Die Handelinge van die Apostels: Die begin van die sendingreise (Hand 13) – Francois Malan

Die fokus van Handelinge verskuif nou na die voortgaande werk van Jesus deur die bediening van Saulus/Paulus onder leiding van die Heilige Gees. Die voortgang van die storie word verbind aan die sentrums waarheen Saulus deur die Heilige Gees gelei word. Die drie dominante temas in die meeste van die verslae oor die sendingreise wat met hoofstuk 13 begin is: 1 die belangstelling van die heidene en veral godvresendes onder hulle in die boodskap van die evangelie; 2 die teenstand en vervolging van die gelowiges deur die Jode; 3 die groeiende sukses van Paulus se bediening in die stigting van gemeentes in die Romeinse ryk (tydens sy reise word al Paulus se briewe geskryf as riglyne vir die gemeentes, veral oor probleme en vrae van die gemeentes).

Barnabas en Saulus word uitgestuur (Hand 13:1-3)

13:1 Die verskillende dienaars wat leiding geneem het in die Antiogië-gemeente (ekklêsia verwys hier na die plaaslike gemeente) word hier vermeld. Die werk van die profete en leermeesters kan nie skerp onderskei word nie. In die tyd voordat die Nuwe Testament ontstaan het, het die Heilige Gees deur die Nuwe Testamentiese profete die wil van die Here in die gemeentes se verskillende omstandighede aangewys. Hulle het veral die goeie nuus in die gemeentes gepreek. Die leermeesters (didáskaloi word net een maal in Handelinge genoem) het die gemeente onderrig in die geloof in God en die lewenswyse van kinders van God. Albei dienste is deur die Heilige Gees gebruik om die gemeentelede op te bou.

Onder die leiers van die gemeente word enkeles genoem: Barnabas uit Siprus, wat moontlik die leiding geneem het saam met ’n Simeon genoem Niger, wat hom onderskei van die ander Simons in Handelinge. Die bynaam Niger verwys na die Latynse woord vir swart of donker. Hy was waarskynlik ’n afstammeling van godvresendes in Afrika, wat gelowige geword het. Lucius uit Sirene in Noord-Afrika word ook in Romeine 16:21 genoem as ’n volksgenoot van Paulus, wat saam met hom in Korinthe is, vanwaar Paulus Romeine skryf. Manaen, (’n vorm van Menahem, 2 Kon 15:17) was ’n jeugvriend van Herodes Antipas, wat later oor Galilea en Perea regeer het ná sy pa, Herodes die Grote, se dood. Saulus uit Tarsus word laaste genoem in die lys wat met Barnabas begin. Waarskynlik was Barnabas die oudste en Saulus die jongste van die profete en leermeesters in die Antiogië gemeente, wat hier genoem word. Vier van die vyf wat genoem word kom uit die buiteland (diaspora, Israel se verstrooiing) en slegs Manaen uit Palestina.

13:2 Dit is nie duidelik of die ‘hulle’ wat besig was om die Here te dien en te vas, verwys òf na die gemeente van Antiogië òf na die groep profete en leermeesters, wat albei in vers 1 genoem word nie. Die woord vir ‘dien’ is tot ’n mate ’n ongewone woord leitourgéō, wat in die alledaagse Grieks gebruik is vir onbetaalde diens aan die staat. In die Bybel word dit gebruik om spesifieke godsdienstige handelinge uit te voer as deel van jou rol of verantwoordelikhede (Luk 1:23 vir Sagaria se diensbeurt; in Hebr 10:11 vir die priesters se daaglikse offers; in Rom 15:27 vir die gemeentes se barmhartigheidsdiens met die kollekte vir die gemeente in Jerusalem; teenoor latreúō as deel van jou godsdienstige handeling in aanbidding en toewyding in diens van die Here, Rom 1:9; Flp 3:3). Terwyl hulle besig was met diens aan die Here en gevas het, het die Heilige Gees gesê (waarskynlik deur een van die profete): ‘Sonder nou vir My Barnabas en Saulus af vir die werk waarvoor Ek hulle reeds spesifiek geroep het en waarvan hulle nou die verantwoordelikhede moet opneem – dié aspekte lê in die perfektum vorm van die werkwoord proskaléomai. Die betekenis van Josef se bynaam Barnabas is in Hand 4:36 verduidelik as ‘Seun van Vertroosting.’ Waarvoor die Here vir Saulus uitgekies het is reeds in Handlinge 9:15 uitgespel. Die meer as 14 jaar na sy bekering was ’n tyd van voorbereiding vir Saulus se taak waarvoor die Here hom oorspronklik geroep het.

13:3 Toe die gemeente klaar gevas en gebid het, het hulle die hande op Barnabas en Saulus gelê en hulle gestuur – ‘as instrumente om Jesus se Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel’ (Hand 9:15). Hulle het gevas en gebid om die seën van die Here af te smeek oor die werk waarvoor die Heilige Gees Barnabas en Saulus afgesonder het. Die handoplegging deur die gemeente is om hulle aan die Heilige Gees oor te gee om hulle te lei en te gebruik in die Naam van die Here Jesus, met die ondersteuning van die gemeente se voortgesette gebede vir hulle. Antiogië word deur die Heilige Gees gebruik as die sendende gemeente van die sendingreise wat hierop volg. In 14:27 word die hele gemeente byeengeroep vir die verslag van Barnabas en Paulus oor alles wat God met hulle gedoen het en dat Hy ’n deur tot die geloof vir die heidene oopgemaak het.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Doop van ingeseënde – Francois Malan

Ingrid vra:

 Ons een seun is gedoop en die tweede een ingeseen. Ons is nou terug in NG Kerk al vir die laaste vier jaar. Moet ons, ons tweede seun laat doop?
Wat is die regte ding om te doen?

Antwoord

Prof Francois Mlan antwoord:

Ek weet nie hoe oud is julle tweede kind nie. ’n Kind wat begin verstaan van Jesus kom saam met die ouers na die doopgesprek voor die doop. Vir klein kindertjies bring die ouers hulle om gedoop te word na hulle doopsgesprek. Die NG Kerk doop kinders van gelowige ouers. Ouer mense wat tot bekering kom deur in Jesus te begin glo en nog nooit gedoop is nie, word gedoop ná sy/haar belydenis van sy/haar geloof in die Here Jesus.

Die kerke wat kinders inseën laat hulle kinders later doop, gewoonlik nadat hulle ten minste 16 jaar oud is om self hulle geloof in Jesus te bely voor hulle gedoop word.

Dit verteenwoordig twee sienings oor die betekenis van die doop. Die kerke wat kindertjies inseën wys onder andere na Matteus 28:18-20 waar Jesus die opdrag aan sy dissipels gegee het om ‘dissipels van al die nasies te maak en hulle te doop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.’ Hulle maak die doop afhanklik van die dopeling se geloof in die Here voordat hulle gedoop word.

Die NG Kerk en ander kerke met dieselfde siening as hulle, sien die doop as God se bevestiging dat Hy die kind aangeneem het as sy kind. En dat die Here die kind tot geloof in Jesus sal lei deur die voorbeeld en onderrig van gelowige ouers. So het die Here die besnydenis ingestel as teken van sy verbond met Abraham in Genesis 17:9-13 met die opdrag dat die groot mans en die seuntjies van agt dae oud besny word as teken van sy genadeverbond met hulle. Die doop van mans en vroue, seuntjies en dogtertjies het ná Jesus se dood aan die kruis die plek van die besnydenis ingeneem (vgl. Kolossense 2:11-13).

Op die Pinksterdag het Petrus gepreek en vir die mense wat vir hom gevra het wat hulle moet doen, gesê: ’Bekeer julle en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte geld vir julle, en ook vir julle kinders, en vir almal daar ver, almal wat die Here ons God na Hom toe roep (Handelinge 2:38-40).

God se belofte is dat die Heilige Gees in ons kom bly om ons tot geloof in Jesus te lei en ons geloof daagliks te versterk; en dat ons sonde deur Jesus se offer vergewe is  as ons in Hom glo. Die belofte van God is beskikbaar vir alle mense vir wie God roep, en ook vir ons kinders saam met ons.

Daarom kan julle tweede seun met groot vrymoedigheid gedoop word in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Dit is God se bevestiging dat Hy ons sonde vergewe en ook ons kinders as sy kinders aanneem as ons in die Here Jesus glo as die Seun van God wat vir ons gesterf het en opgestaan het uit die dood om ons te red uit ons sonde tot ’n lewe vir God.

Skrywer: Prof Francois Malan




Kerk en staat – Francois Malan

Magda vra

Verduidelik asb die skeiding tussen die funksies van kerk en staat

Antwoord:

Pof Francois Malan antwoord:

Elke land en tyd het verskillende opvattings en wette oor die verhouding tussen staat en kerk. In Suid-Afrika het die wette daaroor byvoorbeeld na 1994 verander. Kyk bv. na afdelings15 en 234 van die konstitusie van Suid-Afrika wat in 1996 wet geword het.

Google bv. Pieter Coertzen se artikel ‘Constitution, Church and religions in South Africa’

Die Nuwe Testament gee sekere riglyne wat verskil van party van die Ou Testament se verskillende verhoudings onder verskillende konings van Israel en Juda en van die rol van die verskillende profete van God.

Volgens Mattheus 22:21 het Jesus oor die keiser se belasting en die mense se alledaagse  gebruik van die keiser se geldstelsel gesê: ‘Gee aan die keiser wat hom toekom en aan God wat Hom toekom.’ (ook in Markus 12:17; Lukas 20:20-26).

So skryf 1 Petrus 2:13-17 : ‘Wees ter wille van die Here onderdanig aan elke menslike instelling, sowel aan die keiser, die hoogste gesagsdraer, as aan die amptenare – die mense deur die keiser gestuur om die misdadigers te straf, én die wat goed doen, aan te prys. God wil immers hê dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase stopsit. Leef as vry mense – nie soos hulle wat die vryheid as ’n dekmantel vir die kwaad beskou nie, maar as mense wat God dien. Julle moet alle mense respekteer, die medegelowiges met liefde bejeën, ontsag vir God hê, die keiser respekteer.’

Paulus het dit verder omskryf in Romeine 13:1-7 ‘Elke mens moet onderdanig wees aan die gesaghebbers wat oor hom gestel is, want daar is geen gesag wat nie van God afkomstig is nie; en dié wat daar wel is, is deur God ingestel (vgl. Jesus se woorde aan Pilatus in Joh 19:11: U sou geen volmag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee is nie). Wie die gesag teenstaan, verset hulle dus teen die instellng van God, en diegene wat hulle verset, sal ’n oordeel oor hulleself bring. Die owerhede boesem immers nie vrees in as dit kom by goeie optrede nie, maar wel by verkeerde optrede. Wil jy sonder vrees vir die owerhede leef? Doen dan wat goed is, en jy sal lof van die owerheid ontvang. Want die owerheid is ’n dienskneg van God tot jou beswil. Maar as jy doen wat sleg is, moet jy bang wees. Die owerheid dra nie verniet die swaard nie. Hy is immers ’n dienskeg van God, aangestel om kwaaddoeners te straf. Dit is dus noodsaaklik om onderdanig te wees, nie net uit vrees vir straf nie, maar ook ter wille van jou gewete.

            Daarom betaal julle ook belastings, want hulle is diensknegte van God wat hulle juis hiermee bemoei. Betaal aan almal wat hulle toekom: belasting wie belasting, tolgeld aan wie tolgeld, ontsag aan wie ontsag, eer aan wie eer toekom.’

Jesus en Petrus en Paulus het gelewe in ’n staat waar die keiser en die senaat die seggenskap oor die hele Romeinse ryk gehad het. Ons leef in ’n demokratiese staat, waar die mense (Grieks dêmos ‘volk’) die seggenskap het (Grieks krateō regeer) met hulle stemreg en die reg van spraak en kritiek op die regering. Maar die beginsels wat in die Bybel gestel word as die wil van God vir ons lewe, is waarvolgens gelowiges in ’n sekulêre staat lewe.

Die funksie van die staat is om te sorg vir reg, geregtigheid en die versorging van die mense. Die funksie van die kerk is om te dien, om God te dien deur ons medemens in liefde en barmhartigheid te dien. Terwyl mense en die staat strewe na grootheid  en uitnemendheid, strewe Jesus se volgelinge na nederige diens. Volgens Markus 10:42-45 het Jesus vir sy volgelinge gesê: ‘Julle weet dat hulle wat as heersers oor die nasies beskou word, oor hulle baasspeel en dat hulle maghebbers oor hulle gesag uitoefen. By julle is dit egter nie so nie, maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, en wie eerste onder julle wil wees, moet almal se slaaf wees. Want ook die Seun van die mens (soos Jesus Homself noem) het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.’

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Die dood van Herodes Agrippa I (Hand 12:20-25) – Francois Malan

12:20  Die bergagtige Fenisië met sy twee groot stede Sidon en Tirus het nie eintlik plek vir landbou nie. Hulle was vir hulle voedsel afhanklik van hulle bure en het graan per skip na hulle hawens vervoer (vgl. 1 Kon 5:9; Esra 3:7; Eseg 27:17). Herodes was in ’n woedende vete (thumomachō – thumós woede; máchomai baklei, veg) met Fenisië gewikkel, waarskynlik oor die landsgrens, want die Fenisiërs wou baie graag die vlakte noord van Karmel bekom en het soms die gebied geannekseer. Herodes het waarskynlik daaroor hulle voedseltoevoer stopgesit. Die twee stede het saam na Herodes toe gekom om oor vrede te onderhandel, om sy verbod op hulle voedselvoorsiening op te hef. Hulle benader Herodes deur sy hoofamptenaar wat oor sy ‘slaapkamer’ (koinōn) aangestel is. Hy sal waarskynlik die hoof oor die koning se harem wees, ’n ontmande, wat die koning se persoonlike sake reël. Die Fenisiese afvaardiging het vir Blastus oorgehaal deur hom te oortuig van hulle egtheid en erns (peithō om iemand te oortuig om iets te glo en op te tree op grond van wat aanbeveel is). Moontlik het hulle aan hom ’n geskenk daarvoor gegee.

12:21 Op die dag waarop ooreengekom is (tussen Herodes en die afvaardiging deur Blastus se voorspraak) het Herodes koninklike klere aangetrek (Josefus Ant 19:8:2 sê die kleed was heeltemal van silwer gemaak wat in die son geglinster het), op die troon gaan sit en hulle formeel toegespreek (dêmêgoreō op ’n formele plek met formele woorde toespreek). Herodes wou duidelik ’n indruk maak op die gehoor.

12:22 By die aanskoue van die skouspel en aanhoor van die formele toespraak het die mense (dêmos) wat daar byeen was, uitgeskreeu (epefōne imperfektum – hulle het dit aanhoudend geskreeu): ‘die stem van ’n god en nie van ’n mens nie!’ (Josefus vertel ook van die vergoddeliking van Herodes deur die mense). Onder die heidene was hulle konings en keisers maklik as gode vereer.

12:23 Onmiddellik het ’n engel van die Here hom neergevel (soos vir Ananias en Saffira, 5:5,10) omdat hy nie die eer aan God gegee het nie. Hy het met ander woorde die eer vir homself toegeëien en hom so skuldig gemaak aan trots en heiligskennis. Die manier waarop die engel hom neergevel het word aangedui as ‘verteer deur wurms het hy gesterf.’  Die dood deur interne wurms is deur skrywers in die antieke tyd toegeken aan uiterste bose mense en vir selfvergoddeliking. Herodes se selfverheffing is deur die Here verander in diepe vernedering.

12:24 Dit is die vyfde opsomming van die lewe van die kerk se uitbreiding wat Lukas gee (vgl. 2:47; 6:7; 9:31 en 11:21; vgl. ook 19:20). Die vers kyk terug na wat die Here reeds gedoen het deur sy volgelinge, en open die volgende groot deel van Handelinge oor die voortsetting van die uitbreiding onder leiding van die Heilige Gees. Ten spyte van Herodes Agrippa se vervolging van die kerk tot sy dood in 44 n.C., het die woord van God grootliks gegroei en die getal gelowiges het al meer toegeneem. Herodes het nie sy doel bereik nie. Met ‘die woord van God’ word verwys na die sendingprediking van die kerk onder Jode en heidene. Eers in Jerusalem en Judea, toe is die Samaritane bereik, daarna die man van Afrika, en toe die Romeinse wêreld. Van hoofstuk 13 tot 28 versprei die evangelie deur die Romeinse ryk, telkens deur die ingrype van die Here om sy kerk se oë oop te maak vir die pad waarop Hy hulle lei (vgl. Jesus se opdrag in Hand 1:8).

12:25 Die naam van Saulus duik weer op, soos in hoofstukke 7:58; 8:1; 9:1-30; 11:30. In 11:20 was Barnabas en Saulus die draers van die bydraes van die gemeente in Antiogië vir die broers in Judea. Judea was in ’n greep van droogte en hongersnood, in die tyd van keiser Claudius (regeer van 41-54 n.C.). Nadat hulle dié diens in Jerusalem verrig het, het Barnabas en Saulus na hulle basis in  Antiogië teruggekeer. Hulle het Johannes, bekend met sy Latynse naam Markus, Barnabas se nefie, met hulle saamgeneem as hulpkrag om te help in hulle diens (vgl. ’n bespreking van Markus hierbo in die kommentaar oor Hand 12:12).

Skrywer:  Prof Francois Malan