Judas Iskariot

Judas Iskariot – Coen Slabber

Judas was een van Jesus se twaalf apostels. In die lys van dissipels verskyn sy naam telkens laaste (Matteus 10:4; Markus 3:19; Lukas 6:16). Hy word veral onthou vir die soen waarmee hy Jesus in die tuin van Getsemane verraai het. Judas is die Griekse vorm van ‘n algemene Hebreeuse naam: Jehuda (dit beteken God word geloof). Die oorsprong van Iskariot is onseker. Moontlikhede sluit in:

  • Dit beteken “man van Keriot.” Keriot mag na ‘n streek in Judea verwys, maar daar was ook twee stede wat as Keriot bekend gestaan het. In Jeremia 48:24 word verwys na Kerijot oos van die Jordaanrivier in Moab. In Josua 15:25 word Kerijot-Gesron, dit is Gasor, as een van die stede in die gebied van Juda geïdentifiseer. Wat egter duidelik is, is dat Judas, anders as die ander dissipels, nie ‘n Galileër was nie.
  • Iskariot identifiseer Judas as ‘n lid van die sicarii – ‘n groep sluipmoordenaars wie se doel was om die Romeine uit Judea te verdryf. Sommige historici glo egter dat die sicarii eers tussen 40 en 50 nC ontstaan het. Judas kon dus nie ‘n lid van hierdie groep gewees het nie.
  • Sommige meen dat Iskariot “leuenaar” of “die vals een” beteken.
  • Iskariot is ‘n afleiding van ‘n Aramese woord wat “rooi kleur” beteken.
  • Dit mag verwys na die manier waarop Judas gesterf het. Dit kom van ‘n mengwoord (Grieks en Aramees) wat “wurg” beteken. Dit beteken die naam is eers na sy dood deur die ander dissipels aan hom gegee. Dit is baie onwaarskynlik.

Hierdie is ‘n afbeelding van “Die Judas Kus” van die kunstenaar Gustave Doré (1866).

judaskus

Ons lees van Judas in die vier evangelies en aan die begin van Handelinge.

Judas se verraad

Die priesterhoofde  en die skrifgeleerdes was op soek na ‘n plan om Jesus op ‘n slinkse manier gevange te neem en dood te maak (Markus 14:2). Omdat hulle bang was vir ‘n oproer onder die volk, wou hulle dit nie op die paasfees doen nie. Daarom besluit hulle om Hom op die nag voor die fees gevange te neem. Lukas sê: Die Satan het in Judas, wat Iskariot genoem is en een van die twaalf was, ingevaar (Lukas 22:3). Hy onderhandel daarna met die priesterhoofde en offisiere van die tempelwag om Jesus te verraai. Daarvoor sou hulle hom betaal – dertig silwerstukke. Die inisiatief kom van Judas.

Hoekom het Judas vir Jesus verraai?

(1) Geld. Een van Judas se swakhede wat sy liefde vir geld. Toe Maria ‘n halfliter duur nardusolie op Jesus se voete uitgegiet het, maak Judas beswaar – hulle kon die olie vir baie geld verkoop het en die geld vir die armes gegee het. Johannes gaan verder en noem hom ‘n dief: Hy het die beursie gehad en het van die bydraes gevat (Johannes 12:4 – 6).

(2) Judas was ontnugter, want hy het geglo dat Jesus die Romeinse heerskappy oor Israel sou verbreek. Judas het sy land liefgehad  en het geglo dat Jesus misluk het. Hy besef dat ‘n onafhanklike staat van Israel los van die Romeine nie een van Jesus se doelwitte was nie.

(3) Satan het in hom ingevaar (Johannes 13:27; Lukas 22:3 – 6).

(4) In die Evangelie van Judas, ‘n gnostiese teks van ongeveer 300 nC, word beweer dat Jesus vir Judas oorreed het om Hom te verraai. Die waarheid hiervan word nie aanvaar nie.

Jesus het vooraf geweet wie Hom sou verraai: Jesus het immers van die begin af geweet wie dit is wat nie glo nie, en wie dit is wat Hom sou verraai (Johannes 6:64). Jesus laat dit toe. Nadat Hy sy verraaier aangewys het, sê Hy vir Judas: Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen (Johannes 13:27). Hoekom laat Jesus dit toe?

  • Hy laat die verraad toe sodat God se plan uitgevoer kan word.
  • Hy was in ieder geval bestem om gekruisig te word – met of sonder Judas se verraad.

Judas se dood

Daar is ‘n paar beskrywings van Judas se dood:

(a) Matteus 27:2 – 10: Toe Judas sien dat Jesus tot die dood veroordeel is, het hy spyt gekry oor wat hy gedoen het. Hy neem die silwerstukke en gooi dit in die tempel en gaan hang hom op. Die priesterhoofde neem die geld en koop daarmee grond van die pottebakker: Daardie stuk grond word tot vandag toe nog Bloedgrond genoem.

(b) Handelinge 1:18 – 19: Judas gebruik die geld en koop daarmee ‘n stuk grond. Daar het hy vooroor geval en oopgebars, en al sy ingewande het uitgepeul … Daarom word die plek in hulle taal Akeldama genoem. Dit beteken Bloedgrond.

(c) In die Evangelie van Judas (nie deel van die kanon nie) sê Judas dat hy ‘n visioen gehad het van die dissipels wat hom vervolg en stenig. Hy pleeg daarom selfmoord.

(d) Die vroeë Christenleier, Papias, sê dat Judas se liggaam vreeslik opgeswel het. ‘n  Koets het hom vergruis  sodat sy derms uitgepeul het.

Hoe moet ons hierdie verskillende weergawes verstaan? C. S. Lewis sê dat elke stelling in die Bybel nie noodwendig histories waar is nie. Augustinus probeer die verskillende weergawes versoen: Judas het homself opgehang; die tou het gebreek; Judas se liggaam bars oop. Moontlik moet ons aanvaar dat Matteus die gebeurtenis as ‘n vervulling van ‘n Ou Testamentiese profesie wou beskryf. Matteus sê dan ook: Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het (27:9). In Jeremia word beskrywe hoe hy grond by Anatot koop. In Sagaria 11:12 – 13 lees ons  van dertig stukke silwer wat in die huis van die Here gegooi word. Augustinus, Hieronimus en Calvyn glo dat Matteus hier ‘n fout begaan het – hy moes na Sagaria en nie na Jeremia verwys het nie. ‘n Ander moontlikheid is dat Matteus hier na Jeremia 18 en 19 of 32 verwys.

Vandag word die naam Judas algemeen as sinoniem met verraaier gebruik. Judas, ‘n tragiese figuur wie se geldgierigheid waarskynlik tot sy verraad en dood gelei het.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




Laat sy Liefde jou Lei: Hoort sy liefde by die werk?

Laat sy Liefde jou Lei: Hoort sy liefde by die werk? – Milanie Vosloo

‘n Mens wat wys is, sê verstandige dinge. Hy kan ander mense onderrig. Spreuke 16:23

‘n Paar jaar gelede was dit aanvaarbaar om jou geloof openlik by jou werk uit te leef. Niemand sou jou daaroor verkwalik het of oor die vingers getik het nie. Vandag is dit anders. Omdat ons in ‘n land leef waar ons probeer om mekaar op alle terreine te akkommodeer en te respekteer, vra die werkplek soms van ons dat ons ons geloof met oorleg en versigtigheid sal uitleef.

Die vraag is nou, hoe kan ons – te midde van beperkinge en voorgeskrewe reёls – steeds Christus se liefde in die werkplek uitleef?

  • Ons kan dit doen deur die Gees toe te laat om ons elke nuwe oggend te suiwer van alle vorme van magsbeheptheid, afguns, geïrriteerdheid of onvergewensgesindheid.
  • Ons kan bid dat Hy in die plek daarvan vir ons begrip en deernis sal gee vir die mense aan wie ons rapporteer, vir ons medekollegas veral ook vir die mense aan wie ons moet leiding gee.
  • Alleen wanneer ons in totale afhanklikheid voor Hom staan, kan ons Vader ons dan met sy soort liefde vul. Dié liefde wat so leef, werk, praat en doen dat ons – te midde van ‘n harde wêreld – iets van sy sagtheid weerkaats.

Die werkplek is ‘n uitdagende akker om in te ploeg, want dit is heel dikwels daar waar dit die heel moeilikste is om geloofsliefde te leef. Maar kom ons probeer!

Here, gee aan my die wysheid en moed om u waarhede ook in my werkplek te leef.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Hoekom is daar nog so baie sonde?

Hoekom is daar nog so baie sonde? – Francois Malan

Pieter vra:

Indien al die mense en hulle sondes op die aarde vernietig was met die sondvloed, behalwe die 8 mense op die Ark, hoekom is daar dan nog so baie sonde op die aarde vandag? Of is dit die sondige natuur van die mense wat saam met die 8 gekom het? En ons as mens maar net eenvoudig te goed in onsself is om te luister?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die manier waarop Genesis 3:5-6 die sondeval beskryf, beklemtoon dat die slang se versoeking aan die mens was dat ‘julle soos God sal wees deur dat julle alles sal ken. Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik is omdat dit kennis kan gee.’ En dit is vandag nog elke mens se probleem: ons wil soos God wees en daarom ons eie god wees – selfsugtig, dit gaan om ‘ek’, ons lewe draai om ons self, en is nie op God gerig nie.

Toe die volk in vrees vir God se verskyning in donderslae en weerligte  vir Moses gestuur het om na Hom te gaan luister (Eksodus 20:18-21), en Moses 40 dae op Sinaiberg bly om die voorskrifte van God te ontvang, vra hulle vir Aäron om vir hulle ‘n god te maak om hulle te lei (32:1). ‘n god wat hulle op hulle skouers kan tel en met hom loop waar hulle wil.

Samuel sê vir Saul wat deur God uitverkies is as koning en toe ongehoorsaam geword het aan God se opdrag: weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery (1 Samuel 15:23).

In Galasiërs 5:16-21 verduidelik Paulus wat alles die gevolg is van ons sondige natuur wat in stryd is met wat die Gees van God vir ons wil leer.

In Romeine 1:18-32 verduidelik Paulus: omdat die mense God nie as God eer en dank nie, maar in plaas van die heerlikheid van die onverganklike God dien hulle beelde van verganklike mense of voëls of diere of slange – die grootste afgod wat ons dien is ek self – daarom gee God in sy toorn oor die sonde van die mense hulle aan hulle eie begeertes oor, om te maak soos hulle wil, en dan volg die lys sondes wat hy uitstippel.

Dit het Jesus kom verander, en die Gees van God wat in die gelowige kom woon het, verbind ons aan Jesus wat Homself in liefde geoffer het vir ons sonde, sodat ons ook ons self aan God kan gee en vir Hom en vir ons naaste in liefde te lewe (Romeine 8:1-17).


Skrywer: Prof Francois Malan




Hoe moet ek die Drie-eenheid verstaan?

Hoe moet ek die Drie-eenheid verstaan? – Kobus Kok

Yvonne vra: 

Ek wil net weet of dit moonlik is om te verduidelik hoe die Drie eenheid van God verstaan moet word of hoe dit werk.

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Dit is interessant dat die woord “Drie-eenheid” geensins in die Bybel voorkom nie! Die konsep daarvan kom egter duidelik na vore in die Nuwe Testament. In die vroeë kerk, het Teofilus van Antiogië (180 nC) teen die agtergrond van die vrae van sy tyd die verhouding tussen die Vader, die Seun en die Heilige Gees as ‘n drie-ledige (trias) eenheid beskryf. Rondom dieselfde tyd het Tertullianus (155–222 nC) deur middel van die Latynse woord “trinitas” die verhouding tussen die Vader, Seun en Heilige Gees verduidelik, wat wesenlik dieselfde is, maar uit drie verskillende persone bestaan.

In die jare nadat die groot Romeinse Keiser Konstantyn in die vierde eeu n.C. tot bekering gekom het en die Christendom die amptelike religie van die Romeinse Ryk gemaak het, het hy gepoog om die ganse kerk te verenig. In die proses moes ‘n belydenis formuleer word wat eenvormig is in die ganse Romeinse ryk en daar moes besluit word watter geskrifte gesaghebbend sou wees vir die ganse Christendom. Die vergaderings het onderskeidelik in Nicea (325 nC) en Konstantinopel (381 nC) plaasgevind. Dit was ook hier waar daar besluit is watter Bybelboeke die amptelike kanon van die Nuwe Testament sou wees. Daar is verder ook ‘n belydenis geformuleer na jare se gebed en nadenke – waarin die drie-eenheid en die beskrywing en formulering daarvan ook geformuleer is.

drieeeenheidvraag

Uit my Sondagskool dae onthou ek hoe ‘n Sondagskoolonderwyser die drie-eenheid verduidelik het aan die hand van ‘n appel wat bestaan uit ‘n skil, die vleis van die appel en die stronk. Die drie verskillende dele is almal appel, maar het verskillende funksies en gestaltes. Net so verwys die drie-eenheid na één God, maar drie persone. In hierdie drie-eenheid is God die Vader egter die Een wat die ganse wêreld geskep het en wat Sy Seun gestuur het (Joh 1:1-18; 3:16). Daar is dus duidelik ‘n Vader, die primêre subjek wat alles begin het en wat in beheer van die ganse geskiedenis is. Kyk gerus hoe Johannes dit verduidelik. Hy verduidelik dat God die een is wat besluit het om uit Sy groot liefde sy enigste Seun te stuur (Joh 3:16; 20:30-31). Die Seun doen dan op aarde alles wat die Vader vir hom sê om te doen. In Johannes 5:19-20, volgens die nuwe Afrikaanse vertaling, lees ons: “Dit verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so. 20Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy doen.” Hiervolgens is dit tog duidelik dat God die Vader die leidende figuur is, en dat diegene wat Jesus sien, ook vir God die Vader sien. In die antieke tyd het dit dan ook so gewerk dat van ‘n goeie Seun gesê kan word dat die appel nie ver van die boom af val nie – ‘n goeie seun het opgetree op so ‘n wyse dat dit die vader sou eer. Net so is Jesus die verteenwoordiger van God, die Seun van God die Koninklike Vader en moet mense hom eer soos hulle die Vader eer. Na die opstanding van Jesus, lees ons by Paulus in Filippense 2:5-11 dat Jesus deur God tot die hoogste eer verhef is en dat elke knie daarna sou moet buig en erken dat Jesus Here is. Weereens sien ons dat die verheffing van Jesus deur God as Vader gedoen word. God die Vader is die primêre handelende subjek en Skepper van die heelal.

In die Ou Testament lees ons duidelik dat daar net een God is (Deut 6:4) en Israel se geloof kan as monoteïsties (een God) beskryf word. Die monoteïsme van Israel het radikaal verskil van die panteïsme (baie gode) van die antieke kulture wat in die tyd van Israel bestaan het. Wanneer ons in die OT lees van die Gees, verwys dit in die ongeveer 135 keer wat die woord voorkom na God se Gees (vgl. Bv Gen 1:2, Rigters 14:6, Ps 51:13).

In die tyd van die NT het die Grieke en die Romeine ook in vele gode geglo. Selfs Keiser Augustus, wat in die tyd van Jesus geleef het, is as Seun van God en hoëpriester beskryf. Daar is tot vandag toe nog in Efese ‘n reuse pilaar waarin hierdie woorde uitgekerf is uit klip. Hierteenoor het die NT gelowiges dit duidelik gestel dat God en sy Seun die ware en enigste lewende God is, en nie die Keiser of die veelgodedom van die antieke heidense gelowe nie. In 1 Tessalonisense, die eerste brief wat Paulus geskryf het teen ongeveer 50 n.C. lees ons in 1 Tes 1:9 die volgende: “Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien 10en dat julle sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het, uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom”. In die NT is dit duidelik dat die Christene anders as die heidene om hulle geglo het aan God en ‘n sterk verband gesien het tussen God die Vader, Seun en Heilige Gees (lees gerus 1 Kor 12:4–6 en Ef 4:4–6). Dit is duidelik dat die vroeë kerk, alreeds teen 70 n.C. eksplisiet die verband trek tussen die drie-eenheid, soos ons in Matteus 28:18-19 lees:” 18Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” In Matteus 28:18 sien ons duidelik dat Jesus sê “Alle mag is aan my gegee”. Wie het die mag aan hom gegee? Wel, dit is niemand anders nie as God die Vader. Dit sien ons ook in Filippense 2:5-11 se nuwe Afrikaanse vertaling: 5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: 6Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, 7maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, 8het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. 9Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, 10sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, 11en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.”

Hiervolgens is dit duidelik dat Jesus se goddelikheid gekoppel word aan die feit dat God die Vader die een is wat die mag aan hom gegee het. Dit is soos ‘n koning wat sy Seun die koning maak. In Matteus 24:36 lees ons dat nie eers die Seun weet wanneer die wederkoms gaan plaasvind nie. Die beeld wat hier gebruik word is die een van ‘n Koning op sy troon en sy dienaars rondom hom (engele, ens). Die Seun sit ook op die troon, maar uiteindelik is God die Vader die groot Koning wat die finale besluit het en die Groot Heerser is. Die drie persone van die drie-eenheid kan van mekaar onderskei word, maar kan egter nie van mekaar geskei word nie. In Johannes se evangelie lees ons dat Jesus, net voor hy sou sterf en teruggaan na sy Vader, vir die gelowiges troos deur vir hulle die goeie nuus te gee dat die Gees (parakletos-trooster) na sy hemelvaart gestuur sal word. God se Gees sal dus met hulle wees en hulle elke dag herinner aan die waarheid en die woorde wat Jesus gespreek het, woorde wat uit die troonkamer van God hul oorsprong het (lees Joh 4:24; 6;36; 7:39; 14:15-31, veral 14:16-17; 16:5-15).

 

Skrywer: Prof Kobus Kok