Die Kedronspruit

Die Kedronspruit – Francois Malan

Rina vra:

Ek wil graag meer uitvind van die Kedronspruit. Dit blyk dat die bloed van die offerdiere in die spruit afgespoel het en die water donker verkleur het, vandaar die naam?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Hebreeus beteken kidron ‘troebel’, afgelei van die werkwoord kadar ‘troebel word’ of ‘vuil wees’. Dit is die naam wat vir die vallei en spruit gegee is waar Jerusalem se vullis weggegooi is. Gaan lees in:

1 Konings 15:13 waar koning Asa sy ouma Maäka se afskuwelike Asjerabeeld laat verbrand het (2 Kronieke 15:16 sê: waar hy dit in die vuur gegooi het, die vuur wat op die ashoop gebrand het).

2 Konings 23:4,6,12 waar koning Josia al die puin van die afgodsaltare wat hy afgebreek het in die Kedronvallei weggegooi het.

2 Kronieke 29:16 waar koning Hiskia alle onreinhede uit die tempel in die Kedrondal laat weggooi het, en 30:14 waar die volk die altare afgebreek het en in die Kedrondal gegooi het.

Die spruit is waarskynlik so genoem vanweë die vuil afvalwater. Dit is ‘n spruit tussen die ou stad Jerusalem en die Olyfberg wat gewoonlik slegs in die winter water gehad het – Israel kry winterreën soos die Boland by ons. Die vallei was ook die begraafplaas van die armes, vgl.

2 Konings 23:6 waar hulle die as op die grafte van die gewone mense moes strooi.

Die Kedronvallei was die grens van die stad Jerusalem. Toe Dawid moes vlug vir Absalom het hy en sy volgelinge die stad verlaat, deur die Kedronspruit getrek en die woestyn in gevlug (2 Samuel 15:23). So het Jesus, die afstammeling van Dawid, die stad Jerusalem verlaat en in Getsemane teen die Olyfberg sy worstelstryd in gebed gaan stry, waar Judas met die soldate en tempelwagte Hom gevange geneem het (Johannes 18:1).

Sedert die 4e eeu n.C.  het die kerk die Kedronvallei gesien as die plek waar God oor die wêreld sal oordeel, deurdat hulle die Kedronvallei met die Josafatlaagte van Joël 3:2,12 geïdentifiseer het (hoewel daar in Hebreeus ‘n verskil is tussen ‘n vallei en ‘n breë laagte). Die naam Josafatlaagte is nêrens elders bekend nie as net in Joël wat die naam waarskynlik self gevorm het om die oordeelsplek aan te dui, want Josafat beteken ‘die Here oordeel’.

Kedronspruit loop in die Hinnomdal en word daarna Vuurdal (Wadi en Nar) genoem. Waar die Vuurdal in die Stadsdal loop word dit Tofet genoem, waar kinders in die vuurwarm arms van die afgodsbeeld Molek geoffer is (2 Konings 23:10; 2 Kron 28:3). In die wintertyd loop die spruite se water na die Dooie See toe. Volgens Jeremia 7:32; 19:6,11 sal Tofet Moorddal genoem word waar die lyke sal ophoop. In Jesaja 30:30 word verwys na die Here se gloeiende toorn van sy oordeel. Daarom het die Targoem, dit is die Aramese vertaling van die Ou Testament, die Hinnomdal (ge Hinnom) vertaal as ‘die hel’, wat Gehenna geword het in Matteus 5:22 (NAV vertaal Gehenna as ‘helse vuur’).

Ek betwyfel die afspoel van die offerdiere se bloed in die spruit. Die bloed van offerdiere is juis op die altare verbrand (vgl. Eks. 29:12; Lev 4:18; ens.). Die as van die altare en die mis van die diere kon wel op Jerusalem se ashoop weggegooi word.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Vrymesselaars

Die Vrymesselaars – Francois Malan

Jan Smith vra:

Baie simbole wat jou geestelik kan beïnvloed: Corne se vraag verwys: ‘n Tyd gelede gee iemand my ‘n stel DVD’s waarin ‘n persoon volledig en met fotobewyse uitwei oor Vrymesselaarstekens in omtrent al wat ‘n kerk is in Suid Afrika. So word beweer dat hierdie die gevolg is van geestelike en politieke leiers in die verlede (en by implikasie ook huidige) se invloed in die onderskeie groeperings, kerk en staat. As bewys word foto’s van boustrukture vertoon wat met die organisasie verbind word asook persone wat op sekere maniere vir die foto’s poseer, ‘n boekrol in die hand of ‘n hand op die hart of op ‘n boek en al dergelike. Selfs kerklike logo’s het verskeie simbole wat met die betrokke organisasie verbind word. Wat sê mens nou hiervan?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Ek is bevrees hier kan ek bitter min help. Dit lê nie regtig op die terrein van Bybelkennis nie, en van die Vrymesselaars weet ek bitter min.

Vrymesselaars (freemasons) het blykbaar aan die begin ‘n soort vakbond of gilde gestig van vakmanne wat werk met sandsteen, wat na alle kante toe bewerk kan word sonder om af te splinter (freestone). Omdat hulle rondgetrek het om werk te kry, het hulle onderskeidingstekens gehad om hulle van onopgeleide klipwerkers en baksteenmesselaars te onderskei.

Later het die groep meer soorte bouwerkwers ingesluit wat as lede van die vakbond of gilde vry was om hulle dienste aan munisipaliteite en konings te lewer, en die nodige kundigheid en vaardigheid gehad het, en so nuwe inhoud aan die woord ‘freemason’ gegee.

In die 17e en 18e eeu het die beweging egter verander met al minder bouwerkers as lede, met al meer meesterbouers sowel as besigheidsmanne betrokke by die boubedryf en later van die hoë lui wat die leiding geneem het. Lidmaatskap van die Roomse kerk en later van die Anglikaanse kerk was verpligtend. Lede moes getrou wees aan god en die heilige Kerk sonder oortreding of kettery. In 1730 is dié vereistes geskrap, en is ‘n morele lewe as vereiste gestel, met die veronderstelling dat ‘n lid nie ‘n dwase ateïs of ongodsdienstige libertyn sou wees nie, maar toegewy aan ‘n godsdiens waarin alle mense saamstem, en kan behoort aan enige denominasie of oortuiging. Jode is toe ook toegelaat, terwyl ateïste en agnostici (ongelowiges) uitgesluit was. Maar teen die einde van die 18e eeu het dié vereiste ook verslap en was sommige losies vyandig teenoor die kerk. Toe het pous Clemens XII vrymesselary veroordeel. Die Kommuniste en Nazi’s het vrymesselary onderdruk. Terwyl die Engelse vir eers nog die vereiste van geloof in ‘n Groot Argitek van die Heelal behou het, het die Franse dit ook verwerp, en al gaande het dié vereiste oral vervaag, en het die morele plig om barmhartigheidsdienste te lewer oorgebly.

Dit is duidelik dat die geloof in die Skepper-God en verlossing van sonde deur Jesus Christus as die Seun van God al dunner geword het in die vrymesselary.

Die gebruik van simbole in die kerk en kerkgeboue is weer ‘n ander saak. Dit hang af van die waarde wat daaraan geheg word deur die gelowiges. So het ons bv. die heidense woord ‘god’ in die Germaans-Dietse woordeskat oorgeneem en ‘n ander betekenis daaraan geheg om die drie-enige God mee aan te dui – ‘Deus’ in Latyn van die heidense ‘deus’ vir die Romeine se god en gode. So het ons die Sotho woord ‘modimo’, die Zulu ‘unkulunkulu’, Xhosa ‘utixo’ gevul met Christelike inhoud om God aan te dui, soos die Griekse ‘theos’ gebruik is om die Hebreeuse ‘el’ en ‘elohim’ in die Ou Testament mee te vertaal, wat ook eers ‘n heidense term was vir die Kanaäniete se god en gode.

Die kruis as simbool van die Christendom kom van die skandelike dood van slawe en rebelle wat die Romeine toegepas het, terwyl Deuteronomium 21:23 sê dat elkeen wat aan ‘n paal/hout hang vervloek is (vgl. Galasiërs 3:13). So is die Romeinse heidense feesdag vir die ‘Onoorwinlike Son’ as god op 25 Desember wanneer die son in die noordelike halfrond begin terugkeer na die winter, deur die Christene tot Kersfees verander om die geboorte van die Son van Geregtigheid (Maleagi 4:2  NAV son van redding) te vier.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Laat sy Liefde jou Lei: Jou werk, jou verlengstuk ?

Laat sy Liefde jou Lei: Jou werk, jou verlengstuk ? – Milanie Vosloo

Jou werk, jou verlengstuk?

Wanneer ek en jy in ’n posisie is waar ons ons spesiale talente en gawes as ons dagtaak kan uitleef, is ons bevoorreg. Want dan vind ons rede vir ons bestaan, geniet ons wat ons doen en is ons werk vir ons ’n verlengstuk van onsself. Die kanse is dan ook goed dat ons die spesiale roeping wat God vir ons hier op aarde beplan het, uitleef.

Vra jouself vandag die volgende vrae:

  • Wat is my unieke talente; dié dinge waarin ek goed is?
  • Wat is my natuurlik belangstelling? Vind ek dit in my huidige dagtaak?
  • As ek vandag (oor) kon kies, wat sou ek die heel graagste wou doen?
  • Wat behoort ek te verander of te doen om in staat te wees om dit te doen waarvan ek regtig hou en waarin ek goed is?
  • Wat is my plan van aksie, wat het ek nodig en wat kan ek doen om by daardie doel uit te kom?

Liewe mens, as jy sielsongelukkig is in wat jy doen, is jy verseker nie op die plek waar God jou wil hê nie. Dan het dit tyd geword om aan sy Vader-voete te gaan sit en ernstig met Hom te praat.

Besluit vandag dat jy wel (eendag?) dié werk kan en sal doen waarin jy werklik vervulling sal vind. En doen dan iets daaraan.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Salwing van jou huis – Riglyne

Salwing van jou huis – Riglyne – Kobus Kok

Luzell vra:

Ek wil graag my huis –kamer vir kamer deure, venster, elke hoek van my huis my en elke hoef van my erf salf. ek is opsoek na goeie riglyne en stukke uit die Bybel uit om dit te doen. Hoe gaan ek te werk?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord

Dit is baie belangrik dat ons ‘n Bybelse teologie oor salwing moet hê. Die Jode het profete gesalf en selfs hulle huise, maar dit was ‘n teken wat heengewys het na die geestelike waarheid wat God aan hulle wou kommunikeer en is ‘n sigbare teken wat hulle daaraan sou herinner. In die verlede het ek al genoem dat geloof en vertroue in die Here nie plek moet maak vir ‘n soort bygelowigheid waar salwing met olie gebed of vertroue vervang nie. Baie mense dink dat indien hulle hulle huis, hond, kar of wat ook al salf, een of ander geestelike lagie van beskerming oor hulle sal wees. Dit kom neer op ‘n magiese of bygelowige aanwending van rituele. Die punt is dat die krag nie in die salwingsolie lê nie, maar in God. Die olie is net die teken wat jou daaraan behoort te herinner. Daarom kan mense maar hulle huis of hond salf, so lank hulle net nie dink die salwing het een of ander geheime of bonatuurlike krag nie. Indien hulle wel salwing sien as iets wat so ekstra beskermingslagie verseker, maak hulle hulle eintlik skuldig aan heidense denke. Ek weet van ‘n vrou wie se man ‘n alkoholis is, en toe gaan salf sy die wynbottels van haar man, omdat sy gedink het dit sal hom minder laat drink. Hy het nie minder gedrink nie, en sy wou weet of sy dan verkeerd gesalf het. Wat die vrou nie verstaan nie, is dat indien sy salwing sien as een of ander “magic” (magiese) ding, dan mis sy die punt daarvan en gryp sy in die proses terug na ‘n heidense gebruik.

Hier is enkele teologie riglyne:

  1. Moet nie salwing sien as een of ander magiese krag nie.
  2. Sien salwing as ‘n teken wat heenwys na die betrokke geestelike realiteit waarvoor jy gebid het.
  3. Laat die fokus nie val op die krag van die olie of die aksie van salwing nie, maar op God se krag. Onthou – salwing is net ‘n teken en ritueel.

Hier is praktiese riglyne

1. Neem olyfolie en smeer die olie in die vorm van ‘n kruis op die objek wat jy wil salf.

2. Bid terwyl jy salf deur die geloofswaarheid wat jy wil uitspreek hardop te verklaar of tot God te bid met jou spesiale versoek.

3. Laat die salwingsaksie jou gereeld herinner aan die dag toe jy ‘n afspraak met die Here gehad het, en herinner jou gereeld aan die geestelike waarheid waarmee die salwingsaksie gepaard gegaan het.

 

Ek weet van ‘n paartjie wat gereeld in hulle slaapkamer baklei het. Nadat die Here vir hulle gewys het dat dit nie sy wil is nie, het hulle een dag hulle bed gesalf en die muur bo hulle bed. Die merk van die kruis kan mens sommer sien teen die muur. Elke keer as hulle baklei, het die merk hulle daaraan herinner dat hulle teenoor mekaar en die Here onderneem het om nie meer op ‘n negatiewe manier met mekaar te kommunikeer nie. Hier sien ons hoe hierdie paartjie die salwingsaksie nie as iets magies gesien het nie, maar dit as teken funksioneer wat hulle herinner aan die geestelike realiteit wat die Here in hulle harte wakker gemaak het.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok