit as haar taak sien om pasgebore babas te laat siek word. As die ouers egter die name van die drie engele wat haar gaan soek het, op die babas se amulette skryf, het sy die babas weer gesond laat word.

Volgens hierdie legendes het God daarna besluit om vir Eva te maak, wat aan Adam onderdanig sou wees. Omdat Lilith aanspraak gemaak het op absolute gelykheid met Adam, word haar naam dikwels as simbool van vroueregte gebruik en is sy ʼn populêre figuur in die feministiese teologie.  Bewerings dat hierdie verhaal deur Joodse mans met ʼn patriargale gesindheid uit die Bybel gegooi is, is absolute onsin. Die verhaal het lank na die vorming van die kanon sy beslag gekry. Dit kom die eerste keer voor in ʼn werk getiteld Die Alfabet van Ben-Sira, wat eers in die Middeleeue ontstaan het. Hierdie geskrif is buitendien vol ander verhale wat poog om die Bybelse verhale in ʼn slegte lig te stel.  Koning Dawid word byvoorbeeld as ʼn hartelose figuur uitgebeeld wat in die geheim bly is wanneer sy seun Absalom sterf. Sommige geleerdes bestempel hierdie dokument selfs as ʼn anti-Joodse satire.

Die woord Lilith kom wel in die Hebreeuse teks van Jesaja 34:14 voor. Ongelukkig is dit die enigste plek in die Bybel waar dit voorkom en daarom is dit baie moeilik om te weet wat die betekenis van die woord daar is.  Bybelvertalers vertaal dit met woorde soos naguil, screech owl, night creature, night monster of arrow-snake. Tog lyk dit vir my onwetenskaplik om Jesaja 34:14 in terme van bogenoemde Joodse legendes te verklaar.

Amelda vra nou in haar epos: “Hoe waar is dit, of hoe waar kan dit wees?” Wel dit is waar dat daar sulke Joodse legendes is, maar soos die woord “legende” sê, is dit bloot ʼn legende, en daarom het dit waarskynlik geen historiese basis nie.

 

Skrywer: Prof Hennie Stander




Die doel van gebed

Die doel van gebed – Francois Malan

Alrine vra:

Ek wil graag weet wat is die doel om te bid en die Here se beskerming oor ons te vra? Hy sê Hy sal nie ‘n haar van ons hoof laat val sonder Sy wil nie. Dus het God reeds oor ons afsterwe besluit, hoekom vra ek dan elke dag dat God my gesin beskerm en bewaar.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Wanneer ons God gelykstel met die natuur se vaste wetmatigheid, het die gebed geen sin nie.

As ons glo in ‘n God wat alles in die wêreld klaar bepaal het en alles uit sy vooraf bestemde plan vir alle tye voortvloei, het gebed geen sin nie.

Christene glo egter nie in ‘n starre, onveranderlike God  nie, maar vertrou op die God van die Bybel. Sy onveranderlikheid is ‘n ander soort as die natuurwette. Die Bybel praat kinderlik onbesorg oor God se onveranderlikheid en sy veranderlikheid, wat ‘n dieper wysheid is as die logiese redenerings oor Hom.

God is onveranderlik in sy trou aan sy eie wese. God is liefde (1 Joh 4:8,16). Dit is onveranderlik. Die eenheid tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees is ‘n liefdeseenheid. En met sy Heilige Gees neem God ons op in hulle liefdesverhouding, en word ons kinders van God se groot gesin, omdat die Gees ons aan die Seun van God se dood en opstanding verbind. In sy liefde en genade is Jesus Christus gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid (Hebr. 13:8). Maar kinderlik onbesorg kan ons ook sê dat God veranderlik is. Oor die sonde van die mens het dit die Here berou dat Hy die mens gemaak het (Genesis 6:6). Toe God besluit om die Israeliete wat die goue kalf aanbid uit te roei, doen Hy dit nie, nadat Moses vir hulle voorbidding gedoen het nie (Eks.32:10-14). Kyk hoe pleit Abraham by God oor Sodom en Gomorra (Gen.18:20-33). Vir Hiskia verleng die Here sy lewe met 15 jaar op sy gebed (2 Kon. 20:1-7).

Dit is so dat ons lewe en ons sterwe in die hand van die Here is, soos Matteus 10:29-30 en Lukas 12:6,7 sê van die hare op ons hoof en die mossies wat nie op die aarde val sonder ons hemelse Vader nie. Maar daarmee wil Jesus ons juis gerusstel dat ons nie hoef te vrees vir die mense wat ons liggaam kan doodmaak, maar nie ons siel nie, omdat ons Vader ons beskerm. Dit is eintlik ‘n oproep om aan die Here getrou te bly.

In Ps 139:16b bely die psalmdigter ook: ‘al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore was.’ Die Here ken nie net die digter van voor sy geboorte af nie (v16a), maar ken ook sy hele lewe vooruit. Daarmee sluit hy aan by die hele Psalm 139 wat getuig dat die Here oral teenwoordig is en elkeen van ons deur en deur ken.

Job sê ook in 14:5 ‘die mens se dae is vasgestel, U het die getal van sy jare bepaal, U het dit neergelê, en hy kan dit nie oorskry nie’ Letterlik vertaal: ‘Aangesien die dae van die mens bepaal is, en die getal van sy maande aan U bekend is, en U het die grens gestel wat hy nie kan oorskry nie’ – so lê die klem op die kortheid van die mens se lewe as die rede vir Job se pleitrede dat die Here tog ‘n verligting gee van sy smarte in vers 6.

Om die Bybelse begrip oor God reg te verstaan, moet ons sy onveranderlikheid en sy veranderlikheid op mekaar betrek. Dit lyk onlogies, maar dit is die Bybel se hoëre logika. Ons kan op God se onveranderlike liefde en trou pleit om verandering van God se dade en sy wil in hierdie wêreld en in ons lewe. So behoort Bybelse geloof in God en gebed bymekaar.

Die onlogiese van die Bybelse begrip van God verklaar ook die naïewiteit van die gebed. Kinderlik naïef sprei Hiskia die briewe van die Assiriese gesante voor die Here oop dat Hy dit self kan lees (2 Kon.19:14-19). Hanna stort stort haar siel voor die Here uit en vra dat sy tog ‘n kind kan kry (1 Sam.1:11). In Luk 18:1-8 gebruik Jesus die voorbeeld van ‘n weduwee wat aanhou bid tot die regter vir haar met haar regsaak help: ‘Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook! Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?’

Maar ons gebede is meestal selfsugtig rondom ons eie belang. En as ons nie kry wat ons vra nie, sê ons dat God nie ons gebed verhoor nie. Jesus het in Getsemane gebid dat as dit moontlik is die lydensbeker van God se toorn oor die sonde van die wêreld by Hom verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil (Mat 26:39). En moes toe aan die kruis sterf en van God verlaat word om ons skuld te dra. Maar God het Hom verhoor en Hom uit die dood opgewek en sy Hemelvaart is die bewys van God se antwoord, anders as wat Hy gevra het.

Ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar word daarin gelei deur die Heilige Gees wat in ons kom woon het (Romeine 8:26).

Jakobus 5:16 sê: ‘Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.’ Ps 145:18,19 sê die Here is naby almal wat Hom in opregtheid aanroep. Aan dié wat Hom dien gee Hy wat hulle vra, Hy hoor as hulle om hulp roep, en Hy red hulle. Ps 34:16: Die Here sorg vir die regverdiges en luister na hulle hulpgeroep. Spr. 15:29b die Here hoor die gebed van die regverdiges.

Ons word regverdiges deur ons geloofsband met Jesus Christus – Hy stel die verhouding tussen ons en God reg. Die Heilige Gees oortuig ons, sodat ons in Jesus glo as die Seun van God wat vir ons gesterf het; en die Gees verbind ons aan die Seun van God sodat ons ook kinders van God word. En die Heilige Gees kom woon in ons om ons te lei in ons gebed en ons daaglikse lewe. Hy lei ons deur God se woord (vgl. Rom 8:9-17).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Nikolaïete

Die Nikolaïete – Coen Slabber

Maar dit het julle darem in julle guns: julle verafsku wat die Nikolaïete doen, net soos Ek dit ook verafsku (Openbaring 2:6 – Die boodskap aan Efese).

So is daar onder julle ook mense wat die leer van die Nikolaïete aanhang en dieselfde sondes doen (Openbaring 2:15 – Die boodskap aan Pergamum).

Wie was hierdie groep mense? Wat het hulle geleer? Daar is min oortuigende bewyse oor wie hulle was. Omdat die geskiedkundige agtergrond van hierdie groep so skraps is, kan ons selfs nie oor hulle leer absoluut seker wees nie. Jesus Christus sê dat Hy hulle leer verafsku.

Die tydperk van die vroeë kerk was ‘n dinamiese tyd: van die apostels en van die ooggetuies van Christus se opstanding het nog geleef. Maar ten spyte van die entoesiasme en ywer van die vroeë Christendom sien ons dat Satan al reeds besig is om die ondergang van die kerk te beplan. Baie van die aanvalle op die kerk het van buite gekom – vervolging van Christene het algemeen voorgekom. Maar, soos so dikwels die geval is, kom die grootste bedreiging van binne die kerk.

  1.  Wie was die Nikolaïete

Die eerste verwysing na die Nikolaïete kry ons in die boodskap aan Efese. Toe Paulus vroeër die ouderlinge van Efese toegespreek het, het hy hulle gewaarsku: Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei (Handelinge 20:30). Paulus het geweet wat vir die gemeente voorgelê het. Die grootste bedreiging is dikwels nie ‘n uitgesproke anti-Christendom boodskap van buite nie, maar ‘n mengsel van die waarheid en leuens wat binne die kerk sy oorsprong het.

Irenaeus (hy was biskop in ongeveer 175 – 195 van wat vandag bekend is as Lyon in Frankryk) het die Nikolaïete as ‘n gnostiese sekte beskryf. Hy skryf onder andere: “Johannes, die dissipel van die Here,  verkondig hierdie geloof (die Goddelikheid van Jesus)  en probeer, deur die verkondiging van die evangelie, die fout wat deur Cerinthus onder mense versprei is, en lank tevore deur diegene wat Nikolaïete genoem is, versprei is, reg te stel. Die “kennis,” valslik so genoem, is versprei om mense te verwar en te oortuig dat daar net een God is wat alle dinge deur sy Woord gemaak het.” Volgens Irenaeus het hulle die Goddelikheid van Jesus Christus ontken.

  1.  Wat het hulle geleer?

Om te verstaan wat die leer van die Nikolaïete was, moet ons kyk na die konteks waarin hierdie verse voorkom. In sy boodskap aan Pergamum sê Jesus: Julle het mense daar wat die leer van Bileam aanhang. Hy het vir Balak geleer om die volk Israel van My afvallig te maak, sodat hulle afgodsoffervleis geëet het en onsedelikheid bedrywe het (Openbaring 2:14). Christus verwerp die leer van Bileam. Hierdie leer het afgodery en onsedelikheid ingesluit. [Sien Numeri 22 en 23 vir die verhaal van Bileam.] Bileam se strategie het ingesluit dat die Israeliete onsedelike dade met die vrouens van Midian pleeg. In die proses  kom hulle ook in aanraking met die heidense gode. Uiterlik lyk dit vroom, maar dinge wat God verbied het, verdra hulle. In 2 Petrus 2:15 lees ons: Hulle het die reguit pad verlaat en verdwaal geraak. Hulle het die weg gevolg van Bileam seun van Beor wat daarop uit was om vir geld onreg te pleeg. Die dwaalleraars is deur geld en mag gemotiveer. Om meer aanhangers te lok, was hulle bereid om kompromieë oor God se boodskap aan te gaan. In Judas vers 11 lees ons vir geld het hulle dieselfde bedrog as Bileam gepleeg. Geld speel ook hier ‘n belangrike rol.

In Tiatira kry ons ‘n soortgelyke dwaalleer: Maar Ek het dit teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan. Sy doen haar as profetes voor en leer en verlei my dienaars om onsedelikheid te bedrywe en afgodsoffervleis te eet (Openbaring 2:20).

Die name verander – Nikolaïete, Bileam en Isebel – maar die boodskap bly basies dieselfde: ‘n “Christelike geloof” wat nie gehoorsaamheid en lojaliteit aan Jesus Christus vereis nie. Dit is ‘n dwaalleer en God verafsku dit. Die doel van hierdie dwaalleraars is om Christene (in vers 20 noem Christus hulle my dienaars) te oortuig dat onsedelikheid en afgodediens beoefen kan word sonder dat dit ons verhouding met Jesus Christus beïnvloed. Christus verwys hierna as die diep geheimenisse van die Satan (Openbaring 2:24). Hier is ‘n geheimenis betrokke by die hele proses – iets onheilspellend. Die duiwel self preek hierdie boodskap. Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie … Dit is hierdie selfde boodskap wat hy oor en oor verkondig. Hy verswyg die gevolge van die sonde en predik vryheid.

Dit wil voorkom of die leer van die Nikolaïete ‘n vorm van antinomisme was. [Antinomisme = ‘n Geloof wat die genade van God as fondament vir verlossing erken. Dit maak egter die fatale fout deur te glo dat ‘n mens vryelik aan die sonde kan deelneem, want die wet van God is nie meer bindend nie. Hulle glo dat as jy intellektueel glo, jy verlos sal word.] Jakobus het reeds hierdie fout reggestel: Die bose geeste glo dit ook – en hulle sidder van angs (2:19). Jakobus herinner ons dat ware geloof ‘n aktiewe beginsel wat deur liefde werk, is. Dit is meer as om te sê dat jy glo. Jou dwaas, wil jy ‘n bewys hê dat geloof sonder dade nutteloos is? (2:20).

Die Bybel leer inderdaad vir ons dat ons uit genade deur geloof gered is: Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie (Efesiërs 2:8 – 9). Maar net in die volgende vers sê Paulus: In Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. Ware geloof lei tot aksie.

Nikolaïete in die tweede eeu het die sienings van die aanhangers in die eerste eeu voortgesit en uitgebrei. Hulle leer dat die dade van die “vlees” geen invloed op die gesondheid van die siel het nie en daarom geen verband met verlossing het nie. Weereens is dit ‘n siening wat Paulus verwerp: Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe (Romeine 6:1 – 2). Later in dieselfde hoofstuk sê Paulus: Julle moet dus altyd onthou dat julle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus. Moet dan nie toelaat  dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie (6:11 – 12).

Ons kry hierdie leer steeds: Die evangelie van Christus het God se wet vervang – deur te glo word ons verlos van die noodsaaklikheid om daders van die Woord te wees. Dit is maar net ‘n vorm van die leer van die Nikolaïete wat Christus onomwonde in Openbaring verwerp het. Jy sien dus dat geloof met dade gepaard gegaan het en dit eers deur dade volkome word (Jakobus 2:22).

Ons kry nie meer Nikolaïete as sulks nie, maar baie van dit wat hulle geglo het, word steeds deur sekere mense aanvaar. Die Bybel, in Openbaring 2, verwerp hulle leer in geen onsekere woorde nie – Christus verafsku dit.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




ARGEOLOGIE: GOED OF KWAAD?

ARGEOLOGIE: GOED OF KWAAD? – Sonet Werner

Wanneer mens die konsep “Bybelse Argeologie” hoor, ontstaan‘n half onwillekeurige gedagte dat die Bybel waar of vals bewys gaan word.  Dit is ‘n skrikwekkende gedagte vir enige gelowige wat in enige fase van sekerheid beweeg.  ‘n Vraag waaroor elke gelowige geweldig mee kan sukkel:  as sekere gedeeltes in die Bybel vals is, hoe kan ons ons geestelike lewe daarop baseer en bou?  Ons troos lê in die volgende skrifgedeelte:

Die hele Skrif is deur God geinspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.” ( 2 Timoteus 3:16-17).

Argeologiese ontdekkings bewys nie dat die Bybel die Woord van God is nie, maar dit kan wel die historisiteit en betroubaarheid van gebeurtenisse bewys waarvan daar in die Bybel gepraat word.   Argeologie gee ‘n massa inligting oor die ekonomiese, kulturele, maatskaplike, sosiale en politieke omstandighede van die Bybelse tyd, sowel as die verskillende godsdienste wat Israel omring het.  Al hierdie inligting help ons om die Bybel binne konteks te plaas, en derhalwe sin van gebeure en God se plan te maak.

As ‘n wetenskap word argeologie dikwels juis gebruik om dieper as die letterlike te delf.  Wetenskap kan omskryf word as die aksie om dele te ontleed, terwyl teologie die geheelbeeld na vore wil bring.  Kan die twee begrippe dan saamwerk om geloof te laat vlamvat?  Vanaf die sestiende eeu het vele van die grootste wetenskaplikes  van hulle tyd uitgestaan as diep gelowiges.  Vir die gelowige kan wetenskap net gevind word binne God se skepping.  En dis juis waar argeologie dit self makliker vir ons maak – ons kan God, Sy Skepping en Sy plan beter verstaan.

William F. Albright noem 4 redes waarom Bybelse Argeologie toenemend groei:

  • Meer en meer argeologies ekspedisies vind plaas, en sodoende ontstaan meer leesstof.
  • Argeologiese metodes het aansienlik verbeter:  datering, analises en klassifisering.
  • Radiokoolstofdatering het na vore gekom.
  • Linguistiese en filologiese metodes het verbeter oor die jare, en dit het meegebring dat die magdom inskripsies en tekste in ander skrifte en tale, makliker ontsyfer en geinterpreteer kan word.

God het ons die vermoë gegee om te kan dink en keuses te maak.  Daardeur het ons tegnologie ontwikkel, maar ongelukkig kan hierdie tegnologie ook gebruik word om die natuur te manipuleer, wat dan geskiedenis kan insluit.  ‘n Voorbeeld hiervan is die sogenaamde “Jesus Family Tomb”, wat in die Oos-Talpiot buurt suid van Jerusalem gevind is.  Verskeie argeologiese stellings word gemaak, bv. dat Jesus se oorskot daar gekry is, Sy familie is saam met Hom daar begrawe, en dan ook dat die inskripsies aandui dat Hy met Maria Magdalena getroud was en sy ook daar begrawe is.  Hierdie is stellings wat elke gelowige se wêreld skud.  Dis maar een van vele voorbeelde van argeologiese “vondse” wat deur die sekulêre wêreld gebruik word om verwarring onder die Christendom te saai.

Ten spyte van hierdie misinterpretasies van argeologies bevindings, het Christene die voordeel  van die Bybel, want waar geloof dalk nie die ware verloop van gebeurtenisse kan verklaar nie, slaag die Bybel wel daarin.  God laat nie toe dat die mens Sy verborgenisse deur middel van menslike kennis en navorsing uitvind nie, maar sleg deur geloof in Hom as die Openbaring van die waarheid deur Sy Woord en Gees (Matt 11:25; 16:17; 1 Kor 1:20-25).

 

Skrywer:  Sonet Werner