Geloofsvrae: Die opstanding (en die tussentoestand) – Adrio König
Die opstanding (en die tussentoestand)
As Christus weer kom, sal Hy die dooies opwek. In ‘n sekere sin sal dit nie regtig ‘n nuwe gebeurtenis wees nie. Die eindopstanding het alreeds begin toe Hy opgestaan het, en moet net by sy koms voltooi word.
Dit is merkwaardig dat Paulus die hele evangelie afhanklik maak van die opstanding: `As die dooies nie opgewek word nie … is julle geloof waardeloos’ (1Kor 15:16-17).
Waarom sou die opstanding van die liggaam só belangrik wees? Na alles is die liggaam tog baie minder werd as die siel. En is dié nie in elk geval al klaar gered voor die persoon se dood nie?
Wat word van die siel?
Dit is ‘n misverstand. Ons moet baie mooi onderskei as ons wil begryp waarom die opstanding wesenlik is vir die evangelie. Sommige Griekse filosowe, en na hulle baie ander mense, was oortuig dat die mens uit twee dele bestaan: ‘n (minderbelangrike) liggaam en ‘n (uiters belangrike) siel. By die dood skei die twee, en die siel vaar op na die geesteswêreld, vry van die beperkinge van die liggaam. Dit is gesien as ‘n heerlike bevryding en verlossing. Daarom sal die Grieke na Paulus luister tot hy in sy preek by die opstanding van die liggaam kom, maar dan lag hulle hom uit (Hand 17:32ev). As die siel weer met die liggaam verenig moes word, sou dit presies die einde van die verlossing wees want die siel sou weer aan die beperkinge van die liggaam onderwerp word.
Baie Christene meen dat Paulus hierdie tweedeling van die mens aanvaar het, maar net die liggaam hoër waardeer het. Die liggaam sou dan nie só onbelangrik wees dat dit net ‘n beperking op die siel se bewegings plaas nie. Omdat God ook ons liggame geskep het, is hulle ook belangrik en moet uiteindelik in die verlossing deel.
Die mens staan op
Die probleem is egter dat die opstanding nie regtig in so ‘n geval die hele evangelie op die spel sou plaas nie. Dit sou dan net baie jammer gewees het as daar nie naas die redding van die siel, ook ‘n opstanding van die liggaam sou wees nie.
Paulus bedoel egter onder die opstanding van die liggaam iets anders. Hy bedoel nie net ‘n deel van die mens nie, maar die mens as sodanig. Die opstanding van die liggaam is die opstanding van die mens. Dit is waarom die hele evangelie met die opstanding op die spel is. Sonder die opstanding is die mens verlore, uitgelewer aan die mag van die dood. Die Bybel ken glad nie ‘n tweedeling of driedeling van die mens nie. Die mens is ‘n eenheid wat sterf en opstaan (38.1 en 38.2).
En na die dood?
Natuurlik kom die vraag na die tussentoestand dan na vore. Wat gebeur dan na ons dood?
Dit is opvallend dat Paulus hierdie vraag beantwoord met ‘n verwysing na die wederkoms van Christus, nie met ‘n verduideliking van presies wat met die mens by die dood gebeur nie (1Tes 4:13ev). Die gelowiges wat sterf, sal niks mis nie omdat Christus se koms naby is en Hy hulle sal opwek uit die dood.
Die tussentoestand het eintlik eers agterna ‘n probleem geword toe Christus nie so gou gekom het as wat die vroeë Christene gedink het nie. In die lig van Christus se oorwinning oor die dood, sou ons egter tog die volgende kon sê. As gelowiges is ons in Christus ingelyf en deel dus in sy oorwinning oor die dood. Ons eie dood kan nie hierdie aandeel in sy verheerlikte lewe bedreig nie. Daarom kan die dood ons nie van Hom skei nie (Rom 8:38ev). Ook vir die tussentoestand moet ons dus na Christus kyk, nie na onsself nie. Dit is nie moontlik om na onsself te kyk (siel, liggaam, gees ens) en dan te begryp hoe ons, selfs as ons sterf, nog in sy gemeenskap kan bly nie. Daar is nie in ons iets wat sterker is as die dood nie. Die leer van die onsterflikheid van die siel kom nie in die Bybel voor nie.
Maar wel die leer van ons vereniging met Christus deur die doop en die geloof (77.3, 77.5 en 79.2). Hierdie band kan nie gebreek word nie, ook nie deur die dood nie. Dít is ons hoop in die tussentoestand.
Wat word van ons liggaam?
En die opstandingsliggaam? Nogeens: ons liggaam is onsself vanuit ‘n bepaalde hoek bekyk. Paulus vra twee vrae: `Hoe word die dooies opgewek? Watter soort liggaam sal hulle hê?’ (1Kor 15:35) Dit is ‘n herhaling van dieselfde vraag. Ons liggame is onsself. In beide vrae vra hy dus net hoe gaan ons lyk as ons opstaan.
Die beelde wat Paulus gebruik, sê op ‘n kenmerkende wyse dat ons nie weet nie, want apokaliptiese beelde is vae aanduidings wat nie presiese informasie gee nie. Hy gebruik die beeld van saad. ‘n Mens kan nie uit ‘n koringkorrel aflei hoe die koringplant gaan lyk nie. Verder vergelyk hy ons huidige lewe met ons toekomstige lewe as verganklik – onverganklik, gering – verheerlik, swak – sterk (1Kor 15:37ev; 42ev). Natuurlik sê dit baie, maar geen presiese beeld van hoe ons sal lyk nie, eenvoudig omdat ons nie in ons ervaring iets het wat dit presies kan uitdruk nie. Ons het natuurlik die getuienis oor Christus se verskyninge, maar dié herinner ons juis dat Hy wel herkenbaar was maar tog ook heeltemal anders as voor sy kruisiging.
Ons moet nie in terme van fisiese kontinuïteit oor ons toekomstige lewe dink nie. Die molekules waaruit ons nou bestaan, sal nie bewaar word en weer deel van ons uitmaak by die opstanding nie. Alle molekules wat in ons is, was alreeds in ander wesens. As ons probeer dink aan presies wat opgewek sal word en wat die identiteit sal wees tussen wat ons nou is en wat ons sal wees, lyk dit my die beste om aan ons geskiedenis te dink. Ons sal weet wie ons was.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.
Skrywer: Prof Adrio König