Egskeiding en weer trou

Egskeiding en weer trou – Kobus Kok

Louise vra:

Ek sit met ‘n vraag wat ek soveel verskillende opinies oor kry dat ek nie meer weet watter kant toe nie en wat die regte opinie is nie. Volgens die 10 gebooie in die Bybel mag jy nie “adultery” pleeg nie en indien jy na ‘n egskeiding weer sou trou (as jou man nog lewe) pleeg jy “adultery”, want God sê wat Hy saamgevoeg het mag geen mens skei nie. Dus as jou man nog lewe en jy skei is julle eintlik nog steeds een vlees. Nou word daar gesê in 1 Kor 6:9-10 dat mense wat “adultery” pleeg nie hemel toe sal kan gaan nie. Ek hoor soveel opinies hieroor want sommige mense sê dat God vir ons sondes aan die kruis gesterf het en dat Sy liefde en genade vir ons so groot is dat as jy om vergifnis vra (repentance) jy wel hemel toe sal gaan. Is dit so of nie? My probleem is ook dat indien jy reeds weer getrou het, moet jy dan skei van jou tweede man omrede jy “repent” het anders gaan jy nie die Koninkryk van God sien nie (hel toe gaan). U leiding en hulp in die verband sal baie waardeer word.

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Mag ‘n Christen wat geskei het weer met iemand anders trou?

Voordat ons hierdie vraag begin beantwoord, moet ons vir mekaar dit duidelik stel dat die Bybel van die begin af al dit duidelik maak dat getrouheid ʼn wesenlike element van ʼn mens se verhoudingslewe moet wees. In die Ou Testament word die verhouding tussen ʼn man en ʼn vrou dikwels as analogie (voorbeeld) gebruik om te verduidelik hoe God getrou is aan sy beloftes aan sy volk wat telkens ontrou is. Trouheid is met ander woorde ʼn baie belangrike motief regdeur die Bybel.

Indien ons nou die vraag wil beantwoord of ʼn Christen wat geskei het weer kan trou, moet ons die vraag eers so paar stappe terugvat in die proses, deur daaroor te besin deur die bril van lewenslange getrouheid. Indien getrouheid en lewenslange trou ʼn wesenlike element van ʼn mens se verhoudingslewe moet wees, gaan mens heeltemal anders met jou verhoudingslewe om as wat iemand daarmee sal omgaan vir wie hierdie waarde nie belangrik is nie. Die beginsel van lewenslange getrouheid sal maak dat jy keer op keer sal óór begin, dat jy as huweliksmaat aan jouself en jou karakter sal werk sodat jou huwelik kan groei en nie skipbreuk sal lei nie. Die beginsel van lewenslange getrouheid sal maak dat jy ander keuses maak as dit kom by die hou van gesonde grense met iemand by die werk of by sosiale geleenthede. Indien mens van die begin van jou huwelik al die saak uitmaak dat jy NIE gaan skei nie, en dat daar nie vir jou ʼn ander opsie IS nie, dan gaan jy anders omgaan met die uitdagings, pyn en teleurstelling wat mens in ʼn huwelik beleef. Omdat God die sentrum van jou lewe is en jy Sy wysheid soek, sal Hy jou in elke seisoen van jou verhoudingslewe op ʼn opwindende karakterreis van groei en verdieping neem.

Soms gebeur dit egter dat ʼn verhouding eindig, en dat ʼn egskeiding onafwendbaar is. Vat maar net die man wat sy kinders molesteer en jare lank drink en sy vrou emosionele en fisiese geweld aandoen. In sommige gevalle is ʼn egskeiding die weg tot genesing.

Hou die Bybelse konteks in gedagte 

Ons moet versigtig wees om die Bybelse teksgedeeltes wat oor egskeiding handel te maklik op ons eie situasie en konteks toe te pas. Die Bybelse tekste verteenwoordig ʼn lang groeiproses en daar was ook bepaalde dinge wat in daardie konteks rondom die dimensie van egskeiding plaasgevind het. Ons lees byvoorbeeld in Matteus 19:9 dat Jesus egskeiding verbied. Hierdie gedeelte in Matteus moet egter in die regte konteks verstaan word en die agtergrond daarvan moet eers belig word. Hier in Matteus 19 vra die Fariseërs vir Jesus ʼn strikvraag om hom uit te daag. Hulle wil weet of dit ʼn man geoorloof is om vanweë allerlei redes van sy vrou te skei?  Die teks waarna die Fariseërs verwys, verwys na ʼn konteks in die geskiedenis van Israel wat lank van te vore ter sprake was. Uit ons navorsing wil dit voorkom dat in die tyd van Jesus, die antieke Mediterreense kultuur grootliks ʼn paternalistiese sisteem was. Dit beteken dat die pa die onbetwisbare hoof van die huis was. Mans in die Grieks-Romeinse wêreld kon selfs so ver gaan as om te besluit of hulle hulle kind se lewe sal spaar of nie. Ons weet van gevalle waar mans aan hulle swanger vrouens skryf dat indien hulle geboorte gee aan ʼn dogter dan moet hulle ontslae raak van die kind, maar as dit ʼn seuntjie is kan hulle die kind maar hou. Dit het dikwels gebeur dat babas op die ashope gegooi is. Die pa het dus die mag oor lewe en dood gehad in die antieke tyd. Verder was die pa die hoof van die huis en die res van die gesin moes maar volgens sy pype dans. Dit wil verder uit ons navorsing voorkom dat baie mans vrouens beskou het as synde nie veel meer as ʼn stuk vleis nie. Hulle kon ook baie maklik van ʼn vrou skei deur eenvoudig vir die vrou ʼn skeibrief te gee as sy die kos een keer te veel gebrand het. Vrouens het baie min regte in ʼn paternalistiese sisteem gehad en so is vrouens eintlik in ʼn baie brose posisie gelaat. Dit is teen hierdie agtergrond wat Jesus se uitspraak dan verstaan moet word. Jesus se uitspraak is dus ook ʼn sterk reaksie teen die uitbuiting van die vrou en die absolute, soms onregverdige optrede aan die kant van mans. Jesus se reaksie op die vraag van die Fariseërs slaan die hamer reguit op die spyker en dring deur tot op die kern van die saak: Dit wat God saamgevoeg het mag geen mens skei nie. Hier maak Jesus dus ʼn baie sterk stelling wat reguit ingaan teen die algemene kultuur van sy dag.

Die Fariseërs het vinnig hierop gereageer en voor al die getuies beroep hulle hulle op die gebruik wat volgens hulle teruggaan na die groot leier  van Israel, naamlik Moses. Moses het volgens hulle die ruimte geskep om gewoon ʼn skeibrief te gee aan jou vrou en van haar te skei (vgl. Matt 19:7). As Moses dit gesê het, en geoorloof het, wie is Jesus dan om te stry, was hulle grootste verweer. Jesus het onmiddellik daarop gereageer en die bal weer terug in die hande van die Fariseërs gegooi en hulle skynheilige karakters blootgestel deur te argumenteer dat Moses wel die ruimte gelaat het vir skeibriewe, maar dit gedoen het as gevolg van die hardheid en koudheid van hulle harte. Dit was egter nie van die begin af deel van God se hart of plan vir die mens nie. Jesus kom gee hulle dan ʼn nuwe siening, wat nie teruggaan na Moses nie, maar teruggaan na God se oorspronklike plan, en in sy betoog haal Jesus ʼn teks uit Genesis aan en argumenteer dat ʼn man sy vader en moeder sal verlaat en saam met sy vrou as een vlees/wese/mens leef.  Jesus sê verder dat die implikasie daarvan is dat die wat skei, teen die wil van God optree en niks minder as die sewende gebod oortree nie, naamlik dat mens nie mag egbreuk pleeg nie (Kyk ook Luk 16:18, Mark 10:12 en Matt 5:31, 32). Jesus het dus die ganse paternalistiese sisteem op sy kop geswaai en gewys dat verhoudings, integriteit, karakter en innerlike oriëntasie, radikale selfopofferende liefde, barmhartigheid en diens die belangrikste is.

Terug na ons tyd vandag. Kan ʼn Christen wat geskei het weer trou? Miskien is die vraag nie óf en hoe vinnig ʼn Christen wat geskei is weer kan trou nie, maar in hoe verre ʼn Christen kan wys dat opregte verhoudings en trou wat in God gewortel is kan hou! Miskien trou en skei ons heeltemal te vinnig vandag. ʼn Vriend van my wat ʼn prokureur is en egskeidings hanteer, is vandag skatryk omdat soveel mense skei, sommiges selfs na ʼn paar maande se getroude lewe. Ek wonder of mens regtig al die huwelik of mekaar ʼn kans gegee het na so ʼn kort tyd. Tog is daar regtig ook situasies waar ʼn egskeiding onafwendbaar is en dikwels die weg tot genesing is.

In Jesus se hantering van die Samaritaanse vrou wat al meer as 5 mans gehad het in Johannes 4 en die vrou wat op ontug betrap is in Johannes 8 sien ons Jesus se radikale hart. Jesus skep tweede kanse en gee lewe. Terwyl ek glo dat lewenslange trou en liefde die reël is, glo ek ook dat God vir ons tweede kanse kan skep en ons mislukkings in verhale van hoop en genesing kan verander. Indien ons opreg in ons verhouding met Hom leef en ons weer trou na ons geskei het, sal Hy ook vir ons die geskenk van vergifnis en nuwe lewe gee. Ek ken mense wat ʼn tweede keer getroud is en wat God in hulle verhouding ten volle eer en wat Hom al meer in die nuwe verhouding ontdek.

Opgesom: God se wil is dat man en vrou in ʼn liefdevolle verhouding van trou leef wat Hom in die sentrum stel. God se hart klop nie vir egskeiding nie, maar vir liefdevolle trou. Soms is egskeiding onafwendbaar. In sulke gevalle kan God weer tweede kanse skep, maar dit moet eerder die laaste uitweg wees.

 

Lees gerus die volgende boek wat vir my persoonlik baie beteken het:

Thomas, G., 2000, Sacred Marriage. What if God designed Marriage to make us Holy, more than to make us Happy? Zondervan uitgewers.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Laat sy Liefde jou Lei: Wat is ware sinvolheid

Laat sy Liefde jou Lei: Wat is ware sinvolheid – Milanie Vosloo

Wat is ware sinvolheid

Ons almal het ’n bepaalde plek, manier van doen, werk en leefwyse wat aan ons unieke menswees betekenisvolheid gee. Party van ons vind dit in ’n uitdagende korporatiewe loopbaan waarin ons op hoë vlak ’n bydrae lewer. Daar in die raadsale van die wêreld vind ons ’n stuk energie wat ons menswees stimuleer en ons opgewonde maak. Ander kry daardie geluksgevoel deur hul eie ding te doen en hul entrepreneursdryf uit te leef. Diesulkes maak heel dikwels ’n groot sukses van hul eie ondernemings. Dan is daar die van ons wat daarvan hou om kinders te leer en te onderrig, ander te verpleeg, maatskaplike dienste te lewer, te preek, sendingwerk te doen. Natuurlik is daar dié vir wie dit lekker is om ander mense te ondersteun, hul lewens makliker te maak en alles vir hul gesinne te gee.

Ware sinvolheid vir jou is dit wat vir jóú lekker is om te doen. Dit waarvan jý hou. Wanneer jy doen waarvan jy regtig hou, maak dit nie saak wat wêreld om jou doen nie, want dán het jy die een ding gevind wat jou laat tick: wat ’n betekenisvolle verskil in jou en ander se lewens maak.

Ware sinvolheid vergelyk nie homself met ander nie omdat elke mens se balanspunt-van-betekenis hemelsbreed van ander s’n verskil. Wanneer jy joune gevind het, sal jy vind dat jy met oorgawe leef!

Vader-God, laat ek vrede vind in dit wat ek goed kan doen.


Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Bose simbole wat jou geestelik kan beïnvloed

Bose simbole wat jou geestelik kan beïnvloed – Kobus Kok

Corne vra: 

Ek wil nou baie seker maak. My dogter was op n kamp waar hulle opleiding ontvang mbt musiek in die moderne wêreld. Daar is verskillende popgroepe en selfs Afrikaanse alternatiewe ” rock bands” waar woorde en tekens in hulle musiek en video’s voorkom wat satanistiese oorsprong het. ‘n Rukkie gelede was daar n e-pos oor die Monster energie drankie wat sportmense gebruik. Die M is blykbaar Hebreeuse syfers vir 666. Ek het op die Internet gaan gaan soek vir webwerwe oor die onderwerp. Daar is nogal heelwat inligting oor musiek met versteekte boodskappe en selfs kos en koeldrankadvertensies waar daar versteekte boodskappe in hul logos versteek is. Hoe maak mens in n wêreld vervuil van goed wat jy nie eers weet dat die duiwel dit gebruik om jou in te trek of om jou te verswak nie. Hoe maak mens dit duidelik aan jou kinders? Moet hulle nou onmiddellik gaan en alle musiek van hulle selfone of rekenaars afhaal of skrap? Kan dit ‘n invloed hê op jou gees of bindinge plaas op jou lewe sonder dat mens dit eers besef? Kan dit bindinge bring soos vrees, angstigheid, terneergedruktheid , lae selfbeheersing of die vrug van die Gees in jou lewe aanval?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Wees versigtig om inhoud te “vul” in simbole

Mens moet versigtig wees om nie vasgevang te word in die soeke en interpretasie van allerlei simbole nie. Ek het nou die dag gehoor hoe iemand daarop wys dat Apple rekenaars, ipads en iphones eintlik duiwelse simbole dra. Die rede wat aangevoer word, is dat die appel van Apple Computer ‘n half geknaagde appel verteenwoordig en dit verwys na Genesis waar die slang vir Eva verlei het om die appel te eet en net soveel soos God te wees. Net so verlei Apple Computers mens om te vergeet dat God alles is en dat diegene wat Apple rekenaars gebruik elke dag verlei word. Die probleem is egter dat iemand op ‘n dag die halfgeknaagde appel raakgesien het en dat hulle die simboliese betekenis daarvan met “verskuilde” inhoud gevul het. Dit is baie problematies omdat verbande getrek word en inhoud ingevul word in die simbool wat nie noodwendig getrek moes word nie. Dit is altyd die probleem met simboliese interpretasie – simbole in hulle aard skep die ruimte waarbinne betekenis “ingevul” moet word. Enige ou kan amper enige betekenis daarin vul. Net so het iemand anders eendag die Apple Rekenaar so gekyk en gesê die halfgeknaagde appel staan vir “An apple a day keeps the doctor away”, so Apple Rekenaars probeer iets van heelheid deur die appel simboliseer.  Dit wys jou net dat mens amper enige inhoud in ‘n simbool kan vul. Mense wat geestelik paranoïes is, sal agter elke liewe ding iets geestelik boos en sleg sien. Daarteen moet ons waak.

Christene deel aan God se oorwinningskrag

Ons moet sommer van die begin af vir mekaar se dat ware Christene weet dat geen magte en kragte enige effek op hulle kan hê nie. In Kolossense lees ons van die vroegste Christene wat ook gedink het dat hulle allerlei goed moes doen om die magte van die kosmos (stoigeia toe kosmoe) goed te stem. Hulle was naamlik bang dat die magte van die kosmos negatiewe dinge met hulle kan aanvang. Paulus stel dit in Kolossense 1:15-20 duidelik dat Christus die beeld van die onsienlike God is, en dat hy die eersgeborene van die ganse skepping is. Alles het deur hom tot stand gekom en is in hom en vir hom geskep – die sienlike en die onsienlike. Deur sy kruisdood en opstanding het God deur Christus geïllustreer dat hy baie sterker is as enige mag of krag. Selfs die sterkste mag, die dood, moes voor die opstandingskrag swyg. Christus het die bose magte in die triomftog van God meegesleur (vgl. Kol 2:15). Christene hoef nie bang te wees vir die magte van die kosmos nie, en  hoef ook nie koorsagtig op die uitkyk te wees vir bose simbole nie. Dit het geen mag oor ‘n Christen nie. Leer jou kinders om vanuit hulle identiteit as kinders van die God van oorwinning te leef.

Christene maak regte keuses

Christene is mense wat vanuit ‘n herskepte verhouding met God leef, wat hulle identiteit in God verstaan en graag keuses maak wat in lyn is met hulle identiteit. Sommige vorms van musiek is duidelik nie musiek wat mens se verhouding met God versterk nie. Net so is sekere gesprekke en vriendskappe met mense ook nie altyd opbouend vir mens se geloof nie. Die geheim is om jou te omring met geestelik opbouende dinge. Indien jy voel dat sekere musiek jou negatief beïnvloed, bly eerder daarvan weg.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Laat sy Liefde jou Lei: Die regte vrae

Laat sy Liefde jou Lei: Die regte vrae – Milanie Vosloo

Die régte vrae

U het my met u eie hande gemaak. Maak my kop nou vol van u wysheid sodat ek mooi verstaan wat U vra. Psalm 119:73

God ken sy kinders. Daarom verstaan Hy dat ons maar soms eg menslike (en kleinlike) versoeklysie-gebede bid. Hy het begrip daarvoor dat ons wêreldjies heel dikwels net om ons self, ons eie belang en die sirkel rondom ons draai. Tog dink ek die Vader wil so graag hê dat ons ook groter vrae vir Hom sal vra. Dat ons verder as onsself, ons lewe hier op aarde en ons menslike bestaan sal dink. Ja, ek glo Hy wil hê dat ons gedagtes en ons gebede ook ingestel sal wees op sý dinge: op ewigheidswaarde-kwessies wat vir Hom belangrik is.

Kom ons bid elke dag, saam met ons tipiese ménsgebede, ook die volgende hemelgebede:

Vader in die hemel, ek eer en aanbid U omdat U God is: dié God wat hemel en aarde in geskep het en elke dag in stand hou. Here Jesus, ek loof en dank U vir u ongelooflike genade in my en ander se lewens. Heilige Gees, wys aan my hoe ek my lewe aan U kan wy; hoe en waar ek u wil kan uitleef en aan wie ek vandag ’n verskil kan gaan maak. Ja, Here, laat u Naam geheilig word, laat u koninkryk kom en laat u wil geskied … tot in ewigheid.

Amen

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo