Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Geloof

Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Geloof – Adrio König

Geloof

Ons word deur geloof geregverdig, nie op grond van ons geloof nie, maar op grond van Christus se geregtigheid. Die evangelie is dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog God se vyande was. Glo dit. Vertrou Hom dat Hy gedoen het wat Hy in die evangelie sê. Dan spreek God jou vry van jou sonde. Dan beskou Hy jou asof jy nooit self enige sonde gedoen het nie, ja, asof jy self vir al jou sonde betaal het.

Ons geloof is dus leeg. Dit is op Christus gerig. Dit is ‘n belydenis dat wat ons kan doen, geen besondere waarde het op grond waarvan God ons kan regverdig nie. Ons erken en beklemtoon dit juis deur op Christus te vertrou. Net sy werk het voor God waarde om ons te regverdig.

Dit beteken ook dat ons in die geloof wegkyk van onsself, en ons oë net op Hom hou. Ons geloof is so onbelangrik dat dit nie eens saak maak of ons presies reg glo of regtig genoeg geloof het nie. Net Hy maak saak en Hy het meer as genoeg gedoen vir al my sonde, selfs vir die hele wêreld se sonde. As ek by wyse van spreke net so skuins na sy kant toe loer, regverdig God my al. Hy is gretig om dit te doen. Dit is presies waarvoor Hy sy Seun gegee het. Hy sal nie vitterig wees oor presies hoe my geloof lyk nie. Al is dit net so groot soos ‘n mostertsaad. Al sê ek net: `Ek glo, help my waar ek nog ongelowig is’ (Mark 9:24).

Maar dit beteken ook dat my geloof beslissend is. As ek nie in Hom glo nie, as ek nie vertrou dat Hy alles wat nodig is, vir my gedoen het nie, gaan ek verlore. Juis omdat my geloof leeg is, geen reddende waarde het nie, maar volkome van die waarde van Christus leef, is ek verlore as ek Hom nie toe-eïen nie. Dan het ek niks.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Laat sy Liefde jou Lei: Wees ‘n bron van hoop

Laat sy Liefde jou Lei: Wees ‘n bron van hoop – Milanie Vosloo

Wees ‘n bron van hoop

Mag julle insien hoe enorm groot die krag is wat God gebruik in ons wat glo. Efesiёrs 1:19a

Elke keer wat iemand op staan vir ‘n ideaal of iets doen om ander te lewens te verbeter, stuur daardie mense ‘n rimpeling van hoop wat oor die hele wêreld uitkring.

Miskien mag jy wonder hoe, waar en aan wie jy ‘n bepaalde vorm van hoop kan oordra. Want, soos jy, probeer elke mens op aarde om binne sy konteks te oorleef en streef almal daarna om vreugde en lewensvervulling te geniet. Wanneer ons dit besef, sal ons oё en harte waarskynlik ánders begin dink oor ander mense. Dis dan wanneer ons besef dat ons huismense, vriende, kollegas, die kassier, die motoroppasser, die persoon voor jou by die ATM … almal mense is wat hoop soek. Meer nog is dit mense aan wie jý op jou unieke manier ‘n stukkie hemelse lewensmoed kan gee. En rimpel-effek-hoop hoef nooit net groot dinge te wees nie, want hoop kom dikwels in die vorm van ‘n spontane glimlag, ‘n opbouende woord, positiewe kommentaar of ‘n opregte vorm van omgee-liefde. Hoop gee liefde aan omdat dit geduldig, vriendelik en opbouend is. Dit, soos 1 Korintiёrs 13:5 ons leer, tree nie onwaardig op, stel nie eie belang voorop nie, is nie kort van draad nie en hou nie boek van die kwaad nie.

Jy kan vandag ‘n klippie hoop in iemand anders se hart plaas deur bloot die liefde te gaan leef!

Here, ek wil hoop aangee … ek wil vandag ‘n positiewe rimpeleffek-mens wees.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Regverdiging

Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Regverdiging – Adrio König

Regverdiging

Die begrip regverdiging is een van die kernbegrippe van die kerkhervorming. Lurther se vraag: Waar kry ek ‘n genadige God, was ten diepste ‘n vraag hoe hy geregverdig kan word d.i. hoe hy in die regte verhouding met God kan kom. Hy het goed geweet van die geregtigheid van God, en dit was juis sy vrees: God is self regverdig en daarom eis Hy geregtigheid van ons. Ons het dit nie. Daarom staan ons onder sy oordeel. Waar kry ek ‘n genadige God?

Maar toe ontdek hy God eis nie net geregtigheid nie, Hy gee dit ook. Trouens God se geregtigheid is selfs nog veel omvattender as dit. God laat geregtigheid geskied, wat in die OT beteken Hy straf die goddelose en red die hulpelose. God se geregtigheid beteken dat Hy ‘n Vader vir die weeskinders is en ‘n beskermer van die reg van die weduwees (Ps 68:6). Daarom eis die profete ‘n regverdige samelewing waarin die reg van die verdruktes beskerm word en die armes gehelp word, maar die verdrukkers verbrysel word (Ps 72:4).

Maar natuurlik het dit nie Luther se probleem opgelos nie – eerder vererger, want in die NT lees ons dat almal onregverdig is en die hele wêreld strafwaardig voor God (Rom 3:12,19). Dus opnuut die vraag: Waar kry ek ‘n regverdige God?

En dan die verrassing: God spreek die goddelose vry … as hy of sy glo (Rom 4:5). Dit gaan nie meer daarom of ek regverdig is nie (trouens ons het almal gesondig en is vervreem van God, Rom 3:23), maar of ek glo in Hom wat die goddelose regverdig. Toe ons nog sondaars was, het Christus vir ons gesterf (Rom 5:8). Toe ons nog vyande was, is ons deur die dood van sy Seun met God versoen (Rom 5:10). Glo dit! Dis die evangelie.

Regverdiging is om, terwyl ek skuldig is, deur God vrygespreek te word op grond van iemand anders se geregtigheid (dus nie my eie nie), en wel op grond van Christus se geregtigheid wat aan my toegereken word. Sondevergifnis is niks anders as regverdiging op grond van Christus se verdienste nie.

Maar Hy spreek my vry om my ook vry te maak, vry van die onreg in my lewe, vry om reg te doen, vry om geregtigheid in die samelewing te vestig.  Daar is geen regverdiging sonder heiliging nie. Dit sou goedkoop genade wees. God gee nie om hoe ek lyk as Hy my moet regverdig nie, maar Hy gee om hoe ek daarna lyk. Maar dit bring ons alreeds by die heiliging.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Genade

Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Genade – Adrio König

Genade

Ons kan nie anders nie as om hier te begin. Alles wat ons kan sê oor die wyse waarop God ons in die heil laat deel, het sy genade as basis. Ons verdien nie dat God ons red uit die ewige dood nie. Ons het ook niks wat ons kan aanbied wat enige heilswaarde voor Hom het nie. Ons staan met leë hande en bédel voor Hom. As daar iets moet gebeur, moet dit van sy kant af kom.

Trouens dit moet Hyself wees, nie maar net iets van Hom nie. Genade is nie iets wat God ons gee en dan kan ons op ons eie verder gaan nie. God se genade is eintlik God self wat ons genadig is, wat vir ons glimlag terwyl Hy eintlik die oordeel oor ons moet uitspreek, wat ons sien as ons nog ver aankom en dan nie die sambok gaan haal nie, maar ons omhels en teen Hom vasdruk (Luk 15:11ev). Die tollenaar het dit goed besef. Nie: Gee my genade nie, maar: Wees my genadig (Luk 18:13).

Maak dit nie genade vernederend nie? Dis mos nie lekker om bakhand te staan en bédel nie. Dis mos baie lekkerder om te weet: ek kon dit self doen. Natuurlik. Maar dit is nie die genade wat ons verneder nie, dis ons sonde. Ons sonde stel ons onder die oordeel van God. Ons sonde veroorsaak dat ons nie iets wat heilswaarde het vir onsself kan doen nie.

Genade daarenteen is verheffend. God omhels ons, sit ‘n ring aan ons vinger, skoene aan ons voete, en slag vir ons die vetgemaakte kalf! Dit is telkens die sonde wat ons verneder – soos vir die wegloopkind én ook vir die oudste seun wat nie genade wil betoon nie. Dit verneder hom voor die Vader. Dit wys dat hy nie innerlik vry is nie, self nog nooit by die Vader was nie, self nog nooit die omhelsing van die Vader aanvaar het nie. Daarom leer die Here Jesus ons bid: `Vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree‘ (Mat 6:12).

Niks verder nie? Alles sommer maar net só? Nee, alles om Jesus wil. Dit is nie so dat God se genade sommer goedkoop is, dat Hy sommer net vergewe en niks verder nie. In werklikheid is daar ‘n duur prys betaal sodat Hy ons kan vergewe. Elders is verduidelik dat dit nie so maklik is om te verstaan waarom daar juis so ‘n onsaglike prys betaal moes word nie. Wat hier bygevoeg kan word, is dat Hy dié prys wat Hy vereis, nie van ons vereis het nie – dit sou ons ewige dood gekos het – maar dit self betaal het! Dit is genade. En as dit so is, pla dit my ook nie meer so vreeslik baie waaarom Hy nie net vergewe het nie, maar waarom Christus eers moes gesterf het. Ek weet dit was nodig dat so ‘n vreeslike prys betaal word, en ek loof Hom vir ewig dat Hy bereid was om self daarvoor in te staan toe Hy sien ons kan nie. Dit beteken net een ding: Hy gee baie vir ons om, ons kan seker wees van sy genade. Hy is die God met die glimlag.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König