Word Lidmate geïgnoreer? (2)

Word Lidmate geïgnoreer? (2) – Francois Malan

‘n Paar dae gelede het Prof Malan ‘n leser se vraag oor of lidmate geïgnoreer word geantwoord. Hierdie leser het nou verdere vrae:

Baie dankie dat u die moeite gedoen het om my te antwoord. Om eerlik te wees, na wat my ondervinding die afgelope drie jaar was om ‘n Christenlewe te probeer ly en hoe ek die leiers van my kerk ervaar het, was ek in vertwyfeling dat ek weer geïgnoreer sal word. So, ek waardeer dus u reaksie, moeite en tyd wat u bereid is om aan my af te staan en vertrou dat u of wie ook al, by my sal bly om my vrae en versugtinge behoorlik aan te spreek. Ek besef dat ek nie in ‘n behandelingsessie met u kan tree nie vir baie goeie en ooglopende redes van tyd en bronne nie, maar dit is vir my lewensbelangrik om die ernstige kwelvrae oor my verbintenis met die kerk beantwoord te kry. Ek sal dus so kort en saaklik moontlik wees as wat dit sinvol is.

Ek het geen probleem met die wese van die ware evangelie oor die Koninkryk van God nie. Ek het ‘n ernstige probleem met my verbintenis en assosiasie met die kerk, ampsdraers en leraars wat uit hoofde van ‘n veronderstelde heilige roeping, sodanige optree wat my na my mening en gevoel, my ernstig te nakom en grief, ongeag of ek reg of verkeerd is daarin.

Ek deel heelhartig u siening met 1 Pet 5:1-4 en glo dat dit is wat God wil hê hoe sy skape onvoorwaardelik na omgesien moet word. Wat nou as dit nie gedoen word nie ?

Die NG kerk het ‘n ‘n pragtige stel reëls, die Kerkorde, wat sekerlik vir ‘n doel saamgestel is om juis sekere aspekte binne die kerk te reël, veral die optrede van leraars en ampsdraers. Vir wie is daardie reëls tot beskikking ?

Wat moet ‘n predikant of ouderling doen as hy bewus raak van sulke kwelsake en woelinge van ‘n lidmaat van die gemeente ?

As ek my net na die Here moet wend met my probleem, soos u sekerlik tereg aanhaal en dan moet wag dat iets gebeur, waarvoor en vir wie is die Kerkorde dan geskryf ? Dan moet alles mos maar net eenvoudig na die Here verwys word en mag geen Kerkraad of Sinode of Kommissie mos menslike besluite neem of vonnisse en oordele vel daaroor nie ?

As ek dan nie wil of kan hoor wat die Here vir my sê daaroor nie – vir wie moet ek dan gaan vra as my probleme onopgelos bly ? By wie moet ek dan aanklop om daardie verdere nuwe probleem vir my uit te lê en te help oplos ?

Dank die Here predikante af wat die Kerkorde en kerkreëls oortree ? Skors die Here lidmate uit ‘n kerk wat die Kerkleer en ander maatreëls oortree ? Daar is miljoene mense wat nie die Here ‘hoor’ nie – waar klop hulle om hulp aan ? In die kerk ? Die kerk luister weer nie na jou gesanik nie en sê bloot, gee dit vir die Here ? Dan doen ons dit en begin ons weer voor – die sirkel is dan voltooi en die arme lidmaat sit in die straat, nog steeds met niks. Wat is die doel van die kerk en kerkleer dan ? ‘n Doel tot ‘n middel om ‘n bestaan aan ‘n uitgelese groepie mense te voorsien ?

Hoekom kan ek nie ook staatmaak op optrede deur die kerkraad en ampsdraers vir wat ooglopend ‘n versuim van die predikante en ouderlinge is nie ? Elke saak het drie kante – joune, die ander kant s’n en die waarheid (wat NIE rond is soos soms beweer word nie – God se Woord is die waarheid – ‘n

2 skerp tweesnydende swaard – is dit nie ?). Hoekom word my kant van die saak en my versugtinge en ernstige geloofskwelvrae dan bloot teenoor my geïgnoreer, eensydig ter tafel gelê en dan eenvoudig eensydig van die tafel afgevee sonder my kennis en wete ? Wat van die populêre wêreldse woord deesdae – ‘deursigtigheid’ ?

Wat staan my te doen Prof. Malan ? Ek kan dit nie net los en passief sit en wag dat iets gebeur nie. Ek is geseën met ‘n gesonde verstand en kennis wat uit God se genade aan my toegedeel is deur Sy Heilige lewensasem wat hy in Adam geblaas het. God vra werke ook en nie net geloof nie, anders het ons almal maar net ernstig geglo en langs die swembad gaan sit en wag dat wat ons gevra en in Sy hande gelaat het, bloot inrol !

Ek is nie ‘n skrifgeleerde soos u of die leraars, goed onderlê in die Bybel, kerkleer en teologie nie. Ek is ‘n onkundige lidmaat wat gekwel is en nie antwoorde kry nie, ook al vra ek daarna in my onkundigheid dalk op die verkeerde manier of in die verkeerde styl en trant.

Wat stel u voor hoe word die saak verder in terme van die kerkgeformuleerde kerkorde gehanteer ?

Vriendelike groete en dankie by voorbaat vir u moeite.

Antwoord

Prof Malan antwoord:

Die kerklike weg begin by Matteus 18:15-17

1 As jou broer verkeerd teen jou opgetree het, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen (v15).

Dit is die swaarste van die pad van versoening. Voor enige aksie geneem kan word, vra die Here dat ons met die persoon of persone wat betrokke is, elkeen apart gaan praat. Vooraf is dit egter nodig dat ek vir so ‘n persoon sal begin bid, en ook die ontmoeting met so ‘n persoon aan die Here opdra, sodat my eie gesindheid reg sal wees. In Matteus 18:21-22 sê Jesus ons  moet bereid wees om 70×7 te vergewe as my broer iets verkeerds teen my doen. God doen daagliks veel meer vir my. Hy vergewe my verkeerde gesindhede, gedagtes, woorde en dade. Om te vergewe vra liefde, selfs vir die vyand en vir dié wat ons vervolg, sê Jesus in Matteus 5:43-48. Ons kan slegs liefhê as ons ingeskakel is in die liefdesverhouding wat daar tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees  as die God van liefde bestaan (vgl. 1 Johannes 4:7-17 die liefde kom van God, daarom behoort ons mekaar lief te hê, want Hy het sy Heilige Gees gestuur om in ons te bly, en elkeen wat liefhet is ‘n kind van God en ken God, maar wie nie liefhet nie het geen kennis van God nie, want God is liefde, en Galasiërs 5:22 sê: die vrug van die Gees in ons is liefde.)

2 Matteus 18:16 gaan voort: Maar as hy (jou broer wat verkeerd teen jou opgetree het) nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word,deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word.

Hier begin die kerklike proses van broers en susters wat saam die probleem pak, en met geduld en verdraagsaamheid aanhou. Galasiërs 6:1-2 vra dat dat dit steeds in die gees van sagmoedigheid sal geskied, terwyl almal oppas dat hulle nie self ook in die versoeking kom nie; om mekaar se laste te dra en op die manier uitvoering te gee aan die wet van Christus.

3 Matteus 18:17 sê: En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as ‘n heiden en ‘n tollenaar behandel.

Hier kom die proses van sensuur ter sprake, steeds met die doel om die oortreder tot bekering en redding deur die Here Jesus te lei (vgl. 1 Korintiërs 5:5).

Die Kerkorde van die NG Kerk is op die webwerf beskikbaar vir enigiemand wat dit wil lees of aftrek. Soek NGKerk Kerkorde; en gaan na artikel 12 oor die pligte van die bedienaar van die Woord, en Hoofstuk 5 oor kerklike tug.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Rook

Rook – Kobus Kok en Coen Slabber

‘n Leser vra: 

Ek wil graag uitvind. Ek is 29 Jaar oud en rook vandat ek 14 jaar oud was. Ek het 2 pragtige kinders, maar kry deesdae die gevoel dat ek moet ophou rook om eendag my kinders se troue te sien en kleinkinders ens. Ek is oortuig daarvan dat dit die Heilige Gees is wat met my praat. Hoe ek probeer ophou rook het, is dat daar ‘n man was wat baie gerook het. Elke keer as hy aan ‘n sigaret gevat het, het hy gesê: “Duiwel ek gaan nie weer rook tot die volgende sigaret,” maar het al hoe minder gerook tot hy heeltemal opgehou het. Ek het dit probeer maar dis asof ek dit nie kan sê. My vraag is, kan dit moontlik wees dat ek dalk gebind is met ‘n rook demoon dat al bid ek hoe hard en sê vir die Here jammer ek het weer nie geslaag vandag om op te hou rook nie dat dit dalk die rede kan wees? Is daar dalk ‘n gebed wat ek kan opsê dat die Here my sal verlos van bose geeste dat dit vir my makliker kan wees om op te hou rook? Ek weet nie of ek dalk verkeerd bid nie? Ek wil nie doodgaan van rook nie, ek wil ook nie hê my kinders moet rook omrede ek die voorbeeld vir hulle stel om te rook en wil graag oud word indien die Here my spaar om alles te kan sien van hulle.

Antwoord

Hierdie vraag het mediese/fisiese en teologiese/geestelike aspekte. Prof Kobus Kok sal die teologiese/geestelike aspekte hanteer en Dr Coen Slabber die mediese/fisiese aspekte.

Stryd teen rook 

Prof. Kobus Kok 

Alle fisiese keuses in ons lewe het geestelike implikasies omdat liggaam, siel en gees in die Bybelse konteks ‘n eenheid vorm. Fisiese verslawing en fisiese siektes soos depressie en verslawing, ens., moet nie altyd net “vergeestelik” word ten koste van die mediese aspekte nie. Verslawing het ‘n baie belangrike fisiologiese/fisiese dimensie. Ons moet dus versigtig wees om iets te vinnig  aan die werk van ‘n demoon te koppel, terwyl dit in werklikheid ‘n sterk fisiologiese (liggaamlike) oorsprong en gevolg het, wat emosionele en geestelike implikasies inhou. Baie mense “vergeestelik” verslawing of siekte terwyl die oorsaak en oplossing daarvan ook binne die (mediese) fisiologie van die mens lê. Ander mense weer, fokus so op die mediese of fisiese, terwyl hulle die emosionele en geestelike kant van die saak heeltemal onderskat. Myns insiens moet ons fisies, emosioneel en geestelik met kwessies soos verslawing omgaan.  

Die blote keuse wat iemand maak om te kies vir die lewe en om gehoorsaam te wees aan God is die regte keuse, en sal verseker tot opbouende, positiewe gevolge in jou lewe lei. Deur op te hou rook in jou geval, waar die Here jou oortuig het dat dit sonde is, ten gunste van die ander kant, naamlik ’n gesonder lewe wat vir God tot eer is, is altyd die regte keuse. Dit beteken egter nie dat dit maklik sal gaan nie. Die eintlike (geestelike) stryd begin nou juis omdat jy teen verslawing kies. Vir ’n baie lang tyd, oor jare heen, het jy in ’n sekere lewensgewoonte/styl verval en jou liggaam en emosies op ’n sekere manier gekondisioneer. Nou is dit nodig dat jy ’n nuwe lewenswyse aanleer. Die fokus is op die leerproses. Dit gebeur nie vir alle mense “woeps-waps” nie. Enige leerproses neem tyd en  jou liggaam en emosies sal die stryd moet voer. In die stryd is jy egter nie alleen nie. God is saam met jou in die stryd vir die goeie as jy binne sy wil beweeg. Jy sal in hierdie tyd baie beproewings beleef en sal vir jou voel of die vergrootglas op jou probleem gesit word. Maak vrede met die feit dat dit ’n oorlog is wat jy voer.  

Jakobus, die broer van Jesus het eenmaal in Jakobus 1:12 die volgende beloftes gegee: 12Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. In 1:2 se Jakobus: My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, 3 want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. 4 En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming. 5 As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.  

In hierdie lewe het die Here vir ons baie hulpmiddels gegee langs die oorlogspad. Mediese hulp is een hulpmiddel. Alle goeie wysheid behoort uiteindelik aan God en daarom kan ons gerus kersopsteek by die mediese wetenskap wat jare lank navorsing doen oor kwessies soos verslawing. Deesdae is daar middele wat mens kan gebruik om jou te help in jou stryd teen verslawing.  

Weet dat die werklike oorwinning reeds begin het toe Hy deur sy Gees jou tot oortuiging gebring het van die noodsaak om vir die lewe te kies. Jy is op die regte pad. Hou daarmee aan en volhard in geloof dat die stryd teen jou verslawing oorwin sal word. Die prys is meer kwaliteit lewe saam met jou kinders en geliefdes op fisiese en geestelike vlak.  

Die stryd teen verslawing begin by die maak van ‘n besluit, die vrede-maak met die feit dat genesing ‘n oorlogspad is, en die moed om vas te byt as verslawing in jou oor kom fluister om sy hand te vat. Binnekort sal die son deur die donker wolke begin skyn, en ‘n nuwe dag sal aanbreek waarin jy sal besef dat die oorlog teen jou verslawing oorwin is. Hou moed en veg die goeie geveg ter wille van die lewe en die goedheid wat Hy mildelik aan jou sal skenk. 

Die stryd teen rook – Coen Slabber 

Daar is geweldig baie geskryf oor rook en jou gesondheid. Daar is veral twee aspekte wat ons leser uitgelig het:

(1) Lewensverwagting; en

(2) Hoe raak ek van die gewoonte ontslae?

  1. Lewensverwagting

Sy is bekommerd dat sy dalk sal doodgaan voor sy haar kinders se troues of haar kleinkinders gesien het. Hierdie vrees is natuurlik ‘n werklikheid. Wat belangrik is as ons na lewensverwagting kyk, is hoe lank die persoon al rook en hoeveel hy rook. Elke pak sigarette wat gerook word, verkort die lewensverwagting met 28 minute. Strawwe rokers leef gemiddeld 8,8 jaar korter as nie-rokers. As jy op die ouderdom van 40 jaar totaal ophou rook, sal jou lewensverwagting met 4,6 jaar toeneem.

Rook is vandag die grootste oorsaak vir voorkombare sterftes in die wêreld. In 2000 het die Wêreldgesondheidsorganisasie bereken dat ongeveer 1,22 biljoen mense rook. Dit word geskat dat hierdie syfer tans 1,45 biljoen is. Rook tas veral die hart en longe aan – meer hartaanvalle, beroertes en chroniese obstruktiewe lugwegsiektes (emfiseem en chroniese brongitis). Rook bevat 19 bekende karsinogeniese (kankerveroorsakende) substanse. Die algemene kanker is natuurlik longkanker, maar ook kanker van die keel en mond kom meer algemeen voor in rokers.

‘n Baie ernstige probleem is dat die nikotien in tabakrook verslawend is – dit veroorsaak fisiese en sielkundige afhanklikheid. Onttrekking van nikotien maak mense irriteerbaar en bewerig. Hulle mond is droog en hulle kan hartkloppings kry. Dit kan gebeur selfs in persone wat slegs vir ‘n kort tydjie gerook het. Die probleem is dat hierdie sielkundige afhanklikheid tot jare kan neem om te verdwyn.

  1. Hoe raak ek van die gewoonte ontslae?

Prof Kok het reeds hierna verwys. Dit is interessant dat twee uit elke drie rokers graag wil ophou rook, maar min slaag daarin. Die eerste stap is belangrik: Jy moet besef dat jy ‘n probleem het. Solank as wat jy glo dat rook ‘n skadelose gewoonte is, sal jy nie ophou nie. Wilskrag en vasberadenheid is belangrik. Om op jou eie te probeer ophou rook, is baie moeilik. Daarom het jy die ondersteuning van jou familie en vriende nodig. ‘n Ondersteuningsgroep speel ‘n belangrike rol – almal sit in die selfde bootjie en ondersteun mekaar.

Jy kan ook professionele hulp kry by onder andere die Nasionale Raad teen Rook en die Kankervereniging. [Kyk gerus na hulle webblaaie.]

Nikotienverplasingsterapie is ook ‘n moontlikheid Dit kan in verskeie vorms gebruik word – plakkers op die vel, suigtablette, ens. Die doel van hierdie terapie is om onttrekkingsimptome te verminder. Die dosis word dan geleidelik verminder word.

Opsommend:

  1. Rook het ‘n baie nadelige uitwerking op die mens se gesondheid en lewensveragting.
  2. Voordat jy nie erken dat rook nadelig is nie, sal jy nie maklik ophou rook nie.
  3. Dit is nie maklik om op te hou rook nie. Daarom het jy ondersteuning nodig.

 

Skrywers: Prof Kobus Kok en Dr Coen Slabber




Word lidmate geïgnoreer?

Word lidmate geïgnoreer? – Francois Malan

‘n Leser vra: 

Is dit normaal vir NG Kerk leraars om die hulpkrete van n lidmaat te ignoreer ? Wat staan my te doen as hulle op eie houtjie besluit het dat hulle nie na my wil luister nie omdat ek dalk die heilige vrede van hulle kerk mag versteur – of ek nou reg of verkeerd is – dit reg of verkeerd aanvoer – die ketter wat sy letter in die Bybel kry of nie ? Ek is tydens ‘n onheilige egskeiding wat deur bose magte aangevoer is, deur die ouderling-prokureur gewetenloos/ongeregverdig vir eie gewin van sy kliënt verbied om in die kerk te kom – drie jaar gelede en nog nooit deur enigeen van die kerk daaroor genader of bespreek nie – kennis daarvan deur die leraar ten spyt. Ek dwaal buite rond en het ‘n afsku in die valse wêreldse kerk en valse predikante opgebou. Ek word geïgnoreer soos n stopstraat asof ek nie bestaan nie – my lidmaatskap ten spyt – ek is nie belangrik genoeg en het status in daardie kerk nie.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Die woord ‘kerk’ beteken ‘(die mense) wat aan die Here behoort’ of ‘die Here s’n (sy mense)’. Ons status in die kerk is ‘kinders van God’. Ons status is afhanklik van Jesus Christus. Hy is die Seun van God wat vir die sonde van die wêreld gesterf het aan ‘n kruis. Van Hom sê Jesaja 53:3 ‘Hy was verag en deur die mense verstoot… Tog het hy óns lyding op hom geneem…Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel, die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.’ (Jesaja 53:3a,4a,5-6). Hierdie profesie van Jesaja is deur Jesus vervul (vgl. Matteus 8:17). Petrus verwys onder andere hierna in Handelinge 10:43: ‘Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.’ Die Heilige Gees van God werk in elkeen van ons, om ons deur geloof aan Jesus te verbind, aan sy offer vir ons sonde, en aan sy status as Kind van God (vgl. Romeine 8:14-17).

Al ignoreer mense ons, ons hemelse Vader nie! Romeine 8:31b, 35,38,39 sê: God is vir ons, wie kan dan teen ons wees?’ … niks kan ons skei van die liefde van Christus nie… ‘geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.’

Jou vraag: ‘Wat staan my te doen…’ Jakobus 4:6,7a,8a,10 sê: ‘God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade (vgl. Spreuke 3:34; 1 Petrus 55b). Onderwerp julle dan aan God…Nader tot God en Hy sal tot julle nader…Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.’ 1 Petrus 5:6,7 sê ook: ‘Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.’

Lê jou hele saak en situasie voor die Here, jou egskeiding, die behandeling wat jy van die kerk se amptenare ontvang het, jou huidige posisie en jou self, en wag op Hom vir ‘n oplossing op sy tyd. Oor die mense wat jou benadeel sê Paulus in Romeine 12:17-19 ‘Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teen oor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God’ – dit is sy reg om te straf, Hy sal vergeld (vgl. Deuteronomium 32:35).

Jou vraag: ‘Is dit normaal…?’ – nie as jy die rol van ‘n ouderling en predikant vergelyk met Petrus se aanwysings in 1 Petrus 5:1-4 nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Laat sy Liefde jou Lei: Leef as Gees-bestuurde mens!

Laat sy Liefde jou Lei: Leef as Gees-bestuurde mens! – Milanie Vosloo

Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg: …selfbeheersing … Galasiёrs 5:22 

Paulus was ‘n man met ‘n sterk persoonlikheid wat kragtig kon reageer, vurig kon praat en met passie kon werk en leef. Daarom was hy heelwaarskynlik baie bewus van die krag van selfbeheersing. Hy lys dan hierdie vrug van die Gees heel laaste. So asof hy al die ander Gees-vrugte daarmee wil onderstreep.

Daar is maar een manier hoe ek en jy hierdie en al die ander vrugte van die Gees kan leef, en dit is deur elke dag ons harte, gedagtes, emosies en ons lewenswandel deur die Trooster te laat beheer. In Gal 5:24 – 25 skryf Paulus dat Christene mense is wat die hartstogte en begeertes van hulle sondige wêreld gekruisig het en toelaat dat die Heilige Gees hul leefstyl bepaal. En wanneer ons Géés-bestuurde mense is, is liefde nie net ‘n sentimentele en emosionele saak nie. Dan is liefde iets wat prakties gedóén daar word daar waar ons elke dag leef. Soms lê hierdie liefdesroeping daarin om daadwerklik iets te doen, ander kere vra dit juis van ons om iets níé te doen nie en níé te sê nie … Ja, soms lê die krag van die liefde juis in die vermoё om … stil te wees.

Om self-beheers te probeer leef, is vanweё ons menslike aard, ‘n resep vir mislukking. Om ‘n Gees-bestuurde mens te wees, is egter die basis van ‘n lewe waarin alle dinge moontlik is!

Neem vandag asseblief beheer van my lewe, Heilige Gees.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo