Ek hoor stemme

Ek hoor stemme – Kobus Kok

Amelda vra:

Ek wil baie graag weet: ek word tussen 2 en 4 in die oggend wakker maar met ‘n rustige gevoel.  Ek weet dis die Heilige Gees wat my wil laat bid en met Hom praat. Daar is nou paar keer wat ek wakker word, dit voel of iemand hard maar verseker my naam noem. AMELDA!!! Ek het nou al wakker geword en gedink my man roep my maar dan lê hy en slaap. Is dit die Here wat my roep?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Wat om te doen as jy stemme hoor: Is dit die Here?

Prof Kobus Kok

Positiewe kant van die saak

In die antieke tyd het mense ook stemme gehoor en dikwels getuig dat iemand hulle naam roep. Die bekendste voorbeeld is in 1 Sam 3:10 waar die Here herhaaldelik vir Samuel roep en uiteindelik nadat Samuel geantwoord het “Spreek, want u kneg luister”, het die Here met hom gepraat oor Sy plan met die volk Israel en sy rol daarin. Hierdie tipe hoor van stemme word as positief beskou aangesien mense dit interpreteer as die Here se manier om jou aandag te trek en met jou te kommunikeer. In Amelda se geval het die hoor van die stem ‘n positiewe en opbouende uitwerking. Dit veroorsaak nie angs nie, en dit lei tot n oproep om gebed, soos Amelda dit interpreteer.

Negatiewe kant van die saak

Onlangse navorsing aan die Manchester universiteit het aangetoon dat baie mense stemme hoor, maar dat dit net diegene is vir wie dit negatiewe ervarings inhou wat dit rapporteer (http://news.bbc.co.uk/2/hi/health/5346930.stm). In die verlede is die hoor van stemme aan psigologiese patologie verbind. Die nuutste navorsing het aangetoon dat die hoor van stemme nie noodwendig n patologie veronderstel nie. Inteendeel, dit help baie mense om sin te maak van moeilike omstandighede en die verwerking van trauma. Indien die hoor van stemme vir jou n probleem word en met angs geassosieer word, dan moet jy eerder ‘n professionele psigoterapeut gaan sien. Uiteindelik weet mens self, en ook die mense rondom jou wanneer dit tyd is om iemand professioneel te sien.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Laat sy Liefde jou Lei: Ons God breek mure af

Laat sy Liefde jou Lei: Ons God breek mure af – Milanie Vosloo

As iemand wat jou haat, honger is, moet jy hom iets gee om te eet. As hy dors is, gee hom iets om te drink. Die Here sal jou daarvoor vergoed. Spreuke 25:21-22a

Daar is niks wat ons Vader nie kan doen nie, wéét jy en sê jy. En tóg leef jy al vir soveel jare met ‘n muur tussen jou en iemand anders. ‘n Muur wat jy glo onafbreekbaar en onoorkombaar hoog is. Miskien is dit iemand wat jou vreeslik te na gekom het, jou vertroue geskend het, jou bitter seer gemaak het of jou wreed in die steek gelaat het. Dalk is dit iemand wat oor tyd elke greintjie selfvertroue in jou afgebreek het, jou menswees geskaad het of jou op verskillende maniere stukkend gemaak het.

In al hierdie gevalle het jy heelwaarskynlik meer as genoeg rede om woedend teenoor daardie persoon te wees. En God verstaan dit. Hy wéét immers presies waardeur jy gegaan het. Maar jou Vader wil ook baie graag jou hart-van-wrok afbreek omdat Hy weet watter blokkasies hierdie emosies in jou lewe veroorsaak. Miskien moet jy sommer vandag op jou knieё gaan en daardie persoon, wat jou so stukkend gelaat het, onvoorwaardelik vir die Vader gee. Vra dat Hy sy soort vergifnis in jou hart sal sit en die muur van skeiding stukkie vir stukkie sal afbreek.

Bid, gló en weet dat God in staat is om ‘n wonderwerk in jou en ander se harte te laat gebeur.

Vader, maak asb heel daar waar dit by stukkendwees verby is.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Voslloo





Verbonde in die Bybel

Verbonde in die Bybel – Coen Slabber

‘n Verbond is ‘n bindende, formele ooreenkoms tussen twee partye. Dit speel ‘n belangrike rol in die Bybel, want God is dikwels een van hierdie partye. In die Bybel lees ons basies van twee soorte verbonde.

(1) ‘n Verbond tussen mense; en

(2) ‘n Verbond tussen God en mense.

 

I. ‘N VERBOND TUSSEN MENSE

Daar is verskillende voorbeelde van verbonde tussen mense:

(1) ‘n Verbond van vriendskap en lojaliteit. Jonatan en Dawid het ‘n verbond gesluit omdat Jonatan hom liefgekry het soos homself (1 Samuel 18:3). In Hoofstuk 19 lees ons dat Jonatan by Saul, sy vader, pleit dat hy Dawid se lewe moet spaar. Hy waarsku vir Dawid dat Saul hom wil doodmaak.

(2) Die huwelik as verbond. Omdat die Here getuie is tussen jou en jou vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword het, terwyl sy tog jou metgesel is en die vrou van jou verbond (Maleagi 2:14 OAV).

(3) ‘n Verbond met jouself. Ek het ‘n verbond gemaak met my oë: hoe sou ek dan ag gegee het op ‘n jongvrou? (Job 31:1 – OAV). Die Nuwe Vertaling praat van ek het my plegtig verbind.

(4) ‘n Verbond as deel van nasionale politiek. Ons lees in 2 Samuel 5:3 dat die oudstes van Israel na Dawid in Hebron gekom het en koning Dawid het met hulle ‘n verbond gemaak in Hebron voor die aangesig van die Here, en hulle het Dawid as koning oor Israel gesalf (OAV). Die Nuwe Vertaling verwys na ‘n verdrag. Met hierdie verbond onderneem die volk om die koning se gesag te erken en die koning onderneem om volgens die wet van God te regeer.

(5) ‘n Verbond as deel van internasionale politiek. En die Here het aan Salomo wysheid gegee volgens sy belofte, en daar was vrede tussen Hiram en Salomo, en hulle twee het ‘n verbond gemaak (1 Konings 5:12 – OAV). Hiram was die koning van Tirus. Dit stem ooreen met die verdrae wat lande vandag steeds met mekaar aangaan.

‘n Verbond tussen mense is dus ‘n vertrouensraamwerk waarin die verantwoordelikhede van en voordele vir elke party beskryf word.

 

II. ‘N VERBOND TUSSEN GOD EN MENSE

Vir Ou Testamentiese gelowiges was godsdiens die verbond – dit gaan oor trou aan die verbondsverhouding tussen God en die mense/volk wat Hy gekies het. God is dikwels die inisieerder van hierdie verbonde en Hy bind Homself aan die verbond. Kom ons kyk na ‘n paar van hierdie verbonde.

  1. Met Noag

Na die sondvloed bou Noag ‘n altaar vir die Here. Toe sê God vir Noag en sy seuns: Kyk, Ek sluit ‘n verbond met julle en julle nageslag en met al die lewende wesens by julle –  dit sluit voëls en diere in (Genesis 9). God onderneem om nooit weer die mense en diere deur vloedwaters uit te wis nie. Hy gee selfs ‘n teken om hierdie verbond te beseël – die reënboog.

  1. Met Abraham

In Genesis 15 lees ons dat God ‘n verbond met Abra(ha)m sluit. God maak verskeie beloftes, onder andere, dat hy, Abram, ‘n eie nasaat sal hê, dat hy ‘n groot nageslag sal hê, dat God die land Kanaän aan hom sal gee, dat Hy die nasies deur Abraham sal seën. Hy verander sy naam van Abram na Abraham. As deel van die verbond moes elke man besny word. Ons lees van baie voorwaardes wat God vir Homself stel, maar Hy verwag nie veel van Abraham en sy nageslag nie. Paulus sou later hierdie verbond met die konsep van genade verbind.

  1.  Met Moses

Toe die Israeliete by Sinaiberg aankom, het Moses teen die berg uitgeklim. God sê vir hom: As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees (Eksodus 19:5). In hierdie verbond is daar ‘n duidelike verpligting op die volk: hulle moet die wette en voorskrifte wat ons in Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium kry, gehoorsaam. Dit is die voorwaardes waaronder die volk in die beloofde land met God in hulle midde kon leef en sy seën ontvang. Paulus sou later hierdie verbond met die konsep van die wet verbind.

  1. Met Dawid

God sê vir die profeet Natan dat hy vir Dawid moet sê dat sy seun hom sal opvolg. God gaan egter verder: Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan (2 Samuel 7).

  1. ‘n Nuwe verbond

Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ‘n nuwe verbond sal sluit (Jeremia 31). Hierdie keer skryf God nie sy woord op kliptafels nie, maar op die volk se harte. Hy sal dit ook in die volk se gedagtes vaslê. God gaan verder: Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees … Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie. By die instelling van die nagmaal sê Jesus: Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word (Lukas 22:20). Hierdie nuwe verbond is in Jesus Christus vervul.

Die verbond speel ‘n uiters belangrike rol in die Ou Testamentiese verhaal, maar ook verbind dit Ou en Nuwe Testamente. Israel kan nie die bepalings wat ons in God se verbond met Moses kry, nakom nie. Hulle ondervind God se oordeel en word in ballingskap weggevoer.

God in sy genade bly getrou aan sy verbonde met Abraham en Dawid. Dit, ten spyte van Israel se ongehoorsaamheid, is hulle hoop vir die toekoms. Maar met die koms van Jesus word die nuwe verbond van krag: Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees … Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie. Hierdie verbond is beseël met die dood en opstanding van Jesus Christus. Hierdie verbond staan steeds en ons word daaraan herinner as ons die nagmaal vier.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




Die Tien Plae (2)

Die Tien Plae (2) – Coen Slabber

`Science is but one form of rationalism, while religion is the most common form of superstion (Jerry  Coyne – genetikus)

The only difference between The Da Vinci Code and the gospels is that the gospels are ancient fiction while The Da Vinci Code is modern fiction – Richard Dawkins.

Die Bybel en godsdiens is ‘n bygeloof en fiksie. Dit is die siening van twee prominente wetenskaplikes. Een van die redes waarom hulle die Bybel en godsdiens verwerp, is juis oor wonderwerke. Hulle glo dat daar vir alles ‘n rasionele verduideliking moet wees en dat die Bybel se beskrywing van wonderwerke verbeeldingsvlugte is.

Die vraag: Is die tien plae ‘n wonderwerk of is daar natuurlike oorsake wat die plae kan verduidelik? Dit is nie ‘n vergesogte vraag nie. Kyk net ‘n bietjie later in Eksodus: die Israeliete is vasgekeer tussen die Rietsee en farao se leër. Dan lees ons: Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die Here het daardie hele nag die water met ‘n sterk  oostewind weggedryf, sodat die water oopgekloof en die see daar drooggelê is (Eksodus 14:21). Was die tien plae nie net ‘n aantal natuurrampe wat ons gereeld in daardie gebied kry nie? Was dit nie net ‘n jaar van abnormale weersomstandighede nie?

Plaag 1: Water word bloed. Wetenskaplikes kom met verskeie voorstelle na vore om dit te verduidelik:

  • Daar was min reën en daarom was die vlak van die Nyl laag. Die water was modderig – rooi.
  • Daar was abnormaal baie reën en die Nyl was in vloed. Die kleur was rooi as gevolg van die rooi grond wat ons in die Etiopiese hoogland kry en deur die vloed afgespoel is.
  • Dit was die sogenaamde rooigety – toksiese alge in die water wat die water rooi verkleur. Hierdie is nie ‘n ongewone gebeurtenis langs ons eie kus nie. Die gevolg is dat die water ondrinkbaar word en die visse vrek.
  • Daar was ‘n vulkaniese uitbarsting – waarskynlik by Santorini in Griekeland. Die as beland in die rivier en kleur die rivier rooi. Weereens word die water ondrinkbaar en die visse vrek.

Plaag 2: Paddas. Enigiets wat visse laat vrek, sou veroorsaak dat die paddas die rivier verlaat – en vrek. Party wetenskaplikes beweer dat die vrektes onder die paddas die gevolg van inwendige antraks was.

Plaag 3 en 4: Muggies en steekvlieë. Die stinkende dooie paddas lok allerhande insekte soos muggies, vlieë, streekvlieë, vlooie, ens. Hulle is natuurlike draers van allerhande siektes. Paddas beheer ook die insekgetalle – min paddas, baie insekte.

Plaag 5 en 6: Pes onder die vee en swere. Die insekte versprei allerhande siektes onder mense en diere. Die bytplekke van die insekte kan septies word en aanleiding gee tot swere. Ons moet onthou dat daar hope paddas, vullis en selfs rou rioolvuil langs die Nyl was – ‘n ideale broeiplek vir insekte.

Plaag 7: Hael. Alkant van die Nyl is daar die warm, droë woestyn. Dit vorm ‘n soort tregter wat bevorderlik is vir die ontstaan van donderstorms. Dit kan ook wees dat weens die vulkaniese aktiwiteit daar heelwat as en swael in die atmosfeer was. Dit kon die weerpatroon verander het. In Josua 10 lees ons van die oorwinning oor vyf Amoritiese konings. Terwyl hulle op die vlug was vir Israel … het die Here … groot haelstene op hulle laat val. Daar is meer van hulle deur die hael dood as wat deur die Israeliete met die swaard doodgemaak is (vers11).

Plaag 8: Sprinkane. Sprinkaanswerms is nie onbekend in daardie gebied nie. Hulle broei ook uit as die grond nat is.

Plaag 9: Drie dae donker. Bloot as gevolg van hulle getalle kon die sprinkane die land donker gemaak het. Dit was meer waarskynlik dat die gevreesde khamsin – die warm woestynwind wat erge stofstorms, wat dae lank kan duur, veroorsaak – die oorsaak vir die donkerte was. Die donkerte  kan ook die gevolg van vulkaniese as in die lug gewees het.

Plaag 10: Dood van die eersgeborenes. Daar is geen indikasie van watter siekte – indien enige – verantwoordelik was vir die dood van die eersgeborenes nie. Sommige meen dat na die drie dae van donkerte sou, soos dit die gewoonte was, die oudste seun eerste kos gekry het. Weens al die klimaatsversteurings het ‘n fungus in die graan gegroei wat verantwoordelik was vir hulle dood.

Dit alles laat ons met ‘n klomp vrae. Kom ons kyk of ons bevredigende antwoorde kan kry:

(1) Het die plae wel plaasgevind? The Telegraph (27 Maart 2010) plaas ‘n artikel met die opskrif: Biblical Plagues really happened. Daarin sê ‘n aantal wetenskaplikes dat daar bewyse is dat die plae wel plaasgevind het.

(2) Hoekom is die Israeliete gespaar? Die Israeliete het nie in die Nyldelta gewoon nie, maar in die Wadi Tumilat wat oos van die Nyl geleë was. Die farao het dit raakgesien (Eksodus 9:7), maar hy bly onversetlik. In Eksodus 15:26 lees ons: Julle moet goed luister na wat Ek, die Here julle God, sê! Julle moet doen wat reg is in my oë, gehoor gee aan my gebooie en alles doen wat Ek vir julle voorskryf. Dan sal Ek geeneen van die siektes waarmee Ek Egipte getref het, oor julle bring nie, want dit is Ek, die Here wat julle gesond hou. Is dit nie God se voorsiening dat die Israeliete juis daar gewoon het nie?

(3) Was die plae die gevolg van natuurlike oorsake – klimaatverandering en natuurrampe? Daar is drie aspekte wat pla as ons die plae aan natuurlike oorsake wil toeskryf:

  • Die plae was erger as wat die Egiptenare normaalweg ondervind het. So lees ons van die haelstorm: so erg soos dit nog nooit was vandat daar mense in Egipte woon nie (Eksodus 9:24).
  • Die reeks rampe so kort op mekaar. ‘n Mens sou nie sommer tien natuurrampe so kort op mekaar verwag nie.
  • Die tydsberekening – hoekom juis nou? God het vir Moses in die woestyn geroep: Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry (Eksodus 3:10). Hy kom in Egipte aan en gaan sien die farao. Toe die farao weier dat die Israeliete uit die land trek, begin die plae. Die Israeliete het vas geglo dat die plae God se oordeel was – die straf vir ‘n hardkoppige farao.

My gevolgtrekking: God het die plae oor Egipte en die farao gebring. In die proses kon Hy van klimaatstoestande gebruik gemaak het – Hy is immers ook God oor die natuur.

Verwysings:

J. Daniel Hays en J. Scott Duval (redakteurs): The Baker Illustrated Bible Handbook. Baker Books (2011)

Philip W. Comfort en Walter A. Elwell (redakteurs): Tyndale Bible Dictionary . Tyndale House Publishers (2001)

 

Skrywer: Dr Coen Slabber