2 Samuel 6:13

2 Samuel 6:13 – Francois Malan

Jan Smith vra:

11 Samuel 6:13 het betrekking. 1953 vertaling: En toe die draers van die ark ses treë geloop het,hy ‘n bees en vetgemaakte kalf geoffer. Bybel in Praktyk:Elke keer wanneer die draers van die ark van die Here ses treë gestap het, het hy ‘n bul en ‘n vetgemaakte kalf geoffer. Engelse vertaling: And was so, that when they that bare the ark of the Lord had gone six paces, he sacrificed oxen and fatlings. Nog een in Engels: And it came to pass, when God helped the Levites that bare the ark of the covenant of the Lord, that they offered seven bullocks and seven rams. Die afstand was omtrent 15 km en as daar elke ses treë stilgestaan is om te offer is bykans 4000 bulle en kalwers doodgemaak.Die verse verskil egter en mens wonder wat die regte feite dan is?

Antwoord

Prof Malan antwoord:

In die Hebreeuse bronteks staan:

  1. V12        en dit is aan koning Dawid vertel (onvoltooide tyd) seggende: die Here het die huis van

Obed-Edom geseën (voltooide handeling) en alles wat aan hom behoort vanweë die ark

van God;  en Dawid gaan (onvoltooide handeling) en bring (onvoltooide handeling) en

bring (onvoltooide handeling) die ark van God van die huis van Obed-Edom na die stad

van Dawid met vreugde.

  1. V13        En dit gebeur (onvoltooide handeling) dat die draers van die ark van die Here ses treë

geloop het (afgehandelde handeling) en hy slag (onvoltooide handeling) ‘n bul en ‘n

vetgevoerde bees.

Die 1933 en 1953 van die Afrikaanse Bybel vertaal vers 13:

En toe die draers van die ark van die Here ses treë geloop het, het hy ‘n bees en ‘n

vetgemaakte kalf geoffer.

Die ou Hollandse vertaling sedert 1637 ook so, maar praat van osse en gemeste vee, soos die ou King James sedert 1611. Die Revised Standard Version 1952, die New International Version 1978 en die New King James 1979 praat ook as een keer se offer (lg. praat van fattened sheep).

Die Boodskap met ‘n bietjie verduidelik vir die jeug:

toe die mense wat die kis dra ses treë geloop het, het Dawid ‘n bul en ‘n vet kalf vir die

Here geslag.

Vgl. Good News Bible 1977: After the men carrying the Covenant Box had gone six steps,

David made them stop while he offered the Lord a sacrifice of a bull and a fattened calf.

Die Lewende Bybel van 1982:

Toe die manne wat die verbondskis gedra het die eerste ses treë geloop het, het Dawid

eers ‘n bul en ‘n vetgevoerde jong bees vir die Here geoffer.

In navolging van die Living Bible (paraphrased) 1972: After the men who were carrying it had

gone six paces, they stopped and waited so that he could sacrifice an ox and a fat lamb.

Maar die 1983 vertaling sê:

Elke keer wanneer die draers van die ark van die Here ses treë gestap het, het hy ‘n bul en

‘n vetgemaakte kalf geoffer.

So ook die Nuwe Lewende vertaling van 2006:

Telkens nadat die draers ses treë gegee het, het hulle stilgestaan sodat Dawid ‘n bul en ‘n

vetgemaakte kalf kon offer.

Die ‘elke keer’ en ‘telkens’ in v13 staan nie in die teks nie, maar is ‘n interpretasie van die  werkwoordvorme (die eerste ‘n onvoltooide handeling, die tweede in die afgehandelde vorm, en die derde ‘n onvoltooide handeling). In Hebreeus kan ‘n onvoltooide handeling ‘n enkele handeling aandui of ‘n herhalende handeling, en daarom het die 1983 en NLV 2006 waarskynlik ‘telkens’ ingevoeg omdat hulle dit as ‘n herhalende handeling sien, maar dit kan ook ‘n enkele handeling aandui. Dit is waar die verskillende vertalings vandaan kom

Die merkwaardigste verskynsel van Hebreeus van die Ou Testament is die opeenvolgende/gevolg sinne. As ‘n verhaal begin met die voltooide vorm (soos in v12  wat met ‘n voltooide handeling begin, ‘die Here het geseën’) dan word sy gevolge weergegee deur die koppelwoord ‘en’ gevolg deur onvoltooide tyd/tye – soos al die tye in v12b en v13 behalwe ‘ses treë geloop het’ in v13, wat ‘n afgehandelde handeling aandui, en wat weer gevolg word deur ‘n onvoltooide handeling. Daarom sou al die werkwoorde in Afrikaans in die verlede tyd weergegee kan word. Dit gee nie uitsluitsel of dit ‘n enkele of ‘n herhalende handeling is nie, maar kan tog die gedagte aan ‘n enkele handeling versterk.

In die lig hiervan sou ek meen dat die offer slegs ná die eerste ses treë geoffer is.

Die Griekse vertaling van 250 jaar voor Christus sê:

En daar was saam met hom wat die ark dra sewe kore en ‘n offer, ‘n bees en ‘n

skaap (party manuskripte lees skape).

Baie kommentare aanvaar dat daar slegs ná die eerste ses treë geoffer is, en nie telkens ná ses treë nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Sabbat (3)

Die Sabbat (3) Coen Slabber

Ons het reeds na die sabbat in die Ou en die Nuwe Testamente gekyk. Nou gaan ons na die Sabbatviering van die Jode vandag kyk. Ons moet egter versigtig wees, want soos Christene is die Jode nie ‘n homogene groep nie. Wat hier beskryf word is een tradisie – daar is ook ander tradisies.

Oor die algemeen het ons ‘n wanbegrip van die Sabbat. Ons sien dit as ‘n dag van beperkings. Dit is omdat die Jode verbied word om op hierdie dag te werk. Vir die Jode is dit egter ‘n dag van vreugde en rus. Vir hulle staan die Sabbat sentraal – dit is die kern van die Joodse leefwyse. Dit herinner die Jode elke week aan die skepping van die heelal en die mens en aan God se verbond met hulle. Dit is die geleentheid waar elke Jood hom met God, sy familie en sy gemeenskap kan verbind. In ons besige wêreld is dit noodsaaklik. Die Talmoed beskryf die Sabbat as ‘n pragtige bruid. Joodse huishoudings verwelkom hierdie bruid deur mooi aan te trek, die huis skoon te maak en ‘n lekker maaltyd voor te berei.

Die Sabbat begin sononder elke Vrydag met die aansteek van die kerse. Omdat die Sabbatswette, onder andere, die aansteek van vure verbied, gee die kerse lig van sononder tot slaaptyd. Belangriker is die godsdienstige simboliek: dit is die rituele seremonie wat die begin van die sabbat aankondig. Dit herinner ook aan die skepping. God se eerste optrede tydens die skepping was: Laat daar lig wees.

Die begin van die sabbat word ook met ‘n kort diens in die sinagoge gevier. Hierdie diens word deur die mans bygewoon, alhoewel vrouens en kinders dit ook soms bywoon. Dit word voorafgegaan deur ‘n reeks gebede wat die Sabbat verwelkom. Hierdie gebede, meestal psalms, beklemtoon dat hierdie ‘n spesiale dag is. Dit dien ook as oorgang tussen die sekulêre weekdag na die heilige Sabbat. In baie sinagoges is die diens later, omdat baie Jode nie vroeg genoeg kan ophou werk om reeds sononder in die sinagoge te wees nie. Hierdie later dienste is dikwels meer formeel – koormusiek, ‘n preek en tyd vir sosialisering. Hierdie sosiale uur staan as Oneg Shabbat (= die vreugde van die sabbat) bekend. Die Sabbatsgroet en -gebed staan as Shabbat Shalom (= mag dit ‘n sabbat van vrede wees) bekend.

Daarna volg die ete – gewoonlik by die huis met familie en vriende. Die maaltyd begin met die sing van die gebed vir die wyn. Wyn is tradisioneel die simbool van vreugde en blydskap. Dit word dus gebruik om die aanbreek van die sabbat te verwelkom en die dag te heilig. In sekere families sal die man hierna sy liefde vir sy vrou verklaar deur verse uit Spreuke 31 voor te dra: ‘n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene … Daarna seën die ouers die kinders.

Voordat die brood gebreek word, is daar eers ‘n seremonie waartydens die hande gewas word. Die brood is die simbool van die manna wat God in die woestyn voorsien het. Nou word God vir die brood geloof – Hy wat brood uit die aarde voortbring. Dit is ook in die vorm van ‘n gebed. Die brood is of ‘n gevlegte wit brood of ‘n eierbrood wat spesiaal vir die Sabbat gebak word. Hierna volg die hoofmaaltyd. Die maaltyd sluit dikwels gevulde vis in – vis wat gemaal word en daarna met groente en speserye gemeng word. Dit word in die vorm van koekies of balletjies gemaak en gewoonlik met peperwortel bedien. Daarna volg klassieke hoendersop en die hoofgereg van bees of hoender. Alle disse moet vooraf berei kan word.  Hierna word nog liedere gesing gevolg deur die gebed vir die kos. Die tafel is ‘n plek vir goeie geselskap en goeie kos in ‘n ontspanne en en vreugdevolle atmosfeer.

Die Sabbatoggend gaan die familie na die sinagoge vir gebede en aanbidding. Die hoogtepunt is die lees en bestudering van die weeklikse gedeelte uit die tora. Na die middag is dit tyd vir rus, lees, leer, stap, besoeke aan vriende – ontspanning.

Die middagdiens in die sinagoge sluit in ‘n kort gedeelte uit die tora wat voorgelees word. Daarna volg ‘n ligte maaltyd. Sodra drie sterre sigbaar is, is dit die einde van die Sabbat. ‘n Baie kort diens wat die Sabbat van die sekulêre week skei, word voorgelees. Dit gebeur dikwels by die huis.  Die Sabbat begin en eindig met ‘n beker wyn. Die Sabbat eindig met die aansteek van ‘n gevlegte kers wat aandui dat dit nou weer toelaatbaar is om ‘n vuur aan te steek. Daarna volg  die ruik van die soet kruie bedien in ‘n versierde houer. Simbolies beteken dit dat die soet geur van die Sabbat nog ‘n paar oomblikke langer duur. Na die kort diens groet die aanbidders en familie mekaar met die woorde: Mag dit ‘n goeie week wees.

Die moderne Hebreeuse skrywer, Asher Ginsburg (ook bekend as Achad Ha-Am), beskryf die sentrale rol van die Sabbat in die Joodse lewe soos volg: More than Israel (the Jewish people) has kept the Sabbath, the Sabbath has kept Israel. Maak nie saak waar en onder watter omstandighede Jode gebly het nie, is dit die onderhouding van die Sabbat, individueel en gemeenskaplik, wat Jode verenig en sterk  gehou het – toegewy aan God en aan mekaar.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




Die Sabbat (2)

Die Sabbat (2) – Coen Slabber

In die vorige artikel het ons na ‘n kort oorsig oor die Sabbat in die Ou Testament gekyk. Ons kyk nou na die Nuwe Testament.

  1. Die Sabbat in die Nuwe Testament 

Toe die Sabbatdag aanbreek, het Jesus reguit na die sinagoge toe gegaan en die mense daar begin leer (Markus 1:21). Jesus het gereeld die sinagoge op die Sabbatdag besoek en mense daar geleer. Hoekom het Jesus en die godsdiensleiers dan gereeld oor die Sabbatdag gebots? Hoekom het die godsdiensleiers Hom as ‘n verbreker van die Sabbat beskou?

Jesus het die Sabbat as ‘n dag van aanbidding aanvaar. Sy probleem was egter die groot aantal mensgemaakte reëls, wat die hele doel van die Sabbat verander het – in plaas van ‘n dag van aanbidding en vreugde word dit ‘n kruis. Die Misjna is die mondelinge oorlewerings van die wet wat neergeskryf is. Hierin word baie aandag aan die Sabbatdag gegee – die hoofdoel is eintlik om werk te definieer. Hierin kry ons reëls en voorskrifte wat ons nie in die Skrif kry nie. Nege en dertig aktiwiteite word in die traktaat Shabbat verbied.

Een van die vroeë konfrontasies wat Jesus met die Fariseërs gehad het, was toe sy dissipels are afgepluk het – dit is werk, want hulle oes. Jesus herinner hulle aan wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger was – Dawid het van die offerbrood in die huis van die Here geëet. Dit was iets wat net die priesters mag geëet het. Dan maak Hy hierdie belangrike stelling: Die Sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die Sabbatdag nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook oor die Sabbatdag (Markus 2:23 – 28).

Sekerlik een van die grootste probleme was genesing op die Sabbatdag. Die Ou Testament verbied nie genesing op die Sabbatdag nie, maar die godsdiensleiers het geglo dat genesing werk is, behalwe as dit gedoen word om ‘n lewe te red. So genees Jesus die man wat van ‘n onrein gees besete was (Markus 1:22), Petrus se skoonmoeder (Markus 1:29), die man met die gebreklike hand (Markus 3), ‘n gebreklike vrou (Lukas 13), die man wat aan water gely het (Lukas 14) en die man by Betesda (Johannes 5) – almal op die Sabbatdag. Jesus se verweer is: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook (Johannes 5:17).

Jesus wys die godsdiensleiers op die teenstrydighede in hulle siening. Kinders kon op die Sabbatdag besny word, maar Hy kan nie iemand se liggaam gesond maak nie (Johannes 7:21 – 24); hulle mag ‘n bees of donkie van die krip losmaak en hom weglei om te suip (Lukas 13:10 – 17). Jesus vra hulle: Mag ‘n mens op die Sabbatdag goed doen of kwaad doen, iemand red of doodmaak? Hulle het egter niks gesê nie (Markus 3:4).

Ons het reeds gesien dat Jesus mense op die Sabbatdag in die sinagoge onderrig het. Hy doen dit ook in Nasaret – die dorp waar Hy grootgeword het. Ons lees: Die mense wou niks van Hom weet nie (Markus 6). Hy voeg by dat ‘n profeet nie erken word in die plek waar hy grootgeword het nie.

In Jesus se profetiese rede praat Hy oor die groot verdrukking. Hy sê onder andere: Bid dat julle nie in die winter of op ‘n Sabbatdag hoef te vlug nie (Matteus 24:20). Sabbatariërs (Sewendedagadventiste) glo dat Jesus met hierdie teks verwag dat mense na sy dood steeds die sabbat sal onderhou.

Paulus het ook gereeld op die Sabbatdag in die sinagoge gepreek – soos dit sy gewoonte was (Handelinge 13:14; 16:13; 17:2; 18:4). Hier bestaan sy gehoor gewoonlik uit Jode en nie-Jode. Paulus sê dat niemand aan ander mag voorskrywe oor hoe die Sabbatdag gevier moet word nie: Dit is alles maar net ‘n skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus (Kolossense 2:1 6 -17).

Laastens in die Hebreërboek word verwys na die belofte van rus vir diegene wat glo: Daar wag dus nog steeds ‘n Sabbatsrus vir die volk van God (Hebreërs 4:9).

In Romeine 14 sê Paulus: Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ‘n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting. Die een wat ‘n bepaalde dag op ‘n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here … Laat ons mekaar dan nie meer veroordeel nie. Neem julle liewer voor om niks te doen wat jou broer kan aanstoot gee of tot ‘n val bring nie. Hy is ook ontsteld dat die Galasiërs terugval in daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls (vers 4 – 11).

Jesus het nie ‘n rusdag vir God afgekeur nie. Wat hy wel afgekeur het, is al die menslike reëls en regulasies wat van die rusdag ‘n pynlike ervaring gemaak het. Ons kan saam met die psalmdigter sy Sabbatslied (Psalm 92) sing:

Dit is goed om die Here te loof, om u Naam te besing, Allerhoogste,

Om elke môre van u liefde te getuig, en elke aand van u trou.

In die volgende artikel gaan ons kyk na ‘n tipiese Joodse Sabbatdag.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




Die Sabbat (1)

Die Sabbat (1) – Coen Slabber

Die Sabbat (ook Shabbat of Shabbas) is die rusdag. In die Bybel is dit ‘n dag van rus en ‘n tyd vir aanbidding. Dit is die sewende dag van die week en strek van Vrydag sononder tot Saterdag sononder – eintlik totdat daar drie sterre in die lug is. Gedurende hierdie tyd staak Jode alle gewone werksaamhede. Daar is ‘n verskil in die benadering tot die Sabbat in die Ou en Nuwe Testament.

  1. Die Sabbat in die Ou Testament 

In Genesis 2:2 – 3 lees ons: Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het. Elke dag word dan gedefinieer: Dit het aand geword en dit het môre geword. Hier sien ons ‘n duidelike verband tussen die Sabbat en die skepping.

In Eksodus 16:22 – 30 gee Moses aan die Israeliete opdrag om op die sesde dag ‘n dubbele porsie manna op te tel en die helfte te bewaar vir die volgende dag, want op die sewende dag sou daar geen manna wees nie. Die volk het op die sewende dag gerus.

In Eksodus 20:8 – 11 lees ons die vierde van die tien gebooie: Sorg dat jy die Sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as ‘n gereelde rusdag geheilig.

Hierdie gebod geld vir almal, insluitend vreemdelinge en diere – God het hulle immers ook gemaak. In Eksodus 31:12 – 18 word die sabbat as ‘n teken beskryf tussen My en julle sodat julle kan besef dat Ek, die Here, julle vir My geheilig het. Mense wat die sabbat ontheilig moet doodgemaak word en diegene wat op die sabbat werk, moet van die volk afgesny word. Dat die die tien gebooie baie belangrik is,  is duidelik: die twee kliptafels moet in die verbondsark geplaas word en God het dit self met sy vinger op die tafels geskryf (Eksodus31:18).

Die jaarlikse versoendag (Yom Kippur), die heiligste dag in die Joodse jaar,  word ook as ‘n Sabbat beskou. In Levitikus 19 word baie van die tien gebooie herhaal, insluitend dié wat oor die sabbat gaan. In Levitikus 23:3 word die volk beveel om op die sabbat ‘n gewyde byeenkoms te hou. Die offerbrood moet ook elke Sabbat vervang word (Levitikus 24:8).

In Levitikus 25 lees ons van die sabbatsjaar en die hersteljaar. Elke sewende jaar moet die hele land ‘n rustyd hê – ‘n Sabbatsjaar tot eer van die Here. Die vyftigste landbouseisoen moet ook aan die Here gewy word – die hersteljaar. Dan moet alle skuld afgeskryf word, grond moet aan die families teruggegee word en Joodse slawe moet vrygestel word. Hierdie was ‘n groot toets vir die volk se gehoorsaamheid aan God en hulle gewilligheid om Hom te vertrou vir hulle lewensonderhoud. Dit is interessant dat beide Alexander die Grote en die Romeine die Jode tydens die Sabbatjaar van belasting vrygestel het.

Die erns van die Sabbat word beklemtoon in die verhaal van die man wat op die Sabbat hout bymekaargemaak het. Die Here beveel dat Hy buite die kamp met klippe doodgegooi moet word (Numeri 15:32 – 36).

In Deuteronomium 5 lees ons weer die tien gebooie, maar hier lees ons ‘n ander rede vir die onderhouding van die Sabbat: Jy moet daaraan dink dat jy in Egipte ‘n slaaf was en dat die Here jou God jou deur sy groot krag en met magtige dade daaruit bevry het. Hier gaan dit spesifiek oor Israel. Die Sabbat wys dus na:

•             God se goedheid vir alle mense as hulle Skepper; en

•             God se genade vir sy uitverkore volk as hulle Redder.

Die Ou Testament brei ook uit oor wat op die Sabbat gedoen mag word:

•             Die boer moet rus op die Sabbat – of dit nou ploegtyd of oestyd is (Eksodus 34:21).

•             Die huisvrou mag geen vuur in haar woning maak nie – sy kan nie kook of bak nie (Eksodus 35:3).

•             Die handelaar mag geen goed deur die poorte van Jerusalem dra nie (Jeremia 17:27).

Die gevaar is dat die Sabbat deur mense as ‘n dag van vrees beskou kan word – hulle is bang hulle word gestraf. Die Sabbat is ‘n seën en nie ‘n vloek nie. Die Sabbat is ‘n dag om oor God se grootheid te juig – ‘n dag van vreugde (Psalm 92). Die onderhouding van die Sabbat was ook een van die tekens van getroue Jode se identiteit as hulle hulle in ‘n vreemde land (soos tydens die ballingskap) bevind het.

Die Sabbat het ‘n belangrike rol in die Ou Testament gespeel. Het die koms van Jesus dit enigsins verander? In die volgende artikel gaan ons na die Sabbat in die Nuwe Testament kyk.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber