13:42 Die vorige verse dui nie aan wat die mense se reaksie op Paulus se prediking was nie, maar vers 42 wys egter dat daar groot belangstelling onder die singogegangers was. ‘Toe hulle uitgegaan het (uit die sinagoge) het hulle daarop aangedring dat hulle die volgende Sabbat (weer) oor die dinge toegespreek word.’ Die mense wil nog ’n keer en meer oor die dinge weet wat Paulus aan hulle meegedeel het oor Jesus, sy opstanding, die vergifnis van hulle sonde en die regmaak van hulle verhouding met God (13:37-39).
13:43 Benewens die gemeente se versoek oor die volgende Sabbat, was daar ’n groot groep wat ná die sinagogediens (letterlik na die sinagogediens verdaag/opgebreek het) saam met Paulus en Barnabas gegaan het (letterlik: hulle gevolg het). Die groep het bestaan uit baie Jode en godsdienstige proseliete. Paulus en Barnabas het hulle toegespreek en was besig om hulle te oortuig om in die genade van God te bly leef. Cháris ‘genade’ verwys hier na God se onverdiende genadige goedgesindheid, vriendelikheid en liefde wat Hy aanbied. Dit het God bewys met Jesus se liefdesoffer aan die kruis vir die sonde van die wêreld, en dat God mense wat in Jesus as die Seun van God glo, aanneem as sy kinders. Die oproep om in God se genade te bly lewe, impliseer dat die mense wat vir Paulus en Barnabas ná die diens gevolg het, reeds begin glo het in Jesus as hulle Verlosser, deur die oortuigingswerk van die Heilige Gees in hulle harte.
13:44 Uit die groot skare van byna die hele stad wat vir die volgende sinagogeprediking opgedaag het, is dit duidelik dat die groep wat vir Paulus en Barnabas ná die vorige Sabbatdiens gevolg het en van die ander sinagogegangers, vir hulle familie en vriende in die stad vertel het van die goeie boodskap wat hulle gehoor het. Die groot groep wat bygekom het was duidelik meestal heidene, want die meeste Jode en proseliete was reeds die vorige Sabbat daar. So werk die Here nie net deur die apostels nie, maar deur al die gelowiges.
13:45 Toe die Jode egter die skare heidene sien wat daar in die sinagoge saamgedrom het om na die woord van God te luister, was hulle met afguns vervul. Hulle was gegrief oor die oorname van hulle sinagoge deur die massa heidene en jaloers op Paulus wat so ’n groot skare getrek het (vgl. Rom 11:11,14: die verlossing het na die nie-Jode gekom om die Jode jaloers te maak sodat sommige van hulle tot verlossing kan kom). Hulle het die evangelie wat Paulus aan die gehoor verkondig het, teengespreek.
Paulus se prediking het gegaan oor die Jode wat Jesus onskuldig laat doodmaak het (13:28), dat God Hom egter uit die dood opgewek het (13:30), dat vergewing van hulle sondes deur Jesus verkondig word (13:38); dat elkeen wat in Jesus glo se verhouding tot God deur Jesus reggemaak word. Dit terwyl alles wat hulle volgens die wet van Moses doen, soos dit hier in die sinagoge verkondig word, hulle nie voor God regverdig kan maak nie (13:39-40). Paulus verwerp die boodskap wat die Jode al vir eeue glo, ten spyte van die profete se uitsprake oor ’n Messias wat kom ly om ons sonde te dra (Jes 53:4-5,8). Paulus stel Jesus voor as die Verlosser van die wêreld, ook van die heidene. Die Jode se teenspreking van Paulus se boodskap was ’n voortgaande belastering van Paulus en Jesus, en dit omdat Paulus vir Jesus verkondig as God wat sondes vergewe. Vir die Jode was dit die hoogste vorm van godslastering dat iemand homself met God gelykstel (vgl. Lev 24:16 gebied die doodstraf vir wie die Naam van die Here oneerbiedig gebruik; Luk 5:21: die skrifkenners en Fariseërs veroordeel Jesus wat vir die verlamde man gesê het sy sondes is vergewe; Matt 26:65: Jesus word weens godslastering tot die dood veroordeel omdat Hy gesê het Hy gaan aan die regterhand van God sit).
13:46 Paulus en Barnabas het egter met vrymoedigheid openlik voor die hele stad se mense gesê: ‘Dit was nodig om die woord van God eerste aan julle Jode te verkondig’ want God het sy verbondsbeloftes aan Israel nie vergeet nie (so het Petrus ook gesê volgens Hand 3:26). Dit het Barnabas en Saulus ook in die Joodse sinagoges in Salamis gedoen (Hand 13:5; vgl. Rom 1:16; 2:9-10; 3:1). Maar hierdie bevoorregting het die Jode verspeel deur te weier om na die evangelie te luister (apōthéomai weier om te luister, verwerp). Daarmee het hulle Hom, Jesus as hulle Verlosser verwerp en hulleself onwaardig vir die ewige lewe veroordeel. [Die ryk maghebber het vir Jesus gevra wat hy moet doen sodat hy die ewige lewe kan beërf. Jesus se antwoord was ‘Volg My!’ om in die bedeling wat kom die ewige lewe te ontvang (Luk 18:18,22,30)]. Die Jode soek om die ewige lewe met wetswerke te verkry. Maar hulle het God se woord dat dit deur Jesus bewerk is, verwerp. Omdat hulle Jesus verwerp het, sê Paulus en Barnabas: ‘Kyk! Ons draai ons weg (van julle in Antiogië se sinagoge, en gaan) na die heidene.’
13:47 Die rede waarom hulle na die heidene toe gaan word verduidelik met ’n aanhaling uit Jesaja oor die dienaar van die Here, wat hulle toepas as die Here se opdrag aan hulle twee apostels (vgl Jes 49:6: ‘Ek het jou aangewys as ’n lig vir die nasies dat jy tot verlossing kan wees tot aan die uiteindes van die aarde’). Die Here het immers vir Paulus gesê: ‘Gaan, want Ek wil jou ver weg stuur na die heidene’ (Hand 22:21).
Die ou Simeon by die tempel het God geloof met ’n aanhaling van dieselfde teks uit Jesaja, wat hy vervul gesien het in die baba Jesus wat hy in sy arms geneem het (Lukas 2:30-32). Dié Here vir wie Simeon in sy arms geneem het, het nou dat Hy die Jesaja-profesie vervul het (Joh 8:12 ‘Ek is die lig vir die wêreld’), die verdere uitvoering daarvan opgedra aan die twee apostels wat die boodskap oor die ware lig wat elke mens verlig (Joh 1:9) moet uitdra na die nasies. Dié Jesus het ook aan sy dissipels gesê: ‘Julle is die lig vir die wêreld,’ soos ’n lamp op ’n staander wat almal in die huis verlig, deurdat hulle goeie werke deur die mense gesien kan word, en hulle Vader wat in die hemel is, kan verheerlik (Matt 5:14-16; vgl. 2 Kor 4:3-6).
Die opdrag aan die dienaar van die Here in Jesaja om ’n lig vir die nasies te wees, word hier deur die Here self aan sy volgelinge opgedra om die lig vir die heidene en die heil vir die wêreld te wees. Die wêreldwye sendingopdrag van Jesaja 46 word deur die opgestane Jesus, wat sy verlossingswerk uit die hemel voortsit, aan sy boodskappers opgedra. Hulle tree op namens hulle Here: 2 Kor 5:20-21: ‘Ons tree dan op as gesante ter wille van Christus asof God self deur ons ’n beroep op julle doen. Ons pleit by julle, om Christus ontwil: Laat julle met God versoen! Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God ter wille van ons, sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God regverdig (vrygespreek) kon word.’
13:48 Toe die groot skare heidene van die stad wat daar in die sinagoge was, hoor dat die lig van God ook vir die nie-Jode (ta ethnê heidene/ nie-Jode) bedoel is, was hulle baie bly en het hulle die Here geloof (doksázō prys, verheerlik), hulle het uitgejubel dat die woord van God wonderlik is! Hulle jubel is die uiterlike teken dat hulle die woord oor die Here Jesus se verlossing aangeneem het. Dit is die enigste teks in die Bybel wat vertel van jubeling oor die woord van die Here. Diegene van hulle, wat deur God vir die ewige lewe aangewys is (vgl. Hand 2:39: almal wat die Here ons God na Hom toe roep), het gelowig geword. Gelowiges word deel van die opstandingslewe van Christus. Die bestemming deur God is deur Jesus beklemtoon, volgens Johannes 6:37 ‘Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom;’ Joh 6:44 ‘Niemand kan na My kom as die Vader hom nie na My toe trek nie;’ Joh 6:65 ‘Niemand kan na My toe kom as dit nie deur die Vader aan hom gegee is nie;’ Joh 10:29 ‘Die Vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie;’ Joh 17:6-7 ‘Ek het U Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord gehoorsaam.’ So skryf Paulus ook in sy brief aan die Romeine in Rom 8:29-30.
13:49 Die woord van die Here – oor Jesus se opstanding, vergifnis van sonde en die ewige lewe wat verkry word deur verbondenheid aan Jesus – het deur die hele landstreek rondom Antiogië versprei (diafero om iets deur ’n gebied te dra). Die gelowiges het draers van die goeie boodskap in hulle omgewing geword. So het die Here die mense van die omgewing na Hom toe gelei.
13:50 Teenoor die verspreiding van die goeie nuus word die afguns en woede van die Jode groter en organiseer hulle teen die uitbreiding van die evangelie. Hulle het gesiene godsdienstige vroue opgerui, waarskynlik godvresende en proseliete vroue in die sinagoge en ook ander belangrike mans, leier-mans van die stad. Saam het hulle ’n vervolging teen Paulus en Barnabas begin en hulle uit die gebied verdryf.
13:51 Volgens Lukas 9:5 het Jesus aan die twaalf apostels wat Hy uitgestuur het om die koninkryk van God te verkondig en siekes gesond te maak, opdrag gegee: ‘Wie ook al julle nie verwelkom nie – wanneer julle daardie dorp verlaat, skud die stof van julle voete af as getuienis teen hulle,’ vgl. ook Lukas 10:10-12. Paulus en Barnabas doen dit so toe hulle Antiogië verlaat en na Ikonium vertrek. Hulle gebaar was teen die Jode en leiersfigure van die stad gemik. Met hulle terugreis gaan hulle weer by Antiogië aan om die dissipels van Jesus daar te versterk, vir hulle ouderlinge te laat kies deur die gemeente se opsteek van hande, en die ouderlinge ná gebed en vas aan die Here op te dra (Hand 14:21-23).
Ikonium lê ongeveer 140 km van Antiogië af op die grootpad, die Via Sebaste (die pad van die keiser), die pad deur die provinsie Pisidië wat keiser Augustus in 6 v.C. laat maak het om die vrede in die provinsie te beskerm teen die Taurus stamme. Die mense in Ikonium het Frigies gepraat. Die stad was op die karavaanroetes (o.a. na die Eufraat). Die mense van verskillende tale in die Romeinse ryk het met mekaar in Grieks gekommunikeer. Alexander die Grote het in 300 v.C. die hele wêreld van Griekeland tot in Indië oorwin en vergrieks. Die algemene (koinê) Grieks is die taal van die Nuwe Testament. [Ikonium is die huidige Konya in Turkye, wat die sentrum is van Islam se Derwishers, wat materiële armoede, liefde en diens verkondig, en met swaaiende danse in lang jurke in ’n beswyming raak om God te bereik.]
13;52 Die dissipels wat agtergebly het in Antiogië, die jong gemeente, is egter met vreugde oor die evangelie vervul, en is vervul met die Heilige Gees; hulle het hulle aan die leiding en versterking deur die Heilige Gees oorgegee. Hulle gaan vreugdevol voort sonder die leiding van die apostels, omdat die Heilige Gees hulle lei.
Lukas het die optrede van Paulus in die sinagoge in Antiogië breedvoerig beskryf, wat nie elders gedoen word nie. Lukas het daarmee ’n voorbeeld gegee van Paulus se gewone prediking aan Jode in die sinagoges waar hy gekom het. Ook die optrede van die Jode is tipies van wat telkens gebeur met Paulus se prediking in die sinagoges; hulle verwerp Jesus as die Christus. Dan gaan Paulus met die evangelie na die heidene. Die kerk word deur Jesus gelei om van ’n Joodse kerk soos dit in Jerusalem begin het, na ’n wêreldkerk vir alle volke en tale en nasies te ontwikkel (Dan 7:14).
Skrywer: Prof Francois Malan