Laat sy Liefde jou Lei: Ons wêreld versus sý wêreld

Laat sy Liefde jou Lei: Ons wêreld versus sý wêreld – Milanie Vosloo

Ons wêreld versus sý wêreld

“Hoe kan julle in weelderige huise bly terwyl my huis ‘n ruïne is? Die magtige Here sê: Dink ‘n bietjie na oor hoe sake vir julle staan!” Haggai 1:4-5 

Die lewe het ‘n manier om ons weg van God af te skeur. Ons is eenvoudig so besig met ons daaglikse roetines, ons werk, huishoudings en die instandhouding van ons aardse lewens dat ons siele dikwels ‘n verwaarloosde ruïne is.

Daardie allerbelangrikste deel van ons menswees lê met tye soos ‘n vervalle huis wat nie meer bly-baar is nie! En wanneer dit gebeur, loop daar ‘n klomp ander dinge in ons lewens ook verkeerd. Verhoudings gaan van spoor af, ons emosies hardloop met ons weg en dinge voel eenvoudig nie lekker nie.

 

Die genade van God is egter dat Hy uit enige afgetakelde siel weer ‘n wonderlike nuwe tuiste kan bou. Hy kan van ruïne-mense weer tempels van aanbidding maak. Ja, Hy kan elke deel van jou wat stukkend en verwaarloos is, weer splinternuut skep. Al wat jy hoef te doen, is om jouself maar net daagliks oor te gee in die hande van die lewende God terwyl jy bid: “Here, vergewe my dat ek toegelaat het dat die wêreld my tyd en my lewe saam met U steel. Lei my terug en herbou U sélf weer elke muur van my siel.”

God se ewigheidswêreld gaan vir altyd hou. Kom ons bou daarom daagliks aan dit wat werklik saak maak: aan die mure van ons siele.

Ek wil ‘n geheiligde tempel van U wees, Here. Bou daagliks aan my asseblief.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo




Die eindtyd: Merk op regterhand en voorkop

Die eindtyd: Merk op regterhand en voorkop – Kobus Kok

‘n Leser vra: 

Ons het ‘n e-pos gekry wat handel oor Motorola wat ‘n chip ontwerp het bekend as Mondex wat onder mens se vel of onder jou skedel of op jou hand ingeplant word. Weet julle enigiets daarvan?

Antwoord:

 

Dr Kobus Kok antwoord: 

Die eindtyd: Merk op regterhand en voorkop

Dr. Kobus Kok

Deesdae sirkuleer verskeie eposse waarin daar beweer word dat ‘n bepaalde maatskappy “chips” ontwerp het wat die gewone bankkaart sal vervang. Hierdie “chip” word dan of in die hand of in die voorkop ingeplant. Baie mense wonder of dit na die merk van die dier verwys waarvan ons in Openbaring lees.

Die antwoord is eenvoudig nee. In Openbaring word daar wel verwys na die merk van die dier wat op mense se voorkoppe en hande sal wees. Dit moet egter simbolies verstaan word. Vandag sal ons byvoorbeeld sê: “Ag man, skryf dit maar op jou maag”. Daarmee probeer ons simbolies sê dat jy maar daarvan moet vergeet. Net so moet Openbaring se verwysing na die merk op die voorkop en die hand simbolies verstaan word as dat die merk op die voorkop verwys na besit aan die een kant, en mense se manier van dink aan die ander kant. In die antieke tyd is slawe dikwels gemerk op die voorkop en so word daar gewys aan die wie die slaaf behoort. Die slaaf het ook die verantwoordelikheid gehad om lojaal te wees aan die eienaar in woord en daad.

In Openbaring is dit nie net die kinders van die duiwel wat die merk sal dra nie. God se kinders word in Openbaring ook op die voorkop gemerk (vgl. Openb 7:3). Inteendeel, in die verhaal van Openbaring word die kinders van God op hulle voorkoppe verseël voordat daar nog enigsins sprake is van dat die duiwel se volgelinge ‘n merk dra. Daarom kan ons sê dat die duiwel die aksie van God eintlik dupliseer, hy kon dit nie eers self uitdink nie. Die merk waarmee God sy kinders merk dien as bewys dat hulle God se eiendom is en dat die duiwel nie reg op hulle lewens het nie. Die mense met God se merk op hulle voorkoppe is ook diegene wat in hulle denke en dade lojaal is teenoor God.

Myns insiens is die eposse wat die rondte doen verkeerd as hulle die mikro-chips verbind aan die merk van die dier in Openbaring. Ons moet onthou dat die boodskap van Openbaring vir die eerste lesers belangrike betekenis gedra het in die eerste eeu. Deur die boodskap te beperk tot ons tyd beteken dat ons die boodskap daarvan vir die eerste lesers ontken. Vir die eerste lesers twee duisend jaar gelede sou die merk op die voorkop die konnotasie dra van eienaarskap, met die duidelike boodskap dat mens of aan God of aan die duiwel behoort. Dit kan veral gesien word in die manier waarop mens dink en optree.

Hier onder verskyn die tekste uit Openbaring wat handel oor die merk van God en die merk van die dier:

Openbaring 7:1 En ná hierdie dinge het ek vier engele op die vier hoeke van die aarde sien staan, en hulle het die vier winde van die aarde vasgehou, sodat geen wind sou waai op die aarde of op die see of teen enige boom nie.

Openbaring 7:2 En ek het ‘n ander engel sien opkom van die opgang van die son, met die seël van die lewende God; en hy het met ‘n groot stem geroep na die vier engele aan wie dit gegee is om die aarde en die see te beskadig

Openbaring 7:3 en gesê: Moenie die aarde of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van onse God op hulle voorhoofde verseël het nie.

(Openbaring 13:16 AOV) En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word;

(Openbaring 13:17 AOV) sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het.

(Openbaring 14:9 AOV) En ‘n derde engel het hulle gevolg en met ‘n groot stem gesê: As iemand die dier en sy beeld aanbid en ‘n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang,

(Openbaring 14:11 AOV) En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang.

(Openbaring 16:2 AOV) Toe gaan die eerste een weg en gooi sy skaal op die aarde uit, en kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het.

(Openbaring 19:20 AOV) En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand.

(Openbaring 20:4 AOV) En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.

 

Skrywer: Dr Kobus. Kok




Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Bekering

Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Bekering – Adrio König

Bekering

Dit is een van die kernwoorde van die Christelike geloof. Sowel Johannes die doper as Jesus begin hul openbare optrede met ‘n oproep tot bekering (Mat 3:2; 4:17), nadat dit oor en oor in die OT, veral by sommige profete voorgekom het.

 

Die veronderstelling van bekering is dat alles nie pluis is nie. Ons moet verander omdat ons verkeerd is, op die verkeerde pad, in ‘n verkeerde rigting op pad. Bekering beteken dat ons anders moet begin dink en doen, op Iemand anders gerig moet wees, ander waardes moet kry, ‘n ander sin en doel in ons lewe.

 

Bekering kom hoofsaaklik in twee betekenisse in die Bybel voor: as ‘n herhaalde gebeurtenis waartoe die gelowige telkens weer opgeroep word (hoofsaaklik in die OT), en as ‘n eenmalige gebeurtenis wat ‘n beslissende keerpunt in ‘n ongelowige se lewe is (hoofsaaklik in die NT).

Voortgaande bekering kom hoofsaaklik in die OT voor as ‘n oproep aan die volk van God. Hulle word nie soseer opgeroep om hulle tot die ware God te bekeer nie, maar eerder om hulle van sekere sondes te bekeer omdat hulle in die ware God glo. Hierdie soort bekering beteken om die implikasies van hulle geloof te trek. Die God wat hulle dien, verwag van hulle ‘n bepaalde manier van lewe. Hulle is sy beeld en daarom moet hulle iets van sy soort lewe vertoon. `Wees heilig want Ek is heilig’ (Lev 19:2) is ‘n tipiese bekeringsoproep: besef wat die implikasies van julle verhouding met die Here is en leef dit uit. Die profete roep die volk voortdurend terug na hulle God, en nie soos die oproep aan heidene om hulle te bekeer tot ‘n God wat hulle nie tevore gedien het nie. In hierdie betekenis lê bekering baie na aan heiligmaking. Dit is ‘n voortdurende oproep wat telkens op nuwe sondes in ons lewe toegespits sal wees. Dit het sterk sosiale en politieke implikasies want dit gaan om meer as om die wil van God in my persoonlike lewe. Dit gaan om sy wil vir sy volk, vir die samelewing. Dit kom sterk na vore by die profete.

Die NT ken ook hierdie soort bekering, maar onder ander woorde. Die meeste van die briewe in die NT kan taamlik duidelik in twee dele verdeel word: die eerste deel is gewoonlik meer ‘n uiteensetting van die Christelike geloof in terme van die probleme in die betrokke gemeente, en die tweede deel ‘n oproep of vermaning oor hoe die Christene behoort te leef. (Vgl Rom 1-11 met 12-16; Ef 1-4:16 met 4:17-6:24; Kol 1-2:19 met 2:20-4:18) Hierdie tweede deel wat altyd die vermaninge bevat, is die oproepe tot voortgaande bekering: omdat julle die Here se kinders is, moet julle so en so leef. Eintlik het hulle hulle klaar bekeer in die sin dat díe onder hulle wat heidene was, klaar die ware God in Jesus leer ken en aangeneem het, maar juis daarom moet hulle nou aanhou om hulle te bekeer in die sin van die konklusies trek uit die nuwe geloof wat hulle aanvaar het.

Eenmalige bekering En juis dit bring ons by die tweede vorm van bekering wat ons in die Bybel kry: ‘n bekering waarin ‘n ongelowige wegdraai van ‘n valse God na die ware God. Hier gaan dit allereers om mense wat ‘n ander God gedien het en nou opgeroep word om hulle tot die ware God te bekeer. Eers daarna sal die ander soort lewe ter sprake kom, dié soort wat by die nuwe God pas. En dit sal dan ‘n voortdurende oproep tot ‘n voortgaande bekering wees.

Natuurlik verwag ‘n mens om die mooiste voorbeelde van hierdie eenmalige bekering in die NT te kry. Dit is by uitstek die sendingboek in die Bybel, en hierdie eenmalige bekering is die bekering van heidene na die ware God. ‘n Pragtige verwysing is dié van Paulus in 1Tes 1:9-10: ` … hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien.’ (Kyk ook Hand 17:30-31; 26:18,20.)

Daar heers vandag heelwat verwarring in die kerk oor bekering. Om dit ook maar enigsins te probeer aanspreek, sal ‘n mens duidelik tussen ‘n prinsipiële standpunt, en die toepassing daarvan in die praktyk moet onderskei.

Prinsipiëel hoort die oproep tot ‘n eenmalige bekering in die sendingveld tuis, waar mense opgeroep word om van hulle gode weg te draai en Jesus as Verlosser en Here te aanvaar. In ‘n gemeente hoort net die oproep tot voortgaande bekering tuis. Gemeentelede ken klaar die Here, dit is waarom hulle aan die gemeente behoort. Dit sou eenvoudig onvanpas wees vir Paulus om die Tessalonisense weer op te roep om hulle valse Gode te los en die Vader van Jesus te aanvaar as hulle God. Hulle het dit klaar gedoen, hulle is gedoop, en nou moet hulle die nuwe lewe begin lei. Oproepe tot voortgaande bekering pas in die gemeentesituasie: Hou met hierdie sondes op, begin hierdie goeie werke doen omdat julle nou vir Jesus as Here aanvaar het.

As ons met ‘n Nuwe Testamentiese gemeente gewerk het, moes hierdie beginsel onveranderd gegeld het. Onder ‘n Nuwe Testamentiese gemeente verstaan ons ‘n gemeente wat bestaan uit mense wat ‘n beslissende keuse moes maak wat hulle duur gekos het. Hulle moes waarskynlik hul werk of sosiale posisie prysgee of ten minste in gevaar stel, hulle kon selfs vervolg gewees het, daar is ten minste op hulle neergesien. Dit het hulle iets (baie!) gekos om aan die gemeente te behoort.

Maar wat van die konkrete situasie in die kerk vandag? Vandag is dit in die meeste Westerse en Afrikalande ‘n sterk aanbeveling met heelwat voordele om aan die kerk te behoort. Dit verander die situasie radikaal. Dit beteken dat mense om allerlei ander motiewe hulleself Christene noem, en nie noodwendig nadat hulle ‘n duur en moeilike beslissing vir Jesus geneem het nie. Mense kan vandag in die kerk gebore word, groot word en selfs oud word, sonder dat hulle ooit in hul lewe ‘n positiewe beslissing vir Jesus geneem het. En ongelukkig is dit nie net die rare uitsondering nie. In die prediking, en trouens in die hele bedieningspatroon in die kerk, moet dit ernstig in ag geneem word.

Daar is taamlik duidelik twee groepe mense in die kerk: betrokkenes en onbetrokkenes. Hulle sal nie presies dieselfde behandel kan word nie. In die prediking sal mense pertinent voor die vraag gestel moet word of hulle hulle met die Here Jesus identifiseer. Bekering in die sin van ‘n keuse, van identifikasie met Jesus is onontbeerlik. En waar mense – selfs amptelik binne die kerk – buite die atmosfeer van die verbond groot word, moet hulle een of ander tyd só ‘n beslissing neem.

Die vraag hoe verbondskinders in die heil deel, kom net hierna ter sprake.

Een van die groot gevare is dat hierdie soort bekeringsprediking wetties en moralisties kan word. Mense dink hoe erger die eise van die Here beklemtoon word, hoe hoër `die standaard’ gestel word, hoe beter sal dit werk. Maar daar kom ‘n punt waar ‘n mens weer herinner moet word aan die feit dat God die inisiatief neem, dat Hy ons red, dat dit nie afhang van `ons trane, gebede, bekering, berou, maar sy bloed werk versoening vir jou.’ Ons nuwe lewe is nie ons inspanning om anders te leef nie, maar sy gawe aan ons (vereniging met Christus), of die vrug wat die Gees in ons lewe dra. Dit gee ‘n mens moed om jou te bekeer, om jou hele lewe onvoorwaardelik te gee. Jy kan, want Hy kan. Die NT is vol van hierdie evangeliese oproepe. Onderstreep woordjies soos: dus, dan, daarom, aangesien (Rom 6:11,12; Kol 2:16,20; 3:1,5,12). Die vermanings is gebou op die fondament wat God onder ons inskuif in die vorm van die nuwe lewe van Christus en die krag van sy Gees.

Bekering is in die NT minder op die totale samelewing gerig as by die profete. Die rede is o.a. dat Israel as volk aan die Here behoort het, terwyl die vroeë Christene meestal klein groepies in groot stede was met geen inspraak in die breë strukture van die samelewing nie. Waar ons as Christene ‘n beduidende deel van die bevolking uitmaak, is dit deel van ons bekering om te werk vir geregtigheid in die samelewing en sy strukture.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Die vervulling met die Heilige Gees

Geloofsvrae: Die vervulling met die Heilige Gees – Adrio König

Die vervulling met die Heilige Gees

Naas die tweede genadewerk en die Geesdoop het sommige in die Heiligheidsbeweging en die Pinkster- en Charismatiese beweging ook nog ruimte vir die vervulling met die Heilige Gees as ‘n ervaring ná die tweede genadewerk of die Geesdoop wat herhaaldelik kan plaasvind. Sommige sien dit as spesiale toerusting vir ‘n besondere taak.

Daar is egter ook groepe wat die spesifieke tweede ervaring die vervulling met die Heilige Gees noem, en dan graag van algehele oorgawe praat. Hulle heg ongeveer dieselfde betekenis daaraan as die tweede genadewerk van die Heiligheidsbeweging.

 

Dit is nie nodig om hier in besonderhede op dié beskouings in te gaan nie. Die leer van die heiliging of heiligmaking word elders bespreek. Dit is egter eerbiedwaardige motiewe om erns te maak met die oorwinning oor die sonde en die krag tot getuienis. Die besonderhede waarin dit uitgewerk word, is redelik vreemd binne die raamwerk waarin hier gedink word. Maar teologie is ook nie die een en al in die lewe van die kinders van God nie, en daar is ongetwyfeld baie Christene wat sin gevind het deur ervaringe wat hulle só interpreteer.

Andersyds sou ‘n mens tog moes sê dat die beklemtoning van ‘n tweede ervaring die gevaar inhou dat ‘n mens vashaak by twee, en vergeet dat die Christelike lewe ‘n lewe van veelvuldige diep ervaringe met die Here en met sy kinders moet wees. Twee ervaringe is nie teveel nie, dis te min. En daar loer ook elke af en toe die neiging om die hoek om die kinders van God in twee duidelik afgebakende groepe te verdeel. Natuurlik is daar ook in die NT sprake van verskille tussen die geestelike vlak van die lewe van die kinders van God, maar nie so netjies afgebaken nie soos: geheilig of net bekeerd, Geesgedoop of net bekeerd, Geesvervuld of net bekeerd, volkome oorgegee of net bekeerd.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König