Die laaste oordeel – Francois Malan
Francois Conradie vra:
Kinders van God by die laaste oordeel. a) Sal gereddes by die laaste oordeel verantwoording moet doen vir hulle verkeerde dade en woorde alhoewel hulle nie veroordeel sal word nie? (Openbaring 20:12 +15) b)Na aanleiding van 1 Petrus 4:17 + 18: Word gereddes hier op aarde getugtig en gestraf vir verkeerde dade ens sodat hulle nie by die oordeelsdag saam met die wêreld veroordeel word nie?
Antwoord
Prof Francois Malan antwoord:
Vraag 1
Jesus het gesê Hy sal in majesteit kom om al die volke vanuit sy koninklike troon te oordeel, en Hy sal die mense van mekaar skei soos ‘n wagter die skape van die bokke skei (Mat.25:32).
Paulus sê: Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad (2 Kor.5:10);
en van gelowiges sê hy: elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets. As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word; as iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is (1 Kor.3:13-15).
In 1 Kor.4:5 sê hy: die Here sal ook die dinge, wat in duisternis verborge is , aan die lig bring en die bedoeling van die hart blootlê. Elkeen sal dan van God die lof ontvang wat hom toekom.
In Gal.6:7-10 sê hy: Moenie julleself mislei nie. God laat nie met Hom spot nie. Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes. Wie op die akker van sy sondige natuur saai (dit verwys na die mense wat met die genade van God speel en voortgaan met die sondes wat in 5:19-21 genoem is), sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai (dit verwys na die vrug van die Gees wat in 5:22-23 genoem is), sal van die Gees die ewige lewe oes. Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges.
In Rom.2:6 -8 sê hy: God (wat regverdig oordeel) sal elkeen vergeld volgens sy dade: aan dié wat in goeddoen volhard en op dié manier soek na wat verhewe, eervol en onsterflik is, gee Hy die ewige lewe; maar dié wat uit selfsug ongehoorsaam is aan die waarheid en toegee aan die ongeregtigheid, straf Hy in sy toorn.
1 Petrus 1:17: Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld.
Gelowiges weet dat God gaan oordeel oor ons gesindhede, woorde en dade, maar ons Regter is Jesus wat vir ons gesterf het en deur sy Gees in ons woon om ons te lei en te versterk. Die oordeel gaan oor ons goeie en slegte gesindhede, woorde en dade. En die Heilige Gees is juis besig om ons te vorm om al meer soos Christus te word in gesindheid, woord en daad (vgl. 2 Kor.3:18). Tog bly ons steeds selfsugtig in al ons doen en late, en het maar begin op die pad van selfverloëning. Daarom sal ‘n klomp van ons werke verbrand in die oordeel van God (vgl. 1 Kor 3:15 hierbo), sodat ons volmaak sal liefhê soos ons Vader (vgl. Mat.5:44,45,48). Die goeie in die lewe van die gelowige sal bevestig word en vir ewig bestendig word; die verkeerde sal vir ewig uit hom verwyder word. Ons verlossing bly egter uit God se genade waarop ons vertrou as sy kinders wat Hy aangeneem het, ook tot in die oordeelsdag. Ons bly vertrou op Jesus se liefdesoffer vir ons en op God se liefde vir ons, want ons is oortuig dat niks ons kan skei van die liefde van God wat daar is in Christus Jesus ons Here nie (Rom.8:39). Daarom moet ons as reaksie op sy liefde uit dankbaarheid Hom liefhê met ons hele lewe en ook ons medemens soos ons self (Mat.22:37-40; 1 Joh.4:19-21).
Openbaring 20:12,15 – ons skrywe elke dag in ons eie lewensboek deur al ons gesindhede, woorde en dade, goeies en slegtes. Dit word alles oopgemaak. Maar God skryf die name van sy kinders in die boek van die lewe, dié wat Hy vir Hom aangeneem het deur die offer van sy Seun aan die kruis en ons verbondenheid aan Hom deur geloof wat die Heilige Gees in ons bewerk (Rom 8:9-17).
Vraag 2
Hebreërs 12:5-6 haal Spreuke 3:11,12 aan: ‘My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.’ Verdra tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien ‘n kind wat nie deur sy vader getug word nie? As julle nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders nie…Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel (12:10b).
Hebreërs 5:8 sê selfs: Hoewel Hy (Christus) die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. Kyk maar na sy stryd in Getsemane (Matteus 26:36-45).
Romeine 2:9-11 sê: Lyding en benoudheid bring God oor die lewe van elke mens wat kwaad doen, in die eerste plek oor dié van die Jood, maar ook oor dié van die nie-Jood. Wat verhewe en eervol is, en vrede, skenk Hy aan elkeen wat goed doen, in die eerste plek aan die Jood, maar ook aan die nie-Jood. God trek immers niemand voor nie.
Romeine 3:10-12 haal Prediker 7:20 en Ps 14:2 aan: Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie; daar in nie een wat na die wil van God vra nie. Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goeddoen nie, selfs nie een nie. Almal het gesondig en is vér van God af, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek gered.
1 Kor.11:32 sê: Maar nou word ons deur die Here geoordeel en getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie. Die woord ‘getugtig’ (Grieks paideuo) beteken om iemand op te voed, hom te leer wat die regte optrede en gedrag is, hom te dissiplineer, hom te straf met die doel dat sy gedrag sal verbeter. Daarom sê 11:31 dat ons ons self reg moet ondersoek om te sien of ons optree soos kinders van God, en waar ons dinge anders moet doen. Ons maatstaf is Jesus en sy optrede. Hy het Homself vir ons gegee (11:24-26). Dit sê Paulus vir die Korintiërs wat die nagmaal misbruik deurdat die rykes apart alles opeet, en die armes en slawe eenkant niks kry om te eet nie (11:17-22), en dit terwyl die nagmaal bedoel is as die teken en bevestiging is dat Christus Homself in liefde vir ons sondaars aan die kruis gegee het (11:23-26).
1 Petrus 4:17,18 – Ja, gelowiges word hier op aarde wel gestraf en getugtig, sodat ons sal begin om reg ter lewe en op te tree, soos mense wat saam met Christus sterwe aan ons self, soos kinders van God wat liefhet. Maar as ons voortploeter in die sonde, deur ons eie sondige begeertes te volg en vir ons self te lewe, sal ons saam met die ongereddes veroordeel word (soos 1 Kor.11:32 sê). Die doel van God se tug is egter om ons, wat Hy reeds as sy kinders aangeneem het, gehoorsaamheid te leer, dat ons die sonde aflê, sodat ons voorberei word vir die lewe wat God vir ons bestem het, naamlik om Hom met ons hele lewe lief te hê en te vertrou en te gehoorsaam, en om mekaar lief te hê soos ons self. Hy is besig om ons as sy kinders in sy gesin, te leer hoe om te lewe as sý kinders, in sý huisgesin, saam met Hom as ons Vader (vgl. Romeine 12:1-2). Dit behels dat ons die sonde aflê en al minder selfsugtig vir ons self lewe. Maar die veroordeling van ons sondes het Jesus reeds aan die kruis op Hom geneem. Dit is deur Homself te offer in ons plek, dat ons nie veroordeel sal word nie, en dit net uit God se genade en liefde. Die tugtiging wil ons juis leer om op God en sy genade te vertrou en nie op ons self en op ons eie werke nie.
Maar mense wat God se liefdesoffer aan die kruis verwerp of nie aanvaar nie, word veroordeel oor hulle hele lewe waarin hulle hulle rug gedraai het op God en sy liefde en genade en op sy aanwysings vir ons lewe.
Skrywer: Prof Francois Malan