Laat sy Liefde jou Lei: Soms is God spyt!

Laat sy Liefde jou Lei: Soms is God spyt! – Milanie Vosloo

Die Here het die omvang van die boosheid van die mensdom raakgesien. Hy het opgemerk dat hulle gedagtes gedurig sleg was. Die Here was spyt dat Hy die mens gemaak het. Dit het Hom diep bedroef. Genesis 6:5*

‘n Mens kan bykans nie glo dat God ook spyt kan wees nie. Tog lees ons dit in geen onduidelik taal nie: “Die Here was spyt dat Hy die mens gemaak het.” Duidelik het God ander verwagtinge van die hoogtepunt van sy skepping gehad. Sy handewerk was immers in alle opsigte góéd! As God destyds al so bedroef was oor die sonde van die mensdom was, hoe seer moet sy hart nie vandag wees oor al die onreg, pyn en stukkendheid van híérdie eeu nie? En tóg … bly Hy geduldig met sy kinders. Ten spyte van ons gebrokenheid, wil Hy steeds die bereid om die mensdom ‘n kans te gee om hulle te bekeer. En soos destyds met Noag, is Hy, ondanks ons sonde, altyd gewillig om dié wat Hom opreg liefhet, te seёn.

Kom ons kniel vandag weer voor ons Vader en dank Hom vir sy geduld met ons en dan loof ons Hom vir sy voortgesette genade en oneindige goedheid in ons lewens.

Mag jy elke dag só leef dat God oor jou sal glimlag. Onthou vandag Psalm 84:12b: Die Here gee genade en eer. Hy sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie.

Genade-God, vergewe my vir al die kere wat ek U bedroef en help my om u werklik te gehoorsaam.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Waar om te begin met Bybelstudie?

Waar om te begin met Bybelstudie? – Kobus Kok

Yvonne vra: 

Ek wil graag Bybelstudie begin met die evangelies. Waar kan ek betroubare bronne kry?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Waar om te begin met Bybelstudie? Handige boeke en videos

Prof. Kobus Kok 

Dit is altyd goed as mens met een evangelie begin, dit baie goed ken en dan vergelyk met die ander evangelies. Mens moet eers met die melkkos begin voor mens die vaste kos eet. Melkkos sou daaruit bestaan dat mens eers een evangelie in die Bybel vat en dit baie goed, sommer ‘n paar keer deurlees. Mens kan ook goeie videos by CUM Boekwinkel koop soos ‘n onlangse Johannes-video wat die teks van Johannes goed navolg en uitbeeld. So leer mens eers die inhoud. Daarna bestudeer mens die boek vers vir vers deur ‘n Verklarende Bybel soos die Bybellenium te gebruik wat ook by CUM te koop is. Daarna kan mens meer vastekossies begin eet soos die boek van Prof. Richard A. Burridge (2005)  Four Gospels, one Jesus? A symbolic Reading. Eerdmans. Hierdie boek kan by Amazon bestel word en kos ongeveer R100- R120. Richard is die dekaan van Kings College in London. Die boekie verduidelik op ‘n eenvoudige manier hoe die vier evangelies van mekaar onderskei word en wat die unieke aard van elkeen is. Ek het ook voorheen ‘n artikel daaroor geskryf. Kyk gerus by http://www.bybelkennis.co.za/Algemene-Artikels-Bybelse-Temas-en-Sake/Vier-Evangelies-Een-Jesus.html. Daarna kan mens gerus ‘n draai maak by ‘n groot CUM boekwinkel soos in Menlyn. Hulle het baie goeie kommentare wat die “gewone” ou kan bestudeer en wat baie dominees ook gebruik. ‘n Baie bekende professor wat by Universiteite soos Oxford doseer het is N.T. Wright. Tom Wright se boeke kan mens almal koop omdat hy geweldig deeglik is, maar ‘n uitgesproke Christen wat akademie en geloof bymekaar hou. Ek hou baie van sy boeke en kan dit met vrymoedigheid aanbeveel. Kyk gerus ook na die volgende youtube video waarin prof. Richard Burridge meer vertel oor sy boek Four Gospels one Jesus: http://www.youtube.com/watch?v=DOQvWMvW420 . 

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Word lidmate geïgnoreer (3)

Word lidmate geïgnoreer (3) – Francois Malan

Nico vra:

Prof Malan,

Mat 18 se skrifverwysings het geen relevansie op my vrae oor die leraars se versuime nie ?

Ek bekla my oor kerkleiers – herders wat hulle plig versuim – nie broeders en/of susters wat onderlinge geskille en probleme het nie.  Die leraars is (ex officio = in hul amptelik betaalde hoedanigheid) herders van die skape wie hulle veronderstel is om te lei en nie om as herders gelei te word nie.

Ja, ek het vir hulle gebid ………. dat hulle hulle werk moet doen waarvoor hulle betaal word omdat hulle sogenaamde heilige roeping klaarblyklik nie genoeg aansporing is nie !

Ek vra opgeleide kundige geleerde leraars en skrifgeleerdes om my in hulle professionele hoedanigheid te help. Nou vra u my dat ek húlle moet help en te begin om geduldig te wees ?

My vriendelike dog dringende verwysing na Art 12 en Hoofstuk 5 oor kerklike tug het geen ontwakende indruk op my ontwykende leraars en leierouderling gemaak nie !

Ek staan verstom hoe ek moet sukkel om hulp uit die kerk te wurg ! Ek het eintlik geen ander keuse nie as om te besef dat die kerk net vir homself en sy statusbelaaide en oningeligte lidmate bestaan nie.  Is dit die valse kerk en valse leraars waarvan die Bybel, nie ek nie,  so baie praat en aanhaal ?

Openbaring 3:14-15: “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.”

“How many professors of gospel doctrine are neither hot nor cold; except as they are indifferent in needful matters, and hot and fiery in disputes about things of lesser moment!  They could not see their state, nor their way, nor their danger, yet they thought they saw it. Theology is a subject taught by men who do not know. The idea is not to tell the truth but to satisfy the questioner.”

“Thou art neither cold nor hot”…neither acting hostile nor zealous .. rather that men should oppose than formal, apathetic professors. This lukewarmness is most offensive, and hence the Lord declares that they shall be rejected like nauseous food – indicating loathing.”

Lukas 15:4-7: “Watter man onder julle wat honderd skape het en een van hulle verloor, laat nie die nege en negentig in die woestyn staan en gaan agter die een aan wat verlore is totdat hy dit kry nie? En as hy dit kry, sit hy dit met blydskap op sy skouers. En as hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: Wees saam met my bly, want ek het my skaap gekry wat verlore was. Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor nege en negentig regverdiges wat die bekering nie nodig het nie.”

My skeptisisme moes plek maar vir sien is glo wat oor die hedendaagse kerk en teoloë gesê word en wat ek gehoor het en nie wou glo nie..

RainbowNation se nuus van 18 Januarie 2012: “Church bookkeeper accused of stealing R2m.  The trial of a church bookkeeper accused of stealing more than R2m has been postponed in the George Regional Court.” 

U haal aan: “In Matteus 18:21-22 sê Jesus ons  moet bereid wees om 70×7 te vergewe as my broer iets verkeerds teen my doen.” 

Waarom vergewe die Kerk en lidmate nie die arme boekhouer 70×7 keer nie ? Waarom kla hulle haar aan al het sy hulle geld gesteel ?  Of is dit dalk so eenvoudig soos: Sy het ‘n  wet oortree – van God (Tien Gebooie) en van die mense (die kriminele reg) en daarvoor is die Strafproseswet (soos die kerkorde wet vir die leraars se versuim) daar om haar aan te kla.

Dit gaan nie oor vergewe nie – dit gaan oor ampsdraers wat nie hulle werk doen nie.  Die ‘meesters’ het duidelik ook hulp nodig, maar nie van my af nie.  As hulle my nie kan help nie moet hulle opsy staan en hulle ampte neerlê sodat iemand wat bevoeg is dit doen.  Waar kry ek so iemand  – waar kry ek so ‘n leraar of iemand wat die moed van sy Christelike oortuiging en roeping het om sy talente, genadegawes en kennis van God se word aan te wend en my te help.

Ek dwaal rond tussen dit, dat en die ander wat ek in die ‘Christen mark’ van hoor en ervaar. My eie kerk en my eie predikante sit hande gevou agteroor nadat hulle hulle hande in ons kuld gewas het  en gee ‘n nie ‘n flenter om vir een ou in hulle midde wat dalk opgeslurp kan word deur ‘n bose wêreld nie- tensy dit juis is wat hulle presies weet en sit en wag dat ek inkom waar hulle ook is !

Ek is jammer Prof Malan, maar u het my nog nie ‘n praktiese oplossing gegee nie.  Ek wag nog daarvoor.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die Bybel leer ons dat alle gelowiges broers en susters van mekaar is, omdat ons almal kinders van God is deur te glo in die Seun van God wat vir ons sonde gesterf het. Aan Hom verbind die Heilige Gees ons deur dié geloof in ons te werk deur ons met die Woord van God te oortuig (vgl. Romeine 8:1-17).

Daarom is Matteus 18:15-20 se wyse waarop broers met mekaar behoort op te tree vir alle gelowiges bedoel, ongeag die tipe van beswaar of probleme wat die een teen die ander het. En dit begin met ‘n persoonlike gesprek of gesprekke tussen die twee broers. Die Griekse woord in vers 15 sê letterlik: ‘as jou broer teen jou sou sondig/jou verkeerd sou behandel’, dit wil sê strydig met die wil en wet van God, ‘gaan wys hom daarop dat hy verkeerd gedoen het, waar julle twee alleen is…’ en dan die proses wat daarop volg wat kan lei tot ‘n klag lê, en uiteindelik optrede teen ‘n onbekeerlike.

Die teks uit Matteus 18:21-22 oor vergifnis (met die vergelyking oor die koninkryk daarna in verse 23-35) wil beklemtoon dat enige oplossing van probleme begin met jou gesprek met God in die gebed, waar jy jouself voor Hom oopstel, jou probleem voor Hom lê, jouself ondersoek en by Hom vergifnis verkry vir jou aandeel, en voorbidding doen vir die een wat jou veronreg, en hom ook voor die Here vergewe (vgl. 18:35). Want geen probleem word opgelos waar jy kwaad of verbitterd daarmee begin nie. Maar dit is die Here wat die harte van mense verander, onder andere deur ons optrede teen mekaar (vgl. Romeine 12:9-21).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Openbaring 22:18 – 19

Openbaring 22:18 – 19 – Francois Malan

Pieter vra:

Kan u my asb meer duidelikheid en uiteensetting gee oor die boek Openbaring 22:18-19. Baie dankie.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Openbaring 22:18-19 is ‘n eedformule (‘ek betuig’) wat die betroubaarheid bevestig van die woorde van hierdie profetiese boek. Vergelyk bv. Spreuke 22:18 ‘Elke belofte van God is betroubaar; Hy beskerm dié wat by Hom skuil. Moet niks byvoeg by wat Hy gesê het nie; Hy sal jou bestraf, en jy sal daar staan as ‘n leuenaar.’ So is hierdie verse in Openbaring ook ‘n waarskuwing teen vervalsing van die boodskap van die boek.

Die doel van hierdie eedformule – dat niemand iets mag byvoeg of weglaat nie – is om die gesag van die inhoud van die profesie te bevestig en te beskerm. Dit sou vals profete en leraars ook verhinder om aan die boodskap te torring. ‘n Profesie vertel van God se plan met die wêreld en die mense, en wat sy wil is wat hulle moet doen – wat vir hulle die beste pad is.

Dit was ‘n algemene gebruik om ‘n vloek uit te spreek aan die einde van ‘n publikasie om enige verdraaiing of vervalsing te voorkom, omdat dit so algemeen voorgekom het. Dit het ook vir die wet van God gegeld. Deuteronomium 4:2 sê: ‘Moenie iets byvoeg by wat ek julle beveel nie en  moet ook nie iets daarvan wegvat nie, maar gehoorsaam die Here julle God se gebooie wat ek julle gegee het.’ Spreuke 30:5,6 sê: ‘Elke belofte van God is betroubaar; Hy beskerm dié wat by Hom skuil. Moet niks byvoeg by wat Hy gesê het nie; Hy sal jou bestraf, en jy sal daar staan as ‘n leuenaar.’ Galasiërs 1:6-9 praat van die vloek van God wat iemand sal tref wat die evangelie van Christus probeer verdraai. En 1 Korintiërs 16:22 sê: ‘As iemand die Here nie liefhet nie – vervloek is hy!’

Die boek Openbaring is aanvanklik gerig aan Christene in Klein-Asië (die huidige Turkye) aan die einde van die eerste eeu na Christus, om hulle te bemoedig in hulle swaarkry en krisissituasie. Die gelowiges wat geweier het om openlik te bely dat die keiser van Rome die Here is, is vervolg en doodgemaak. Sommige gelowiges het as gevolg daarvan hulle geloof dat Jesus die Here is, afgesweer. Hulle word deur hierdie verse gewaarsku teen die groter gevaar dat die Here hulle sal verwerp as hulle Hom verwerp (vgl. Matteus 10:28,33).

Openbaring bemoedig egter alle gelowiges om moed te hou en te leef wat jy glo. God is in beheer van die wêreld en die geskiedenis waarvan ons ook nou deel is.

 

Skrywer: Prof Francois Malan