Dien of vertrap?

Dien of vertrap? – Francois Malan

Susan vra:

Dit is vir my lekker om te dien. hoe kan ek onderskei tussen om te dien en om op getrap te word?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die vraag kan nie maklik beantwoord word nie, omdat die  omstandighede onbekend is. Watter soort dien is hier van sprake, vir wie word hier gedien? Wat word beskou as op getrap word, en wie en hoe word dit gedoen teenoor die vraesteller? Is dit in die huwelik, by die werk, ens.? Wanneer word van iemand se diens misbruik gemaak?

Jesus, wat gekom het om te dien, is gekruisig deur mense vir Hy kom dien het, en Hy het vir hulle aan die kruis gebid: Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie (Lk 23:34). Jesus vermaan sy dissipels om nie die eerstes of die grootstes te wil wees nie, maar dat ‘n volgeling van Jesus ‘n dienaar van almal moet wees, want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as losprys te gee vir baie mense (Markus 10:43-45). Hy is ons voorbeeld en ons Here.

Hy het gesê: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg (Mat.5:44). In Lukas 6:35-6 sê Hy: sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle ‘n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes. Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.

Paulus vertel van al sy ontberinge en lyding in 2 Kor 11 & 12 en sê in 12:9,10 dat die krag van Christus sy beskutting is in al sy ontbering. Daarom is hy bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.

In 2 Tessalonisense 3:13 sê hy: Moenie moeg word om goed te doen nie. In Romeine 12:19 sê Paulus: moenie self wraak neem, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God.

Daar is seker ‘n perk tot waar jou vermoë strek, maar die Here moet vir ons oortuig waar jy moet begin nee sê.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Het Jesus geweet dat Hy die Seun van God is?

Het Jesus geweet dat Hy die Seun van God is? – Francois Malan

Andre vra: 

Het Jesus geweet dat hy die seun van God is of moes hy dit bloot geglo het.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die Evangelieskrywers was blykbaar oortuig dat Jesus geweet het dat Hy die Seun van God is.

Volgens Lukas 2:49 sê Hy op twaalfjarige ouderdom vir sy ma: Het u nie geweet dat Ek in die huis (letterlik: dinge) van my Vader moet wees nie?

Met sy doop deur Johannes die Doper sê die stem uit die hemel sodat die mense kan hoor wie Hy is: Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My (Luk. 3:21-22).

Na sy doop deur Johannes die Doper lei die duiwel Hom na die woestyn waar Hy vir

veertig dae deur die duiwel versoek is om te bewys dat Hy die Seun van God is (Lukas 4:1-11).

Toe Jesus in Nasaret begin preek, sê Hy dat die profesie van Jesaja in Hom vervul is dat die Gees van die Here op Hom is om die genadejaar van die Here aan te kondig (Luk 4:16-21).

In Matteus 11:27 sê Jesus bv. My Vader het alles aan My toevertrou en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.

In Mat 26:64 sê Jesus: Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel.

Na sy opstanding sê Jesus: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. En: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld (Mat 28:18.20).

In Markus 9:7 kom die stem uit die hemel weer: Dit is my geliefde Seun, luister na Hom.

In Markus 10:48: Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.

Die hele Evangelie volgens Johannes getuig van Jesus se bewussyn dat Hy die Seun van God is, bv. die ‘Ek is’ uitsprake (soos God Hom self aan Moses bekend gestel het as ‘Ek is’ in Eksodus 3:14; vgl. Jes 41:4; 43:10,11; 46:6): Ek is die brood wat lewe gee (6:35), die lig vir die wêreld (8:12), die ingang vir die skape (10:7), die goeie herder (10:11), die opstanding en die lewe (14:6), die ware wingerdstok (15:1), of bloot ‘Ek is’ (4:26; 6:20; 8:24,28; 13:19; 18:5,6,8). In Joh 8:58: voor Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is).

Hy sê: Ek voer die opdragte van my Vader uit 15:10; Hy doen niks op sy eie sonder sy Vader nie (5:19-20); sy woorde is die Vader se woorde (14:10,24; 17:8); die Vader is groter as Ek (14:28).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die vloek van God

Die vloek van God – Francois Malan

Liza vra:

1. Wat beteken dit om onder die vloek van God te wees.

2. Wat behels dit om onder die vloek van God te staan.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Romeine 9:3 sê Paulus selfs oor sy eie volksgenote wat nog nie in Christus wil glo nie: Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kan wees (vgl. Moses in Eksodus 32:32). In 1 Korintiërs 16:22 sê Paulus: As iemand die Here nie liefhet nie – vervloek is Hy! In Galasiërs 1:8,9: Maar al sou een van ons of selfs ‘n engel uit die hemel aan julle ‘n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het (nl. die evangelie van Christus, v7) – die vloek van God sal hom tref.

In Deuteronomium 27:15-26 word ‘n hele reeks van sondes aangestippel. Die mens wat dit doen word onder die vloek van God se straf geplaas. Paulus verwys na die gedeelte in Deuteronomium in Galasiërs 3:10: Maar almal wat staat maak op die onderhouding van die wet (om daardeur gered te word), val onder die vloek, want daar staan geskrywe: Daar rus ‘n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie. Maar hy wat deur geloof geregverdig word – wie se verhouding met God reggestel is deur in Jesus te glo – sal lewe (Gal.3:11, vgl. Rom 1:17). Want Galasiërs 3:13 sê: Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is (Deutr. 21:23)… so het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het  (Gal.3:14).

Die vloek beteken dat God so iemand verlaat, en aan hom/haarself oorlaat om te doen wat hulle wil, en so hulleself vernietig (vgl. Rom.1:18, 24,26-31). Die seën van God beteken dat Hy by ons is en in ons kom woon het deur sy Gees, wat ons sondaars aan sy Seun verbind met geloof in Hom, van ons sonde verlos, en dat ons as kinders van God kan lewe onder sy sorg en leiding (Romeine 8:9-17). En dan kan niks ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie (Romeine 8:31-39).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan




Hantering van slange

Hantering van slange – Francois Malan

‘n Leser vra:

Markus 16:18: Ons is almal bewus van die wondertekens, nl duiwels uitdryf, in tale praat & siekes die hande oplê, maar wat is die betekenis van slange hanteer en giftige stowwe drink, sonder om iets oor te kom? In watter konteks is dit? Wat is die betekenis hiervan?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In die 1983-vertaling staan daar by Markus 16:8 dat in die grondteks die Evangelie hier ophou. In sommige manuskripte is verse 9-20 bygevoeg. Waarskynlik is die byvoeging gedoen omdat vers 8 so stomp afsluit met ‘want hulle was bang.’ En dat die laaste gedeelte saamgestel is uit ander dele van die Nuwe Testament.

Met vers 9 begin ‘n beknopte samevatting van verskeie verskynings van die Here. Die gegewens word in die ander Evangelies teruggevind: vs. 9-11 in Joh. 20:1,2 (vgl. 20:11-18); vs. 12-13 in Luk. 24:13-35; vs. 14-16 in Mat. 28:16-20; vs. 19 in Luk. 24:50-53.

In Mark. 16:17-18 gee die Here aan die gelowiges die belofte dat Hy deur wondertekens hulle geloof sal bevestig. In vers 20 word dan gesê dat hulle die evangelie oral gaan verkondig het, dat die Here met hulle saamgewerk het en hulle prediking bekragtig het deur die wondertekens wat daarop gevolg het.

Van hulle uitvoering van die Here se opdrag om te gaan verkondig vertel die boek Handelinge, ook van die wondertekens waarmee die Here die boodskap bevestig het.

So vertel Handelinge 28:3-6 bv. dat Paulus, toe hulle op die reis na Rome op die eiland Malta gestrand het, help vuurmaak het en ‘n slang uit die hout aan sy hand gebyt het, dat hy die slang in die vuur gegooi het, dat die bevolking, wat die slang ken as ‘n giftige slang, verwag het dat hy sal sterf, maar dat niks met hom gebeur het nie.

So het Jesaja 11:8 reeds in die vooruitsig gestel dat in die koninkryk van God ‘babatjies by die gate van adders sal speel en klein kindertjies hulle hande uitsteek na giftige slange.’

Die gifbeker word nie verder in die Bybel gemeld nie. Daar was by die Grieke en Romeine ‘n gebruik om iemand se onskuld te bewys deur hom of haar gif te laat drink, en as hulle nie sterf nie, is hulle onskuldig. Of dit aanleiding gegee het tot die invoeging hier is nie seker nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan