NG Kerk en Pinkster Protestantse Kerk – Vraag

NG Kerk en Pinkster Protestantse Kerk – Francois Malan

‘n Leser vra:

My dogter is NG lidmaat. Haar man is PPK. Hulle verwag hulle eersteling. Kan hulle die baba in die NG kerk laat doop.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die baba kan in die NG Kerk gedoop word, maar wat sê die pa daarvan? Die PPK aanvaar nie die kinderdoop nie, maar verwag dat die dopeling eers sy/haar sonde moet bely en die Here Jesus Christus in die geloof moet ontvang voordat hy/sy gedoop kan word as ‘n belydenis van identifikasie met Christus. Die PPK se belydenis sê die volgende:

We believe that all who repent of their sin and receive the Lord Jesus Christ by faith are born again of the Holy Spirit and thereby become children of God.

With regards to submission to authority, we believe in the principle of being in authority because you are under authority.  As such, it is understood that membership shall be subject to submission to authority in matters pertaining to church governance, doctrine and personal behaviour. 

We believe that the one true church is the whole company of those who have been redeemed by Jesus Christ and regenerated by the Holy Spirit;  that the local church on earth should take its character from this concept of the Church spiritual and therefore, that the new birth and personal confession of Christ are essentials of church membership. 

We believe that the Lord Jesus Christ appointed two ordinances – Baptism in water and the Lord’s Supper to be observed as acts of obedience and as perpetual witnesses to the cardinal facts of the Christian faith,  that Baptism is the immersion of the believer in water as a confession of identification with Christ in burial and resurrection and that the Lord’s Supper is the partaking of the emblems symbolic of the Saviour’s broken body and shed blood, in remembrance of His sacrificial death, until he comes.

Die NG Kerk aanvaar ook die doop van groot mense, soos Jesus in Matteus 28:19-20 gesê het: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels (leerlinge en volgelinge): doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.

As jy na die nasies toe gaan, doop jy die mense wat in die Here Jesus begin glo, maar dit sluit volgens Handelinge 16:14,15 vir Lidia en haar huisgesin in, en volgens Handelinge 16:31-33 die tronkbewaarder van Filippi en sy huisgesin. Petrus verduidelik dit ook op die Pinksterdag in Handelinge 2:38-39: die mense moes hulle bekeer en hulle laat doop in die Naam van Jesus Christus. Dan sal God hulle sondes vergewe, en hulle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.

Toe God vir Abraham uit die heidendom geroep het, en uit sy genade aan Hom verbind het, met sy verbond van liefde met Abraham en sy huisgesin, het God as teken van die verbond die besnydenis gegee. Elke seun onder hulle van agt dae oud moes besny word, selfs van die slawe in sy gesin, so sou sy verbondsteken aan hulle liggame wees as ‘n blywende verbond (Genesis 17:1-13). Toe Jesus uit die hemel kom mens word, het Hy ‘n nuwe verbond van genade met ons mense kom maak deur sy bloed wat vir baie mense vergiet is aan die kruis tot vergewing van sondes (Matteus 26:28; Markus 14:24; Lukas 22:20; 1 Korintiërs 11:29). Daarvan is die nagmaalsbeker die teken wat ons telkens aan sy dood herinner. Maar in plaas van die besnydenis net van die manlike geslag van agt dae oud, word ons, seuns en dogters, deur ons verbondenheid aan Jesus, ook besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur Christus, en dit bestaan in die wegneem van die sondige natuur van die mens. Dit het by die doop gebeur deurdat ons toe saam met Hom begrawe is. Deur ons verbondenheid aan Hom is ons ook saam met Hom opgewek tot ‘n nuwe lewe saam met Hom (vgl. Kolossense 2:9-12). In 1 Korintiërs 7:14 sê Paulus selfs dat die ongelowige man by God aanneemlik is deur die band met die gelowige vrou, en dat die ongelowige vrou by God aanneemlik is deur die band met die gelowige man. Anders sou julle kinders heidene wees, maar nou behoort hulle aan God.

Die kardinale vraag is of die ouers van die kind in die Here Jesus glo; dat Hy as die Seun van God aan die kruis vir ons sondes gesterf het, en dat ons saam met Hom opstaan tot ‘n nuwe lewe, waarin God die Heilige Gees in ons woon, om ons tot dié geloof te lei en ons daagliks in ons lewe te lei en te ondersteun, sodat ons as kinders van God kan lewe (lees Romeine 8:1-17); en of die ouers hulle voor God en die gemeente verbind om die baba wat die Here vir hulle gegee het, as sý kind wat aan Hom behoort, groot te maak. Dit beteken dat hulle dié kind sal voorgaan deur hulle lewe, as self kinders van God, om deur hulle voorbeeld en deur hulle daaglikse onderrig van die kind in die Bybel en gebed, die kind in te lei in die lewe van ‘n kind van God.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Laat sy Liefde jou Lei: Komaan, jy kán vasbyt!

Laat sy Liefde jou Lei: Komaan, jy kán vasbyt! – Milanie Vosloo

Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg: …getrouheid … Galasiёrs 5:22

Elke dag hier op aarde is ‘n geleentheid om ons Vader deur ons lewens te verheerlik. Tog wéét ons dat ons só onvolmaak en méns is dat daar soms bitter min van Hom in ons sigbaar is. Dis dan wanneer ons skaam en moedeloos wonder of dit nog die moeite werd is om aan te hou probeer.

Die feit is dat ons lewe hier op aarde slegs ‘n voorspel is tot die hemelse vertoning waarby ons eendag betrokke sal wees. Alles wat ons hier doen, is maar slegs ons voorbereiding op die volmaakte wat eendag op ons wag. Dán eers sal ons ons volle potensiaal as beelddraers van God kan bereik.

Daarom kan ons maar net konstant met ons hand in dié van die Vader loop en elke dag bid dat Hy aan ons die moed sal gee om met groter oortuiging te glo, met meer onvoorwaardelikheid lief te hê, sonder huiwering te vergewe en sy goedheid skroomloos uit te leef. Om getrou te bly in ons strewe na ligdraers van hierdie wêreld is nie altyd maklik nie. Tóg los Hy ons nooit alleen in ons stryd nie. Jesus self het gesê: Ek sê hierdie dinge sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.” (Johannes 16:33)

Bly – ondanks alles – getrou op jou pelgrimspad! Jy kan. Deur Hom!

Here, help my om wérklik ‘n getroue draer van u lig te wees!

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: God het net jou moed nodig

Laat sy Liefde jou Lei: God het net jou moed nodig – Milanie Vosloo

God het net jou moed nodig

Naäman en sy hele gevolg gaan toe terug na die man van God toe. Hy het voor hom gestaan en gesê: “Nou weet ek dat daar geen God in die hele wêreld is nie, behalwe in Israel…” 2 Konings 5:15a

Miskien het jy al baie gewonder of en hoe jou Vader jou wil gebruik. Dalk dink jy: Ek’s tog so gewoon. Ek’t nie veel uitstaande talente nie en is ook nie regtig ‘n sogenaamde “groot geestelike” nie.

As jy twyfel aan die feit of jy in God se diens staan, kan jy gerus weer die verhaal van die klein dogtertjie in 2 Konings 5 gaan lees. Op ‘n jong ouderdom was hierdie diensmeisie van Naäman reeds oortuig daarvan dat God enige iets kan doen. Toe Naäman melaatsheid kry, was dit dus nie vir haar moeilik om haar meester te probeer oortuig om na die profeet Elisa toe te gaan sodat dié hom gesond kan maak nie. Die res van die verhaal ken ons. Naäman word wel deur God se wonderwerk blakend gesond en boonop ‘n vurige aanbidder van die Almagtige.

As ‘n bloedjong kind se opregte geloof haar noop om ‘n koning se lewe te red, dink net wat jý kan doen met die geleenthede wat elke dag in jou lewe ontvou!  

Jy’t nie geleerdheid, aansien of invloed nodig om ‘n kragtige dissipel van Jesus te wees nie. Jy het net ‘n bietjie moed en die krag van die Gees nodig!

Skepper-God, ek wil elke dag van my lewe beskikbaar wees sodat U my kan gebruik. Ook vandág.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Laat sy Liefde jou Lei: Hoe beter jy Hom ken …

Laat sy Liefde jou Lei: Hoe beter jy Hom ken … – Milanie Vosloo

Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg: … goedheid … Galasiёrs 5:22

“U goedheid Heer kan ons nie peil nie. Wie word daardeur nie diep getref. Niks ander bring vir ons die heil nie …” sing ons van kindsbeen af. Ja, ons God is goed! Daarom géé Hy Homself op soveel maniere aan ons.

  • Toe ons Vader ons geskape het, het Hy uit die staanspoor iets van sy hemelse grootheid in ons geplaas.
  • Nadat die mensdom Hom verwerp en ons ons eie ondergang bewerkstellig het, het Hy wéér ‘n deel van Homself – sy eie Seun – na ons gestuur;
  • En toe Jesus se werk hier op aarde afgehandel was, het Hy vir die derde keer Homself in die kern van ons menswees geplaas deur aan ons die Heilige Gees te gee.

Ons hét dus ‘n deel van God se liefdevolle goedheid in ons. En hoe meer ons Hom toelaat om sy lig deur ons te laat skyn, hoe meer sal sy volmaakte wese aan die wêreld sigbaar word. Soos Johannes skryf: As ons optrede egter van die lig getuig, leef ons soos Hy wat in die lig is en het ons volledig deel aan mekaar en, en die bloed van Jesus, sy Seun, maak ons skoon van alle sonde.(1 Joh. 1:7)

Hoe beter jy God leer ken, hoe meer sal jou lewe sy liefdevolle goedheid weerspieёl. Gaan deel vandag, sonder om iets terug te verwag, goed-vir-ander-wees uit.

Vader, ek wíl elke dag in u lig wandel. Ja, ek wíl u goedheid leef!

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo