Kan Christene mediteer?

Kan Christene mediteer? Kobus Kok

Jackie vra:

Maak meditasie deel uit van die Christelike geloof? 

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Kan Christene Mediteer?

Meditasie is nie net ‘n heidense gebruik nie, maar kom van die vroegste tye af alreeds in die Christelike geloof voor. Die woord meditasie is afgelei van die Latynse woord meditari/meditatio en beteken “om na te dink, oordink, gefokusde nadenke, ens”. Reeds in die Ou Testament kom die gedagte na vore dat gelowiges die Woord moet oordink, en die Hebreeuse woord hāgâ (Hebreeus: הגה) druk hierdie gedagte uit. Die Latynse weergawe van die Ou Testament het die Hebreeuse woord  hāgâ met meditatio vertaal.

Die verskil tussen die heidense gebruike en die Christelike meditasie is dat die Christen nie dieselfde fisiese bewegings en posture aanwend nie, en dat die inhoud van nadenke die Skrif is. Mens moet versigtig wees om nie sommer net Oosterse meditasie tegnieke aan te wend en te versmelt met Christelike meditasiepraktyke nie. Ander geloofstradisies moet nooit die unieke aard van die Christendom verduister nie. Tegnieke wat opbouende bydrae tot die unieke aard van die Christelike geloof kan lewer, kan aangewend word. Christelike meditasie behels die nadenke aangaande die Skrif. Wat mens byvoorbeeld kan doen is om ‘n Bybelse vers of die Onse Vader oor en oor op te sê. Indien mens dit doen, fokus mens op elke liewe woord en die betekenis daarvan. Hierdie gebruik kan baie opbouend vir die geloofslewe wees.

So vroeg as die sesde eeu het Benedictiniaanse monnike meditasie in die vorm van die Lectio Divina beoefen. In die vroeë middeleeue het Guigo II die proses van meditasie vir Christene beskryf as lectio (om die Bybel te lees), meditatio (meditasie/herhaling), oratio (gebed) en contemplatio  (nadink). Ander Christelike leiers wat meditasie beklemtoon het was Ignatius van Loyola en Teresa van Avila (lg in 16de eeu).

Indien Christene vandag gefokus nadink oor die Skrif, kan dit heilsaam en opbouend wees op geestelike en selfs fisiese vlak. Onlangse studies in die neurowetenskappe het die positiewe effek van meditasie uitgewys en aangetoon dat dit op fisiologiese vlak bloeddruk en stresvlakke verlaag. Gebed is ook God se gawe aan die mens. Luther was bekend daarvoor dat wanneer hy baie werksdruk gehad het, hy meer gebid en gemediteer het op die Woord. Gebed en meditasie kan jou lewensuitkyk vernuwe en jou die geskenk van nuwe geestelike lewenskrag skenk. 

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




‘n Dronkaard

‘n Dronkaard – Francois Malan

Andre vra:

Waneer word iemand as n dronkaard gesien?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

‘n Dronkaard is ‘n persoon wat aan sterk drank verslaaf is, wat gereeld te veel alkohol inneem.

Iemand wat ‘n onbeheerbare begeerte na alkohol het, is ‘n kroniese alkoholis. As sy begeerte na drank geprikkel word, begin hy aanmekaar en te veel drink. Sy liggaam word so gewoond aan alkohol dat hy verslaaf raak aan alkohol.

Party kroniese alkoholiste kan vir ‘n rukkie ophou, en as hulle weer begin, drink hulle vir tye aanmekaar. Gereelde kroniese alkoholiste drink elke dag te veel alkohol.

Alkohol benewel en verdof die brein. Die eerste effek daarvan is die verlaging van ‘n mens se oordeelsvermoë, die onderdrukking van selfkritiek en van inhibisies wat van kleins af aangeleer is. Die verlies van hierdie beheer veroorsaak ‘n gevoel van opwinding.

As daar verder gedrink word, word die aandag en konsentrasievermoë al swakker, bewussyn van die omgewing word gedemp en vaag, ko-ordinasie van spiere verslap en die drinker val aan die slaap.

Verdere alkohol-inname affekteer die asemhalingstelsel, hartklop en bloeddruk, en as daar nie medies ingegryp word nie, lei asemhalingsstilstand en skok tot die dood.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Vryspraak en verlos

Vryspraak en verlos – Jan van der Watt

Andre vra:

Romeine 10:10: As jy glo spreek God jou vry, met mond bely word jy verlos. Vraag 1) is vryspreek en verlos nie dieselfde ding nie.2)Sominge predikers verkondig dat dit nie genoeg is om in jou binneste saam te stem/te aanvaar/te glo nie, jy moet dit spreek. Woorde het krag, Jesus het gespreek, sonder spreek kom niks tot realisering nie?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

In Rom 10:10 word twee sake parallel gestel op ‘n tipiese Joodse manier. Die 1953 vertaling wat nader aan die Grieks is as die 1983 vertaling sê:

met die hart           glo ons          tot geregtigheid en

met die mond        bely ons        tot redding

Dit beteken nie dat die sake soos geregtigheid en redding teenoor mekaar staan nie, maar dat dieselfde saak op twee maniere gestel word, wat mekaar natuurlik so ‘n bietjie aanvul ook.

Geregtigheid (dat jy regverdig verklaar is deur God en jou verhouding met Hom herstel is) is een manier waarop Paulus redding beskryf. Hy beskryf redding ook met ander beelde of terme soos loskoping of versoening. ‘Redding’ sou mens kon sê, is ’n breër term waarvan ‘geregtigheid ’n deel is.

Wat die verwysings na die hart en mond betref is daar ook ’n direkte verband. ‘Hart’ in die   Bybel is wat ons vandag ons ‘verstand’ of mentale vermoëns sou noem. Die persoon glo dus bewustelik met sy verstand in Jesus en sy boodskap; dan praat hy of sy daaroor met die mond. Dit is eintlik so iets soos ‘waar die hart van vol is, loop die mond van oor’; jy kan nie stilbly oor dit wat jy glo nie.

Ek is nie seker wat die konteks van die predikers is wat sê dat jy moet praat ook nie. Paulus sê dat as jy regtig glo jy dit nie binne sal hou nie, maar daaroor sal getuig, juis omdat dit vir jou so belangrik is. As die predikers egter bedoel (soos ek al gehoor het) dat die geloof nie eg is as jy nie heeltyd daaroor praat nie, is hulle nie reg nie. Dit is nie wat hier gesê word nie. Hier word die praat nie as voorwaarde vir die redding gestel nie, maar as deel van een proses wat by jou oortuiging in Jesus begin en maak dat jy ook graag daaroor sal wil praat.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Wedergeboorte en Bekering

Wedergeboorte en Bekering – Francois Malan

Vraag 

Jackie vra: 

Wat is die verskil tussen wedergeboorte en bekering?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Wedergeboorte is die nuwe lewe wat God in die hart van die uitverkore sondaar begin. Dit is nie ‘n geboorte wat uit die mens kom nie, maar uit God:

Johannes 1:13 uit God gebore;

Johannes 3:3,7 gebore van bo-af;

Johannes 3:6,8 gebore uit die Gees;

Jakobus 1:18  God het ons deur die woord van die waarheid voortgebring;

1 Johannes 5:11 God het ons die ewige lewe gegee, en die lewe is in sy Seun;

1 Petrus 1:23 julle is weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike,

deur die lewende en blywende woord van God;

Titus 3:4-7 maar toe die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens

verskyn, nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie,

maar volgens sy eie ontferming, het Hy ons gered deur die reiniging van die

weergeboorte en die vernuwing van die Heilige Gees, wat Hy oorvloedig op ons

uitgestort het deur Jesus Christus ons Verlosser, sodat ons as geregverdigdes deur

sy genade, erfgename geword het in vertroue op die ewige lewe;

1 Petrus 1:3 deur die groot barmhartigheid van God, die Vader van ons Here Jesus

Christus, het Hy ons weergebore laat word tot ‘n lewende hoop deur die

opstanding van Jesus Christus uit die dood tot ‘n onverganklike onbesmette en

onverwelklike erfenis wat in die hemel vir ons bewaar word.

In die Bybel is weergeboorte nooit ‘n opdrag aan die mens nie. Dit is die werk van die Heilige Gees, wat die woord van God gebruik om ons te oortuig van ons sonde en van verlossing deur Jesus (Johannes 16:7-11), om van ons kinders van God te maak (Romeine 8:15-17. Dit is ‘n geboorte van bo-af (Johannes 3:3). Daarmee word ons in Christus opgeneem as deel van sy opgestane liggaam. Dit is ‘n proses wat deur ons hele lewe werk om ons al meer soos Christus te maak (2 Korintiërs 3:18). Deur die werking van die Heilige Gees in ons word ons verstand verlig om God se wil en sy woord beter te verstaan (Efesiërs 1:18), ons hart/denke word vernuwe (2 Korintiërs 4:16; Efesiërs 4:23; Kolossense 3:10), ons wil word verander en ons gevoel gereinig, ‘n totale lewensvernuwing waarmee die Heilige Gees met ons begin (Efesiërs 4:23,24).

Die herskepping van die hemel en die aarde word in Matteus 19:28 ook as ‘n wedergeboorte beskryf.

Bekering is die mens se hartlike leedwese oor en totale breuk met sy sondige lewe en die begin van ‘n nuwe lewe, uit opregte liefde vir God. Soos wat die Heilige Gees ons oortuig van sonde, van Jesus se geregtigheid waarmee Hy ons aan God verbind, word ons ingeskakel by die werk van die Gees in ons. Dit begin by berou oor my sonde, die omdraai weg van die sonde af en na God toe. Dit is ‘n aanneem van die verlossing wat Jesus vir my bewerk het, en my oorgawe om Hom te volg as my Leidsman. Bekering begin een dag maar word voortgesit dwarsdeur my lewe.

In die oorspronklike Grieks word drie woorde vir bekering gebruik:

Die eerste een metanoia (letterlik: ‘n verandering van jou gees) verwys na ‘n verandering van lewe as gevolg van ‘n totale verandering van denke en gesindheid oor sonde en geregtigheid. Alle sonde is sonde teen God en sy wil en sy gebod van liefde, wat Hy as riglyne vir ons lewe gee.

Geregtigheid is die regmaak van die verhouding tussen ons en God, om van ons God se kinders te maak wat in lewe sy gesin van dié mense wat in Jesus Christus glo, onder sy liefdevolle sorg en wyse leiding (vgl. bv. Matteus 3:2; 4:17; 11:20,21; Markus 1:15; 6:12; Lukas 15:7; Handelinge 2:38; 8:22; Romeine 2:4).

Die tweede en derde woorde, strefomai en epistrefo, beteken om om te draai:

Dit verwys ook na ‘n verandering van jou geloof en opinie van die waarheid, met die fokus op

dit waarnatoe jy draai – omdraai na, tot geloof kom (in Christus), tot aanvaarding kom;

Maar dit verwys veral na ‘n verandering van jou manier van lewe, met die implikasie van omdraai na God toe, doen soos Hy sê (vgl. bv . Matteus  13:15; 18:3; Markus 4:12; Lukas 1:16,17; 17:4; 22:32;  Johannes 12:40; Handelinge 3:19; 9:35; 11:21; 14:15; 15:19; 26:18,20; 28:27; 1 Tessalonisense 1:9; 1 Petrus 2:25).

Waar wedergeboorte totaal God se werk in my is, is bekering my reaksie daarop en my daaglikse verantwoordelikheid daarvoor, onder die leiding en met die krag van die Gees van God, volgens die woord van God.

 

Skrywer: Prof Francois Malan