Kan ek iemand hof toe vat?

Kan ek iemand hof toe vat? – Francois Malan

‘n Leser vra:

Help asb. Waar in die Bybel staan dit dat jy iemand mag hof toe vat? En is dit die regte ding om te doen?

Hy gee verdere agtergrondinligting:

 

Buitestanders verstaan nie altyd waaroor dit gaan nie en vorm baie gou hulle eie opinies en gevolgtrekkings wanneer hulle na ander se moeilikheid/situasies luister.

Dit is met kommentaar wat aan my gelewer is dat ek navraag gedoen het. Die stelling wat aan my gestel was,  is:  ” Daar staan nêrens in die Bybel dat jy ‘n man moet hof toe neem nie!”

Nou-ja hiermee so vinnige agtergrond net ter inligting.

Ek is ‘n minderheidsaandeelhouer in ‘n Christelike Spysenieringsmaatskappy waar die meerderheids- aandeelhouers geld uit en deur die besigheid vir hulle eie gewin gebruik…

Ek het nog geen dividende in 11 jaar ontvang nie en kon geen positiewe reaksie uit hulle kry rondom dit nie…hulle weier om nou enigsins om met my te kommunikeer en het my salaris sowel as voordele stop gesit Ek het nou twee sake aanhangig gemaak nl. 1 . CCMA wat ek op 10 Feb bywoon en dan 2. Hofsaak waar ek nou ‘n hofbevel aansoek loods.

Kan jy dit glo na 18jaar saam met hulle. Ek weet hulle speel vir tyd sodat ‘n mens belangstelling verloor en ook nie meer geld het om hulle aan te vat nie, so dus korrespondeer hulle glad nie met my of my prokureurs nie.

Ek hoop dat dit vir julle van insig kan wees, want ek glo nie enigiemand kan God se naam vir sy eie gewin gebruik en daarmee wegkom nie.

Antwoord 

Prof Francois Malan antwoord:

Waar in die Bybel staan dit dat jy iemand mag hof toe vat? Ek is bevrees dit staan nie in die Bybel nie.

In 1 Kor.6:1-11 behandel Paulus die geval in die gemeente van Korinte waar een gelowige ‘n ander gelowige hof toe vat om voor heidense regters sy reg te gaan soek. Paulus verwys die gelowiges na die gemeente om ‘n verstandige mens onder hulle te laat reg spreek tussen die gelowiges wat geskille het oor alledaagse dinge (die dinge van hierdie lewe, in die lig van die toekomstige hemelse dinge), om so tot versoening te kom.

Hy betreur dat dat daar nog hofsake tussen gelowiges is, en wys die gemeente op ‘n ander manier van lewe:

Vir die mense wat hulle mede-gelowiges aankla vra hy waarom hulle nie liewer onreg ly en hulle tekort laat doen nie (letterlik: hulle laat berowe of bedrieg nie).

Vir die mense wat hulle mede-gelowiges onreg aandoen en beroof/bedrieg waarsku hy dat die wat onreg doen geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie.

In Romeine 12:9-21 beskryf Paulus hoe gelowiges uit liefde moet lewe, o.a. om nie kwaad met kwaad te vergeld nie, maar die kwaad te oorwin deur die goeie; om nie self wraak te neem nie, maar die oordeel aan God oor te laat, Hy sal vergeld.

Die pad wat Jesus in Matteus 18:15-35 voorgehou het vir die gelowiges is ook nie om hof toe te gaan nie. Hy sê: As jou broer verkeerd opgetree het teen jou (letterlik: teen jou gesondig het, dit wil sê: opgetree het teen die wil en wet van God, wat o.a. sê: jy mag nie steel nie), gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy broer teruggewen. Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word. En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as ‘n heiden en ‘n tollenaar behandel. Dit kan beteken dat hy uit die hemel uitgesluit word. Maar ons word geroep om mekaar van harte te vergewe in die lig van die groot vergifnis wat Christus vir ons berei het aan die kruis en waarin ons lewe.

Ek is bevrees ons ekonomiese lewe volg nie die pad van die Bybel nie; nie met die wyse waarop broers ‘n mede-broer kul en selfs sy salaris ontneem nie; nie met die wyse waarop ons die probleme hof toe vat om mekaar daar by te kom nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Johannes die Doper

Johannes die Doper – Coen Slabber

Die evangelie volgens Lukas is ons enigste bron oor die geboorte en kinderjare van Johannes. Hy is gebore in die bergstreek van Juda (Lukas 1:39). Sy vader was ‘n priester (Sagaria) en sy moeder was Elisabet, ‘n afstammeling van Aäron. Beide ouers was getrou aan die wet van God en het onberispelik al die gebooie en voorskrifte van die Here onderhou (1:6). Sy geboorte word deur ‘n engel in die tempel aan Sagaria aangekondig. Vir Elisabet, wat onvrugbaar was, was dit die antwoord op haar gebede. Die engel sê ook vir Sagaria dat hy die seuntjie Johannes moes noem.  Reeds voor sy geboorte kondig die engel aan dat hy ‘n volk vir die Here sal voorberei (1:17). Elisabet word as ‘n bloedverwant van Maria beskryf (1:36).

Van Johannes se kinderjare weet ons baie min. Die kindjie het opgegroei en sterk geword deur die Gees en het in die woestyn gebly tot op die dag van sy openbare verskyning in Israel (1:80). Die Evangelie volgens Markus begin nie met die geboorteverhaal van Jesus nie. Dit begin met die optrede van Johannes die Doper – die man wat die pad vir die Here gereed moes maak (Markus 1:3). Markus sê dat hy in die woestyn opgetree het en ongewone klere gedra het.

Jesus verwys na hom as Elia wat reeds gekom het (Markus 9:11 – 13). Hierdie verwagting kry ons reeds in Maleagi 4:5 – 6: Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur voordat die dag van die Here kom, die groot, die verskriklike dag. Elia sal vaders en kinders met mekaar versoen sodat Ek nie hoef te kom en die land heeltemal vernietig nie. Jesus ben Sirag, ‘n wysgeer, getuig ook van hierdie verwagting: Die Ou Testament sê die Here het ‘n tyd bepaal wanneer jy (Elia) weer die mense sal kom waarsku en jy sal die Here se woede en straf kom keer. Jy sal ouers en kinders versoen en die stamme van Jakob weer herstel (48:10).

Johannes trek ook aan op ‘n manier wat aan Elia herinner: klere van kameelhaar met ‘n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe (Markus 1:6). Net soos Elia moeilikheid met die koning se vrou (Isebel) gehad het, het Johannes ook moeilikheid met Herodes se vrou – Herodias.

Maar wie het Johannes gedink  is hy? Ek is nie die Christus nie (Johannes 1:20). Toe hulle aandring om te weet wie hy is, sê hy: Ek is die een wat in die woestyn roep: Maak die pad vir die Here reguit. Dit is soos die profeet Jesaja gesê het.

Die openbare bediening van Jesus en dié van Johannes die Doper verloop naby mekaar in die evangelies. Van Johannes se volgelinge het nie besef dat hy die “voorloper” van Jesus was nie. In Handelinge 19:1 – 5 kom Paulus op ‘n groepie gelowiges af. Hy wil by hulle weet of hulle al die Heilige Gees ontvang het. Toe hulle ontkennend geantwoord het, vra hy vir hulle watter soort doop hulle ontvang het. Hulle antwoord hom: Die doop van Johannes.

Wat was die betekenis van Johannes se bediening? Johannes het die mense in die Jordaanrivier gedoop. Reiniging deur water was ‘n belangrike deel van die alledaagse lewe van die Jode. In baie huise was daar ‘n mikveh – ‘n klein klipbad uitgekap in die grond. Mense het in die poel geklim, is ondergedompel in die water en as hulle uitkom, was hulle rein. Ook op die tempelterrein was daar poele vir die reiniging van diegene wat die heilige plekke moes binnegaan.

‘n Mens kan Johannes se doop sien as ‘n rituele voorbereiding vir die verskyning van die Here. Saam met die belydenis van hulle sonde en bekering, is Johannes se doop gesien as voorbereiding vir die Een wat na my kom … my meerdere. [‘n Volgende artikel gaan meer volledig na Johannes se doop kyk.]

In die Christelike tradisie word Johannes  as ‘n voorganger gesien – die boodskapper wat vooruit gestuur is en wat die pad vir die Here gereed en reguit maak. Lukas (3:1 – 17) brei verder uit op Johannes se bediening. Die boodskap wat Johannes verkondig het, het uit drie elemente bestaan:

(1) ‘n Waarskuwing van ‘n naderende  oordeel deur die Een wat kom.

(2) Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe.

(3) ‘n Oproep dat hulle hulle bekering in ‘n konkrete etiese manier moet uitleef – hulle moes met mekaar deel.

Markus beskryf die dood van Johannes in besonderhede (6:17 – 29). Herodes neem Johannes gevangene op aandrang van sy vrou, Herodias. Dit was omdat Johannes Herodes berispe het omdat hy met haar getrou het: U mag nie u broer se vrou vat nie. Een aand, tydens ‘n feesmaal, dans die dogter van Herodias vir Herodes en sy gaste. Herodes sê vir haar: ”Vra my net wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee. Hy beloof dit onder eed. Haar versoek: Die kop van Johannes die Doper. Johannes is onthoof.

In Markus 3:6 lees ons dat die Fariseërs en Herodiane ‘n komplot teen Jesus gesmee het om Hom om die lewe te bring. Herodes was baie onseker oor wie hierdie Jesus was: Johannes is uit die dood opgewek, is een van die moontlikhede (Lukas 9:7). Dit lyk asof die lot van die voorganger ‘n voorafskaduwing van die bestemming van Jesus was.

In ‘n volgende artikel gaan ons na die doop van Johannes die Doper kyk.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




Laat sy Liefde jou Lei: Leef binne sy goedgesindheid

Laat sy Liefde jou Lei: Leef binne sy goedgesindheid – Milanie Vosloo

Maar die Here was Noag goedgesind. Genesis 6:8

Wonder jy soms of jy God reg hoor? Ja, om ons Vader te gehoorsaam, is nie altyd maklik nie. Want soms vra Hy van ons dinge wat vir ons menslike verstandjies glad nie sin maak nie. Ander kere weer klink die taak wat Hy op ons skouers lê, vir ons hopeloos te groot en eenvoudig onmoontlik.

Ek is seker Noag was ook in groot vertwyfeling oor die Here se vreemde opdrag om ‘n reuse boot op kurkdroё grond te bou. Om nog boonop die verantwoordelikheid te neem om elke spesie van die diereryk op die ark te laai, kon hom maklik in vertwyfeling gelaat het. Tóg lees ons in Genesis 6:22 dat Noag presies gemaak het soos God hom beveel het. En die uiteinde? Die mensdom word uitgewis terwyl hy en sy gesin wonderbaarlik gespaar word.

Miskien het die Vader ook al vreemde opdragte aan jou gegee. Dalk is jy juis nou in ‘n fase waarin jy wonder wat God se wil oor ‘n bepaalde situasie is. Weet dan, jou Vader verstaan sy kinders se menslike vertwyfeling, maar Hy weet ook soveel meer: Hy weet presies wat vir ons, ander en sy koninkryk die heel beste is.

Bid dat die Gees jou hart wawyd oop sal maak vir sy stem, vra dat jy rég sal hoor en smeek Hom veral om jou onwrikbaar gehoorsaam te maak. Só leef jy binne God se wonderlike goedgesindheid en seёn.

Here, help my om te doen … selfs wanneer ek nie verstaan nie.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Die Joodse Raad

Die Joodse Raad – Coen Slabber

Die Joodse Raad 

[Hierdie Raad staan ook as die Sanhedrin bekend. Dit is afgelei van die Grieks sun = saam + hedra = sitplek.]

Die Joodse Raad was die Joodse geregshof in Jerusalem oor godsdienstige sake en het uit 71 lede bestaan. Veral in die lydensverhale lees ons baie van hierdie Raad, want dit was die liggaam wat Jesus verhoor het. In Handelinge was dit die hof wat die groeiende Christelike kerk ondersoek en vervolg het.

In die Ou Testament lees ons van vergaderings van die leiers van Israel (1 Konings 8:1). Hierdie was waarskynlik informele vergaderings. Die Raad het waarskynlik sy oorsprong in die tyd na die ballingskap. Daar was nie ‘n koning nie en die ou heersende families word toe die basis van gesag. In Esra 5:5 lees ons van die Judese leiers. Die Raad wat ontstaan het, het waarskynlik uit die adel en die priesterlike aristokrasie bestaan. Hulle invloed was betekenisvol omdat die Perse heelwat vryheid aan hulle toegestaan het. Daar was ‘n goewerneur wat verseker het dat die belange van die buitelandse heersers beskerm word, maar oor binnelandse sake was die hoëpriester die belangrikste gesag.

Met die koms van die Grieke (vierde eeu vC) het Hellenistiese stede gewoonlik ‘n demokratiese vergadering en ‘n raad gehad. Jerusalem het so ‘n raad gehad – die Gerousia. In die eerste eeu vC het die spanning tussen Fariseërs en Sadduseërs gedreig om die volk te skeur. Die raad ondergaan toe ‘n verandering. Fariseërs en skrifgeleerdes word nou ook nou deel van die raad. Die raad bestaan nou uit adellikes aan die een kant en Fariseërs aan die ander kant.

Die Romeine het die Raad behou, maar die perke van sy jurisdiksie duidelik afgebaken. Nadat die Jode hulle onafhanklikheid verloor het, het die Raad baie van sy wetgewende en politieke mag verloor. Rome was nou die werklike mag, want hy het die leiers aangestel. So het Herodes die Grote baie van die lede van die Raad tereggestel. Rome se verteenwoordigers het die hoëpriesters aangestel. Van 6 – 36 nC het hulle selfs die ampsgewaad van die hoëpriester in die Burg Antonia bewaar.

Na die oorlog van 70 nC verdwyn die laaste oorblyfsels van Joodse outonomie. Die Raad kom weer in Jamnia bymekaar, maar sy mag was bloot teoreties – hulle het godsdienstige sake hanteer. Die Romeine het hulle nie veel aan die Raad gesteur nie. Die byeenkoms by Jamnia was belangrik, want daar is besluit wat normatief en wat dwaalleer was.

Ons weet nie hoe lede tot die Raad verkies is nie. Die Raad was nie demokraties verkies nie.  Waarskynlik is aanstellings gemaak vanuit die geledere van die priesters, die skrifgeleerdes en die adel. Daar was 71 lede verdeel in drie kategorieë:

  1. Die hoëpriesters. Hulle was Sadduseërs en die magtigste persone in die Raad. Sommige navorsers glo daar was ‘n uitvoerende raad bestaande uit tien persone. Een was die bevelvoerder van die tempelwag (Handelinge 5:24 – 26). Daar was ook ‘n “tesourier” wat die inkomste van die priesters beheer het. Hy het ook die groot hoeveelhede geld wat ingekom het, beheer. Die inkomste van die tempel was offers en belasting. Kajafas was hoëpriester tydens Jesus se verhoor voor die Raad. Ananias was hoëpriester toe Paulus voor die Joodse Raad verskyn het (Handelinge 23:2).
  2. Die ouderlinge. Hierdie groep verteenwoordig die priesterlike en finansiële aristokrasie van Judea. Ons lees dat Josef van Arimatea ‘n vooraanstaande lid van die Joodse Raad was (Markus 15:43). Hierdie groep het baie van die idees van die Sadduseërs ondersteun.
  3. Die skrifgeleerdes. Hulle was meestal Fariseërs. Ons kan hulle as professionele advokate beskryf, want hulle is opgelei in teologie, filosofie en regskunde. Hulle was in gildes wat bekende leermeesters gevolg het, georganiseer. Een so ‘n persoon was die bekende Gamaliël (Handelinge 5:34). Hy was die man wat Paulus onderrig het.

Toe Jesus geleef het, was die Raad se jurisdiksie beperk tot Judea. Die invloed van die Raad is egter ook in Galilea en selfs Damaskus gevoel. So lees ons dat Saulus bekendstellingsbriewe van die hoëpriester aan die sinagoges in Damaskus gehad het toe hy daarheen gegaan het om aanhangers van die leer van die Here … gevange te neem (Handelinge 9:2). Die Raad het as arbiter opgetree as daar onenigheid was oor die interpretasie van die Joodse wet. Die Raad se besluit was finaal. Teen Jesus en Stefanus was die aanklag dat hulle dwaalleer verkondig het. Die Raad het sy eie “geregsdienaars” gehad wat mense kon arresteer.

Dit is onseker of die Raad die mag gehad het om die doodsvonnis uit te spreek en te voltrek. In die geval van Jesus moes sy saak na Pilatus verwys word, want slegs hy kon die doodsvonnis voltrek. In die geval van Stefanus is hy egter gestenig sonder dat ons lees dat sy saak na die Romeinse owerheid verwys is.

Die Raad se formele prosedures het voorsiening gemaak vir ‘n regverdige verhoor – ten spyte van al die onreëlmatighede tydens Jesus se verhoor. In die Misjna lees ons van sekere riglyne. Die lede het in halfmaanvormige rye gesit soda hulle mekaar kon sien. Twee klerke het op die punte van die rye gesit. Hulle het notas geneem en die stemme getel en neergeskryf. Daar was drie rye studente (dissipels van belangrike skrifgeleerdes) wat met hulle gesigte na die Raad gesit het. Die beskuldigde het voor die Raad gestaan. Hy het ‘n swart kleed gedra en sy hare was deurmekaar – tekens van nederigheid. Na sy ondervraging is hy verskoon en die besprekings was privaat.

Indien die persoon van ‘n halsmisdaad aangekla word, het die verdediging eerste sy saak gestel en eers daarna is die beskuldigings gemaak. Studente kon net vir, maar nooit teen die beskuldigde praat nie. Tydens die stemming moes lede opstaan om te stem. Daar is altyd by die jongste lid begin. Die beskuldigde kon met ‘n meerderheid van ‘n enkel stem vrygestel word. As hy egter skuldig bevind word, moed die meerderheid twee stemme gewees het.

In gevalle waar die doodstraf nie ter sprake was nie, was die verhoor tydens die dag en die vonnis kon enige tyd uitgereik word. In gevalle waar die doodstraf wel ter sprake was, moes die verhoor en die uitspraak gedurende die dag geskied. In hierdie gevalle is die vonnis vir ‘n dag uitgestel, maar nadat die vonnis uitgespreek is, het die teregstelling onmiddellik plaasgevind. Hierdie verhore mag dus nooit die dag voor die Sabbat of ‘n feesdag plaasgevind het nie.


Bibliografie 

David A. Silva (2004): An Introduction to the New Testament. Inter-Varsity Press

Philip W. Comfort en Walter A. Ewell (2001): Tyndale Bible Dictionary. Tyndale House Publishers

 

Skrywer: Dr Coen Slabber