Die Verbondsark (2)

Die Verbondsark (2) – Coen Slabber

In die vorige artikel het ons gesien dat die ark ‘n belangrike rol in Israel se godsdiens en politiek gespeel het. Die laaste verwysing na die ark (nie simbolies nie) kry ons in 2 Kronieke 35:3. Dit was tydens die regeringsjare van Josia. Hy was besig om die paasfees te vier. Daarna het hy die Leviete wat vir die onderrig van die hele Israel verantwoordelik was en aan die Here gewy was, beveel: “Sit die heilige ark in die tempel wat koning Salomo van Israel, seun van Dawid, gebou het.”

Daar is geen vermelding van die ark in die nuwe tempel wat na die ballingskap gebou is nie. Maar hoe kon die ark wat so ‘n belangrike simbool vir Israel was sommer net weggeraak het? Dit gee aanleiding tot allerhande legendes. Daar is ‘n rabbynse legende dat toe die Babiloniërs Jerusalem ingeval en die tempel bedreig het, die priesters die ark in die lug gegooi het. God het dit gevang en teruggeneem in die hemel.

Kom ons kyk na ander moontlikhede:

  1. Koning Salomo het ‘n grot langs die Dooie See geïdentifiseer waarin die ark geplaas moes word. Josia sou dan kort voor sy dood die ark in die grot geplaas het. Hierdie grot is nooit gevind nie.
  2. Toe Josia hoor dat die Babiloniërs hulle gereed maak om Jerusalem aan te val, het hy die ark weggesteek. Waar weet ons nie, alhoewel baie mense glo dat dit iewers op die berg waarop die tempel gebou was, was. Party gaan selfs sover om te sê dat dit onder die houtstoor was. Die probleem is dat hierdie gebied ‘n heilige gebied vir beide Jode en Islam is. Daarom word enige uitgrawings verbied.
  3.  Ons lees ‘n interessante verhaal in 2 Makkabeërs 2:4 – 8. Hier lees ons van verslae waarin Jeremia ‘n openbaring van God gekry het. As gevolg van hierdie openbaring vra hy dat die ark agter hom aangedra moes word toe hy na die berg toe is waarteen Moses uitgeklim het om die land te sien wat God vir sy mense wou gee. Dit sou dan Nebo-berg gewees het. Daar kry hy ‘n grot waarin hy die tabernakeltent, die ark, asook die altaar  waarop die wierook gebrand is, versteek het. Hy maak die ingang van die grot toe. Dan lees ons: Van dié wat saam was, het die pad probeer onthou, maar hulle kon dit nie weer kry nie. Ons lees dat Jeremia hulle kwalik geneem het, want hierdie plek moet onbekend bly tot God sy volk weer bymekaarbring en vir hulle goed is bo wat hulle verdien. Hierdie grot is nog nooit gekry nie. 
  4.  Die Etiopiese Ortodokse Kerk beweer dat die ark in Aksum, naby die grens met Eritrea, is. Hulle beweer dat Menelik I, die seun van die koningin van Skeba en Salomo (volgens hulle), die ark in Jerusalem gesteel het terwyl hy sy vader, Salomo, besoek het. Hy het ‘n vervalsing in die tempel in Jerusalem agtergelaat. Die kerk wil egter nie toelaat dat wetenskaplikes die “ark” ondersoek om vas te stel hoe oud dit is nie. Dit is egter baie onwaarskynlik dat dit die verbondsark is. 
  5.  Daar is selfs mense wat glo dat die ark iewers in Suider-Afrika is. Die Lembe-mense van Suid-Afrika en Zimbabwe het die ark diep in ‘n grot in die Dumghe-berge begrawe. Gedeeltes van die “ark” wat in ‘n drom gekry is, is met radio-koolstof ondersoek. Die gedeeltes word in 1350 gedateer. Dit is nie die verbondsark nie. 

Die waarskynlikste antwoord is dat toe die Babiloniërs Jerusalem en die tempel in 586 vC  vernietig het, hulle die goud herwin het en die res van die ark vernietig het.  Dit is baie onwaarskynlik dat hulle die ark saam met hulle na Babilon teruggeneem het. Daar is lyste van die voorwerpe wat hulle uit die tempel verwyder het, en nêrens word die ark vermeld nie. Vir hulle was die goud kosbaar en die res was net ‘n kis gemaak van doringhout.

As die ark dan so belangrik vir die Israeliete was, het ons nie ook ‘n ark nodig nie? Die antwoord is nee, want ons het ‘n Hoëpriester wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God (Hebreërs 4:14). Ons het nie meer ‘n hoëpriester nodig wat een maal per jaar die Allerheiligste binnegaan en bloed teen die ark sprinkel nie. Toe Jesus die laaste asem aan die kruis uitgeblaas het, het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur (Matteus 27:51). Ons het nou direkte toegang deur Jesus Christus tot God.

In Openbaring 11:15 – 19 lees ons van die engel wat die sewende trompet blaas. Die laaste vers beskryf die einde. God se tempel, wat in die hemel is, gaan oop, en sy verbondsark wat in sy tempel is, het sigbaar geword. Daarna volg ‘n storm – weerligstrale, dreunings, donderslae, ‘n aardbewing en ‘n groot haelstorm. God is teenwoordig in die ark, maar ook in die storm.

Hebreërs 4:16 vat dit goed saam: Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

Verwysing:

Van der Watt, Jan en Tolmie, Francois (2005): Apokriewe Ou en Nuwe Testament. Christelike Uitgewersmaatskappy.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




Die Verbondsark (1)

Die Verbondsark (1) – Coen Slabber

[In die Hebreeus word twee verskillende woorde gebruik om na die ark van Noag en na die verbondsark te verwys.]

Die opdrag om die ark te bou kom van die Here. Net soos met die tabernakel, gee Hy duidelike voorskrifte oor hoe die ark moet wees (Eksodus 25:10 – 22. In Eksodus 37:1 – 9 lees ons hoe die voltooide ark gelyk het.). Hulle moes die ark van doringhout maak. Selfs die afmetings word voorgeskryf: een en ‘n kwart meter lank, ‘n driekwart meter breed en net so hoog. Dit moet binne en buite met suiwer goud oorgetrek word; daar moet vier goue ringe wees wat aan die vier onderste hoeke vasgesit is en waarin die draaghoute van doringhout inpas. Hierdie draaghoute mag nooit uitgehaal word nie. Die deksel bestaan uit suiwer goud. Twee gerubs van geslae goud moet op die kante van die deksel gemaak word. Hierdie gerubs se vlerke moet oor die deksel uitgesprei wees. Die gerubs kyk na mekaar en kyk af op die deksel. Besaleël het die ark gemaak: Ek het hom toegerus met my Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen (Eksodus 31:3).

Hierdie is ‘n kunstenaar se voorstelling van die ark.

ark1

 

Wat was in die ark? In die ark moet jy die getuienis van die verbond sit wat Ek jou sal gee (Eksodus 25:16). Aäron se kierie en ‘n kruik met twee liter manna daarin is ook in die ark geplaas (Eksodus 16:33; Numeri 17:10). In 1 Konings 8:9 lees ons egter dat daar niks in die ark was nie behalwe die twee plat klippe wat Moses by Horeb daarin gesit het toe die Here by die uittog van die Israeliete uit Egipte met hulle ‘n verbond gesluit het. In Hebreërs 9:4 lees ons egter: In die ark was die goue kruik met manna, die kierie van Aäron wat gebot het, asook die plat klippe met die wet van die verbond daarop geskrywe.

Die deksel was baie belangrik. In Psalm 99:1 lees ons dat die Here bo-oor die gerubs sit. As Moses na die tabernakel gegaan het om met die Here te praat, hoor hy die stem van die Here: Die stem het van die deksel af gekom tussen die twee gerubs uit. Die Here sê self vir Moses: Daar sal Ek jou ontmoet. Ek sal met jou praat van die deksel af tussen die twee gerubs uit wat op die ark met die getuienis is. Al my bevele vir die Israeliete sal  Ek jou van daar af gee (Eksodus 25:22).

Die ark was heilig, want dit is die plek waar God teenwoordig was. Dit is ook die plek waar sy heilige wet gebêre word. Die ark het ook die Israeliete gedurig aan hulle verbond met God herinner. Daarom moes die ark met eerbied hanteer word. Toe Dawid die ark na Jerusalem gebring het, het die osse gestruikel. Ussa gryp na die ark om dit teë te hou: Hy het op die plek gesterf (2 Samuel 6:6 – 9).

Daar was ook duidelike voorskrifte oor waar die ark geplaas moes word. Daar moet ‘n voorhangsel van blou, pers en bloedrooi wolstof gemaak word. Hierdie voorhangsel skei dan die Heilige van die Allerheiligste. Die ark moet agter die voorhangsel in die Allerheiligste geplaas word (Eksodus 26:31 – 33).

Die ark het saam met die Israeliete deur die woestyn getrek. Dit was die teken van die heilige teenwoordigheid van God.  Die ark het ‘n baie belangrike rol gespeel toe die Israeliete die Jordaan oorgesteek het en Kanaän ingetrek het. Die priesters het voor geloop met die volk agterna. Toe die voete van die priesters in die water van die Jordaan kom, het die water gaan staan. Israel kon veilig deur die Jordaan trek (Josua 3). Ook met die inname van Jerigo speel die ark ‘n baie prominente rol (Josua 6). Na die land ingeneem is, vergader die volk om die ark (Josua 8:33).

In 1 Samuel 4 lees ons dat die ark buitgemaak word. Dit was nadat die volk teen die Filistyne (sonder die ark)  geveg het en moes vlug. Inderhaas laat haal hulle die ark. Die Here laat nie sulke misbruik van die ark toe nie. Die Filistyne buit die ark en neem dit na Asdod en plaas dit langs Dagon in sy tempel. Die volgende dag ontdek hulle dat Dagon vooroor geval en op die grond gelê het – voor die ark van die Here. Hulle maak weer vir Dagon staan, maar die volgende dag gebeur dieselfde ding. Hierdie keer het Dagon se kop en twee hande afgebreek. Geen wonder die Filistyne stuur later die ark terug nie. Vir twintig jaar staan die ark by Kirjat-Jearim.

Nadat Dawid vir Jerusalem verower het en dit sy hoofstad gemaak het, bring hy die ark na Jerusalem en plaas dit in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het (2 Samuel 6). Later sou Salomo die ark in die tempel plaas (1 Konings 8). Kom na u rusplek toe, Here, U en die ark, die teken van u mag (Psalm 132:8).

Die ark het ‘n belangrike rol in die godsdiens en geskiedenis van Israel gespeel. Maar wat het van die ark geword? Het ons dan nie meer ‘n ark nodig nie? Daarna gaan ons in ‘n volgende artikel kyk.

 

Skrywer:  Dr Coen Slabber




Laat sy Liefde jou Lei: Masker-mense

Laat sy Liefde jou Lei: Masker-mense – Milanie Vosloo

Soos jou gesig weerkaats in water; so wys iemand se hart wat in hom aangaan. Spreuke 27:19

Ervaar jy ook dat jy dit nogal goed kan regkry om ordentlik, erkentlik en respekvol teenoor mense buite jou gesinsverband op te tree, maar dat jy jou vriendelik-wees-masker sommer gou laat sak die oomblik wanneer jy by die huis in stap? Die lewe het ons immers geleer om maskers-van-goed-wees op te sit wanneer ons met ander mense te doen het. Net jammer dat ons, wanneer ons moeg en geïrriteerd by die huis in stap, summier hierdie maskers afruk en dan ons mooi maniere by die voordeur los.

Nouja, dit sou ‘n hartseer dag wees as ons nié onsself by ons gesinsmense kon wees nie. Dis immers die een plek waar ons ons skoene pretensieloos mag uitskop. Natuurlik mag ons onsself wees by ons vertrouelinge … so lank gemaklikheid en vertroudheid net nie gepaard gaan met ongeskiktheid, onvriendelikheid en onbeleefdheid nie! Want dit wat ons by ons hartsmense is, is wat ons inderwaarheid régtig is. Wanneer ons die Gees toelaat om opregte en spontane liefde in ons harte kweek, sal ons altyd – ook wanneer ons nie hoef voor te gee nie – met ware integriteit en goedheid teenoor mense leef.

Die uitleef van ons geloof en liefde begin in die kern van ons harte en die beoefening daarvan kristalliseer onder ons binnekringmense. As ons dit dáár kan doen, kan ons dit enige plek doen: maskerloos!

Vader, maak my ‘n integriteitsmens: iemand wat op alle tereinde van my lewe die liefde met passie leef.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Vloeke

Vloeke – Francois Malan

Martin vra:

Ons vraag handel oor bloedlyn vloeke: 1) Waar in die Bybel word daarna verwys 2) Hoe word dit verbreek en is dit Bybels 3) Het Jesus of sy dissipels bloedlyn vloeke gebreek?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Seën en vloek het altyd met God te doen. Dit is Hy wat seën en Hy wat vervloek. In Deuteronomium 27:14-26 word ‘n hele reeks oortredings genoem wat die Here se vloek op die volk sal bring. In hoofstuk 28:1-14 word ‘n lys van seëninge gegee waarmee die Here die mense sal seën wat sy wil doen, en van vers 15-68 al die strawwe waarmee die Here die mense wat nie na Hom luister nie sal straf (vgl. ook Levitikus 26). Gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid bepaal die Here se seën of sy vloek. Die uitwerking van seën of vloek hang van God af. Spreuke 26:3 sê: ‘n vervloeking gaan by jou verby as jy dit nie verdien  nie.

Die seën van die Here beteken Hy met sy genadige en goedgunstigheid by jou teenwoordig is. In die Ou Testament sê die Here: Ek is jou God en jy is my volk vir wie Ek met my krag versterk en beskerm (vgl. sy seën op Abraham in Genesis 12:1-3). In die Nuwe Testament sê Jesus: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld (Matteus 28:20). Hy doen dit deur die Heilige Gees wat in ons kom woon om ons aan Hom te verbind, ons daagliks te lei en te versterk (Johannes 14:15-17; Romeine 8:8-17). En niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie (Romeine 8:31-39).

Die vloek van God beteken dat Hy jou los en jou oorgee aan die krag van sy vloek wat jou ongeluk bewerk (Deuteronomium 28:20; Maleagi 2:2); dat Hy jou oorgee aan jou eie begeertes, aan die drange van jou harte, aan jou skandelike begeertes, om jouself te vernietig (Romeine 1:24-32) omdat jy Hom nie as God eer en dank nie (Romeine 1:18-23). Sy vloek beteken dat jy deur God verlaat word. Maar Paulus sê vir die Korintiërs: So was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van God (1 Kor 6:11). Jesus was aan die kruis deur God verlaat om in ons plek die vloek van God oor ons sonde te dra (Matteus 27:46).

Bloedlyn vloeke – in Eksodus 20:5-6 eis die Here onverdeelde trou aan Hom, maar vir die kinders van die mense wat dit nie doen nie word die sondes van hulle vaders toegereken tot die derde en vierde geslag van die mense wat die Here nie heelhartig liefhet nie. Die onverskilligheid en louheid teenoor die Here is aansteeklik in ‘n familie of in ‘n gemeenskap wat die Here nie van harte liefhet nie. Die kinders volg die pad van hulle ouers, en word dikwels nog erger as hulle ouers. Maar die Here betoon sy liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou. Ook die ouers se opregte toewyding aan die Here en in liefde met mekaar lewe beïnvloed die lewe van hulle kinders om die Here te dien. Die mens wat omdraai en die Here liefhet staan nie langer onder die vloek van die Here nie, maar onder sy liefde. En die Here se seën is duisend maal meer as sy vloek van die derde en vierde geslag van die mense wat nie met Hom rekening hou in hulle lewe en optrede nie.

In Galasiërs 3:8-14 verwys Paulus na God se belofte aan Abraham in Genesis 12:1-3: in jou sal al die nasies geseën word. Dit is dus dié wat in Jesus glo wat saam met die gelowige Abraham geseën word. Maar almal wat staatmaak op hulle onderhouding van die wet, val onder die vloek. Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan geskryf: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is (Deuteronomium 21:23). Daardeur kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof in Christus die Gees ontvang wat God beloof het.

Vir die Korintiërs sê Paulus: As iemand die Here nie liefhet nie – vervloek is hy! Maar die genade van die Here Jesus sal by julle wees (1 Kor. 16:22,23).

 

Skrywer: Prof Francois Malan