Die doodsengel

Die doodsengel – Francois Malan

Jenni vra: 

Is die doodsengel van Satan of God af? Kom die doodsengel net vir mense wat hel toe gaan?

Antwoord:

 

Prof Francois Malan antwoord:

Die woord engel beteken ‘boodskapper’ of ‘verteenwoordiger’.  Die doodsengel is ‘n manier om te sê dat God iemand uit die lewe kom haal, almal, nie net die wat hel toe gaan nie. Toe die arm Lasarus gesterf het, het die engele hom weggedra na die ereplek langs Abraham (Lukas 16:22).

Die dood is die straf van God oor die sonde van die mens (Genesis 2:17; Romeine 6:23). Alle mense is sondaars voor God (Prediker 7:20; Ps 14:2,3; 53:3,4; Romeine 3:10-19). ‘n Mens is bestem om net eenmaal te sterwe, en daarna kom die oordeel (Hebreërs 9:27; 1 Korintiërs 15:22). Vir die gelowige het die dood egter ‘n deurgang geword tot die lewe saam met Christus (1 Korintiërs 15:22; vgl. Filippense 1:23). Toe God die Satan toegelaat het om Job te teister, het Hy beveel: ‘Net sy lewe mag jy nie wegneem nie’ (Job 2:6). Die doodsengel kom nie van Satan af nie.

In Genesis 19:1 word vertel van die twee engele wat God gestuur het om Sodom en Gomorra uit te wis oor hulle sonde.

In Eksodus 12:12-13 sê die Here dat Hyself in Egipte elke eersgeborene gaan doodmaak, maar waar die bloed aan die deurkosyne gesmeer is, sal Hy die huis oorslaan.

Volgens Numeri 22:33 sou die Engel van die Here vir Bileam doodgemaak het as die donkie nie telkens uitgedraai het nie.

In 2 Samuel 24:16 stuur die Here pes onder die volk en word 70,000 deur die engel van die Here doodgemaak as straf op Dawid se volkstelling (vgl. 1 Kronieke 21:15,16).

Volgens 2 Kronieke 32:21 stuur die Here ‘n engel om die Assiriërs rondom Jerusalem dood te maak

In Matteus 13:39-42 sê Jesus dat die Seun van die mens sy engele sal stuur om almal wat die wet van God oortree in die brandende oond te gooi.

In Matteus 25:42 sê Jesus dat die vuur van hel vir die duiwel en sy engele voorberei is (deur God) en vir die mense wat nie vir Jesus volg nie.

In Handelinge 12:23 is dit die engel van die Here wat Herodes tref sodat die wurms hom verteer en hy sterf omdat hy dink hy is God.

Die dood kom na alle mense. Die wat die Here Jesus volg gaan na Hom toe, die wat Hom ongehoorsaam is word veroordeel tot die tweede dood (Openbaring 20:11-15; 21:8;  dit is die hel, die plek waar God straf, ook vir die duiwel Openbaring 20:10). Paulus sê: op die oordeelsdag sal God sy regverdige oordeel uitspreek, Hy sal elkeen vergeld volgens sy dade: aan dié wat in goeddoen volhard en op dié manier soek na wat verhewe, eervol en onsterflik is, gee Hy die ewige lewe, maar aan dié wat uit selfsug ongehoorsaam is aan die waarheid en toegee aan die ongeregtigheid, straf Hy in sy toorn (Romeine 2:6-8).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Johannes die Doper se doop

Johannes die Doper se doop – Coen Slabber

Christene beskou die dooppraktyk van Johannes die Doper as die voorloper van die Christelike doop. Hulle het dieselfde terminologie gebruik en dieselfde doel (die vergewing van sondes) gehad. Dit is juis hierdie kenmerkende praktyk wat aan Johannes sy naam gegee het: Doper of die een wat ondergedompel het.

Johannes se doop en die Joodse reinigingsprosedures het basies dieselfde tema gehad: reiniging. Soos die profete het Johannes reinheid met geestelike reiniging verbind. [Was julle, reinig julle. Moenie voor My verskyn as julle verkeerd doen nie. Hou op met kwaad doen – Jesaja 1:16; Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van julle afgodery – Esegiël 36:25] Johannes se doop was baie sterk aan bekering gekoppel (Markus 1:4; Lukas 3:3; Handelinge 13:24, 19:4). Hierdie selfde band kry ons ook by die Christelike doop: Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word (Handelinge 2:38).

Wat Johannes se doop van die Joodse reinheidspraktyke onderskei het, was dat dit ‘n unieke, eenmalige ritueel was en nie gereeld herhaal is nie. Die betekenis wat hy aan die doop gegee het – bekering en vergifnis – was ook uniek. In sy doop kry ons ook die aankondiging van die Messiaanse eindtyd: Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met ‘n onblusbare vuur verbrand (Matteus 3:12).

Hoe het Johannes gedoop? Ons kan aflei dat dit deur onderdompeling was, maar hoe dit gedoen is, weet ons nie. Ons lees in Markus 1:10 dat Jesus uit die water gekom het wat op onderdompeling mag dui. Die feit dat Johannes by die Jordaan-rivier gedoop het, impliseer dat hy baie water nodig gehad het om te doop. Toe Johannes by Enon gedoop het, lees ons waar daar baie water was (Johannes 3:23). Die Joodse praktyk was self onderdompeling – jy het self onder die water gegaan. In Johannes se doop het die persoon hom nie self gedoop nie. Johannes doen dus iets anders as wat die Jode gedoen het.

Sy oproep vir bekering was om die mense voor te berei vir God se oordeel wat sou kom. Die uitgangspunt van Johannes se doop was bekering; die doel van sy doop was die vergifnis van sonde. Waar Johannes se doop van dié van Christene verskil, was dat dit ‘n belydenis van sonde en nie van geloof was nie. In die Christelike doop word die naam van Jesus ook bygevoeg en ons kry ook die belofte van die Heilige Gees wat ons nie by Johannes kry nie. Hoekom die verandering? Ons weet nie maar moontlik is die idee dat jy nie jouself kan reinig nie.

Kom ons kyk wat sê die evangelies:

Markus 1:2 – 8 is kort, maar maak al die noodsaaklike punte: Johannes was die stem in die woestyn wat uitroep en die pad vir die Here gereed maak; hy het ‘n asketiese leefstyl gevolg; groot getalle het gekom om deur hom gedoop te word; sy doop gaan gepaard met bekering, belydenis en vergifnis van sonde; hy kondig aan dat die Messias sou kom en met die Heilige Gees sou doop. Vir Markus begin die verhaal van Jesus Christus by die bediening van Johannes die Doper. Vir die Jode is vergifnis iets wat deur die offers by die tempel verkry is – nie deur doop nie.

In Matteus 3:1 – 12 was Johannes se boodskap bekeer julle. Dit was dringend, want die koninkryk van die hemel het naby gekom. Hy waarsku die Jode dat die feit  dat hulle Abraham as voorvader het hulle nie sal red nie. God se oordeel sal diegene tref wat nie vrugte dra wat bewys dat hulle bekeer is nie. Bekering vereis resultate – vrugte. Johannes doop hulle omdat julle julle bekeer het en hulle hulle sondes bely het. Die doop was ‘n voorbereiding vir die koms van die Here – Johannes se meerdere en die Een wat met die Heilige Gees en met vuur sou doop. Vuur verwys gewoonlik na oordeel en straf, maar ook na reiniging. Hierdie was dit die vuur van die eindtyd wat die goddeloses sou vernietig. Die regverdiges (die koring) sal in God se skuur bymekaar gemaak word.

Lukas 3:1 – 20 kom in baie opsigte ooreen met die beskrywing in Matteus – dit is net meer uitgebreid. Hierdie uitbreiding is veral ten opsigte van die opdragte wat Johannes aan die skare, die tollenaars en die soldate gee. Dit beskryf in werklikheid die vrugte wat bewys dat julle bekeer is. Bekering sluit dus ‘n sekere leefwyse in. Lukas sê niks van Johannes se kleredrag en dieet nie. Hy verwys na die skare as julle slange. Johannes word hier beskryf as die brug tussen die oue (die wet en die profete) en die nuwe (die goeie nuus van die koninkryk van God). Lukas verwys later na Jesus se verwysing na Johannes (7:28 – 30): Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter as Johannes is nie. Jesus beklemtoon die belang van die doop.

Johannes (1:19 – 37)  fokus  sy beskrywing op Johannes se getuienis van Jesus. Toe die Fariseërs vir Johannes vra waarom hy doop, antwoord hy hulle: Ek doop met water, maar tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. Dit is Hy wat na my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie. In 1:33 lees ons dat Hy met die Heilige Gees doop. Johannes se doop openbaar die Seun van God – Johannes moes van Hom getuig. Uit die woordewisseling tussen Johannes se volgelinge en ‘n Jood (3:25) is dit duidelik dat Johannes se doop verskil van die doop van die Jode.


Wat is die betekenis van Johannes se doop?

(1) Dit dui op die wegdraai van die ou weg na ‘n nuwe lewensweg.

(2) Dit bemiddel goddelike vergifnis.

(3) Dit reinig van onreinheid – ritueel en moreel.

(4) Dit is ‘n voorafskaduwee van die verwagte Messias.

(5) Dit is die inisiëring van die “ware” Israel – die nuwe mense van God.

(6) Dit was ‘n protes teen die tempel establishment deurdat dit ‘n alternatiewe manier van vergifnis van sonde aanbied.

 

Dit bring ons by ‘n belangrike vraag: Waarom is Jesus deur Johannes gedoop? Daaroor skryf ons volgende keer.


Bibliografie

Ferguson, Everett (2009): Baptism in the Early Church. William B. Eerdmans Publishing Company.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




Laat sy Liefde jou Lei: Gehoorsaamheid bring seёn

Laat sy Liefde jou Lei: Gehoorsaamheid bring seёn – Milanie Voloo

“Die dag wanneer dit gebeur, sê die Here, sal Ek jou vereer, Serubbabel, my dienskneg. Ek sal jou beskou soos ‘n seёlring aan my vinger, sê die Here. Ek sal dit doen omdat Ek jou gekies het. Ek, die magtige Here, sê dit!” Haggai 2:23

Die Bybel draai nie doekies om oor gehoorsaamheid nie.

Net so duidelik as wat God sê dat Hy ongehoorsaamheid sal straf, net so onomwonde verklaar Hy vele kere dat gehoorsaamheid aan Hom seёn in ons lewens tot gevolg het. En ons Vader wíl ons hê dat ons op alle terreine van ons lewens vervulling, geluk en seёn sal ervaar.

Jy hoef nooit aan God se liefde vir jou te twyfel nie. Selfs nie wanneer jy ongehoorsaam was nie. Maar onthou ook dat ons deur ongehoorsaamheid die gevaar loop om ‘n groot deel van die genadeseёn wat Hy vir ons beplan het, mis te loop. Dis by dié besef wat ons ook soos Koos du Plessis wil sing: “Laat my nooit die grond verlaat nie … laat my in u skadu bly … elke afdraaipaadjie ken ek … elke keer het U my iewers kom haal … maak dit Heer die laaste maal …”.

Verklaar vandag weer jou afhanklikheid, gehoorsaamheid en gewilligheid aan dié God wat net die beste vir jou beplan het en dit graag vir jou wil gee. Sê sommer nou: “Ek het U lief, Here, en wil daarom doen wat U vra.”

Dankie Bruidegom-van-my-hart, dat ek u seёlring-bruid is en dat U my met u liefdeseёn wil bederf.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Die Hel

Die Hel – Francois Malan

‘n Leser vra: 

Bestaan die hel regtig of beteken dit net dat jy gaan doodgaan en nie die ewige lewe hê nie. M.a.w. is daar regtig ‘n vuur waarin mense gaan brand vir ewig?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die Bybelse woord vir hel is gehenna, wat afstam van die Hebreeuse woord gehinnoom die dal van Hinnom aan die Suid-Ooste van die stad Jerusalem. Onder konings Agas en Manasse het hulle die afgod Molog hier gedien vir wie hulle babatjies geoffer het deur hulle op die vuurwarm uitgestrekte arms van die beeld te sit om te verbrand (2 Konings 16:3; 21:6; 2 Kron.28:3; 33:6). Die vroom koning Josia het dié plek daarom verwoes en onrein verklaar (2 Kon. 23:10), vgl. ook Jeremia 7:31 en 32:35  se hoogte van Tofet in die Ben-Hinnomdal. Later word dit die stad se ashoop waar dooie diere en mense wat tot die dood veroordeel is se lyke kon vrot en verbrand word.

Die dal van Hinnom het toe die simbool en die profesie geword van die ewige plek van smart, die ewige strafplek van die goddelose na die oordeelsdag. Dit word met verskillende woorde in die Bybel aangedui: die brandende oond waarin hulle sal huil en op hulle tande kners (Mat.13:42,50); die hel waarin goddeloses gegooi word (Mat.5:29,30; 10:28); die vuurpoel wat met swael brand, waarin die satan en sy engele en die goddeloses gegooi word (Openb.19:20); daar brand ‘n onuitbluslike/ewige vuur (Mat.18:8; Mark.9:43,44,48 waar die wurms nie doodgaan en die vuur nie uitgeblus word nie); ‘n ewige straf/pyniging (Mat.25:46); ewige verdoemenis geban uit die teenwoordigheid van die Here (2 Tes 1:9); die diepste duisternis daarbuite (Mat 8:12); onder die toorn van God met lyding en benoudheid (Rom 2:5-9); dood en verderf (Gal.6:8); die ondergang (1 Tes 5:3).

Vuur word dikwels geassosieer met die voltrekking van God se oordeel (Openb. 1:14; 2:18; 4:5; 14:18; 16:8; 18:8; 19:12; 20:9,14,15). Swael is ‘n soort asfalt wat in vulkaniese uitbarstings voorkom. Brandende swael skep die dodelike gas swaeldioksied. Dit dra by tot die intensiteit van die beeldspraak (9:17-18; 19:20; 20:10).

Openbaring 14:9-11 waarsku dié mense wat die dier en sy beeld aanbid dat hulle met vuur en swael gepynig sal word en dag en nag geen rus sal ken nie tot in alle ewigheid, as beeld van God se oordeelsvoltreking wat vir ewig duur. Uit liefde waarsku God die mense en nooi hulle ernstig om hulle te bekeer.

Oor die laaste oordeel sê Openbaring 20:14-15 dat die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi word, en noem die vuurpoel die tweede dood. En as daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

As die laaste van sewe uitsprake van God self in Openb. 21:5-8 sê Hy daar wag vir die goddeloses die ewige straf in die poel wat met vuur en swael brand en word ‘n lys van sondes opgenoem wat ‘n opsomming is van die aanklagstaat wat aandui waarom die goddeloses die tweede dood verdien.

Vuur is ‘n beeld van verskrikking, maar kan nie die werklikheid van die straf van God genoegsaam uitdruk nie. Hoe die ewige dood/straf/oordeel van God sal wees, weet ons nie, net so min as wat ons weet hoe die ewige lewe saam met God gaan wees. Maar met die beeld van ‘n ewige vuur of ewige duisternis waarsku Jesus en die Heilige Gees deur die skrywers van die Bybel dat dit erg en vir ewig sal wees vir hulle wat nie die verlossing deur Jesus wil aanvaar nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan