Die Tien Plae (1)

Die Tien Plae (1) – Coen Slabber

Die plae het in die lente of vroeë somer van ongeveer 1400 vC plaasgevind. (Daar is sekere teoloë wat ‘n heelwat later datum voorstel – ongeveer 1200 vC.). Dit was in die Nyldelta gekonsentreer. Wat ons wel weet, was dat die plae baie erg was. So lees ons van die sewende plaag – hael – so erg soos dit nog nooit was vandat daar mense in Egipte woon nie (Eksodus 9:24). Daar is ook onsekerheid van hoe ver uitmekaar die plae was. Daar mag selfs ‘n paar maande tussen plae verloop het.

Ons lees van die eerste plaag – die water van die Nyl wat bloed geword het – in Eksodus 7:14 en van die laaste plaag – die dood van die eersgeborenes – in Eksodus 13:30. Daarna laat die farao die Israeliete wegtrek uit Egipte. In Psalm 78:44 – 51 lees ons ook van die plae. Net ses plae word daar genoem en die volgorde verskil ook van dié in Eksodus. [Ook in Psalm 105:28 – 36 lees ons van die plae.]

Watter teologiese betekenis het die tien plae? Hoekom nou juis tien plae? Hoekom het God nou juis plae gestuur – God kon mos in sy almag die Israeliete sonder enige ophef verlos het? Die antwoord kry ons in Eksodus 9:15 – 16. Die Here gee aan Moses ‘n opdrag wat hy aan die farao moes oordra: Na regte moes Ek nou al my hand uitgesteek het en jou en jou mense met ‘n pes van die aarde af uitgewis het. Daar is net een rede waarom Ek jou nog laat lewe, en dit is dat Ek jou my mag kan wys en my Naam daardeur oor die hele wêreld geroem kan word. God probeer nie die farao oortuig dat sy teenstand tevergeefs is nie, maar deur ‘n lang proses wys God vir hom dat God se mag sterker is as dié van die farao en al sy gode.

Dit is ook nie ‘n toets van die farao se uithouvermoë nie. Reeds na die tweede plaag was die farao bereid dat die volk kan gaan. (Hy het wel later sy besluit verander.) Na die sesde, agste en negende plae lees ons dat dit die Here is wat die farao steeds koppig laat bly het. Farao is bereid om die handdoek in te gooi, maar God wil voortgaan – Hy wil hê die mense moet besef dat hy nie net die God van die Hebreeuse slawe is nie, maar die God van die hele wêreld – ook van Egipte.

Die godsdienstige betekenis van die tien gebooie weerspieël elemente van die Egiptiese godedom in die sin dat God telkens teenoor een van die Egiptiese gode te staan kom en elke keer seëvier:

  • Die Nyl is verpersoonlik en gesien as ‘n god – Hapi. Deur die water in bloed te verander oorweldig die God van Israel Egipte se god wat lewe bring.
  • Die god Hept word afgebeeld as ‘n padda. Hy was die god van vrugbaarheid  en kindergeboorte. Farao het vroeër probeer om die getal Israeliete te beperk deur die Hebreeuse vroedvroue opdrag te gee om alle seuntjies onmiddellik na geboorte dood te maak. Daarna beveel die farao dat elke pasgebore seuntjie in die Nyl gegooi moet word. Nou gaan die paddas dood!
  • Ra was die songod – ‘n belangrike god in Egipte. Die negende plaag – drie dae donker – was nie net ongemaklik nie, maar ook ‘n bewys dat Israel se God groter as Egipte se songod was.
  • Hat-hot was in die vorm van ‘n vers en Apis in die vorm van ‘n bul. Die vyfde plaag – pes onder die vee – het weereens bewys dat Israel se God groter was as die Egiptiese gode.
  • Die farao is self as ‘n god beskou.

Dit is duidelik dat Israel se God groter was as al die gode van Egipte.

Israel se God kon ook die elemente beheer. Die farao se towenaars kon wel die eerste twee plae nadoen. Hulle kon ook hulle kieries in slange verander – al vreet die slang uit Aäron se kierie hulle slange op. Maar verder as die tweede plaag kom hulle nie. God, daarenteen, het die hele skeppingsorde tot sy beskikking om Israel te verlos.

Ons het reeds gelees dat die farao se hart verhard het. Hoe gebeur dit?

  1. Maar Ek sal die farao hardkoppig maak (7:3) – God maak hom hardkoppig.
  2. Die Here het vir Moses gesê: ‘Die farao bly onversetlik, hy hou aan weier om die volk te laat trek’ (7:14). Ons kan dit as ‘n neutrale stelling sien.
  3. Maar toe die farao sien dat daar verligting gekom het, het hy weer onversetlik geword (8:15). Hier is dit nie God wat hom hardkoppig maak nie – dit is die farao self wat hom verset.

In Romeine 9:18 sê Paulus: Dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil.

Die farao se reaksie op die plae is baie interessant – hy probeer met God onderhandel. Julle moet die Here bid dat Hy die paddas van my en my mense af wegvat. Dan sal ek die volk laat gaan dat hulle vir die Here kan gaan offer (8:8). Toe daar verligting kom, word die farao weer hardkoppig. Nou kom ‘n klein toegewing: Julle kan vir julle God gaan offer, maar hier in dié land (8:25). Later maak hy nog ‘n toegewing: Net die mans gaan! (10:11). Na die negende plaag nog verdere onderhandelinge: Julle vrouens en kinders kan saamgaan, maar julle kleinvee en julle grootvee moet hier agterbly (10:24). Na die tiende plaag besef die farao dat jy nie met God kan onderhandel nie: Gee pad onder my mense uit, julle twee en al die ander Israeliete! Gaan dien die Here soos julle gevra het! Vat julle kleinvee en julle grootvee soos julle gevra het, en trek! (12:31 – 32). ‘n Mens, nie eers die farao van op daardie stadium die magtigste land in die wêreld, kan met God onderhandel nie.

As kinders het ons geleer van die tien plae. ‘n Indrukwekkende storie … niks meer nie. Kyk ons egter van nader is daar heelwat lesse wat ons kan leer. In hierdie kort oorsig het ons ‘n paar van hierdie lesse uitgelig:

(a) God gebruik die plae om die farao, en vir ons, te oortuig dat sy mag alle magte op aarde oortref. Hy is sterker as die Egiptiese afgode; Hy is sterker as ons afgode soos geld, besittings, status, ens.

(b) God kan die elemente van die natuur beheer.

(c) Ons kan nie met God onderhandel nie.

Ons sit egter voor ‘n probleem: Daar is baie wetenskaplikes wat die hele idee van wonderwerke verwerp – jy kan alles aan natuurlike oorsake toeskryf. Geld dit ook vir die plae? Is die plae ‘n reeks natuurrampe wat “toevallig” op daardie stadium plaasgevind het? Kan ons die plae met ons rede verduidelik? In ‘n volgende artikel gaan ons daarna kyk

Verwysings:

J. Daniel Hays en J. Scott Duval (redakteurs): The Baker Illustrated Bible Handbook. Baker Books (2011)

Philip W. Comfort en Walter A. Elwell (redakteurs): Tyndale Bible Dictionary . Tyndale House Publishers (2001)

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




Salwing van jou huis

Salwing van jou huis – Kobus Kok

Sonja Pretorius vra: 

Ek het opgelees oor julle antwoorde oor salwing, maar ek bly nog steeds ‘n vraag hê. Wat beteken as iemand ‘n huis salf met gebed en olie gebruik? Kan enige iemand dit doen? Hoekom word dit gedoen? As jy die kind van die Here is en jy vertrou Hom waarom twyfel jy oor die seëninge van die Here oor jou en vir wie jy bid?

Antwoord

 

Prof Kobus Kok antwoord:

Ek stem saam dat geloof en vertroue in die Here nie plek moet maak vir ‘n soort bygelowigheid waar salwing met olie gebed of vertroue vervang nie. Baie mense dink dat indien hulle hulle huis, hond, kar of wat ook al salf, een of ander geestelike lagie van beskerming oor hulle sal wees. Dit kom neer op ‘n magiese of bygelowige aanwending van rituele. Die punt is dat die krag nie in die salwingsolie lê nie, maar in God. Die olie is net die teken wat jou daaraan behoort te herinner. Daarom kan mense maar hulle huis of hond salf, so lank hulle net nie dink die salwing het een of ander geheime of bonatuurlike krag nie. Indien hulle wel salwing sien as iets wat so ekstra beskermingslagie verseker, maak hulle hulle eintlik skuldig aan heidense denke. Die Jode het profete gesalf en selfs hulle huise, maar dit was ‘n teken wat heengewys het na die geestelike waarheid wat God aan hulle wou kommunikeer en is ‘n sigbare teken wat hulle daaraan sou herinner.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Baie Wonings

Baie Wonings – Francois Malan

Jan Smith vra: 

In Johannes 14 sê Jesus dat daar in die huis van Sy Vader baie wonings is en dat Hy gaan om vir hulle plek te berei. As Hy klaar is, sal Hy terugkom en hulle kom haal sodat hulle kan wees waar Hy is. Maar in vers 18 sê Hy: Ek kom weer na julle toe. En dan in vers 23: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak”. Vraag: Hoe gaan Hy weg om vir hulle ‘n plek te berei en dan kom “Ons” Hy en die Vader om by hom wat hulle liefhet woning te maak?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord: 

Jesus was self ontsteld toe Hy die kruispad begin het (Joh 12:27) en aan die verraad van Judas gedink het (Joh 13:21). In die lig van Petrus se verloëning wat Jesus voorspel het (13:36-38), wat gaan van die twaalf word as Jesus aan die kruis hang?  Daarom waarsku Hy hulle vooraf in 14:1 om nie ontsteld te word oor wat nou met Hom gaan gebeur nie, maar om aan te hou om op God te vertrou, en om aan te hou om in Jesus te glo as die Gesalfde/die Christus, die Seun van God en Seun van die mens wat aan die kruis sterf – Abraham se soort geloof word van hulle gevra: wat teen alle hoop in, steeds in hoop geglo het (Romeine 4:18 NAV: toe daar geen hoop meer was nie, het Abrahm nog gehoop en geglo)

Die hoofrede waarom hulle moet bly glo in die gekruisigde Jesus word gegee met die beskrywing van die groot huis van sy Vader, ‘n beeldende beskrywing van die ewigheid saam met God, van die hemel (14:2); die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem (Hebreërs 12:22); die nuwe Jerusalem van Openbaring 21:9-22:5; ons vaste woning deur God gebou wat ewig bly staan as ons aardse tentwoning afgebreek word (2 Korintiërs 5:1). Die ewige woning bestaan reeds, maar Jesus gaan vir sy volgelinge plek berei, om dit vir ons moontlik te maak om daar te gaan bly, deur sy sterwe aan die kruis, waaroor Hy juis in hoofstukke 12-14:1 met sy dissipels gepraat het, en sy opwekking uit die dood, wat voor die deur staan, en sy verhoging aan die regterhand van God, waar Hy nou vir ons pleit (Romeine 8:34).

As Hy weer kom om te oordeel, sal Hy ons saam met Hom neem na sy huis toe, sodat ons saam met Hom sal wees waar Hy is (14:3), in die woning van sy Vader waar daar baie woonplek is. Met die beeld van die woonplek verwys Johannes na die lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel vir ons in bewaring gehou word, waarvan 1 Petrus 1:3-4 praat. Openbaring 21:1-8 praat van die nuwe hemel en die nuwe aarde. Vgl. Matteus 25:31-40 dat Jesus in majesteit sal kom en vir sy skape sal sê: Kom julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit.

Johannes 14:23 beloof dat die Vader en Jesus na dié mens toe sal kom wat vir Jesus liefhet en lewe volgens sy woord (14:15), en hulle sal by hom woon. Die wyse waarop dit gebeur is reeds in 14:16-17 uitgespel. Deur die inwoning van die Heilige Gees in die gelowige, woon die Vader en die Seun in ons. Die Gees van God bly by ons en in ons vir ewig as ons Helper. In 14:26 word verduidelik dat die Vader die Gees in die Naam van Jesus stuur, as Jesus se verteenwoordiger,  om ons alles te leer en te herinner wat Hy vir sy dissipels gesê het, en wat vir ons in die Bybel opgeteken is (so het Jesus ook in die Naam van die Vader gekom as sy verteenwoordiger; 5:43).

In 15:26 sê Jesus: die Gees van die waarheid sal van Hom getuig. Daarvoor gebruik die Gees die dissipels om van Jesus te getuig, en hulle getuienis is in die Bybel opgeneem. Maar word verder gedra deur die lewe en getuienis van elke gelowige volgeling van Jesus. Hy maak ons verstand oop om te verstaan wat Jesus deur sy dissipels aan ons oorgedra het: Jesus se woorde en dade, van sy dood en opstanding, en die betekenis daarvan te begryp.

In 16:7-15 brei Jesus verder uit op die werk waarvoor Hy die Heilige Gees na en in ons stuur: om die wêreld te oortuig van hulle sonde teen God en teen mekaar, van Christus wat die verhouding tussen ons en God kom regmaak het deur sy offer aan die kruis, en van oordeel oor die wat nie in Christus glo nie. Hy skep ook die geloof in ons dat Jesus die Seun van God is wat vir ons gesterf en opgestaan het, en verbind ons aan Hom as ons Verlosser en Leier (Handelinge 5:31-32). Hy maak van ons kinders van God (Romeine 8:9-17).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Laat sy Liefde jou Lei: Die “lewe” dryf soms die liefde weg!

Laat sy Liefde jou Lei: Die “lewe” dryf soms die liefde weg! – Milanie Vosloo

“Wees julle dan volkome in die liefde, soos julle hemelse Vader volkome in sý liefde is…” Matteus 5:48a

God het jou al telkemale gewys dat jy iets moet doen. In jou hart is jy oortuig daarvan dat Hy jou op ‘n besondere manier vir ‘n baie spesifieke taak wil gebruik. Maar jy kom jy nie daarby uit nie, omdat die “lewe” – dit wat jy elke dag moet doen – jou eenvoudig nie die tyd géé om dit te doen nie. Jy is waarskynlik só besig met die dringende dinge van die lewe, dat jy nooit by die belangrike dinge uitkom nie.

Natuurlik is daar verpligtinge waarvan ons nie kan wegkom nie, maar die feit is ook dat, as ons nie tyd vir die belangrike dinge in ons lewens máák nie, ons dit nooit sal doen nie. En heelwaarskynlik altyd onvervuld sal voel. Aan die ander kant leer die Skrif ons dat wanneer ons gehoorsaam aan sy stem is, die lig vir ons sal deurbreek. Hy wat jou red, sal voor jou uit gaan, die heerlikheid van die Here sal jou van agter beskerm. Jesaja 58:8b

Moenie toelaat dat die lewe en sy elke dag se doen-lysies in die plek staan van dié belangrike dinge waarvoor jy geroep is nie!

Neem vandag nog die dagboek van jou lewe in oёnskou en bid dat die Gees van God jou sal wys hoe jy die tyd kan maak om te doen wat jou hart voel om te doen.

Heilige God, maak my volkome in die rol wat U vir my beplan het.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo